Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.17-1:1,6
Lees: Lukas 21:29-38 (83-vertaling)
Kernvers: Luk.21:35,36
Tema: Nagmaal help ons om vir Jesus se wederkoms te wag
Sang: Ps.146:1,8; Ps.71:9; Ps.32:3; Skb.17-1:1,6; Skb.15-8:4 ter voorbereiding van tafel; Skb.18-1:1,2,4,5; Skb.15-7:5,6
Inleiding:
Met nagmaal kyk ons terug na daardie Vrydag tydens Paasfees in Jerusalem toe die Here Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf het. Dit is belangrik om terug te dink met ons gedagtes en ons harte. Met nagmaal is dit terselfdertyd nodig dat ons gedagtes en harte ook by die hemelse nagmaal sal wees.
Tema: Nagmaal help ons om vir Jesus se wederkoms te wag
Wanneer ons by Lukas 21 kom, is ons naby die kruisiging van die Here Jesus Christus. Trouens hierdie gesprek van die Here Jesus was op die Dinsdag voor sy kruisiging. Jesus het gedurende daardie week sy dissipels, die Jode, die Fariseërs en ander skrifgeleerdes oor sy kruisiging en sy opstanding wat naby was, onderrig.
Jesus het in daardie week die mense om Hom veral ook oor sy wederkoms onderrig. Jesus se kruisiging staan nie los van sy opstanding nie. Daarom skryf Paulus dat die belangrikste wat hy gepreek het en wat hy van Christus ontvang het om te sê was dat Christus vir ons sondes gesterf het soos die profete in die Ou Testament geprofeteer het, dat Hy begrawe is en op die derde dag opgewek is soos die profete in die Ou Testament geprofeteer het.
Jesus se kruisiging en opstanding staan ook nie los van sy wederkoms nie. Hy het vir ons gesterf en opgestaan, sodat elkeen wat in Hom die ewige lewe kan hê (Joh.3:16). Elkeen wat in die Here Jesus glo, het nou reeds sekerheid van die ewige lewe. Wanneer Hy weer kom, sal Hy ons by Hom in die hemel neem om ewig by Hom te wees.
Oor sy wederkoms het Jesus verskillende gelykenisse vertel: Die getroue en ontroue slaaf, die tien meisies wat vir die bruidegom wag, die eienaar wat die muntstukke vir sy werkers gee en van hulle rekenskap vra by sy terugkoms en ook die gelykenis van die vyeboom en al die ander bome wat bot. Wanneer die bome begin uitloop, moet ons weet dat die koninkryk van God naby is. Dit is dat die wederkoms van Jesus Christus naby is.
Jesus het in die dae net voor sy kruisiging baie duidelik en baie ernstige met almal oor sy wederkoms gepraat.
Mat nagmaal moet Christus se wederkoms ook in ons harte en ons gedagtes wees. Die tekens van brood en wyn laat ons terugdink aan Christus se dood aan die kruis. Maar…daar wag ‘n hemelse maaltyd saam met die Here Jesus nadat Hy weer gekom het. Om hierdie rede hoor ons elke keer met nagmaal die volgende woorde: “Daarom laat die fees van die nagmaal ons ook met groot verlange uitsien na die bruilofsmaal van die Lam.”
Die nietige en sondige mens het die manier, om gewoonlik net op wat nou en hier gesien en gehoor kan word, te reageer. Christene wat aan die Here Jesus behoort, moet oppas hiervoor. Die hier en die nou is die brood en die wyn, maar nagmaal het ‘n baie dieper betekenis. Elke nagmaal hier op aarde het eweneens die belofte van die ewige bruilofsfees saam met die Here Jesus Christus in die hemel. Daarom moet ons deur die Heilige Gees en in die lig van die na alles Bybel kyk en hoor.
2. Sy wederkoms sal skielik op die mensdom neerkom
Jesus self het vertel en geleer dat Hy onverwags weer sal kom (Matt.24:43,44). Jesus se apostel wat Hy geroep het om die Evangelie aan die heidene te verkondig, Paulus, het eweneens geskryf dat die Here Jesus onverwags sal kom soos ‘n dief in die nag (1 Tess.5:2). Petrus, Jesus se dissipel wat geroep is om sy kunde van gelowiges met die Evangelie te leer en te voed, het ook Christengelowiges geskryf dat Christus se wederkoms soos ’n dief in die nag sal wees ( 2 Pet.3:10).
Hierdie beeld van die dief in die nag beteken dat niemand weet wanneer Jesus weer sal kom nie en dat Hy skielik sal kom wanneer niemand Hom verwag nie.
Daar is net een wat weet wanneer Jesus Christus weer sal kom. Net Jesus se Vader, die alwetende God weet wanneer Hy sy Seun as Hemelregter sal stuur om weer te kom om alle mense te oordeel. Al die baie pogings in die verlede deur mense wat die Bybel sogenaamd ondersoek het en die openbaring gekry het van die dag waarop Jesus weer sal kom, was elke keer vals. Niemand weet nie.
Lukas het geskryf dat die dag skielik op die bewoners van die aarde sal neerkom (Luk.21:35). Omdat niemand die dag en tyd van Christus se wederkoms ken nie, sal die dag skielik op alle mense wat dan op die aarde leef, neerkom.
Die Here Jesus sal skielik verskyn met net een doel. Hy kom weer as Hemelregter om finaal oor die mense wat op aarde leef en die wat reeds gesterf het, te oordeel.
By verre die meeste mense sal onverhoeds gevang word. Soos in die dae van Noag voor die sondvloed, sal die mense met hulle lewe van dag tot dag voortgaan. Hulle het nie besef wat besig was om te gebeur nie tot dit te laat was en die stortreën begin val het en hulle weggesleur het om te verdrink. So, het Jesus self gesê, sal dit wees voor sy wederkoms. Ons lees in Openbaring dat die mense wat kwaad doen, nog meer kwaad sal doen en die mense wat vuil van sonde is nog vuiler sal word (Openb.22:11).
3. Christengelowiges wat waak en bid, sal behoue bly
Christengelowiges het die genade dat Jesus Christus ons waarsku. Hy leer ons om gereed te maak vir sy wederkoms. In hierdie verse leer die Here Jesus sy gelowiges drie dinge om te doen, terwyl ons op se wederkoms wag.
Die eerste – Vs 29,30 – “Let op die vyeboom en al die ander bome. Sodra julle sien dat hulle begin uitloop, weet julle vanself dat die somer al naby is.” Met hierdie gelykenis leer Jesus ons om die tekens in wat in die wêreld gebeur raak te sien, die tekens wat wys dat sy wederkoms naby is.
Watter tekens is daar wat wys dat die Here Jesus se wederkoms naby is?
Matt.24:5 – Baie sal sê dat hulle Christus is, maar dit is om die mense te mislei. Vals christusse wat die Antichris en die vals profeet volg, is so ‘n teken.
Matt.24:6 – Oorloë en gerugte van oorloë met een nasie wat teen ‘n ander opstaan.
Matt.24:7 – Hongersnode en aardbewings.
Matt.24:9 – Christene sal mishandel word.
Matt.24:10 – Baie sal afvallig word van die ware geloof in Jesus Christus as ons enigste Verlosser.
Matt.24:12 – Die mense sal die Wet van God minag met die gevolg dat liefde by baie sal verkoel.
Kyk en luister na wat in die wêreld gebeur. Sien die tekens raak. Christus se wederkoms is naby.
Die tweede – “…wees waaksaam…”. Petrus het ook hieroor geskryf: “Die einde van alles is naby. Daarom moet julle selfbeheers en nugter wees, sodat julle kan bid” (1 Pet.4:7). Om waaksaam te wees is om nie soos die wêreld te wees nie. Jesus wys in vs 34 hoe mense gelyk het wat nie waaksaam was nie – oormatige etery en drinkery en afgestomp deur die sorge van die lewe. Paulus het die mense wat in die laaste dae nie waaksaam sal wees met die oof op Christus se wederkoms nie, maar op ‘n wêreldse manier sal leef, in sy tweede brief aan Timoteus geskryf (2 Tim.3:1-9). Enkele van die kenmerke van die wêreldmense in die laaste dae is dat hulle selfsugtig, geldgierig, roekeloos en hooghartig, sal wees en eerder liefde vir genot as liefde vir God sal hê en daar by die uiterlike skyn van godsdiens.
Teen hierdie wêreldse manier van leef, moet Christengelowiges waaksaam wees en weerstand bied, met ons hart nie hier op die aarde nie, maar by die Here Jesus Christus aan sy Vader se regterhand wat gereed maak om weer te kom.
Die derde – Bid gedurig. Bid dat die Here Jesus weer sal kom. Ons bid vir baie dinge, maar ons gebede mag nie net vir ons aardse lewe wees nie. Die laaste gebed in die Bybel: “Kom, Here Jesus!” moet ook ons gebed wees.
Wie die tekens raaksien, waaksaam leef en gedurig bid, sal nie onverhoeds betrap word nie, maar gereed wees vir Christus se wederkoms en behoue bly om in die hemel opgeneem te word.
4. Nagmaal maak ons geloof sterk hiervoor
Christus leer ons in Luk.21:29-38 hoe belangrik nagmaal is.
Vanself sal ons nie gereed maak en gereed wees vir die Here Jesus wederkoms nie. Die duiwel met sy boosheid en listigheid, die sondige wêreld met sy verleidelikheid en sy bekommernis oor aardse dinge wat ons so besig hou en ons eie sondige swakheid is baie sterk en gevaarlike geestelike vyande. Hierdie vyande val ons elke dag aan om ons weg te trek van Christus af in die wêreldse manier van dink en praat en doen.
Nie een van ons is sterk genoeg om teen hierdie gevaarlike geestelike vyande weerstand te bied nie. Ons geloof het nodig om gedurig sterker gemaak te word. Die Heilige Gees maak ons geloof sterker met nagmaal.
Die Heilige Gees gee ons tydens nagmaal die sekerheid deur die brood en wyn, dat ons een met Christus is. Hy het ons een met Christus gemaak deur ons geloof. Christus het deur sy dood aan die kruis en sy opstanding uit die dood reeds die duiwel, die wêreld en die sonde oorwin. Ons wat deur ons geloof een met Jesus Christus is, deel in sy oorwinning.
Ons geloof in die Here Jesus stel ons in staat om weerstand teen ons geestelike vyande te bied. Die Heilige Gees maak ons geloof met elke nagmaal sterker om weerstand te kan bied en ons geestelike vyande te oorwin. Deur die Gees wat kragtig in ons werk sal ons uiteindelik voor die troon van ons Vader in die hemel saam met al die uitverkorenes staan, volmaak en ewig salig in die hemel by ons Vader en ons Verlosser, die gekruisigde Jesus.
Vanoggend se nagmaal en elke nagmaal help ons hiermee. Daarom is vanoggend se nagmaal so kosbaar, so belangrik en so nodig.
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van die tafel: Skb.15-8:4
Sing aan tafel: Skb.18-1:1,2,4,5
Voltooiing van die formulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.15-7
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle wees
Amen