Home Preke Nagmaal preke Ek het Jesus Christus, my Verlosser, onder alle omstandighede altyd by my

Ek het Jesus Christus, my Verlosser, onder alle omstandighede altyd by my

Datum: 2023-05-21
|
Reeks: Nagmaal preke
|
Kernverse: Joh.5:7-9

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: O Heer my God:1,2,3

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondg 34

Antwoord op die Wet: Ps.25:4,5

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Ps.33:7,11

Lees: Johannes 5:1-17

Kernverse: Joh.5:7-9

Tema: Ek het Jesus Christus my Verlosser onder alle omstandighede altyd by my

Sang: O Heer my God(Lied 464):1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.25:4,5; Ps.33:7,11; Ter voorbereiding van tafel – Ps.23:3; Aan Tafel: Ps.118:1,2,7,10,11; Ps.103:1,2; Skb.10-2

Inleiding:

In Joh.5 lees ons van Jesus se nabyheid en wat gebeur met Jesus naby my. Dit is’n deel in die Bybel oor wonderlike genade in elke Christengelowige se lewe.

Tema: Ek het Jesus Christus, my Verlosser onder alle omstandighede by my

  1. Die omstandighede waarin ons leef

In die oostemuur van Jerusalem was daar ‘n poort wat die Skaappoort genoem is. By die Skaappoort daar in die ooste van Jerusalem was ‘n bad met water wat ‘n genesende uitwerking op ‘n mens gehad het. Van tyd tot tyd het die water opgeborrel. Direk na so ‘n opborreling het die water besondere genesende krag gehad. Die persoon wat eerste in die water was, het die beste kans gehad om gesond te word. Daarom het die bad die naam Betesda gehad, wat beteken “huis van barmhartigheid.”

Om die bad by die Skaappoort was daar ellende! Daar het mense op die roering van die water gewag, wat blind was en nie kon sien hoe om in die water te kom nie. Daar was kreupel mense wat alleen met groot gesukkel in die bad kon kom en daar was verlamdes wat glad nie self in die water kon kom nie!  Onder die mense wat gewag het om gesond te word, was daar ‘n man wat al agt-en-dertig jaar siek was – byna oorweldigende omstandighede!

Dikwels voel dit asof die gebrokenheid in ons land, in ‘n mens se persoonlike lewe ons ook wil oorweldig.

Die eerste moeilike omstandigheid waaraan ‘n mens dink wanneer jy Joh.5 lees, is gesondheid. Daar is soveel ernstige gesondheidsomstandighede in ons gemeente en by familie en vriende.

In ons land is misdaad amper onbeheerbaar. Geweld eis baie onskuldige lewens. Openlike bedrog en korrupsie en onwilligheid om die land goed en reg te regeer en te bestuur, plaas ons ekonomie onder geweldige druk en ontneem baie werkgeleentheid en ‘n lewe. Die onverskillige motoris veroorsaak noodlottige en tragiese  ongelukke en baie hartseer.

By al hierdie gebrokenheid is daar nog die grootste ellende in ons lewens, naamlik ons eie sondigheid. Die duiwel en die wêreld hou voortdurend aan ons elkeen van ons aan te val en te probeer verlei om verkeerd te doen. Ons eie sondigheid laat ons dikwels verlei en sondig. Sonde het die vermoë om alles in mens se lewe te vernietig.

2. Jesus Christus is met goedheid en krag naby my

Soms voel dit dalk vir jou asof die swaar te veel is en ons wil oorweldig. Wanneer ‘n mens baie swaar kry, voel dit dikwels asof ek heeltemal alleen is. Dit voel en lyk in die man by die bad van Betesda se woorde, of ek niemand het nie.

Dit voel so, maar….die werklikheid is heeltemal anders.

Kom ons kyk saam na die werklikheid in Joh.5:6.

  • Die verlamde man daar by die bad het gedink dat hy niemand gehad het nie. Maar….Jesus Christus, die Seun van die lewende God het juis hom tussen al die ander raakgesien daar by die bad van Betesda. Jesus het met die oë van God gekyk, want Hy was self God. Sy oë kyk met liefde, barmhartigheid en genade. Hy sien alles raak. Jesus is die onveranderlike God. Hy kyk na my. Hy sien alles ook in my lewe raak.
  • Jesus Christus is ook alwetend, daarom het Hy geweet dat die man daar by die bad al baie lank siek was. Hy het ook geweet dat die man nie vinnig genoeg in die bad kon kom nie.

Ons kan sê dat Jesus Christus wat alles sien en weet naby die verlamde man daar by die bad van Betesda was.

Sukkel jy baie met jou gesondheid wat net nie beter wil word nie – Jesus Christus weet.

Maak jou moeilike omstandighede dat jy nie meer weet waarheen nie – Jesus weet.

Wil die swaar in jou lewe jou oorweldig, omdat jy voel jy is op jou eie – Jesus Christus sien en weet.

Jesus het met die man wat al 38 jaar siek was, gepraat. Hy het die man gevra: “Wil jy gesond word?” Die kans om gesond te word was menslik gesproke baie skraal. Die man se antwoord getuig van die harde werklikheid en sy baie moeilike omstandighede: “Meneer, ek het niemand….” (Joh.5:7).

Dit was vir hom onmoontlik om gesond te word, so het hy gedink en dit beleef….min wetende dat die Seun van die lewende God, Jesus Christus, ons Verlosser daar by hom gestaan het en met hom gepraat het.

Deur net te praat, een kort sin, het Jesus daardie man se hele lewe heeltemal verander. Jesus, ons Verlosser, het na baie jare van baie swaarkry, uitkoms gegee. In wat daardie dag by die Bad van Betesda gebeur het, maak God aan ons bekend dat Jesus Christus altyd by ons is.

Hy was met goedheid en krag naby die veramde man by die bad van Besteda.

Jesus het beloof dat Hy by sy kerk, dit is sy gelowiges sal wees tot aan die voleinding. Dit beteken elkeen van ons het die Here Jesus naby my. Jesus is naby my met sy goedheid. Hy is naby my met krag.

Ek is nooit alleen om die swaar op my eie te hanteer nie. Met Jesus Christus by my, is daar soms uitkoms soos vir die verlamde man by die Bad van Betesda. Baie van ons kan getuig van uitkoms wat ons gekry het. Sou daar byvoorbeeld nie uitkoms is en my gesondheid beter word nie, beteken dit nie dat Jesus nie naby my is nie. Omdat Hy naby my is, sal Hy my met sy goedheid en sy krag help om die swaarkry te hanteer.

Vir die man by Betesda was daar uitkoms. Hy het gesond geword en kon weer loop. Dit is baie belangrik dat ons die uitkoms wat God gee, reg te sien, soos God ons in Johannes se Evangelie leer.

Jesus Christus het aarde toe gekom om sodaars te verlos. Daarom het Hy die man by die Bad van Betesda nie net gesond gemaak, sodat hy weer kon loop nie. Sy wonder daardie dag en al die ander dae was wondertekens. Jesus het die wondertekens gedoen, sodat elkeen in Hom as Verlosser kan glo en deur te glo, die ewige lewe te kan hê (Joh.20:30,31). Die grootste wonderteken was Jesus se sterwe aan die kruis en sy opstanding uit die graf.

Ons sien Jesus se eintlike rede waarom Hy die man gesond gemaak het in sy latere gesprek met die man. Jesus het toe ‘n geestelike gesprek met hom gehad om nie langer aan te hou sondig nie.

Toe sy liggaam genees is, het die man nie geweet wie hom gesond gemaak het nie. Maar, nadat Jesus hom geestelik ook genees het, het die man vir die Jode gaan vertel dat Jesus hom gesond gemaak het. Ons kan sê die man het in Jesus geglo en tot bekering gekom. Om saam te vat: Die man wat so lank siek was se liggaam was nie al wat gesond geword het nie. Jesus het ook sy hart gesond gemaak, sodat hy in sy Verlosser kon glo en lewe.

Deur aan die kruis te sterf, het Jesus Christus my moeilikste omstandigheid heeltemal opgelos. Hy het my van al my sonde verlos. Die brood en wyn by vanoggend se Nagmaal is die teken van Jesus se goedheid en sy krag. Deur die Heilige Gees is Jesus steeds by my met sy goedheid en sy krag.

3. Ek kan as ‘n verloste gelowige leef

Die man by die Bad van Betesda kon na 38 jaar opstaan, sy bed vat en loop. Hy was verlos van sy baie moeilike omstandighede. Hy het gegaan en vertel dat Jesus hom gesond gemaak het.

Ek het Jesus onder alle omstandighede by my. Ek is nooit op my eie nie. Met Jesus by my, is daar vir my uitkoms teen sonde en die dood as straf op sonde. Dit kan gebeur dat daar ook uitkoms uit omstandighede is, wanneer ek byvoorbeeld ernstig siek was en gesond word. Wanneer ek nie gesond word nie, is Jesus steeds by my met sy goedheid en krag. Hy help my onder die moeilikste omstandighede om swaarkry met geloof te hanteer.

Die Heilige Gees verseker my met vanoggend se Nagmaal dat Jesus Christus onder lle omstandighede naby my is. Ek leef daarom na vanoggend se Nagmaal met diep dankbaarheid en geloofsekerheid, want –

  • Jesus het my van my grootste ellende, my sonde verlos! Ek kan nou met die Heilige Gees in my, die lewe van ‘n verloste nuwe mens leef!
  • Met Jesus naby my, sal nie die moeilikste omstandighede kan my oorweldig nie!
  • Jesus Christus by my. Hy is self God. Hy is meer as elke moeilike omstandigheid in my lewe!
  • Ek bly nie stil hieroor nie. Ek vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het en steeds doen.

Nagmaalformulier

Sang ter voorbereiding: Ps.23:3

Sang aan tafel: Ps.118:1,2,7,10,11

Voltooiing van die Nagmaalformulier

ANTWOORD

Sang: Ps.103:1,2

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Skb.10-2

Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.

Amen