ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Sb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Arikels
Sang: Sb.12-3/70:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:8,17
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.43:3,4
Lees: Levitikus 16
Kernvers: Lev.16:2 en Mk.15:38
Sang: Sb.1-2/60:1,2,3; Sb.12-3/72:1,2; Ps.38:8,17; Ps.43:3,4; Ps.145:9 (voorbereiding van tafel); Ps.84:1,2,3,5,6 (aan tafel); Ps.130:2,4
Inleiding:
Waarskynlik is ons vanoggend by nagmaal met dankbare harte. Nagmaal se boodskap is die boodskap wat elkeen van ons nodig het: Vergifnis van al ons sondes deur Jesus Christus wat vir ons gekruisig is en opgestaan het. Om hierdie rede is ek by nagmaal met ‘n dankbare hart.
Is elkeen van ons ook hier met huiwering in my hart? Ek behoort hier met huiwering te wees, want die heilige God is hier teenwoordig en ek is ‘n sondige mens. Vanoggend se preek uit Lev.16 gaan oor dankbaarheid en teselfdertyd huiwering, wanneer ek voor die heilige God kom.
Tema: Die geskeurde tempelgordyn
Die boek Levitikus gaan oor alles wat die Here in die tempel wou gehad het. Ons kan sê Levitikus gaan oor die heilige God se opdragte aan die priesters in die tabernakel. Die tabernakel was die heilige tent, want daar het God tussen Israel, sy verbondsvolk gewoon (Eks.25:8).
Die tabernakel het uit drie dele bestaan. In die tent was daar verskillende voorwerpe wat gewys het dat God nie ver weg was nie, maar by Israel, tussen hulle. Die verbondsark was byvoorbeeld in die tabernakel. Die ark was die simbool dat die almagtige en heilige God Israel se lewe regeer en by hulle was.
Op ‘n dag het Aäron se twee oudste seuns, Nadab en Abihu aan die Here ‘n offer gebring. Hulle offer was “teen die Here se bevel” (Lev.10:1). Die Here het ‘n vuur uit die hemel gestuur. Die vuur het Aäron se twee seuns verteer. Huulle het gesterf.
Uit die res van Lev.10 en 16 word dit duidelik dat die twee seuns wat priesters was nie sommer ‘n offer kon bring sonder om te besef hoe heilig God is en hoe onrein en sondig hulle is nie. Om te offer bloot omdat hulle priesters was, was teen die bevel van die die Here.
Al was dit in die tabernakel, al was dit ‘n offer en al was hulle priesters, het hulle gesterf, omdat hulle nie gedoen het soos die Here wou gehad het nie.
Na aanleiding daarvan het die Here vir Moses opdrag gegee om vir Aäron te sê dat hy as hoëpriester nie sommer in die tabernakel kon ingaan om te offer nie. Hy sou soos sy twee seuns sterf, indien hy sommer sou ingaan.
God se opdrag aan Moses, Aäron en die hele Israel was duidelik. Niemand mag sommer in sy teenwoordigheid kom nie. Daar was en is ‘n groot afstand tussen die heilige God en elke sondige mens.
Vir ons vandag: Bloot omdat ek lidmaat van die gemeente is, bloot omdat hier in erediens in die kerkgebou is en dit vandag nagmaal is, beteken nie alles is reg voor God nie. God is vandag steeds die heilige God en ek is steeds ‘n sondige mens. Daar behoort in my hart ook huiwering te wees om vandag in die erediens te wees en nagmaal te gebruik.
2. Net ‘n offer kan die afstand oorbrug
God het Aäron nie net verbied om in die tabernakel in te gaan op sy tyd en sy manier nie. Hy het vir Aäron en vir die hele Israel uitkoms gegee. Die uitkoms was ‘n offer. In Lev.16 het ons die opdrag, die bevel, die wet van die Here in die Ou Testament oor die offer wat die afstand tussen die heilige God en die sondige Israel oorbrug.
Om in die tabernakel in te gaan en voor die Here te verskyn, moes Aäron eers vir homself ‘n offer gebring het. Die offer was ‘n jong bul en ‘n ram. Die bul moes hy vir homself offer en die ram vir die priesters. Uit Israel moes Aäron twee bokramme kry om as sondeoffer te bring en een skaapram as brandoffer.
Die twee bokke is vir vanoggend belangrik.
Aäron moes die lot werp oor die bokke. Hy moes die een lot merk “vir die Here”. Die ander moes hy merk “vir Asasel” (vs.8).
Die bok wat vir die Here geloot is, moes Aäron as ‘n sondeoffer aan die Here offer. Nadat hy die bok geslag het, moes hy agter die voorhangsel, die gordyn ingaan en die bloed op die deksel van die ark en voor die deksel sprinkel. Hy moes verder die bloed van die bul en die bokram rondom die altaar smeer en met sy vinger van die bloed sewe keer op die altaar sprinkel.
Die bloed van die offerdier, het gewys dat Israel van hulle onreinhede, van hulle oortredings en sondes gereinig is. Die bloed het selfs gewys op die reiniging van die allerheiligste, die altaar en die hele tent van ontmoeting. Die tent moes ook gereinig word, want die tent was daar by Israel met al hulle sondes.
Daarna moes Aäron sy twee hande op die lewende bok lê. Met sy hande op die bok moes hy al die oortredinge en opstandigheid en al die sondes van Israel bo-oor die bok bely. Hierdie was die teken dat al die sondes van Israel op die bok oorgedra is.
Iemand uit Israel moes die bok die woestyn injaag as teken dat al Israel se sondes weggeneem is deur die offer wat in hulle plek gesterf het. Die offerdier daardie dag was die plaasvervanger vir elke Israeliet wat eintlik moes sterf.
Hierdie het alles gebeur op die Groot Versoendag wat God ingestel het vir Israel om elke jaar as vaste intselling te onderhou. Die heilige God het vir Israel gewys dat ‘n offer nodig is om die afstand tussen Hom en elke sondige mens te oorbrug.
3. Die werklike Offer is Jesus Christus
Hierdie wette van die Here oor die Groot Versoendag staan in die Ou Testament. Hoe raak wat in die Ou Testament elke jaar op daardie dag moes gebeur, ons wat gelowiges in die Nuwe Testament is? God is steeds die heilige God. Hy verander nie. Ons is steeds sondige mense.
Die Heilige Gees vertel en leer ons deur Paulus se brief aan die gemeente in Kolosse byvoorbeeld. Al die offers en seremonies, en dae en feeste in die Ou Testament was net die skaduwee. Ons kan sê: Die teken.
Die werklikheid is Jesus Christus!
God het sy Seun gestuur om die werklike Offer vir al ons sondes te wees. Dit was die eerste twee mense wat gesondig het. Hulle en al die mense na hulle moes sterf as straf op ons sonde. Die diere kon nie die straf vir die mense dra nie en was net die teken.
Jesus het deur ‘n almagtige wonder ware mens geword. Hy het na die aarde toe gekom vir die volgende rede, luister hoe het Markus deur die Heilige Gees geskryf: “Die seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie” (Mk.10:45). As ware mens kon Hy en het Hy al ons sondes op Hom geneem.
Jesus Christus, ons Verlosser het met al ons sonde op Hom aan die kruis gehang. Hy het Homself geoffer in ons plek. Hy was die Sondeoffer in ons plek. Hy het deur sy dood aan die kruis die straf op al ons sondes volmaak gedra.
4. Met die gordyn geskeur, kan ons nou by God wees
Jesus Christus het met sy dood alles verander. Markus skryf deur die Heilige Gees so oor hierdie baie groot verandering: “Die voorhangsel in die tempel het van bo tot onder middeldeur geskeur” (Mk.15:38).
Die voorhangsel, die gordyn in die tabernakel en daarna in die tempel, het gewys op die groot afstand tussen die heilige God en elke sondige mens. Jesus Christus, ons Verlosser het met sy dood aan die kruis al die sonde wat hierdie afstand veroorsaak het, weggeneem. Hy het al ons sonde volmaak voor God weggeneem. Die tempelgordyn wat van bo tot onder middeldeur geskeur het, is die teken hiervan.
Deur Jesus se liggaam en bloed aan die kruis, is ek skoongewas van al my sonde. Nie elke mens is so skoongewas nie, net elkeen met ware geloof in Jesus as my enigste Verlosser. Die Heilige Gees gee hierdie geloof. Hy kom in my hart met die Evangelie van Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het. Hy begin geloof in my hart. Hy maak my deyr die geloof wat Hy gee een met Jesus Christus. My eenwees met die Here Jesus maak my skoon van al my sonde.
Een met Jesus Christus, skoon van al my sonde deur sy liggaam en bloed aan die kruis, kan elke Christengelowige nou by God wees. Deur Jesus wat gesterf het aan die kruis en opgestaan het, is ek en God in ‘n innige Vader-kindverhouding.
5. Net by God is daar ware lewe
‘n Mens kan op aarde bestaan of jy kan ware lewe hê. Sonder Jesus Christus se offer aan die kruis, is ‘n mens geestelik dood, bestem vir God se ewige oordeel al bestaan jy op aarde en al behaal jy groot sukses.
Net wanneer ek deur Jesus Christus ‘n innige verhouding met God het, het ek ware lewe. Die brood en wyn met nagmaal het hierdie boodskap: Jesus Christus het aan die kruis gesterf, sodat ek die ware lewe, dit is lewe by God kan hê. Gebruik dan nagmaal met ‘n opreg gelowige hart. Met die Heilige Gees in my, kan ek met ‘n dankbare hart nagmaal toe kom.
Ek het nagmaal nodig, want daar is so baie wat my van God wil wegtrek – dinge wat gebeur, mense en my eie sondige swakheid. Met nagmaal maak die Heilige Gees my geloof sterker. Na nagmaal gee die Heilige Gees my weer nuwe geloofsmoed vir my lewe by God in ‘n sondige land en wêreld.
Nagmaalformulier
Sang ter voorbereiding van die tafel: Ps.145:9
Sang aan tafel: Ps.84:1,2,3,5,6
Votooiing van die Nagmaalformulier
Gebed
ANTWOORD
Liefdegawe vir barhartigheid
Sang: Ps.130:2,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen