Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.71:12,14
Lees: Lukas 22:7-23
Kernverse: Luk.22:17-20
Tema: Nagmaal op die aarde wys na die ewige lewe in die hemel.
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Ps,71:9; Ps.38:1,17; Ps.71:12,14; Ps.145:9; Tafel-Skb.18-6:1,2,4,5; Skb.5-3:1,2.
Inleiding:
Met nagmaal kan ons terugdink aan die verlede toe die geweldige gebeurtenis daardie paasfees aan die kruis op Golgota plaasgevind het. God se Seun, ons Verlosser het vir ons gesterf. Ons kan ook aan die hede dink, hoe sondig ons steeds is en hoe nodig ons Christus het. Ons kan ook aan die toekoms dink waar ons saam met die Here Jesus Christus in die hemel sal wees om saam met Hom die ewige hemelse feesmaal te vier.
Vanoggend se preek gaan oor die ewige hemelse feesmaal.
Tema: Nagmaal op die aarde wys na die ewige lewe in die hemel.
Tydens daardie besondere pasga was Jesus saam met sy dissipels aan tafel om die pasga te vier. Die pasga was vir Israel ‘n baie belangrike godsdienstige fees. Die pasga het gewys na die groot en wonderlike gebeurtenis toe die Here Israel uit die mag van die Egiptenare en die ondraaglike lewe en die dood van hulle seuns in Egipte bevry het.
Buiten dat die bevryding uit Egipte ‘n baie belangrike gebeurtenis was om te herdenk, het die Here ook die opdrag gegee dat die pasga elke jaar gevier moet word. Die bevryding uit Egipte het ‘n baie groot invloed op Israel deur die eeue gehad. Pasga as die herdenking van die bevryding en uittog uit Egipte was so belangrik dat die Jode eeue na die ballingskap steeds die pasga elke jaar gevier het, met baie mense wat vir die godsdienstige fees na Jerusalem gegaan het. Jesus en sy dissipels was ook in Jerusalem vir die pasga.
Die pasga is gevier met die jaaroud lam wat geslag en gaargemaak is, ongesuurde brood wat op sonde gewys het, bitter kruie wat op die bitter tyd in Egipte gewys het en wyn wat gedrink is, wat teken was van die paaslam se bloed wat gevloei het.
Die Here het die voorskrif vir alles by die pasga gegee. Later het die vertel van die geskiedenis van die uittog by gekom en ook sang, gewoonlik Ps.113 tot Ps.118.
Al hierdie gebruike en seremonies met pasga was tekens op aarde vir die vier van die wondergenade dat die Here Israel uit Egipte bevry het. Jesus het twee van sy dissipels gestuur om al hierdie voorbereidings vir die pasga te tref.
Ons kry van hierdie gebruike en tekens tydens pasga in Luk.22:
Vs 17 – Jesus het ‘n beker geneem en God in gebed gedank. Daarna het Hy die beker aangegee. Die beker het gewys dat almal saam was om die pasga te vier.
Vs 19 – Toe het Jesus brood geneem, weer ‘n dankgebed gedoen en die brood uitgedeel.
Vs 20 – Die beker na die maaltyd was die beker van danksegging vir verlossing uit Egipte.
Met die breek en uitdeel van die brood en die uitdeel van die beker van danksegging het Jesus die pasga tot ‘n einde gebring, vir altyd. Jesus Christus, die Verlosser van almal wat in Hom glo, het tydens daardie pasga die nagmaal vir sy gelowiges, dit is vir sy kerk ingestel. Hy het die tekens van die brood gebruik, om daarmee te sê dat die tekens van brood en die wyn behou moet word.
Die kerk van Christus vier daarom vandag nog nagmaal op aarde met die tekens van brood en wyn.
2. Nagmaal se ewige betekenis.
Die bevryding uit Egipte het ‘n baie belangrike betekenis vir Israel gehad toe dit gebeur het. Maar die uittog het van die begin af ‘n dieper geestelike betekenis ook gehad:
DIE VERBONDSGOD het uit genade en trou sy VERBONDSVOLK VERLOS!
Hierdie dieper betekenis lees ons wanneer die Here sy Wet aan Israel gee. Die Here het as Verbondsgod sy wet begin met die waarheid dat Hy Israel uit Egipte bevry het. Daarna het Hy sy tien gebooie aan Israel gegee om hulle te leer hoe hulle as sy verbondsvolk in die toekoms moet leef.
Dit is met nagmaal nie anders nie. Die tekens van brood en wyn het van die begin af ‘n ewige geestelike betekenis gehad.
Reeds met die eerste beker wyn waarvan ons in Luk.22:17 lees, het Jesus sy dissipels, dit is in werklikheid sy kerk, verseker dat Hy weer saam wyn sal drink wanneer die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het. Dit is met die Here Jesus se wederkoms.
Die brood wat Jesus gebreek het, was die teken van sy liggaam wat Hy vir sy gelowiges gegee het, sodat hulle verlos kan word. Die gebreekte brood was die teken van Jesus se liggaam wat Hy gee om aan die kruis gebreek te word. Hy het sy liggaam laat breek, sodat sondaars wat in Hom glo as verloste nuwe mense die ewige lewe kan hê.
Die beker wyn wat Hy na die maaltyd uitgedeel het, was die teken van die nuwe verbond, het die Here Jesus gesê. Die ou verbond was die paaslam wat elke jaar geslag is. Die nuwe verbond is die bloed van Jesus wat eenkeer aan die kruis gevloei het. Die Here Jesus Christus se bloed het eenkeer aan die kruis op Golgota gevloei, sodat almal wat aan Hom behoort, volmaak verlos kan word en as kinders en erfgename in die ewige genadeverbond kan leef.
Die brood en die wyn is die tekens….NET DIE TEKENS!
Die liggaam en bloed van Jesus Christus is DIE WERKLIKHEID!
Jesus Christus het sy liggaam en bloed gegee, sodat ons wanneer Hy weer kom, aan sy regterhand sal staan. Almal aan sy regterhand sal die wonderlikste woorde uit ons Verlosser se mond self hoor: Kom en deel in my vreugde, wanneer Hy ons in die hemel nooi om ewig saam met Hom te wees.
Hierdie is die dieper geestelike betekenis van nagmaal waarby ons vanoggend en met elke nagmaal moet uitkom.
3. Ware geloof is tydens Nagmaal nodig.
Jesus se dissipels het selfs na sy opstanding gesukkel om die werklike diepste betekenis van sy sterwe en opstanding te verstaan. Net voor Hy na die hemel opgevaar het, het die dissipels weer gevra of die tyd gekom het dat Hy die koninkryk van Israel weer gaan oprig (Hand.1:6).
Ons mag nie dink ons is beter gelowiges as die dissipels met meer insig nie. Ons is nie. Soos die dissipels is ons almal ook nietige sondaars. Ons sal ook nie vanself die dieper en ewige betekenis van nagmaal verstaan nie. Ons sal ook nie uit onsself nagmaal reg kan vier met ons harte by Jesus wat weer kom en die hemelse feesmaal saam met Hom nie.
Ware geloof is tydens nagmaal nodig. Ware geloof kry ons net by die Heilige Gees. Hy gee Ware geloof net deur God se Woord.
Ons is daarom so AFHANKLIK VAN DIE HEILIGE GEES!
Ons het Hom so nodig!
Christus se gelowiges, sy kerk, sal nagmaal net reg kan vier, deur die Heilige Gees. Goeie en ernstige voorbereiding vir nagmaal deur die Heilige Gees is daarom so belangrik. Die kom na die nagmaaldiens met die Heilige Gees in ons is so belangrik. Die gebruik van die tekens van brood en wyn deur die Gees is eweneens so belangrik.
Ware geloof is meer as om net met ons verstand te weet waaroor nagmaal en die brood en die wyn gaan.
Ware geloof moet in ons hart wees en van die Heilige Gees kom.
Ware geloof laat ons dieper kyk as om net die brood en wyn raak te sien.
Ware geloof dink terug aan die die Here Jesus aan die kruis, dink daaraan hoe sondig ons is en hoe nodig ons ons Verlosser het, dink aan die hemelse feesmaal saam met die Here Jesus Christus en verlang daarna.
Met so ‘n opreg gelowige hart kan elkeen wat aan Christus behoort met vrymoedigheid nagmaal vier om geestelik opgebou en versterk te word.
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van tafel: Ps.145:9
Sing aan tafel: Skb.18-6:1,2,4,5
Votooiing van nagmaalformulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.5-3:1,2
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen