ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.100:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.1-3:1,2,3
Lees: 1 Petrus 1:17-25
Kernverse: 1 Pet.1:18,19
Tema: Losgekoop!
Sang: Ps.100:1,2,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,4; Skb.1-3:1,2,3; Ps.33:11; Tafel – Ps.31:1,3,5,15,17; Ps.69:12,14; Skb.10-2/59
Inleiding:
Daar is belangrike en kosbare woorde in die Bybel met die wonderlikste betekenis vir ‘n gelowige. Heilig is een so ‘n woord. Losgekoop is ‘n ander woord. Dit is vreemd dat ons die kosbare woorde in die Bybel so min gebruik.
Luister saam na wat die Here oor “losgekoop” vir ons sê. Gebruik saam nagmaal. Laat die Heilige Gees in jou werk, sodat jy sal besef en glo hoe belangrik en hoe kosbaar dit is om losgekoop te wees. Leef dan na vanoggend as ‘n losgekoopte.
Tema: LOSGEKOOP!
Jesus het na sy opstanding daar op die See van Tiberias se strand aan sy dissipels verskyn. Dit was die derde keer dat Hy aan hulle verskyn het. Hulle het vis gaargemaak en saamgeëet. Jesus het daar vir Petrus drie keer die opdrag gegee en hom as’t ware gestuur om sy kudde te versorg. Petrus het nog ander dinge ook gedoen, maar hierdie brief is een van die maniere waarop hy gedoen het wat Jesus hom gevra het.
Petrus het deur die Heilige Gees hierdie brief aan gelowiges geskryf wat ter wille van hulle geloof in Jesus Christus onderdruk en vervolg is, sodat hulle onder baie moeilike en onseker omstandighede geleef het.
Onder daardie onseker omstandighede het Petrus deur die Heilige Gees sy brief aan die Christene destyds gestuur om hulle moed in te praat. Hy het hulle moed ingepraat deur aan hulle sekerheid te gee.
Die woorde in vs 18 “Julle weet tog” is woorde wat oor sekerheid gaan. In ‘n onseker wêreld met moeilike omstandighede waar gelowiges soms baie swaar kry, gee die Heilige Gees deur God se Woord sekerheid.
Ons land en die wêreld is steeds deurmekaar. Daar is vandag ook omstandighede wat baie moeilik vir gelowiges is, wat moeilik vir ons is. Saam met moeilik, is daar swaar en selfs onseker.
Die Here gee ook vir ons sekerheid deur sy Woord en die sakrament vanoggend. Dit is daarom wonderlik en groot genade om vanoggend die Bybel oop te hê en die nagmaal te kan gebruik.
2. Die verlede waarvan ons losgekoop is
Hoe moet ons hierdie verlede verstaan? Die slegte sondige verlede begin by Adam en Eva wat in die Tuin van Eden weg van God af beweeg het.
Petrus se lesers was Jode en heidene wat in Jesus Christus geglo het en tot bekering gekom het. In hulle verlede was daar Joodse voorouers wat deur wette te onderhou salig wou word. Daar was ook heidene wat in talle gode geglo het en in werklikheid net vir die aardse bestaan geleef het.
Altwee hierdie groepe voorouers het een ding in gemeen gehad: Hulle was sonder Jesus Christus. In die Joodse geloof destyds en in die heidense geloof was die mens in die middelpunt. Hulle was nog in die greep van die duiwel en sonde. So ‘n lewe is sinloos en sonder betekenis. Die skrywer van Ps.1 noem so ‘n lewe “kaf wat deur die wind uitmekaar gewaai word” (Ps.1:4).
Ons wat vandag leef, het ook die oorgeërfde sinlose bestaan in ons verlede. Ons het ook die lewe in die mag van die duiwel en die sonde en die ewige dood by Adam en Eva geërf.
Ons voorouers van lank terug in Europa was ook heidene voor die Heilige Gees Paulus Europa toe gestuur het om die Evangelie van Jesus Christus daar te preek. Daardie voorouers van ons het ook ‘n sinlose bestaan gehad. Dat ons verre voorgeslagte heidene was, lê ook in ons verlede.
Ons direkte vorige geslag was nie heidene nie. Beteken dit daar was niks van ‘n sinlose bestaan by ons voorouers nie? Het ons niks wat verkeerd was, nie enige verkeerde idee of gewoonte van hulle geërf nie?
Enigiets wat ons ouers gedoen het, wat nie deur die Heilige Gees en uit geloof en volgens God se Woord was nie, is deel van ‘n sinlose bestaan. Om nie uit liefde vir die Here volgens die negende gebod te leef nie en agteraf van ander te praat of dit in die gesin, die familie of gemeente is, is ‘n sinlose bestaan weg van God af. Dit is een voorbeeld van wat ons by die vorige geslag gekry het, wat sondig en sleg was.
Daarom het ons nodig om daarteen te waak om alles wat ons by die vorige geslag geleer het net so te aanvaar en te doen, asof daar niks sondig en verkeerd is nie. Enige manier of gewoonte of sêding sonder Christus, is sinloos. Dieselfde is ook waar van ons volgende geslag. Enigiets wat ons sê of doen of enige gewoonte wat sonder Christus is, is sinloos. Ons kinders en kleinkinders moet dit nie van ons oorneem nie. Inteendeel! Indien hulle so leef, moet hulle losgekoop word daarvan!
Die sekerheid dat ons losgekoop is, is daarom ‘n baie nodige sekerheid en ‘n wonderlike sekerheid.
3. Die manier waarop ons losgekoop is
Ons kry in 1 Pet.1 ook die manier hoe ons losgekoop is.
Ons is nie deur verganklike middele soos silwer of goud losgekoop nie. Silwer en goud lyk kosbaar, maar dit hoort tot die verganklike lewe op aarde waar mot en roes verniel en waar diewe inbreek en steel. So het Jesus vertel en geleer daar teen een van die berge in Kapernaum se omgewing (Mt.6:19,20).
Vir die wêreld sonder Jesus Christus, is silwer en goud baie belangrik. Silwer en goud is vir ‘n kort tydjie op aarde waardevol, ja, net vir ‘n kort tydjie en net tydens lewe op aarde. Agan het met die inneem van Jerigo gedink goud en silwer is baie belangrik en sal vir hom ‘n beter lewe gee. Hy het sy lewe verloor.
Ananias en Safira het in die eerste gemeente ook gedink goud en silwer is baie kosbaar. Hulle het gedink goud en silwer laat jou goed lyk voor ander wanneer jy daarvan weggee. Dit laat jou ook goed voel wanneer jy van die goud en silwer vir jouself hou, terwyl jy vir ander sê dat jy alles weggee om mense te help. Hulle altwee het met hulle lewens betaal en gesterf.
Goud en silwer, aardse besittings is nie so belangrik soos die wêreld daarvan maak nie. Goud en silwer kan nie ‘n einde maak aan ‘n oorgeërfde sinlose bestaan nie.
Daar is net een manier om losgekoop te word van die duiwel, sonde en die ewige dood. Die kosbare bloed van Christus koop ‘n mens los. Die woorde in 1 Pet.1:18 vertel en leer van Jesus se bloed wat aan die kruis gevloei het.
Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek ons straf op ons sonde volmaak gedra. Deur vir ons aan die kruis te sterf, het Hy ons losgekoop.
Die preek uit 1 Pet.1 en die nagmaal het vanoggend vir elkeen van ons hierdie boodskap: Ek is nie meer in die mag van die duiwel, die sonde en die dood nie. Ek leef nie meer ‘n lewe sonder betekenis nie. Ek is losgekoop met Christus se kosbare bloed aan die kruis op Golgota.
4. Christus is die Persoon wat ons losgekoop het
Ons het deur 1 Pet.1 en deur nagmaal die sekerheid dat ons losgekoop is van ‘n lewe sonder betekenis.
Ons is losgekoop deur Jesus Christus. Petrus het die volgende van Hom geskryf: “..die Lam wat vlekloos en sonder liggaamsgebrek is” (Vs 19). Hierdie woorde kom uit die Ou Testament. Die dier wat vir God in die Ou Testament geoffer moes word vir vergifnis van sonde, moes sonder enige liggaamsgebrek wees.
Die dier in die Ou Testament was net die skaduwee, die teken. Jesus Christus is die werklike offer vir ons sondes. Hy was en is God se Seun, self God. Hy was volmaak onskuldig. Hy het sy ganse lewe op aarde sy Vader in elke opsig vomaak gehoorsaam. Hy het ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek ons straf op ons sonde aan die kruis gedra. Hy het ons volmaak van al ons sonde verlos, daarom kon Hy aan die kruis uitroep:”Dit is volbring” (Joh.19:30).
Die Here se Woord, 1 Pet.1 en nagmaal vertel en leer ons dat Christus ons losgekoop het. Die brood met nagmaal wys na sy liggaam wat gewond is. Die wyn wys na sy bloed wat uit die wonde geloop het.
Die Heilige Gees leef en werk in elkeen van ons. Hy laat ons vas en seker glo, dat Jesus Christus, die Persoon is wat ons losgekoop het. Niks en niemand anders kon ons uit die mag van die duiwel, die sonde en die ewige dood loskoop nie. Net Christus kon ons loskoop. Net Hy het ons met sy kosbare bloed, dit is met sy lewe aan die kruis losgekoop.
Hy het ons na liggaam en siel syne gemaak. Ek wat in Jesus Christus glo, het deur die Heilige Gees die sekerheid dat ek losgekoop is!
5. Ons lewe as losgekooptes
Losgekoopte gelowiges leef soos losgekoopte gelowiges. Hoe leef ek as losgekoopte gelowige?
Petrus het in sy brief baie oor ‘n lewe as losgekoopte geskryf. In die deel uit 1 Pet.1 waarna ons vanoggend geluister het, kan ons die volgende kry –
Ons het die Here se Woord. Ons het nagmaal. Die Gees gee aan ons sekerheid dat ons losgekoop is en dat ons aan Jesus Christus behoort. Elkeen van ons het nou die roeping, die opdrag om as ‘n losgekoopte te leef.
Nagmaalformulier
Sang ter voorbereiding: Ps.33:11
Sang aan tafel: Ps.31:1,3,5,15,17
Voltooiing van die Nagmaalformulier
ANTWOORD
Sang: Ps.69:12,14
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.10-2/59
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen