ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Sb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.25:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.42:1,3
Lees: Markus 10:46-52
Kernvers: Mk.10:52
Tema: Jesus Christus red ons uit genade, daarom lewe ek vir Hom
Sang: Ps.33:1,6; Sb.12-3:1,2; Ps.25:2,3; Ps.42:1,3; Ps.145:9 (voorbereiding vir die tafel); Ps.84:1,2,3,4,6 (aan tafel); Sb.1-3/61:1,2,3
Inleiding:
Vanoggend se nagmaal het vir elkeen van ons ‘n boodskap van redding. Die brood en die wyn vertel en leer ons dat Jesus Christus ons enigste Redder is. Dit is ‘n wonderlike boodskap wat my lewe verander.
Wanneer ek met nagmaal weer bewus word van Jesus Christus se genade en sy liefde vir my, kan daar nie net niks in my lewe gebeur nie. Met die Heilige Gees in my wat my help en lei, wil ek na nagmaal regtig met alles wat ek het vir ons Verlosser leef!
Tema: Jesus Christus red ons uit genade, daarom lewe ek vir Hom
Elke mens het redding dringend nodig
Wanneer ons die Bybel by Markus 10 oopmaak, kry ons Jesus op pad na Jerusalem toe vir die Pasga. Hierdie sou sy laaste reis na Jerusalem toe wees om uiteindelik daar gevange geneem, onskuldig veroordeel te word en vir sondaars aan die kruis te sterf.
Gedurende hierdie reis het Jesus, sy dissipels en al die ander mense wat Hom gevolg het, die Jordaanrivier oorgesteek en by Jerigo aangekom. By Jerigo het daar langs die pad twee blinde bedelaars gesit. Markus, Matteus en Lukas het hieroor geskryf.
Vir vanoggend met nagmaal, gaan ek nie verder daarop in hoe die verskillende skrywers van die Evangelie van Jersus Christus hieroor geskryf het nie.
Een van die blinde mense se naam was Bartimeus. Hy het gehoor dat dit Jesus is, wat besig was om daar verby te loop. Hy het hard na Jesus geroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U tog oor my” (Mk.10:47).
Bartimeus het na Jesus, die Seun van Dawid geroep. Hierdie Naam vir Jesus beteken dat Hy die beloofde Verlosser is. Bartimeus het Jesus in werklikheid geroep om hom uit sy baie moeilike omstandighede te red. Hy was blind en hy was ‘n bedelaar. Dit was baie moeilike en ernstige omstandighede. Maar hy wat Bartimeus was, het erger omstandighede as blindheid gehad. Jesus het in sy woorde vir Bartimeus en vir elkeen wat Mk. 10:52 lees, ons vertel en geleer dat Bartimeus geestelike redding nodig gehad het.
Bartimeus is nie die uitsondering nie. Elke enkele mens het redding nodig. Elkeen van ons het redding dringend nodig. Die duiwel het dit reggekry om die eerste twee mense en saam met hulle die hele mensdom, elke mens van God af weg te lei. Weg van God is daar net die duiwel, sonde en nogmaals sonde en die ewige dood.
Hierdie is elke mens se grootste probleem, se grootste ellende.
Elke mens, dit is elkeen van ons vanoggend hier, het redding nodig.
Jesus is die Enigste Redder
Bartimeus, die blinde man daar by Jerigo het Jesus “Die Seun van Dawid” genoem. Dit is baie belangrik om te weet en te besef en te glo, dat elke Naam van Jesus ‘n spesiale betekenis het.
Hierdie Naam “Seun van Dawid” beteken Jesus is die Verlosser wat in die Ou Testament beloof het. God het die Verlosser beloof. Hy het aan Dawid ‘n belofte gemaak van ‘n ewige koning of heerser uit sy nageslag (2 Sam.7:11-13).
Jesus Christus is daardie Koning, daardie Heerser. Uit verskillende dele van die Bybel, Ps.2 byvoorbeeld, weet ons dat Jesus die Seun van God is. Hy, die Seun van God, het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Net Hy is tot in ewigheid die Seun van Dawid en die Seun van God. Hy is ware ewige God en ware sondelose mens tegelyk.
Jesus Christus, God se Seun het mens geword om sondaars te red. Daarom kon Hy en het Hy vir Bartimeus gesê:”Jou geloof het jou gered” (Mk.10:52).
Die geloof waardeur Bartimeus gered is, is geloof in Jesus Christus, ons Verlosser. Net Hy kan ons red. Hy red ons deur in ons plek baie swaar te ly en uiteindelik aan die kruis te sterf. Hy het op die derde dag ook uit die dood opgestaan. Hy red ons van die duiwel, die sonde en die ewige dood deur sy dood en opstanding.
Hierdie is wonderlike genade! Maar….dit is net wonderlike genade vir elkeen met ware geloof in Jesus Christus. Net die Heilige Gees gee hierdie geloof. Net die mens met ware geloof in Jesus Christus word gered.
Nagmaal versterk my geloof in Jesus Christus
Jesus het Bartimeus deur ‘n wonder laat sien en deur genade gered. Dit het Hy gedoen terwyl Hy op pad was om in Jerusalem die pasga vir die laaste keer saam met sy dissipels te vier.
Ons wat die hele Nuwe Testament het, weet dat Jesus tydens die pasga, die nagmaal ingestel het. Jesus Christus, ons Verlosser, het die nagmaal vir sy gelowiges, vir sy kerk gegee om ons geloof te versterk.
In die wêreld en die tyd waarin ons leef, is daar baie druk aan die eenkant en baie verleiding aan die anderkant.
Die geestelike druk op ons as Christengelowiges in ons land is baie se oortuiging dat Jesus Christus nie die enigste Redder is nie en dat dit nie nodig is om in Jesus as die enigste Verlosser te glo nie.
Die verleiding van ons tydsgees is dat dit nie nodig is om gereeld Bybel te lees en te bid nie, om God alleen lief te hê en te gehoorsaam nie.
Die duiwel gebruik die tydsgees van die wêreld om ons te probeer oortuig dat dit nie nodig is om Christelike te leef nie.
Elke mens se eie sondigheid maak dat ek aan hierdie druk en hierdie verleiding toegee. Dit gebeur reeds hier by ons.
Om hierdie rede het Jesus nagmaal vir sy kerk gegee. Hy het nagmaal vir ons gegee. Elkeen van ons het nagmaal nodig.
Die genade dat ek gered is, maak dat ek vir Jesus Christus leef
Jesus die Seun van Dawid het Bartimeus se lewe verander. Hy het Bartimeus se fisiese nood, sy blindheid gesond gemaak. Hy het ook Bartimeus se geestelike nood, sy verlorenheid in sonde gesond gemaak.
Die Here Jesus se liefde en genade het Bartimeus se lewe so verander dat hy van toe af naby Jesus wou wees. Hy het agter Jesus aangegaan.
Vanoggend se nagmaal het vir ons ‘n boodskap van Jesus Christus se genade en liefde vir elkeen wat in Hom glo. Die brood en die wyn vertel en leer ons dat ons Verlosser, die Seun van God en die Seun van Dawid tegelyk, sy liggaam en bloed, dit is sy lewe vir ons gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, gered kan wees.
Hierdie wonderlike genade en liefde verander my lewe. Met die Heilige Gees in my, gebruik ek nie net nagmaal en dan gebeur niks verder nie. Inteendeel! Jesus Christus se genade en liefde vir my, maak liefde vir Hom in my wakker. Omdat ek Hom liefhet, wil ek vir my Verlosser leef!
Gebruik vanoggend nagmaal. Hoor en sien die boodskap van Jesus Christus se genade en liefde vir jou. Gaan hiervandaan die week verder in en leef in alles wat jy doen vir jou Verlosser!
Nagmaalformulier
Sang ter voorbereiding van die tafel: Ps.145:9
Sang aan tafel: Ps.84:1,2,3,4,6
Voltooiing van die Nagmaalformulier
Gebed
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Sb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen