ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-3/70:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.42:1,3
Lees: Jesaja 55 (53 vert)
Kernverse: Jes.55:1,6
Tema: Die HERE is genadig vir wie opreg na Hom hunker.
Sang: Ps.146:1,8; Ps.71:9; Skb.9-3/70:1,2; Ps.42:1,3; Ps.43:3; Ps.116:1,2,4,5,7; Ps.59:1,5,10
Inleiding:
Nagmaal is ‘n belangrike feesgeleentheid wat ons van die HERE se genade en trou verseker en ons tersefdertyd oproep en opskerp om met harte wat na die HERE hunker hierdie sakrament te gebruik.
Tema: Die HERE is genadig vir wie opreg na Hom hunker
Jesaja 55 is in die tweede deel van die boek. Die tweede deel begin by hoofstuk 40 en bestaan uit die profesieë oor die verlossing van Juda, die Here se verbondsvolk, uit ballingskap.
Die verlossing is nie uit verdienste nie, maar omdat God GENADIG is. Juda, die verbondsvolk het van hulle inballingskap weggevoer is niks gedoen of kon doen om verlos te word en na hulle land terug te kon keer nie. Baie Judeërs het aangepas by die lewe in die heidense Babel. Hulle het daarom ook nie teruggekeer na hulle land toe hulle kon nie. Ons sien ook in die profete na die ballingskap dat Juda steeds nie die Here opreg liefgehad het en Hom met oorgeawe en gehoorsaamheid gedien het nie.
Die verlossing is verder omdat God ewig GETROU is. Hy het ‘n belofte in sy verbond gemaak dat Hy Abraham se God sal wees en Abraham se nageslag. Alhoewel die verbondsvolk ontrou was, gesondig het en weg van die Here gedwaal het, het God getrou gebly en sy volk verlos.
Die Here het vir baie lank deur sy profete vermaan en gewaarsku, ernstig gewaarsku, opgeroep en opdrag gegee om tot bekering te kom, maar die verbondsvolk wou nie. Daarom het die Here opgetree teen sy volk se sonde. Hy het Juda deur die heidense Babel in ballingskap weg laat voer.
Die Here het deur Jeremia gesê dat die ballingskap 70 jaar sou wees. Hy is ewig getrou. Na sewentig jaar het die Here koning Kores beskik om Jude uit ballingskap terug te laat keer. Hierin wys die Here sy ewige volmaakte getrouheid, vir Juda destyds en Hy wys sy ewige trou ook vir ons.
Nagmaal gaan juis oor God se genadige verlossing en sy getrouheid.
GENADE – Wys ons op die wonderlike verlossingsplan dat God sy eie Seun gegee het. Net Hy is die enigste Verlosser. Net Hy is ware en ewige God. Net Hy is ware regverdige mens.
Geen mens sou ooit daaraan kon dink het nie. Die ganse mensdom was verlore in sonde en het net een bestemming gehad: Die heilige God se ewige oordeel in die hel. Intussen het die mensdom net aanhou sonde doen. Die sonde het meer geword, die skuld voor God meer en die oordeel ook sekerder.
Hierdie mag ons nooit vergeet nie. Sonde verdien God se ewige oordeel in die hel. Daar is nie vir Hom kleiner sondes wat nie so erg is nie. Die sonde wat ons vandag doen, of dit in ons oë die kleinste gedagte of emosie is, of volgens ons die onskuldigste woordjie, vir God is dit sonde, want dit is nie volmaak volgens sy heilige wil nie. God aanvaar net wat volmaak is.
Die duiwel is die een wat glad nie vir volmaaktheid omgee nie. Hoe meer onvolmaak hoe gelukkiger en hoe meer tevrede is die duiwel. Daarom mag ons nooit dink enigiets anders as volmaakte gehoorsaamheid is vir God aanvaarbaar nie. Ons sonde vandag verdien steeds God se ewige oordeel in die hel.
Ondanks die sondige mensdom wat die ewige dood in die hel verdien het, het God uit louter genade die mensdom nie veroordeel nie. Ondanks elkeen van ons se sonde wat maak dat elkeen van ons God se oordeel verdien, oordeel God ons nie.
Hy is die ewig en volmaakte genadige God. Sy genade is sy goedgesindheid en sy goedheid sonder dat ons enigiets daarvan verdien. Hy wys sy genade deur ons op grond van sy Seun se dood en opstanding te vergewe sonder dat ons enigiets verdien.
Dan die Here se GETROUHEID. Hy, die allerhoogste en allerheiligste God het ‘n ewige verbond van genade met Abraham en sy nageslag gesluit. Deur die eeue het die Here sy verbond gehou.
Uiteindelik het God sy volmaakte getrouheid bekend gemaak toe Hy die Verlosser gestuur het. God se Seun, Jesus Christus het op ‘n almagtige manier mens geword. Hy het al ons sonde op Hom geneem. Met ons sonde op Hom het Hy ‘n verskriklike lyding verduur en ‘n wrede dood aan die kruis gesterf. Deur sy liggaam aan die kruis te laat breek en sy bloed te laat vloei het Hy ons van starf en oordeel gered. Aan die kruis het die Here Jesus ons volmaak verlos.
Hy, die gekruisigde Jesus het op die derde dag uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Die gekruisigde Jesus wat opgestaan het, gee ons die krag deur sy Heilige Gees, om as verloste nuwe mense op te staan en met sonde te breek. Hy gee ons die krag om as nuwe mense op te staan en met opregte geloof voluit in alles vir Hom te leef met liefde en gehoorsaamheid. Christus se opstanding uit die dood is ons waarborg en ons sekerheid dat ons liggame met sy wederkoms ook uit die dood op sal staan.
Die Heilige Gees verseker ons met Nagmaal dat die HERE ons genadige en getroue Verbondsgod is.
Jesaja het deur die Heilige Gees geskryf: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy naby is” (Jes.55:6). Hierdie woorde is nie vir heidene wat die Here nog nie ken en wat Hom moet soek om in Hom te glo, tot bekering te kom en gered te word nie. Hierdie woorde was vir Juda, die verbondsvolk bedoel.
Hierdie woorde “soek die HERE” en “roep Hom aan” is vir die kerk van Christus in die Nuwe Testament bedoel. Hierdie woorde is vir ons wat verloste gelowiges is, bedoel.
Om die HERE te soek, is ‘n opdrag van Hom. Die Here wil dat sy gelowige verbondskinders Hom sal soek. Om die Here te soek moet daarom vir ons almal baie belangrik wees. God vra dit. Hy verwag van ons om Hom te soek.
Dit bring ons by die vraag: Hoe soek ons die HERE? Ons kan ook vra: Hoe wil die HERE hê dat ons Hom sal soek?
Al hierdie dinge het die Judeërs reeds gedoen met hulle offers, sabatte, godsdienstige feeste en gebede. Tog roep die HERE hulle steeds op om Hom te soek.
Is daar meer in as om die HERE te soek?
Ja, daar is meer.
Alles wat ek reeds in die preek genoem het, is hoofsaaklik uiterlike dinge. Om die HERE te soek begin innerlik en moet ook in ons binneste gebeur. Om die HERE te soek is juis ook:
Die laaste woorde in Jes.55:6 wat ons aandag moet kry, is “terwyl Hy nog te vinde is” en “terwyl Hy naby is”.
Die HERE is alomteenwoordig. Dit beteken Hy is mos dan altyd te vinde en altyd naby. So uiterlik mag ons hierdie woorde nie lees nie.
Saul het die HERE gesoek, maar die HERE het hom nie geantwoord nie (2 Sam.28:6).
Die HERE het in die eerste deel van Jesaja die volgende vir sy verbondsvolk gesê: “As julle julle hande in gebed uitstrek, sal Ek my oë vir julle toemaak. Selfs al bid julle hoe baie, sal Ek nie luister nie, want julle hande is met bloed bevlek” (Jes.1:15). Die HERE was toe nie meer vir sy verbondsvolk te vinde nie. Hy was toe nie meer naby nie.
Hierdie woorde in Jes.55 beteken dat ons, die HERE se kinders, nie moet wag voor ons Hom met opreg gelowige harte soek en Hom aanroep nie. Ons mag nie dink dat ons nou te besig is nie, dat daar nou te veel is wat by die werk gedoen moet word, te veel wat by die huis reggemaak moet word, te veel goed wat eers betaal moet word, ander verpligtinge wat nou eers ons aandag vra, en wat ons nie kan uitstel nie.
Om die HERE te kan soek, om Hom te kan aanroep is genadetyd wat ons het. Daarom is die tyd om die HERE te soek vandag, nou met hierdie erediens en hierdie nagmaal. Die tyd om Hom te soek is elke dag. Die HERE moet belangriker as alles en almal vir ons wees!
Die gelowige kind van die HERE wat Hom deur die Heilige Gees met ‘n hart wat brand van geloof, van berou oor sonde, van liefde vir die HERE oor sy genade en van gehoorsaamheid aan Hom, sal nie by ‘n doodloopstraat uitkom nie.
Die pad na die HERE is oop vir almal met ‘n opreg gelowige hart. Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het en aan sy Vader se regterhand vir ons met sy gebede intree, is die REDE…die WAARBORG…dat ons die genadige en getroue God sal vind!
Ons sal deur Jesus Christus die HERE vind wanneer ons Hom met opreg gelowige harte soek…vanoggend met hierdie nagmaal en elke dag!
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van die tafel: Ps.43:3
Sing aan tafel: Ps.116:1,2,4,5,7
Voltooiing van die Nagmaalformulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.59:1,5,10
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen