ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartighid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.107:1,10
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.81:1
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Skb.9-1:10,11;
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.20:1,4,7
Lees: Psalm 1 (2020-vertaling)
Kernvers: Ps.1:6
Tema: Naby die Here is daar sorg en lewe ver van Hom, net die dood
Sang: Ps.107:1,10; Ps.81:1; Skb.9-1:10,11; Ps.20:1,4,7; Ps.145:9; Ps.105:1,2,4,5; Ps.115:1,7,8
Inleiding:
Die Bybel, die Here se Woord, is die Woord wat lewe gee. Die sakrament wat na Jesus se kruisiging wys waardeur Hy ons van die dood verlos het, is daarom die sakrament van die lewe.
Vanoggend luister ons na wat die Here ons vertel en leer van ware lewe in Psalm 1.
Tema: Naby die Here is daar sorg en lewe, ver van Hom, net die dood
1. Die Here sorg deur sy Woord en sakrament
Elkeen van ons het sorg nodig. Ons het liggaamlike en geestelike en emosionele sorg nodig.
Wie sorg vir elkeen van ons?
‘n Kind in sy of haar ouerhuis sal antwoord: My ouers sorg vir my. ‘n Volwasse mens sal antwoord: Ek is selfstandig en sorg vir myself. Hierdie antwoorde is dels reg, maar kyk nie diep genoeg nie.
Die gelowige skrywer van die eerste Psalm het diep genoeg na die lewe gekyk en die werklikheid soos dit is, neergeskryf. Hy kon so skryf, want die Heilige Gees het hom gelei en gehelp om die werklikheid neer te skryf.
Die werklikhid is: Here sorg vir elkeen van ons.
Hy sorg liggaamlik vir elkeen van ons. Hy sorg deur sy Woord. God het in die begin gesê:”laat ons mense maak..” (Gen.1:26). Daarna het Hy die eerste man uit die stof van die aarde en die eerste vrou uit die man se rib gemaak. Elke liggaam van elke mens kom van daardie dag af. Die aarde waarop ons leef, die kos wat ons eet en die water wat ons drink, kom van God af wat deur sy Woord alles gemaak het.
Die Here sorg geestelik vir ons. Die eerste twee mense het deur hulle sonde alle mense in die grootste ellende en probleme laat kom. Hulle het God se oordeel oor sonde oor hulleself en oor alle mense, ons ook, gebring. Sy oordeel is die ewige dood.
Die Here vertel en leer ons hoe Hy ons uit die ellende van die ewige dood red. Hy stuur sy Seun om in ons plek vir ons sonde te sterf en vir ons uit die dood op te staan. Die Here laat hierdie baie goeie boodskap neerskryf, sodat ons kan lees en glo hoe Hy geestelik vir ons sorg. Ons gebruik vanoggend die Heilige Nagmaal. Die Heilige Gees gebruik nagmaal om ons geloof in Jesus wat vir ons gesterf het, sterk te maak.
Die Here sorg ook emosioneel vir ons. Hierdie stukkende wêreld waarin ons leef, kom van die dag toe die eerste twee mense hulle rug op God gedraai het. Al die swaarkry en die seerkry laat ook ‘n gelowiges onder moeilike omstandighede voel dat ek op my eie is. Alles word te veel. Die Here sorg deur sy Woord vir elkeen van sy gelowiges wat swaar kry. Hier is twee dele in die Bybel –
Met nagmaal maak die Heilige Gees my geloof sterker en dieper dat Jesus Christus my syne gemaak het en dat ek in hierdie stukkende wêreld altyd onder God se sorg leef.
2. Onder die Here se sorg, is daar lewe
Psalm 1 begin met die woorde: “Gelukkig is die mens”. Ons kan die woorde ook so verstaan: Dit gaan baie goed met die mens of selfs die mens is ewig salig.
Die Here leer ons ook in Ps.1 wanneer en waarom iemand gelukkig is of dan wanneer dit baie goed gaan. Die Here se Woord het ‘n baie belangrike plek in so iemand se lewe. Hierdie geluk, hierdie ewige saligheid kom in my lewe wanneer ek vreugde in die Here se wet vind. Ek vind vreugde in sy Woord wanneer dit vir my wonderlik is om met die Bybel besig te wees en die besig wees met die Here se Woord my baie bly maak.
Ek vind vreugde omdat ek van die Here se sorg vir elke gelowige, ook vir my lees en glo wat ek lees. Ek glo veral met vreugde en dankbaarheid wanneer ek lees dat Jesus deur sy dood en opstanding my van al my sonde verlos het en aan my nuwe lewe, die ewige lewe gegee het.
‘n Gelowige is verder gelukkig of dan salig wanneer ek gereeld met die Here se Woord besig is en wat ek lees en hoor, my eie maak. So iemand prewel selfs die woorde in die Bybel dag en nag. Dit beteken wat die Here sê is altyd vir my baie belangrik en deel van my lewe.
Wanneer ek onder die sorg van die Here deur sy Woord leef, is daar vir my werklik lewe, ewige lewe. Die ewige lewe wat Jesus Christus gee, is vir nou en vir die ewigheid hierna.
Die Here se Woord is daarom die Woord van die lewe.
Nagmaal is die sakrament van die lewe wat Jesus Christus gee.
3. Sonder Hom, is daar net die dood
Maar daar is ook die mens wat nie gelukkig is nie, wat nie salig is nie. Die Here vertel en leer ons ook van hierdie mense in Ps.1. Hierdie mens volg die raad van goddeloses, staan op die pad van sondaars en sit in die kring van spotters.
Hierdie woorde beskryf die verkeerde manier van lewe, die lewe weg van God af. So ‘n lewe gebeur nie net skielik nie, maar so iemand word al dieper in die donkerte van sonde ingetrek –
Hierdie lewe weg van die Here af, het net een einde en dit is die ewige dood onder God se ewige oordeel. Vir ‘n ruk lyk dit dalk of dit met hierdie mense goed gaan. Hulle lyk suksesvol en gelukkig. Maar….in die alwetende God se oë, is hulle soos kaf wat die wind wegwaai.
Hierdie mense het in hulle lewe op aarde gedink hulle hoef nie naby God te leef met liefde vir Hom en gehoorsaamheid aan Hom nie. Hulle almal was en is steeds so verkeerd. Wanneer die dag van die Here aanbreek, dit is wanneer Jesus Christus as Regter kom, sal almal wat ver van God af geleef het, nie staande bly nie, maar ewig veroordeel word.
4. Ons kan die Here dank vir sy sorg
Hier is ons vanoggend, die 18e Februarie 2024. Die Bybel is oop. Ons lees en ons hoor dat daar naby God sorg en lewe is. Voor ons is die brood en wyn van nagmaal met dieselfde boodskap: God sorg vir ons deur sy Seun se liggaam en bloed aan die kruis dat ons kan lewe, regtig kan lewe.
Hier is gelowiges wat ernstig siek is in ons gemeente, wat baie swak is en baie pyn verduur. Hier is gelowiges wat ander baie moeilike omstandighede het, geestelik en emosioneel.
Die Heilige Gees is ons Trooster en ons Helper. Hy gee vir elkeen vanoggend die sekerheid dat ons Jesus Christus wat vir ons gekruisig is, in ons lewe het. Deur Hom behoort ons aan die Here ons God. By ons God is daar vir ons sorg en lewe.
Ek kan daarom ten spyte van moeilike omstandighede, met dankbaarheid nagmaal gebruik en met dankbaarheid met my lewe verder aangaan.
Nagmaalformulier
Sing ter voorbereiding van tafel: Ps.145:9
Sing aan tafel: Ps.105:1,2,4,5
Voltooiing van Nagaalformulier
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.115:1,7,8
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen