ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Skb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,17
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.3-1:1
Lees: Jesaja 7:1-16
Kernvers: Jes. 7:14
Tema: Die belofte van verlossing het waar geword in Jesus Christus.
Sang: Skb.4-6, Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,17; Skb.3-1:1;Ps.145:9; Tafel-Ps.84:1,2,3,6; Skb.1-3:1,2,3
Inleiding:
Ons is besig om Kersfees te nader. Die huidige preekreeks gaan juis oor Kersfees. Ons het eers na ‘n geskiedenisboek gekyk – Genesis 3 en daarna na ‘n wysheidsboek – Psalm 2. Vanoggend is ons by ‘n profetiese boek – Jesaja 7. Dit is die boeke waaruit die Ou Testament bestaan – geskiedenis, wysheid en profete.
Ons het vandag nagmaal. Vanoggend se preek uit Jesaja 7 is daarom ook ‘n nagmaalpreek.
‘n Kerspreek kan ook ‘n nagmaalpreek wees, want én Kersfees én nagmaal gaan oor Jesus Christus ons Verlosser. Hy is vir ons gebore en Hy is vir ons gekruisig. Kersfees en nagmaal hoort bymekaar.
Tema: Die belofte van verlossing het waar geword in Jesus Christus.
1. Ons het ‘n dringende behoefte aan verlossing.
In Jesaja 7 ontmoet ons Juda met baie ernstige probleme. Hulle eerste baie ernstige en baie groot probleem was hulle verhouding met die Here hulle God. Luister saam na wat die Here deur Jesaja van die verbondsvolk gesê het: “’n Bees ken sy eienaar en ‘n donkie die krip van sy baas, maar Israel ken My nie, my volk het geen begrip van wat Ek doen nie” (Jes.1:3).
Deur die hele Bybel is om die Here te ken ‘n baie, baie belangrike waarheid. Wie God ken, dit is met ‘n gelowige hart en verstand, het die ewige lewe (Joh.17:3). Sonder kennis van God is enigeen onder God se oordeel op die pad van die dood, die ewige dood.
Die tweede ernstige probleem was oorlog. Oorlog is altyd verskriklik. Ons lees en hoor genoeg van Rusland se oorlog teen Oekraïne en Hamas se oorlog teen Israel. Dis verskriklik en ontstellend dat duisende mense so sterf.
In Jesaja 7 kry ons koning Resin van Aram en koning Peka van Israel wat ‘n veldtog teen Juda begin het. In vs 1 kry ons die hele verloop van die oorlog. In vs 2 en verder het Jesaja deur die Heilige Gees al die besonderhede neergeskryf.
Toe Koning Agas en Juda hoor dat die Arameërs reeds nader kamp opgeslaan het, het almal baie bang geword. Hulle het geweet geweld en bloedvergieting en dood was naby.
Die Here, die alwetende God het geweet hoe bang die hele Juda was. Die Here het sy profeet Jesaja gestuur om hulle gerus te stel en te verseker dat die Hy uitkoms sal gee. Agas en Juda het ‘n wonderlike belofte van verlossing by God gekry dat die oorlog nie sal gebeur nie.
Die Here het by die belofte van uitkoms nog uit genade vir koning Agas gesê dat hy enige teken kan vra. Agas wou nie hierdie genade van die Here aanvaar nie. Hy het nee gesê vir God se genade. Die rede wat hy gegee het waarom hy nie vir die Here ‘n teken wou vra nie, was ‘n vals rede. Hy en Juda het die Here nie geken nie en ver van Hom af geleef. Agas was so ver van die Here af dat hy God en sy genade nie meer geken het nie. Dit was die werklike rede dat hy die Here se genade weggewys het.
Agas het “nee dankie” gesê vir die Here se genade terwyl hy en die hele Juda ‘n dringende behoefte aan verlossing gehad het!
Kyk ons om ons rond in ons land, behoort elke Christengelowige te besef dat ons dringend uitkoms, verlossing nodig het. Ons het verlossing dringend nodig wat net God in sy genade kan gee.
Kyk ek na myself met die Heilige Gees in my en ondersoek myself eerlik, sal ek besef dat ook ek soveel sonde voor die Here het, dat ek verlossing dringend nodig het!
2. Ons Verbondsgod beloof verlossing.
Die Here het baie kwaad vir Juda geword oor hulle sonde teen Hom. Trouens in Jesaja 1 en 3 en 5 lees ons hoe ernstig die Here deur Jesaja met Juda gepraat het. Hy het hulle self met die sondige Sodom en Gomorra vergelyk.
Maar….die Here is onveranderlik DIE GENADIGE GOD!
Hy het self vir Juda ‘n teken gegee: “‘n Jong vrou sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem” (Jes.7:14). Hierdie seun met die naam Immanuel was die Here se teken en tersefdertyd sy belofte van verlossing vir Juda. Voor hierdie seuntjie weet om die verkeerde te verwerp en die goeie te kies, sal die Here konings Peka van Israel en Resin van Aram en hulle leërs vernietig.
Die seuntjie was die belofte van verlossing van oorlog destyds. Maar Juda het verlossing van sonde baie nodiger gehad. Daardie seuntjie destyds het nie verlossing van sonde kon bring nie.
Daarom was ‘n ander Seun, ‘n ander Verlosser nodig. Matteus het deur die Heilige Gees vir ons van die ander Seun vertel. Na die engel in ‘n droom aan Josef verskyn het en vir Josef vertel het dat die Verlosser uit Maria, sy verloofde gebore sou word, het Matteus die volgende geskryf: “Dit alles het gebeur, sodat die woord wat die Here deur sy profeet gesê het, vervul sou word: Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuale noem. Die naam beteken God by ons” (Mt.1:22,23).
Die seuntjie in koning Agas se tyd het in werklikheid na die Seun in keiser Augustus se tyd gewys. Die Seun wat uit Maria gebore sou word, waarvan die engel vertel het, was die belofte van verlossing van die Here ons Verbondsgod. Die belofte van hierdie Seun is God se belofte aan ons van verlossing van sonde en die dood en van ware lewe.
3. Jesus Christus is op ‘n almagtige manier ons Verlosser.
As die Here wil, vier ons oor vyf weke die geboorte van Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser se geboorte.
Jesus Christus ons Verlosser het op ‘n almagtige manier mens geword. God het die totaal onmoontlike heeltemal moontlik gemaak. Maria, ‘n jong meisie het sonder enige toedoen van’n man, deur die Heilige Gees swanger geword met die Seun van die Allerhoogste.
God het in sy almag ‘n volkstelling beskik. Vir die volkstelling moes elke man na sy geboortedorp gaan. Josef, Maria se verloofde, se geboortedorp was Betlehem. Die nag deur God gekies, is sy Seun as Verlosser in Betlehem gebore. God se eeue oue belofte van ‘n Verlosser het daardie nag in Betlehem waar geword toe sy Seun uit die nageslag van die eerste vrou gebore is en mens geword het.
Deur die Here se wil, vier ons vanoggend nagmaal. Nagmaal is die teken van Jesus Christus, ons Verlosser se liggaam en bloed aan die kruis.
Op ‘n almagtige manier het Jesus al ons sonde op Hom geneem. Op ‘n almagtige manier het Hy die bitterste lyding en ergste pyn deurgegaan. Op ‘n almagtige manier het Hy met ons sonde op Hom in ons plek die wrede dood aan die kruis op Golgota gesterf. Deur aan die kruis te sterf het Jesus Christus op ‘n almagtige manier die sonde en die duiwel en die dood oorwin en vir ons verlossing en vergifnis en vryspraak by sy Vader, die heilige God gekry.
Ek, wat deur die Heilige Gees in my, in Jesus Christus as my enigste Verlosseer glo, het op ‘n almagtige manier ‘n verloste nuwe mens geword.
Dit is die boodskap van Jesaja 7!
Dit is die boodskap van vanoggend se nagmaal!
4. Deur die Heilige Gees kan ons as verloste gelowiges leef.
Die Here se verlossing het vir Juda uitkoms uit die oorlog beteken. Hulle het ‘n groter en belangriker verlossing van ‘n dieper probleem dringender nodig gehad – verlossing van sonde. Ongelukkig wou Juda nie na God se Woord deur sy profeet Jesja luister nie. Juda het hulle nie bekeer nie. Hulle het nie met gelowige harte vol berou na God teruggekom en naby Hom geleef nie. Daarom het die Here Juda omtrent 200 jaar later in die hand van die heidense Nebukadnesar van Babel oorgegee. In ‘n oorlog het Babel die land, Jerusalem die hoofstad en diee tempel verwoes en baie Jode in ballingskap weggevoer.
Die Here praat met ons deur sy Woord. Hy praat ook met ons deur nagmaal. Nagmaal en God se Woord gaan altyd saam. Die boodskap vanoggend is: Ons het verlossing dringend nodig. God het vir ons die Verlosser gegee. Hy is Jesus Christus, God se Seun, wat in Betlehem gebore is en aan die kruis op Golgota net buite Jerusalem gesterf het.
Sal ons anders as Juda wees?
Leef anders – Luister na wat God in sy Woord oor ons verlossing sê. Kyk en glo na wat die Heilige Gees ons met die brood en wyn van nagmaal oor ons verlossing wys.
Glo hierdie boodskap, hierdie lewenswaarheid met jou hele hart!
Bêre deur die Heilige Gees die waarheid dat Jesus Christus jou enigste Verlosser is, diep in jou hart.
Leef deur die Gees met ‘n hart wat brand van geloof in die Here Jesus.
Wys deur die Gees jou geloof in wat jy sê en wat jy doen.
Leef deur die Heilige Gees as ‘n verloste gelowige.
Hierdie is so belangrik, want dit is alleen wanneer ek deur die Gees my geloof wys, dat Kersfees 25 Dsember 2023 en nagmaal 19 November 2023 vir my regtig betekenis het.
Nagmaalformulier
Sang voor nagmaal: Ps.145:9
Sang aan tafel: Ps.84:1,2,3,6
Voltooiing van die Nagmaalformulier
Gebed
ANTWOORD
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen