ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor eie konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.68:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.130:2,3
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.115:1,2,6
Lees: Psalm 2
Kernverse: Ps.2:1,7,12
Tema: Die ewige Seun van God het mens geword dat ons gered kan word
Sang: Ps. 68:1,2; Skb.12-3:1,2; Ps.130:2,3; Ps.115:1,2,6; Ps.115:7,8; Stille Nag (Lied 348):1,2,3
Inleiding:
Psalm 2 is deel van die wysheidsboeke in die Bybel. God maak sy wil aan ons bekend in die wysheidsboeke en ook in hierdie psalm. In verskillende psalms kry ons verwysings na Jesus Christus, ons Verlosser. Die Naam Christus is Grieks. In Hebreeus is die Naam Messias. ‘n Psalm wat direk of indirek na Jesus Christus, ons Verlosser wys, staan bekend as ‘n Messiaanse psalm. Ps.2 is so ‘n Messiaanse psalm.
‘n Messiaanse psalm is ‘n baie goeie psalm vir Kersfees. Ons is juis besig om Kersfees te nader.
Tema: Die ewige Seun van God het mens geword dat ons gered kan word
Die psalmdigter begin met die onrustige wêreld. Luister hoe skryf die psalmdigter oor die wêreld. Die Heilige Gees het hom die psalm laat skryf. Die Heilige Gees is God. Hy is alwetend en oralteenwoordig. Die Gees weet presies waarmee elke mens, elke volk, elke land, elke regering besig is.
Vs 1 – Die nasies smee planne.
Vs 2 – Die konings van die aarde is in opstand ten God.
– Leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde.
Wie is hierdie nasies in opstand teen die Here en besig om planne teen die Here en sy gesalfde te smee?
Ons kan eers na die OT kyk. Dit lyk asof die omstandighede in 2 Sam.8 en 10 die omstandighede is waarin die psalm geskryf is. Die nasies was die Filistyne, Moabiete, Ammoniete en Arameërs wat teen die Here en sy verbondsvolk opgestaan het. Daar was deur die openbaringsgeskiedenis van die Ou Testament gedurig opstande en planne teen die Here en teen Israel, sy verbondsvolk.
Die opstand teen God en die planne teen sy Gesalfde het steeds nie opgehou nie. Die volke en leiers wat teen God opstandig is, kan vandag steeds by die naam genoem word –
Al hierdie is sameswering en bose planne teen die Here.
Vs 7 se woorde “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader” is woorde wat vertel van die Here se belofte aan Dawid van ‘n ewige koningskap (2 Sam.7:8-16). Die Here het gesê Hy sal vir ‘n seun in Dawid se nageslag ‘n Vader wees en een uit Dawid se nageslag sal vir die Here ‘n seun wees.
Hierdie woorde in Ps.2:7 wys in die eerste plek op die Here se verhouding met Dawid en sy nageslag. Maar….nie een mens uit Dawid se nageslag was ewig koning nie. Daarom het die Here daardie dag met Dawid in werklikheid oor Iemand buitengewoon uit sy nageslag gepraat, Iemand wat werklik ewig as Koning en Oorwinnaar sou regeer.
Daardie Iemand uit Dawid se nageslag is Jesus Christus, God se Seun!
Hierdie woorde van vs 7 wys na die opstanding van die gekruisigde Jesus uit die dood, waarna Hy na die hemel opgevaar het om aan God se regterhand alles en almal te regeer. Die Here self help en lei ons om hierdie woord so te verstaan in Hebr.1:3-5. Paulus het in sy preek op Siprus presies dieselfde gesê (Ha.13:32,33).
Dat Jesus Christus, God se Seun sou sterf en uit die dood sou opstaan, het God reeds in die ewigheid oor besluit. Die dag toe Jesus uit die dood opgestaan het, het God aan die wêreld die verhouding tussen Hom en sy Seun bekend gemaak, ‘n verhouding wat van ewigheid af was. Dit is wat die woorde “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader” in vs 7 beteken.
God, die Vader en Jesus Christus, sy Seun het van ewigheid hierdie verhouding van Vader en Seun. Jesus is die ewige Seun van God.
Die mense, volke en leiers in die wêreld span dus saam teen die ewige Seun van God. Dit is ‘n vergeefse saamspan.
Aan die anderkant is daar die gelowiges wat in Jesus glo en soos Petrus bely: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt.16:!6). Die mens wat so glo en bely het die wondergenade om in Jesus Christus, God se Seun te kan glo, van sonde verlos te kan wees en die ewige lewe te kan hê.
In die ewigheid het God die besluit geneem dat sy Seun aarde toe sou kom, mens sou word om sondaars te verlos.
In die Tuin van Eden, na die eerste twee mense swaar gesondig het, het God die belofte gemaak (Gen.3:15). Deur die verloop van die eeue het God hierdie belofte herhaal (Jes.7:14, Miga 5:1).
Op ‘n dag, na baie eeue, het die engel Gabriël met ‘n boodskap van God af by ‘n jong meisie in Nasaret gekom. Haar naam was Maria. Die engel se boodskap was dat sy deur die Heilige Gees swanger sou word met die Seun van die Allerhoogste (Lk.1:32-35).
Maria was verloof aan ‘n jong man Josef. In ‘n droom een nag het die engel van die Here in ‘n droom aan Josef verskyn en hom vertel dat sy verloofde met die Seun van God swanger was. Josef moes die Seun Jesus noem, want Hy sou die verbondsvolk van sonde verlos (Mt.1:20,21).
Een nag in ‘n klein dorpie Betlehem, is God se Seun gebore. Josef en Maria was in Betlehem, want volgens die Romeinse keiser, Augustus, moes hulle na Josef se geboortedorp gaan om in die bevolking geregistreer te word (Lk.2:1-7).
Al hierdie dinge het gebeur, omdat God sy Seun gegee het, Jesus die Christus, om ons van al ons sonde te verlos.
By Jesus Christus, God se Seun gaan die mensdom uiteen. Kort na Jesus se geboorte het sy ouers Hom na die tempel in Jerusalem geneem. Daar het ‘n gelowige man, Simeon, Maria se babaseuntjie in sy arms geneem en gesê: “Kyk, hierdie Kindjie is bestem tot ‘n val en opstanding van baie in Israel…” (Lk.2:34).
Die volke, nasies, konings van die aarde en leiers wat teen die Here en sy Gesalfde, dit is teen God se Seun, Jesus Christus in opstand is en planne teen Hom smee, kry in Ps.2 ‘n baie ernstige waarskuwing. Die waarskuwing is dat alle opstandigheid en sameswering tot ‘n einde moet kom. Almal moet die Here Jesus Christus met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en aan Hom onderdanig wees (Ps.2:11).
Indien dit nie gebeur nie, sal die Seun van God se toorn ontvlam, reeds hierdie Kersfees in 2023. Wanneer Hy weer kom as Hemelregter om te oordeel, sal Hy Kersfees 2023 onthou en elkeen wat nie in Hom geglo het en Hom gedien het nie. Daardie dag sal die gekruisigde Jesus almal wat Hom nie geken het nie, nie in Hom geglo het nie vernietigend veroordeel word. Die Here Jesus self sal elkeen in die poel van vuur, in die hel gooi.
Die ongelowige mense en konings en leiers lyk vir ons so sterk en so magtig, asof hulle in hulle ongeloof oor alles die sê het en net kan aangaan met hulle onchristelike lewe. Die werklikheid is dat indien hulle nie tot bekering kom en in Jesus as enigste Verlosser glo nie, God se verskriklike oordeel op elkeen wag.
Aan die anderkant, en hiermee sluit die psalm af: “Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek” (Ps.2:12).
Die mens wat by Jesus, God se Seun skuiling soek, is die mens wat die Heilige Gees het. Dit is die mensdeur die Heilige Gees in Jesus Christus as enigste Verlosser glo. Dit is die wat Kersfees 2023 as ‘n Verlossingsfees, Christusfees vier met Jesus Christus as die Middelpunt van Kersfees, die Middelpunt van elke gelowige se lewe, ook van my lewe.
Met so ‘n gelowige gaan dit goed. Dit gaan goed ongeag omstandighede, want deur Jesus het ek die ware lewe, die ewige lewe. Die lewe wat ek as Christengelowige nou het, sal vir my uitloop op ewige lewe in die hemel by my Vader en sy Seun, my Verlosser
ANTWOORD
Sang: Ps.115:7,8
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Stille Nag (Lied 348):1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen