Home Preke Kerstyd Jesus Christus is ons Herder en Regeerder uit Betlehem.

Jesus Christus is ons Herder en Regeerder uit Betlehem.

Datum: 2024-11-24
|
Reeks: Kerstyd
|
Kernverse: Miga 5:3

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.105:1,5
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:38,39
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.2:1,6
Lees: Miga 5
Kernvers: Miga 5:3
Tema: Jesus Christus is die Herder en Regeerder uit Betlehem.
Sang: Ps.105:1,5; Ps.71:9; Ps.119:38,39; Ps.2:1,6; Skb.1-3:1,2,3; Skb.2-4:1,2,3.

Inleiding:

Kerstyd is vir die kerk van Christus op aarde ‘n baie goeie tyd. Alhoewel dit nie die spesifieke tyd is dat Christus gebore is nie, herdenk die kerk van Christus wel sy geboorte elke jaar die tyd. Hierdie herdenking het begin in 354 n.C toe die kerk in die plek van die wêreldwye herdenking van die sogenaamde songod, die herdenking van die ware Lig, Jesus Christus se geboorte begin vier het.

Kerstyd is daarom getuienistyd dat ons in Jesus Christus, die enigste ware Verlosser glo!

Tema: Jesus Christus is die Herder en Regeerder uit Betlehem.

  1. Die belofte.

Miga het opgetree 734 – 701 v.C in dieselfde tyd as Jesaja. Daardie jare het dit vir ‘n lang tyd met Israel nie goed gegaan nie.

  • Koning Tiglat Pileser van Assirië het internasionaal ‘n al groter bedreiging geword. Dit het al duideliker geword dat hy van plan was om sy grondgebied uit te brei en gereed gemaak het om Israel in te val. Wat meer is, is dat die Here hierdie bedreiging gebruik het om Juda, sy verbondsvolk na Hom toe terug te bring.
  • Israel se godsdiens was uiterlik. Hulle het baie offers gebring (Miga 6:6,7) en godsdienstige feesdae gehou, maar hulle het nie naby die Here geleef nie. Hulle het Hom ook nie liefgehad soos hulle moes nie. Daar was ‘n valse gerustheid in Juda en hulle het nie nederig en ootmoedig voor die Here geleef nie. Uiterlik het Juda se godsdienstige lewe goed gelyk. Innerlik was daar nie opregte geloof nie.
  • Op maatskaplike gebied was daar baie onreg teenoor mekaar, veral teen wese en weduwees. Judal het gehaat wat goed is en hulle was lief vir wat sleg is (Miga 3:2,9). Daar het selfs gewelddadige bloedvergieting onder mekaar voorgekom.

In die die tyd het die Here ‘n verrassende boodskap deur Miga vir Israel gehad. Die boodskap was dat Hy ‘n Verlosser vir sou stuur. Dat so ‘n boodskap in so ‘n tyd gehoor is, was ‘n wonder. Die belofte van die Verlosser het die volgende belangrike dinge  bevat:

  • Hy sal uit Betlehem kom, ‘n klein en onbelangrike dorpie, met ‘n veelseggende naam wat “huis van brood” beteken het.
  • Hy sal ‘n regeerder wees. Hy sal die gelowige verbondsvolk regeer en beskerm. Hy sal die ongelowiges oorwin en vernietig.
  • Hy is van ewigheid af die Verlosser.
  • Hy sal ‘n Verlosser wees wat met krag en sterkte optree, sy verbondsvolk beskerm en lei.
  • Almal wat in die Verlosser glo, sal tot in die uithoeke van die aarde leef en  veilig wees onder die regering en beskerming van hulle sterk Verlosser.
  • Ons kan sê die belofte was dat die Verlosser ons Herder en Regeerder uit Betlehem sou wees.

2. Die werklikheid.

Die belofte van die Verlosser vir ‘n sondige verbondsvolk was ‘n wonder. Die geboorte van die Verlosser was eweneens ‘n wonder.

Al die dinge wat aan die orde was toe Miga hierdie profesie verkondig het, was daar met ons Verlosser se geboorte – Die heidense Romeinse oorheersing, die uiterlike godsdiens van die Fariseërs, die geweld onderling. Maar….. vir God was dit die bestemde tyd (Gal.4:4.) Wat het die Here gedoen? Hy het die tyd laat aanbreek vir sy Seun, ons Verlosser om gebore te word!

Die plek waar die Verlosser gebore is, was ‘n wonder. Betlehem was in die Nuwe Testament steeds ‘n klein ou plekkie met geen noemenswaardige betekenis nie. Die dorpie was so 9 kilometer suidwes van Jerusalem in die platteland. Die lewende God het op die tyd wat Hy bepaal het, ‘n sensus, ‘n volkstelling beskik, sodat Maria en Josef Betlehem toe moes gaan waar hul eersteling, die Seun van die Allerhoogste gebore moes word.

Die geboorte van ons Verlosser was ‘n wonder…’n ALMAGTIGE WONDER!

Hy, die Seun van God, het deur die krag van die Allerhoogste God, die Heilige Gees, ‘n menslike natuur aangeneem. God se Seun is uit die maagd Maria gebore. Hy het mens geword. Hy was God en mens tegelyk, reeds daardie nag toe Hy in Betlehem gebore is. Die lewende Allerhoogste God het daardie nag ‘n wonder beskik!

In ‘n tyd toe dit sleg met God se verbondsvolk, die kerk van die Nuwe Testament gegaan het, juis toe het God sy Seun, Jesus Christus, ons Verlosser na die wêreld toe gestuur.

Internasionale onrus, uiterlike en oppervlakkige godsdiens en maatskaplike woelinge is nie vir ons vreemde taal nie. Dit is elke dag steeds deel van ons lewe.

Juis in hierdie tyd is dit belangrik om God met ons te hoor praat. Wat sê die Here vir ons in hierdie tyd? Hy praat nie met ons in die eerste plek oor internasionale onrus van oorloë, of gemeentes se godsdienstige programme of maatskaplike probleme nie. Nee, Hy wil dat ons hierdie Kerstyd weer hoor dat Hy vir ons ‘n Verlosser gestuur het, sy Seun.

Soos vanouds is dit weereens ‘n wonder dat ons in hierdie tyd hierdie boodskap kan hoor: Jesus Christus, God se Seun is vir ons in Betlehem gebore.

3. Die betekenis vir ons.

In ‘n donker uitsiglose wêreld het die wyse manne uit die heidense Ooste en die skaapwagters se lewens verander. Die geboorte van God se Seun het ‘n helder lig van verlossing vir hulle laat skyn! Jesus het verder ook baie mense in Israel wat gebuk gegaan het onder die las van sonde en die verwyte van die Fariseërs, se lewens heeltemal verander.

Sy geboorte het ook ons lewens verander! In Rom.8:1 hoor ons van hierdie verandering: “Daar is dus nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie”. Saam met die engele uit die hemel van daardie nag, die skaapwagters en die wyse manne uit die Ooste kan ons ook die Evangelie, die Blye Boodskap van ons Verlosser wat vir ons gebore is, gelowig aanvaar en dit ook aan ander uitdra!

Ons kan nuwe geloofsmoed hê vir hierdie lewe!

Miga het geprofeteer dat die Verlosser van ewigheid af geleef en regeer het. Ons bely in die Nederlandse Geloofsbelydenis, art.10 dat Jesus die ewige Seun van die Vader is. Net God is ewig. Omdat Jesus van ewigheid af is, is dit net nog ‘n duidelike openbaring dat Hy God is (Hebr.7:3.)

Net na die profesie oor die Verlosser uit Betlehem het Miga oor die einde van die ballingskap geprofeteer. Dié profesie het beteken dat die Verlosser Israel se daaglikse omstandighede ook sou regeer.

Ons Verlosser het na sy kruisiging en opstanding opgevaar en aan die regterhand van sy Vader gaan sit. Van daar regeer Hy die ganse heelal. Alles, ja, alles val onder sy beheer.

Ons is dus nie bloot slagoffers van  daaglikse omstandighede waaraan ons blootgestel is nie en wat ons lewens beheer, nie. Dis nie die moeilike omstandighede in die land, my swak gesondheid of my finansies of my ongelukkige werksomstandighede wat my lewe beheer nie! Nee, ons Verlosser is in beheer! Hy regeer ons lewe elke dag!

Jesus was van die begin af God. Hy is van dag steeds en sal in ewigheid God wees. Hy regeer van ewigheid af en Hy sal in ewigheid regeer. Die engel het self aan Maria gesê dat daar nie ‘n einde aan sy heerskappy sal wees nie (Lk.1:33.)

Ons het deur die Heilige Gees die sekerheid dat Jesus Christus ons lewens tot in ewigheid regeer. Hy is dus in beheer van alles, tot die dag aanbreek dat sy Vader Hom gaan stuur om die hele skepping soos dit nou bestaan te vernietig en alles nuut te maak.

Jesus Christus, ons Verlosser se regering sal ons lewens verander. Hy het reeds ons lewens verander. Hy maak ons salig. Ons lewe is dus nie net bedoel vir hierdie aardse bestaan nie. Nee, ons lewe is bedoel vir die ewige hemelse heerlikheid!

Verder hoef ons nie moedeloos en terneergedruk te dink ons is in hierdie lewe aan sondige mense en ongelukkige gebeure oorgelaat nie. Inteendeel! Ons Verlosser sit aan die regterhand van sy Vader! Sy Vader regeer alles en almal deur Hom! Hy is in beheer!

Omdat Jesus Christus God is, is Hy ook by ons op die aarde. Hy versorg ons met liefde en genade as ons Herder. Hy lei ons veilig in ‘n sondige en  goddelose land en wêreld. Die bose sal ons nie onderkry nie. Ons is oral en altyd veilig onder ons Herder se beskerming.

Die Heilige Gees gee ons hierdie kerstyd ‘n sterk en vaste geloof in Jesus Christus ons Verlosser!

Deur die Heilige Gees het ons geloofsmoed en geloofsvertroue vir die dag van môre! En….vir al die dae tot in ewigheid!

ANTWOORD
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen