ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.145:1,2,4
VEROOTMOEDIGING
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.4-4/4:1,2,3
Lees: Lukas 2:1-20 en Openbaring 5:1-14 (2020 vertaling)
Kernverse: Luk.2: en Openb.5:6,7
Tema: Die Kind in die krip is die Lam in die middel van die troon.
Sang: Ps.145:1,2,4; Skb.4/4-4:1,2,3; Skb.5-3:1,2; Skb.10-2/59
Inleiding:
Dit is Kersfees 2025. Ons herdenk die geboorte van Jesus Christus. Die Kindjie in die krip is tydens Kersfees op die voorgrond. Dit is goed en reg. Dit is net baie belangrik om altyd te besef en te glo dat die geskiedenis rondom die krip verder gaan na die die geskiedenis van die kruis, die graf en uiteindelik die troon.
Vanoggend se kersboodskap gaan oor die krip, die kruis, die graf en die troon.
Tema: Die Kind in die krip is die Lam in die middel van die troon.
Die krip neem ons na Betlehem. Betlehem was Dawid se tuisdorp. Wat gebeur het, is die volgende:
Keiser Augustus was die keiser van Rome. Sirenius was die prokurator van Sirië. Die prokurator was ‘n amptenaar wat die keiser verteenwoordig het. Sirenius het ook toesig oor Herodus se regering en administrasie van Palestina. Keiser Augustus het ‘n dekreet uitgevaardig. Hy het ‘n bevel gegee dat ‘n opname van die bevolking gemaak moes word en dat elkeen geregistreer moes word. Daarvoor moes elkeen na die dorp van sy stamvader gaan. Josef en Maria moes na die dorp van hulle stamvader Dawid gaan, na Betlehem toe.
Baie mense het soontoe gegaan, sodat die blyplekke in die dorp oorvol was. Josef en Maria kon nie blyplek kry nie. Wat hulle omstandighede baie moeilik gemaak het, was dat die geboorte van hulle eersteling baie naby was. Al plek wat hulle kon kry, was in ‘n stal waar diere gehuisves was vir die nag.
Die tyd het toe ook aangebreek dat Maria geboorte moes gee. Maria het aan ‘n Seun geboorte gegee. Sy het Hom in doeke toegedraai en in ‘n krip, ‘n voerbak waaruit diere gevreet het, neergelê.
Dit is die geskiedenis soos Lukas deur die Heilige Gees alles wat gebeur het, neergeskryf het. Dit is regtig baie belangrik dat ons almal hierdie geskiedenis goed sal ken.
Net so belangrik is dat ons die betekenis van hierdie geskiedenis sal ken.
Die pasgebore Kind in doeke toegedraai wat in die krip gelê het, was die Verlosser, Christus die Here. So het die engel daardie nag aan die skaapwagters in die veld net buite Betlehem gesê in die boodskap wat hy uit die hemel gebring het.
Wat het dit beteken? Die belofte wat God eeue en eeue gelede gemaak het toe daar net twee mense op aarde was, dat ‘n Verlosser uit die saad, die nageslag van die vrou sou kom om die Satan te oorwin (Gen.3:15), het daardie nag in die stal in Betlehem waar geword. Dat sy belofte van eeue gelede vervul is, wys vir ons dat God EWIG en VOLMAAK GETROU is!
Vir ons in 2024 beteken dit dat God aan ons almal getrou sal bly. Hy sal al sy beloftes aan ons ewig hou. Hy sal op sy tyd en sy manier elke belofte aan ons waar laat word. Die belofte dat Hy vir Abraham en sy nageslag ewig ‘n God sal wees, sal God in ons almal se lewe volmaak ‘n werklikheid maak. Trouens, Hy het daardie belofte reeds waar laat word toe Hy sy Seun vir ons gegee het. Al sy beloftes aan ons met ons elkeen se doop, sal Hy op sy tyd en sy manier in ons almal se lewe waar laat word. Gaan lees gerus weer daardie beloftes.
Die Kind in die krip beteken: God is ALTYD VOLMAAK GETROU!
2. Die Kruis.
Reeds daardie aand in die krip, het die donker wolk van die wrede dood aan die kruis oor Maria se pasgebore Seun gehang.
Die kruis was ‘n regop houtpaal met ‘n dwarsbalk van hout. God het ‘n wet in die Ou Testament gegee, dat iemand wat ‘n sonde begaan wat die doodstraf verdien, aan ‘n houtpaal opgehang kan word. Iemand wat aan die houtpaal gesterf het, moet dieselfde dag afgehaal en begrawe word, want “Iemand wat aan ‘n paal gehang word, is immers ‘n vervloekte by God” (Deut.21:22,23).
Jesus was Maria se Seun. Hy was tegelyk ook God se Seun. God het sy Seun mens laat word om vir ons aan die kruis te sterf. Reeds daardie aand in doeke toegedraai in die krip, was Jesus bestem om aan die kruis te sterf.
Sy Vader het Hom gestuur om in ons plek ‘n vervloekte te word en aan die kruis te sterf. Wanneer God iemand vervloek, beteken dit Hy verwerp daardie persoon.
God is heilig. Hy verdra sonde nie een enkele oomblik nie. Hy verwerp die mens wat sondig en straf ‘n sondaar met die ewige dood. Die dag toe Adam en Eva in die paradys gesondig het, het hulle dit oor hulleself gebring dat God hulle verwerp het en met die ewige dood gestraf het. Hulle het die verwerping deur God en die ewige dood oor alle mense, die ganse mensdom, oor ons almal gebring. Die vervloeking, verwerping deur God en die uiteindelike ewige dood het op ons almal gerus.
Uit liefde het God sy Seun gestuur om die vloek van verwerping wat op ons gerus het, op Hom te neem. Jesus het ons sonde op Hom geneem en in ons plek sy Vader se verwerping op Hom geneem. Die dieptepunt van sy lyding was toe Hy aan die kruis deur sy Vader verwerp is. Jesus het die straf op ons sonde op Hom geneem. Hy het in ons plek aan die kruis op Golgota gesterf.
Jesus Christus het die kruis en alles wat daarmee saamgaan, die bittere lyding en die wrede dood in ons plek verduur. Omdat Jesus Christus vir ons gesterf het, is die vloek van die ewige dood as straf op sonde vir altyd weg. Ons is verlos, vergewe en vrygespreek. Die Kind in die krip wat as ons Verlosser vir ons aan die kruis gesterf het, het dit laat gebeur, omdat Hy ons met sy lewe liefgehad het.
Die kruis beteken: Jesus, ons Verlosser het ons EWIG VOLMAAK LIEF!
3. Die Graf.
Josef van Arimatea en Nikodemus het Jesus se liggaam daardie Vrydag voor die sabbat ses uur die aand sou aanbreek, van die kruis gehaal. Josef het linne gaan koop. Hy en Nikodemus het Jesus in Josef se nuwe graf in linnedoeke toegedraai. Van die vroue wat in Jesus geglo het, was ook by.
Die Sondagoggend is die vroue graf toe om Jesus se liggaam te gaan balsem soos hulle gewoonte was. By die graf aangekom, het hulle gesien die klip by die ingang was weg gerol en die graf was leeg. Twee engele daar by die graf het hulle herinner aan Jesus se woorde dat Hy vir hulle gesê het dat Hy gekruisig sal word en op die derde dag sal opstaan.
Die vroue het haastig na die dissipels toe gehardloop en hulle die nuus vertel. Die dissipels het die vroue nie geglo nie. Petrus en Johannes het wel graf toe gehardloop en ingegaan. Die graf was leeg.
Die Here Jesus het na Hy uit die dood opgestaan het aan baie mense verskyn. Hy het daardeur duidelik gewys dat Hy uit die dood opgestaan het en leef.
Deur sy opstanding het Hy die dood oorwin. Hy het vir ons die nuwe ewige lewe met God verwerf. Jesus Christus wat vir ons opgestaan het, gee ons die krag om uit ons geestelike dood op te staan en deur bekering met sonde te breek en vir Hom te leef. Dan is die Here Jesus se opstanding die waarborg, die sekerheid wat ons as Christengelowiges het, dat ons met sy wederkoms uit die dood sal opstaan en ewig salig sal wees.
Die oop graf beteken vir ons: OORWINNING oor die dood en die EWIGE LEWE!
4. Die Troon.
Na sy kruisiging en opstanding het die Here Jesus na die hemel toe opgevaar en aan die regterhand van sy Vader gaan sit. Sy Vader het Jesus Christus, sy Seun as Hoof van die heelal en Hoof van sy kerk aangestel.
God die Vader, die almagtige Skepper van hemel en aarde, regeer alles en almal deur sy Seun. Hierdie waarheid kry ons in Op.5.
Hy wat op die troon sit en die boekrol in sy regterhand het, is God die Vader. Die boekrol wat aan die binnekant en die buitekant vol geskryf is, is die wêreldgeskiedenis van begin tot einde. Die wêreldgeskiedenis behoort aan Hom en gebeur volgens sy besluit.
Niemand kon die boekrol oopmaak nie. Die wêreldgeskiedenis is nie in die hande van mense nie en gebeur ook nie deur mense nie.
Johannes het deur die Heilige Gees die Lam in die middel van die troon gesien. Die Lam van God is die gekruisigde Jesus. Hy is die leeu uit Juda. Dit beteken Hy is die Verlosserkoning wat die sonde, die duiwel en die dood oorwin het. Hy is die afstammeling van Dawid en daarom die werklike Verlosser. Die sewe horings beteken die Here Jesus het al die mag. Die sewe oë beteken Hy is alwetend. Die sewe Geeste is die Heilige Gees. Jesus Christus, die Here is deur die Heilige Gees die almagtige en alomteenwoordige Verlosserkoning.
Dat die Here Jesus die boekrol uit sy Vader se hand geneem het, beteken dat God al die mag om die wêreldgeskiedenis te laat gebeur aan sy Seun, die gekruisigde Jesus wat uit die dood opgestaan het, gegee het.
Hier waar ons nou in 2024 is, is ons nie oorgelewer aan wat in die baie deurmekaar wêreld met sy oorloë en natuurrampe en baie swak morele waardes gebeur nie. Ons is nie bloot oorgelewer aan merendeels ongelowige regerings van die wêreld met hulle sondige besluite en maniere van regering wat weg van God se Woord af is nie.
In ons eie lewensgeskiedenis is daar baie wat ons swaar kan laat kry en moedeloos kan maak. Ons kan baie keer dink ons magteloos oorgelaat aan alles wat gebeur soos ernstige gesondheidsomstandighede, teleurstelling, baie probleme in gesinne, families, by die werk en selfs in die gemeente.
Juis hiervoor het ons die Bybel. Juis hiervoor het ons die Heilige Gees. Die Heilige Gees help ons om by Op.5 uit te kom, te lees en te glo dat die Lam in die middel van die troon, die ganse wêreldgeskiedenis op ‘n almagtige en alomteenwoordige en alwetende manier beheer.
Die Heilige Gees troos en help ons om te weet en te besef en te glo dat Kind wat in die krip vir ons gelê het, ons Verlosser wat vir ons aan die kruis gesterf het en vir ons uit die dood opgestaan het, ook nou ons lewensgeskiedenis beheer. Ons leef in alles onder sy liefde en sy genade en sy sorg.
Niks van die moeilike omstandighede in ons lewe gebeur net nie. Jesus Christus is in alles wat met ons gebeur, met ons op pad na die dag van sy wederkoms. Hy maak ons met alles wat gebeur, gereed vir daardie belangrike finale dag.
Vanoggend se boodskap vir Kersfees 2025 is die boodskap van die Krip, die Kruis, die Graf en die Troon. Dit is ‘n boodskap van God wat uit volmaakte ewige liefde sy Seun vir ons gegee het. Dit is ‘n boodskap dat Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, die Middelpunt van alles is, ook die Middelpunt van elkeen van ons se lewe.
Hierdie boodskap gee ons sekerheid en gee ons moed vir vandag en elke dag.
ANTWOORD
Sing: Skb.5-3/8:1,2
Gebed
Sing: Skb.10-2/59
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen