ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.68:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.130:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.126:1,2
Lees: Romeine 1 (83 vert.)
Kernvers: Rom.1:16
Tema: Die Evangelie van Jesus Christus is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.
Sang: Ps.68:1,2; Ps.71:9; Ps.130:1,2; Ps.126:1,2; Skb.15-7/43:1,4,5; Ps.130:3,4
Inleiding:
Binnekort, as die Here wil, vier ons Kersfees. Wat maak dat Kersfees nie bloot ‘n gewone wêreldse vakansiedag met saam kuier en saam eet is nie? Die Evangelie van Christus wat vir ons gebore is, gekruisig is en opgestaan het, maak die verskil tussen ‘n CHRISTUSFEES en ‘n wêreldse fees.
Tema: Die Evangelie van Jesus Christus is ‘n krag van God tot redding vir elkeen wat glo.
Wanneer ons die brief aan die Romeine lees, is ons met ‘n brief besig wat Paulus se derde tussen 56 en 57 n.C. omtrent 24 jaar na Jesus se kruisiging en opstanding, geskryf het.
Ons kyk na die omstandighede waaronder die eerste lesers geleef het, toe hulle hierdie brief gekry en gelees het.
Kyk ons na die lewe om ons, ons stad en ons land, is daar ongelukkig te veel ooreenkomste met die heidense Rome van destyds.
Terug by die brief aan die Romeine. In daardie heidense wêreldstad was daar ‘n gemeente van Jesus Christus. Paulus noem hulle “almal in Rome vir wie God lief het en wat Hy geroep het om aan Hom te behoort” (Rom.1:7). Die gemeente het uit Joodse Christene en heidense Christene bestaan.
Kyk ‘n mens na die stad Rome, kom die vraag op: Hoe het dit gebeur dat daar ‘n gemeente van Christus was?
Paulus het nie die gemeente gestig nie. Wat ons wel weet, is dat daar mense uit Rome met die uitstorting van die Heilige Gees in Jerusalem was. Hierdie mense het Petrus gehoor hoe hy deur die Heilige Gees, Jesus Christus verkondig het. Hulle het teruggegaan Rome toe en van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, vertel. Die Heilige Gees het mense in Rome in die hart geraak. Hulle het van Jesus Christus gehoor en hulle het geglo. ‘n Gemeente van Christus het ontstaan.
Lewe vir die Christene in Rome was lewe met geloof in die Here Jesus as enigste Verlosser omring van die heidense sondige lewe van die oorgrote meerderheid. Dit is met ons nie anders nie. Trouens, ons leef in die tyd en ‘n land waarvan die engel van Here in Openbaring praat dat die wat vuil is nog vuiler sal word (Openb.22).
2. Die Evangelie van Christus se kruisiging en opstanding
In daardie bose tyd het mense die Evangelie gehoor. Daar is net een Evangelie. Die enigste ware en suiwer Evangelie is Evangelie wat so klink:
Luk.2:11 – “Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here!” So het die engel van die Here daardie nag in die veld vir die skaapwagters die Evangelie vertel.
In sy brief aan die gemeente in die Griekse stad Korinte, het Paulus so oor die Evangelie geskryf:
Johannes, die dissipel vir wie Jesus lief was, het ook oor die Evangelie geskryf.
Die WARE EVANGELIE is God het sy Seun gestuur. Jesus is die Christus, die Gestuurde van God. Jesus het vir sondaars aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan, sodat elkeen wat in Hom glo, nie meer in die mag van die sonde en die dood is nie, maar die ewige lewe het.
Daar is nie ‘n ander Evangelie as hierdie nie. Baie ander Evangelies word vandag in ons stad en ons land en die wêreld gepreek. Van kansels word gepreek dat Jesus gekom het vir voorspoed en seën hier op aarde. Elkeen se geloof moet net sterk genoeg wees, dan sal Jesus vir ‘n goeie inkomste, goeie gesondheid en wat ‘n mens hier op aarde begeer, sorg. Hierdie is ‘n VALS evangelie! Tydens eredienste word ook gepreek dat almal uiteindelik gered sal word. God laat niemand verlore gaan nie. Dit beteken elkeen het baie ruimte om te leef soos elkeen wil. Alles sal vir almal goed eindig. Die hemel wag. Hierdie is EWENEENS ‘n VALS boodskap!
Ons mag nie teen ‘n kerkgebou en ‘n preekstoel vas kyk nie en dink, maar dis ‘n kerk en dis ‘n predikant wat gestudeer het, die Evangelie sal mos suiwer wees.
Wanneer Jesus weer kom, sal daar mense wees wat vir Hom sê: “Here, Here, het ons dan nie in u Naam gepreek nie..?” Jesus se antwoord sal wees: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Matt.7:22,23).
ENIGE ANDER BOODSKAP van wie ook al wat anders klink as dat Jesus die Christus is wat gekruisig is en opgestaan het, sodat ons nie meer verlore in die mag van die duiwel en die sonde en die dood is nie, maar deur ons geloof in die Here Jesus Christus die ewige lewe het, is ‘n VALS BOODSKAP en wat DIE VALS PROFEET in die eindtyd graag wil hê!
3. Die krag van die Evangelie
Die vals evangelie van voorspoed vir die lewe op aarde en dat elke mens uiteindelik gered word, is ‘n vals evangelie sonder enige krag.
Maar…vir elkeen wat glo, is die Evangelie van Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het ‘n KRAG VAN GOD! Die apostels het hierdie krag in hulle gehad.
Die Joodse Raad wat Petrus en Johannes aangehoor het na die uitstorting van die Heilige Gees, was verbaas om hulle met soveel vrymoedigheid oor Jesus Christus te hoor praat. Die Joodse Raad het uit 71 lede bestaan. Hulle was: Die Hoëpriester, owerpriesters, skrifgeleerdes, Fariseërs en Sadduseërs en die oudstes. Almal in die Raad was geleerdes en leiers uit die vooraanstaande families in Jerusalem.
Petrus en Johannes was ongeleerde en eenvoudige mense, maar hulle het die krag van die Evangelie van Christus in hulle gehad. Hulle het die sogenaamde geleerdes en hoogwaardiges verbaas gehad.
Die Christene in Rome het ook die krag van die Evangelie in hulle harte gehad. Jode wat in die wet geglo het en heidene met al hulle afgode is in hulle hart deur die Evangelie van Christus getref. Hulle het in Christus geglo, tot bekering gekom en as Christengelowiges onder die goddelose omstandighede in die heidense stad met al wat boos en sondig is om hulle, in Christus geglo en vir Hom geleef.
Hierdie land en hierdie stad waarin ons bly, lyk vandag soos dit lyk, want die vals boodskap maak mense so.
Ons is almal nietige sondaars. Die vals evangelie kan in ons ook kom. Die duiwel, die Antichris en die vals profeet is in hierdie laaste dae baie sterk en baie gevaarlik. Ons almal het die krag van die WARE EVANGELIE nodig.
In elke erediens lê die Evangelie voor ons oop. In elke huis is die Evangelie. Die Evangelie het groot krag vir elkeen wat lees en hoor en glo. Daarom is elke Sondag se erediens so belangrik. Wanneer gelowiges die Here in ‘n erediens ontmoet om die Evangelie van Christus wat gesterf en opgestaan het, te hoor, werk die Evangelie as ‘n krag van God in ons.
Wanneer ons saam met die erediens doelbewus en genoeg tyd vir die Evangelie van Christus in ons huise maak en lees en luister, werk die Evangelie as ‘n krag van God in ons.
4. Die redding vir elkeen wat glo
Die Evangelie het as ‘n krag van God mense in Rome gered. Die Jode het met die krag van die Evangelie in hulle, hulle geloof in die wet en hul eie vermoëns gelos, afgesterf, daarmee gebreek en in die gekruisigde Christus wat opgestaan het om sondaars te red, geglo. Deur hulle geloof alleen in Christus alleen, is hulle gered.
Die heidene het met die krag van die Evangelie in hulle, hulle aanbidding en verering van die heidense afgode gelos, dit afgesterf en daarmee gebreek en in die gekruisigde Christus wat opgestaan het om sondaars te red, geglo. Ook die heidene in Rome is deur hulle geloof alleen in Christus alleen gered.
Die Evangelie van Christus is tot redding vir elkeen wat glo. Elkeen van ons moet eers van ons eie sonde gered word. Sonde hou ‘n mens gevange. Sonde bring die dood. Die Evangelie van die gekruisigde Christus wat opgestaan het, is die krag van God waardeur ons gered word.
Die wat deur die krag van God gered is, is nuwe mense. Paulus noem die Christene in Rome “al die geroepe heiliges wat in Rome is” (Rom.1:7). Heilig beteken om vir God afgesonder te wees om vir Hom te leef. Heiliges van God leef anders as die mense van die wêreld. Die Here red ons ook van die wêreld om ons. Ook ons is heiliges, geroep om vir Hom te leef. God het ook ons vir Hom afgesonder deur Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.
God roep ons om vir Hom te leef in ons gesinne, wanneer ons op die pad in ons kar is en met soveel onverskillige mense van die wêreld te doen kry, wanneer ons met ons geld werk, wanneer ons die week voor ons beplan, wanneer dit Sondag tyd word om God in die erediens te gaan ontmoet, ORAL EN ALTYD. Met die krag van die Evangelie in ons, sal ons hele lewe anders moet lyk as die lewe van ‘n gewone mens in Suid-Afrika, die mens sonder die krag van die Evangelie.
Ons vier binnekort Kersfees. Indien ons nie deur die Heilige Gees met die krag van die Evangelie elke dag van die jaar in ons leef nie, sal hierdie Kersfees niks anders as ‘n wêreldse vakansiedag met wêreldse vrolikheid wees nie.
Daarom is ‘n lewende verhouding met die Christuskind wat vir ons gebore is, die Verlosser wat vir ons aan die kruis gesterf het en vir ons opgestaan het, so belangrik oral en altyd in ELKE DEEL VAN ONS LEWE. Met die Evangelie as ‘n krag van God in ons kan ons as geroepe heiliges leef met harte wat brand van geloof alleen in Christus alleen wat ons gered het!
ANTWOORD
Sing: Skb.15-7/43:1,4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.130:3,4
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor aan aan julle vrede gee.
Amen