ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.18:1,14
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sang: Skb.9-1:10,11
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.107:1,20,21
Lees: Matteus 1:1-17
Kernverse: Mt.1:3,5,6,16
Tema: God se wondergenade vir sy verbondsgeslag
Sang: Ps. 18:1,14; Ps.9:1,7,10; Skb.9-1:10,11; Ps.107:1,20,21; Ps.105:4,5; Ps.146:1,4,8
Inleiding:
Verlede Sondag het ons nagmaal gevier. Met nagmaal is Jesus Christus die Middelpunt. Nagmaal gaan oor Jesus se liggaam en bloed, sy lewe wat Hy aan die kruis op Golgota vir ons gegee het. Oor ‘n maand, as die Here wil, is dit Kersfees. Met Kerstyd is Jesus Christus ook die Middelpunt. Kersfees gaan oor Jesus Christus, ons Verlosser se geboorte.
Nagmaal ek Kersfees hoort bymekaar. Ons het hier teen die einde van die jaar die genade om én met nagmaal én met Kersfees op ‘n diep geestelike manier met Jesus Christus, God se Seun ons Verlosser besig te wees.
Vanoggend se preek is juis nog ‘n preek in die reeks oor Kersfeees 2023.
Tema: God se wondergenade vir sy verbondsgeslag
1. God se verbond van genade
Matteus, die belastingamptenaar wat tot bekering gekom het en in Jesus as Verlosser geglo het, het hierdie Evangelie van Jesus Christus geskryf. Matteus het deur die Heilige Gees geskryf. Deur die Gees gelei, het Matteus met die geslagsregister van Jesus Christus begin.
Geslagsregisters in die Bybel is baie keer nie gewilde leesstof nie. Dikwels is daar soveel onbekende name wat die gelowige leser laat dink en voel dat ‘n geslagsregister nie regtig belangrik is nie. Dit voel of die geslagsregister met al die name nie regtig iets beteken nie.
Die geslagsregister wat Matteus deur die Heilige Gees neergeskryf het, is ‘n geslagsregister wat elke gelowige dieper sal laat nadink oor geslagsregisters in die Bybel en hulle betekenis.
Reeds die eerste woorde van die Evangelie vertel dat hierdie geslagsregister ‘n baie spesiale betekenis het. Luister saam: “Die geslagsregister van Jesus Christus, die seun van Dawid, die seun van Abraham” (Mt.1:1).
Die naam Abraham bring ons dadelik by die genadeverbond en die dag toe die Here die verbond met Abraham gesluit het en hierdie baie belangrike woorde gesê het: “Ek bring ‘n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ‘n ewige verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen.17:7).
Hierdie geslagsregister is dus die register van die verbondsgeslag. Die geslagsregister begin by Abraham en eindig by Jesus Christus. God het met Abraham die verbond gesluit. Hy het met sy Seun, Jesus Christus die verbond ewig vasgemaak.
Hierdie geslagsregister vertel in werklikheid van God se wondergenade vir sy verbondsgeslag. Hy het met sondaarmense ‘n ewige verbond van genade gesluit, sodat elkeen in die verbond nie verlore sal gaan nie, maar ‘n kind en erfgenaam van die ewige genadverbond sal wees.
2. Niemand verdien sy genade nie
Een groot waarheid in die verbond is dat God se verbond ‘n verbond van wonderlike genade is. Nog ‘n groot waarheid is dat niemand verdien om in die verbond vangenade te wees nie.
In een preek is dit nie moontlik om genoeg aandag aan elke naam in hierdie geslagsregister te gee nie. Ons kyk van oggend na die vier vroue wat in Jesus Christus se geslagsregister genoem word en die onverdiende genade in hulle lewe.
Die eerste vrou is Tamar (vs 3). Tamar se naam neem ons terug na Genesis 38. Juda, Jakob se een seun het Tamar baie sleg behandel. Sy was die vrou van Juda se een seun, Er. Er het gesterf en dit het Tamar in baie moeilike omstandighede sonder sorg en sonder beskerming gelaat, soos dit destyds met ‘n weduwee gegaan het. Juda het Tamer terug na haar mense gestuur met die belofte dat sy seun, Sela, wanneer dié oud genoeg geword het, met Tamar kon trou, sodat sy weer versorg en veilig kon wees.
Juda het hierdie belofte nie gehou nie. Toe hy op ‘n keer sy kleinvee naby Tamar se mense geskeer het, het sy haar as ‘n prostituut vermom. Juda het haar langs die pad gekry en sy het swanger geword by hom, sonder dat hy geweet het wie sy was. Toe Juda gehoor het dat Tamar swanger was, wou hy haar laat verbrand. Tamar het Juda se seëlring, ketting en kierie wat hy haar gegee het, saam met die boodskapper terug gestuur met die woorde: “Die man aan wie hierdie goed behoort – ek het by hom swanger geword” (Gen.38;25). Jakob het toe besef dat hy die oorsaak van Tamar se swangerskap was.
Tamar het aan ‘n tweeling geboorte gegee: Peres en Serag met Peres in die voorgeslag van Jesus Christus.
Tamar het op een van die slegste maniere deur bedrog en ‘n daad van seksuele losbanidgheid die onreg haar aangedoen, probeer regmaak. Daardeur het sy gesondig. Tog kry ons haar naam in die geslagsregister van God se Seun, Jesus Christus, ons Verlosser.
Die tweede vrou is Ragab (vs 5). Waar Tamar een keer onsedelik opgetree het, het Ragab haar inkomste verdien deur haar liggaam te gebruik. Hierdie geskiedenis van Ragab en die verkenners van Israel kry ons in Josua 2.
Ragab het Isral s everkenners weg gesteek. Sy het hulle vertel sy het van die Here se almagtige dade gehoor by die Rietsee en toe Israel konings Sihon en Og verslaan het. Sy het bang geword by die hoor van hierdie berigte. Ragab het vir die verkenners wat sy weggesteek het, gesê: “…die Here julle God, Hy is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder” (Jos.2:11).
Die uiteinde was dat Ragab en haar familie nie met die inval van Jerigo om die lewe gebring is nie.
Ten spyte van haar sondige lewe, is Ragab in die geslagsregister van Jesus Christus, ons Verlosser..
Die derde vrou is Rut (vs 5). Rut is gebore en het groot geword in Moab. Moab was ‘n heidense land wat baie vyandig teen Israel opgetree het. Moab wou nie vir Israel kos en water gee in hulle reis op pad na Kanaän nie. Koning Balak van Moab het Bileam gestuur om Israel te vervloek. Verder het vroue uit Moab mans van Israel na ‘n godsdienstige fees ter ere van hulle gode genooi en die mans verlei om onsedelik met hulle te verkeer.
Omdat Moab so boos was, mag niemand uit Moab in Israel opgeneem word nie (Dt.23:3). Rut, het uit die heidense en bose Moab gekom. Sy het met ‘n Israeliet getrou en deur hom van God gehoor. Na haar man se dood, het haar skoonma, Naomi, besluit om terug na Kanaän te gaan. Alhoewel Naomi daarop aan gedring het dat altwee haar skoondogters in Moab moes agterbly, wou Rut nie. Sy het alles in die heidense Moab agtergelaat om na Kanaän te gaan.
In Kanaän het Rut uiteindelik met Boas getrou.Uit hulle huwelik is Obed gebore. Obed was Isai se pa en Dawid se oupa. Rut uit die heidense Moab is in die geslagsregister van Jesus Christus, God se Seun.
Die vierde vrou is Maria (vs 16). Maria kon nie in die geslagsregister van Jesus Christus genoem word nie. Sy was ‘n jongmeisie. Sy was verloof, maar nog nie getroud nie. Sy kon nie ‘n nageslag hê nie.
Tog is sy in Jesus Christus se geslagsregister. Op ‘n almagtige manier deur ‘n almagtige wonder van God, het Maria deur die Heilige Gees swanger geword, sonder die toedoen van ‘n man. Maria het aan Jesus, Seun van die Allerhoogste geboorte gegee.
Ons kan die geskiedenis van hierdie vier vroue so beskryf: Nie een van hulle moes, menslik gesproke in Jesus se geslagsregister wees nie. Tamar het ‘n slegte en sondige plan gemaak om ‘n nageslag te kry. Ragab het op ‘n sondige onsedelike manier haar inkomste met die verkoop van haar liggaam verdien. Rut kom uit die bose heidense Moab. Maria kon nog nie ‘n kind, ‘n nageslag hê nie.
Tog is elkeen van hulle in Jesus se geslagsregister.
Die vier vroue is nie die uitsondering nie. Niemand verdien om God se genadeverbond te wees nie. Ons almal het sonde voor God. Ons het erfsonde wat ons by Adam en Eva gekry het. Elkeen van ons het ook nog ons eie sonde deur al die verkeerd wat ons dink en sê en doen. Daar is ook nog ons sonde in alles wat ons nie doen nie, terwyl God dit van ons vra. Dan is daar die sonde waarvan ons nie bewus is nie, omdat ons God nie goed genoeg ken nie en ook nie sy Woord goed genoeg ken nie.
3. God se genade is ewig vas deur Jesus Christus
Die vier vroue het dit nie verdien nie. Tog is hulle in Jesus Christus se geslagsregister. Die Heilige Gees het hulle name laat neerskryf!
Hulle name, Tamar, Ragab, Rut en Maria vertel van onverdiende genade in elkeen van hulle se lewe. Hulle is sonder dat hulle dit verdien het, in God se ewige verbond van genade opgeneem. Hulle elkeen is ‘n kind en erfgenaam van die ewige lewe, want hulle lewe is ewig gebind aan Jesus Christus, die Verlosser wat uit hulle almal se nageslag gebore is.
Dit bring elkeen van ons by die vrae: Wat van my? Is ek met my sonde ook in die verbondsgeslag? Is ek ook ‘n kind en erfgenaam in God se ewige verbond van genade?
Die Heilige Gees het die vier vroue se name laat neerskryf. Dieselfde Gees het die volgende woorde ook laat neerskryf: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename” (Gal.3:29).
Hierdie woorde vertel van die genade ook in elkeen van ons se lewe, in my lewe. Ek het die Heilige Gees in my. Ek glo in Jesus Christus, God se Seun, ons enigste Verlosser. Hy het vir my gesterf en vir my opgestaan. Daardeur het Hy my Syne gemaak. Deur my geloof in Jesus, behoort ek aan Hom. Omdat ek aan Hom behoort, is ek kind en erfgenaam in God se ewige verbond van genade. Deur Jesus Christus is ek deel van die verbondsgeslag.
Jesus Christus, wat in Betlehem gebore is, wat op Golgota aan die kruis gesterf het en in die tuin van Josef van Arimatea uit die graf opgestaan het God se genade ewig vasgemaak vir die vier vroue in sy geslagsregister. Hy het God se genade ook vir my ewig vas gemaak.
Daarom was nagmaal November 2023 vir my ‘n genademaaltyd!
Daarom is Kersfees Desember 2023 vir my ‘n genadefees!
ANTWOORD
Sang: Ps.105:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.146:1,4,8
Seën: Die liefde van God ons Vader en die genade van Jesus Christus ons Here en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal
Amen