Home Preke Kerstyd God se almag in die koms van sy Seun, ons Verlosser

God se almag in die koms van sy Seun, ons Verlosser

Datum: 2023-12-03
|
Reeks: Kerstyd
|
Kernverse: Gal.4:4-6

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1

Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het; en die Heerser oor die konings van die aarde

Lof aan God: Ps.100:1,2

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Ps.130:2,4

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Skb.3-1/51:1,2

Lees: Galasiërs 4:1-7

Kernverse: Gal.4:4-6

Tema: God se almag in die koms van sy Seun, ons Verlosser

Sang: Ps.100:1,2; Ps.71:9; Ps.130:2,4; Skb.3-1/51:1,2; Skb.12-2/27:4,5; Skb.2-4/33:1,3

Inleiding:

Tot dusver in hierdie preekreeks oor Kersfees het ons in God se Woord by die volgende uitgekom:

Gen 3 – Kersfees is die fees van lewe deur Jesus Christus wat vir ons aarde toe gekom het.
Ps 2 – Kersfees 2023 is ‘n Verlossingsfees, met Jesus Christus die Middelpunt van ons lewe.
Jes 7 – Kersfees is ‘n geloofsfees met die belofte van die Verlosser wat waar geword het.
Mt 1 – Kersfees 2023 is vir ons ‘n genadefees, want ons is verlos sonder dat ons dit verdien het.

Vanoggend is ons uit Gal.4 by Kersfees, die almagsfees.

Tema: God se almag in die koms van sy Seun, ons Verlosser

1. God se almagtige beskikking van die tyd vir sy Seun se geboorte

Vierhonderd jaar was dit stil. Toe verskyn daar drie keer aan drie verskillende mense ‘n engel vanuit die hemel.

Die eerste verskyning was aan Sagaria terwyl hy in die tempel besig was met sy dienswerk as priester. Gabriël was die engel wat aan Sagaria verskyn het. Die engel se boodskap was dat hulle ‘n seun sou hê. Hulle seun was bestem om die verbondsvolk vir die koms van die beloofde Verlosser voor te berei (Lk.1:5-25). Sagaria en Elisabet was reeds oud en verby die tyd om ‘n kind in die wêreld te bring. Die lewende God het in sy almag Sagaria en Elisabet gekies om ‘n seun te hê. Op ‘n almagtige wyse het die Here God die profesie van Maleagi (Mal.3:1,2) in die seun van daardie twee ou mense, die priester Sagaria en sy vrou Elisabet,  waar laat word.

Toe Elisabet ses maande swanger was, het God sy engel Gabriël weer gestuur. Daardie keer was die persoon wat besoek uit die hemel ontvang het, ‘n jong ongetroude meisie wat verloof was. Haar naam was Maria. Sy het in Nasaret, ‘n dorp in Galilea gebly. Nog ‘n keer was daar ‘n boodskap van God se almag – ‘n verstommende boodskap oor God se uitsonderlike en onbeskryflike almag! Maria sou swanger word. Die Heilige Gees sou oor haar kom. Sy sou aan die Seun God geboorte gee (Lk.1:30-35).

Hierdie boodskap van Gabriël, God se engel, maak vir die eerste keer duidelik wie die beloofde Verlosser van al die eeue eintlik was. Hy was toe al die tyd God se Seun wat mens sou word.

Maria het swanger geword. Josef het dit agtergekom. Terwyl hy besig was om ‘n plan te maak om die probleem volgens die wette van die Ou Testament op te los en in die geheim die verlowing met Maria te breek, het die derde engel verskyn.

God se engel het in ‘n droom aan Josef verskyn en Maria se swangerskap aan hom verduidelik. Josef moes die Seun Jesus noem. Die Naam Jesus beteken “Verlosser” (Mt.1:18-21).

God se onbeskryflike almag sien ons in twee ou mense en twee jong verloofdes en ‘n seun wat elke keer gebore sou word en uiteindelik gebore is, terwyl dit menslik glad nie moontlik was nie. En dit na vierhonderd jaar sonder enige boodskap uit die hemel.

Daar is meer.

Daardie tyd, na vierhonderd, jaar noem Paulus deur die Heilige Gees “die volheid van die tyd”(53 vert) / “die tyd wat God daarvoor bepaal het” (83 vert) / “toe die tyd vervul is” (2020 vert).

Die tyd van sy Seun se geboorte was die einde van die eerste dae of die ou tyd. Met sy Seun se koms het die nuwe tyd, die laaste dae aangebreek. In sy almag het die allerhoogste God op die tyd wat Hy in die ewigheid vasgestel het, die wêreldgeskiedenis en die bestaan van die heelal in twee gedeel.

In sy almag het die allerhoogste God ook die geskiedenis so beskik dat die heidense Romeinse keiser ‘n bevel gegee het om die bevolking te tel. Daarvoor moes elke man na sy geboortedorp toe gaan. Josef is in Betlehem gebore. Hy moes soontoe gaan. Ons weet dat Jesus die eerste nag met Josef en Maria se aankoms in Betlehem gebore is. So het God in sy almag die profesie van Miga (Miga 5:1), sy profeet in die ou tyd, waar laat word, en daardeur die laaste dae laat aanbreek.

2. Op ‘n almagtige manier het God se Seun mens geword

“…het Hy sy Seun gestuur”. Hierdie woorde vertel van ‘n daad van almag in die hemel waarvan ons mense niks weet nie. Nie een van ons se verstand sal dit ooit kan begryp nie.

God het sy Seun in die ewigheid bestem om die Verlosser wat Hy beloof het, te wees. In die ewigheid het God sy Seun hierdie opdrag gegee om die Gestuurde te wees. In die ewigheid het die Here God bepaal dat sy Seun, self ewige God, mens sou word.

Op die uur wat Hy in die ewigheid bepaal het, het God sy Seun na die aarde toe gestuur.

“Hy is uit ‘n vrou gebore”.

Gabriël, die engel se boodskap van God af was dat Maria swanger sal word en ‘n seun in die wêreld sal bring. Sy was jonk en nog net verloof. Haar swangerskap sal moontlik wees, omdat die krag van die Heilige Gees oor haar sal kom. Die Seun se Naam moet Jesus wees. Die seun aan wie sy geboorte sal gee, is die Seun van die Allerhoogste.

Hierdie woorde kan mens nie net lees of sê en gewoonweg verder lees of praat nie. Dit is asof jy eers diep moet asemhaal om te besef wat jy so pas gelees of gesê of gehoor het.

Maria sou swanger word.
Die Heilige Gees sou oor haar kom!
Sy sou aan die Seun van die Allerhoogste geboorte gee!

Alles wat die Here se engel, Gabriël vir Maria gesê het, het presies so gebeur. Op ‘n almagtige manier het God se Seun mens geword. So bely ons elke Sondag: “Ontvang van die Heilige Gees gebore uit die maagd Maria”.

In sy almag was die onmoontlike vir God moontlik.

3. Die almagtige verlossingswerk van God se Seun

Van die almagtige verlossingswerk van Jesus Christus, God se Seun wat mens geword het, het Paulus deur die Gees in Gal.4 drie dinge geskryf.

Die eerste“…van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe..” (vs 4).

Om ons te verlos, het God se seun Homself baie diep verneder. Hierdie woorde in vs 4 beskryf deel van Jesus Christus se vernedering.

Jesus Christus saam met die Vader en die Heilige Gees, ewige en volmaak heilige God, het Homself verneder deur mens te word. Deel van hierdie vernedering was dat Hy Homself aan dieselfde gebooie as enige ander mens moes onderwerp.

Hy, die heilige God het Homself aan die wet onderwerp, die wet wat gegee is, sodat die sondige verbondskinders sal weet hoe om in die genadeverbond te leef.

Die Heilige Gees het Paulus hieroor in sy brief aan die gemeente in Filippi so laat skryf: “ …Hy het Homself verneder deur die gestalte van ‘n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word…” (Fil.2:7).

Die tweede“…om ons wat aan die wet onderworpe was, los te koop…” (vs 5).

Hierdie woorde beskryf die almagtige verlossingswerk wat Jesus, God se Seun, kom doen het. Alle mense was in die mag van sonde en die dood. Sonde het al meer geword, want niemand kon God se Wet gehoorsaam soos Hy verwag het en vereis het nie. Elke mens het geweldig baie sondeskuld voor God gehad –  die skuld van ons sonde wat ons geërf het en die skuld van ons sonde wat ons elkeen self doen.

Jesus Christus het al ons sonde op Hom geneem.
Met al ons sonde op Hom, het Jesus voor sy Vader in ons plek gestaan.
Sy Vader, die heilige God, het al sy woede oor sonde op sy Seun laat neerkom.
Jesus se bittere lyding en sy wrede dood aan die kruis, was God se woede oor ons sonde.
God se toorn, sy woede was so erg dat dit die dag met Jesus se kruisiging vir drie ure lank helder oordag heeltemal donker geword het, asof dit nag was.
Die dieptepunt van Jesus se Vader se woede, was toe Hy sy Seun aan die kruis verlaat het, Hom verwerp het.

In sy almag kon en het Jesus Christus sy Vader se woede oor ons sonde volmaak verduur en vir ons verlossing, vergifnis en vryspraak by God, sy Vader gekry. Daarom kon Hy net voor sy dood sê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Die Grieks het net een woord vir “Dit is volbring”. Die woord kom uit die ekonomiese wêreld en beteken “vereffen” of dan “ten volle betaal”. Jesus Christus het op ‘n almagtige manier ons sondeskuld ten volle betaal en ons losgekoop van die straf en oordeel wat op ons gewag het, omdat ons God se Wet nie kon nakom soos Hy geëis het nie.

Die derde“…sodat ons as kinders van God aangeneem kon word” (vs 5).

Alle mense was vyande van God deur Adam en Eva se sonde. God het uit onbeskryflike liefde en genade, sy Seun opgeoffer en Hom gestuur om vir ons te sterf, terwyl ons nog sy vyande was. Jesus het uit onbeskryflike liefde en genade sy lewe vir ons gegee.

God se ewige raadsplan hiermee was dat ons deur sy Seun se verlossingswerk, nie langer vyande van Hom sal wees wat straf en oordeel verdien nie. Deur Jesus se offer aan die kruis en sy opstanding uit die dood, het God ons as sy kinders aangeneem.

Op ‘n almagtige manier deur sy Seun sy verlossingswerk, het God ons, sy vyande, se lewe heeltemal verander en ons as sy kinders aangeneem.

4. Deur die almag van die Gees is ons kinders van ons Vader

Jesus en sy Vader het na Jesus se kruisiging en opstanding en hemelvaart die Heilige Gees gestuur. Die Gees het na al God se verbondskinders toe gekom. So lees ons in vs 6: “En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur..”

Die Heilige Gees is self almagtige God. Hy het die almag om met die boodskap van Jesus Christus wat vir ons gebore is, vir ons gekruisig is en vir ons opgestaan het, in ons harte te kom. Deur die Gees het elke kind van God ‘n wedergebore hart. Elkeen met ‘n wedergebore hart glo in Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser.

Die Gees leef en werk in elke glowige kind van God. Trouens, “…in ons roep Hy uit:’Abba!’ Dit beteken: Vader!” (Gal.4:6).

Met die Heilige Gees in elke kind van God se hart is die volgende waar: “Jy is dus nie meer slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God”. Elkeen deur Jesus verlos met die Heilige Gees in jou hart, is nie meer slaaf van sonde nie en gaan nie meer deur onvermoë om God se wet te onderhou verlore nie. Inteendeel! Deur God se liefde en genade wat Hy in sy Seun aan ons bewys het, is jy nou kind van God die Vader.

Wat meer is: “en omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak”. God het my deur sy Seun wat vir my gebore is, vir my gesterf het en vir my opgestaan het, sy erfgenaam gemaak. Ek wat in Jesus Christus glo, is nou ‘n erfgenaam van die ewige en allerhoogste God. Ek kry as erfgenaam die ewige lewe.

Dit beteken:

Ek kry ‘n plek in my hemelse Vader se huis.
Saam met al die ander gelowiges sal ook ek voor sy troon staan en met sang en gebed aan Hom en sy gekruisigde Seun al die dank van my hart bring.
Daar in die volmaakte hemel sal ek en al God se kinders in die teenwoordigheid van ons Vader en ons Verlosser vol van die Gees ewig leef.

Dit alles sal gebeur, omdat God op ‘n almagtige manier sy seun aarde toe laat kom het en sy ewige volmaakte verlossingsplan deur sy Seun uitgevoer het.

Hierdie wonderlike genadewaarheid maak dat ons as Christengelowiges Kersfees 2023 as ‘n fees van God se almag kan vier!

ANTWOORD

Sang: Skb.12-2/27:4,5

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Skb.2-4/33:1,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen