ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Skb.4-6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,3,8
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skb.5-4/10:1,3,5,6
Lees: Johannes 8:31-47
Kernverse: Joh.8:36
Tema: Ons glo vas in God se Seun ons enigste Verlosser
Sang: Skb.4-6/68; Ps.71:9; Ps.38:1,3,8; Skb.5-4/10:1,3,5,6; Ps.2:6; Skb.1-3:1,2,3
Inleiding:
Twee van die belangrikste geestelike waar dinge wat uit die Hervorming gekom het, was die volgende: Geloof alleen en Christus alleen. Dit was nie nuwe geestelike waarhede nie. Van die begin af het God in sy Woord bekend gemaak en geleer: Geloof alleen en Christus alleen. Die kerk van die middeleeue het die twee baie belangrike waarhede verloor, daarom het die Hervormers hierdie twee geloofswaarhede weer so duidelik en sterk beklemtoon en bely.
Dit is Kerstyd 2023. Daardie twee geestelike waarhede is hierdie jaar nog net so duidelik in die Bybel en nog net so belangrik. Hieroor mag daar by ons nie enige misverstand wees nie. “Geloof alleen” beteken presies dit: Geloof alleen of net geloof en niks anders nie. “Christus alleen” beteken presies dit: Christus alleen, net Hy en niemand anders nie.
Die Here praat met ons hieroor in Joh.8:31-47.
Tema: Ons glo vas in God se Seun ons enigste Verlosser
1. Glo – God se Seun, ons Verlosser moet geglo word.
Op ‘n keer het Jesus met die Jode by Hom gepraat. Ons lees in Joh.8:31 dat dit Jode was wat in Hom geglo het.
Jesus het daardie dag vir hulle wat in Hom geglo het vertel en geleer dat indien hulle bly by wat Hy hulle vertel en leer, hulle ware dissipels sal wees, dit is ware gelowiges wat Hom volg en dien. Hulle sal die waarheid ken, dit is die waarheid dat Jesus regtig die Verlosser is wat gekom het. Die waarheid wat Jesus die enigste Verlosser is, sal hulle vry maak.
Toe het die Jode wat in Jesus geglo het, geantwoord dat hulle Abraham se nageslag was en nog altyd vry was. Hulle het nie nodig gehad om vrygemaak te word nie.
Jesus het van die Jode se geestelike lewe gepraat. Geestelik is elke mens ‘n slaaf van die duiwel en van sonde en van die ewige dood.
Die Jode het van hulle natuurlike lewe gepraat. Hulle het gedink en geglo dat omdat hulle deur geboorte die nageslag van Abraham was, hulle vanselfsprekend in die genadeverbond was en daarom nog altyd vry was.
Hulle het saam met hierdie geloof dat hulle op grond van hulle natuurlike geboorte vry was, wel in Jesus geglo. Jesus het teen daardie tyd al verskeie wonders gedoen – die water in wyn op die bruilof in Kana (Joh.2), die regeringsamptenaar se seun (Joh.4), die man by die bad van Betesda wat 38 jaar siek was (Joh.5) en die duisende mense wat Hy met vyf brode en twee visse kos gegee het (Joh.6). Baie Jode het in Jesus geglo, maar as die Verlosser wat gekom het om hulle van hulle tydelike aardse nood en veral van die heidense Romeinse regering sou verlos.
Ons kan sê dat die Jode se geloof nie was: Christus alleen en geloof alleen nie. Dat hulle die nageslag van Abraham was, was vir hulle die belangrikste.
Die Here leer ons in hierdie gesprek tussen Jesus en die Jode ‘n baie belangrike waarheid. Jesus Christus, Hy alleen, is ons Verlosser. Hy verlos ons nie op grond van wie ons is en wat ons doen nie. Hy verlos ons deur geloof alleen.
Hierdie waarheid vra ook van elkeen van ons eerlike en diep selfondersoek. Ek mag nie dink, omdat ek uit ‘n familie van gereelde kerkgangers kom of omdat ek in ‘n Gereformeerde kerk is, of omdat ek Geloftedag gister onderhou het, my verhouding met God dáárom reg is en ek dáárom ‘n vry mens is nie.
Elke enkele mens is, elkeen van ons vanoggend hier, is uit ons eie ‘n slaaf en gevangene van sonde, die duiwel en die ewige dood – maak nie saak hoe goed en opreg ek in my eie oë probeer leef nie. Van elkeen van ons is die woorde van Joh.8:36 waar: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”
Hierdie waarheid moet baie diep en vas in elkeen van ons se hart en gedagte wees: Sonder Jesus Christus is ek ‘n gevangene in sonde en voor God ‘n misdadiger soos ons in Ps.38 gesing het.
Ek is alleen vry van sonde en misdade voor God deur Jesus Christus wat vir my gesterf en opgestaan het. Ek is ook nie vanselfsprekend vry nie. Dit is deur geloof alleen wat ek van die Heilige Gees kry, geloof in Jesus Christus alleen as my enigste Verlosser, dat ek regtig vry is.
Kersfees 2023 behoort daarom vir elke opregte Christen ‘n GELOOF-ALLEENFEES te wees!
2. Vertel – Gelowiges moet van God se Seun, ons Verlosser vertel
Een van Jesus se groot opdragte waarvoor sy Vader Hom gestuur het, was om ons Hoogste Profeet en Leraar te wees. Sy Vader het Hom gestuur om te vertel en te leer van God se ewige raad en wil oor ons verlossing. Jesus het die opdrag volmaak gehoorsaam en uitgevoer.
Juis in Joh.8:31-47 kry ons Jesus Christus wat vertel, wat leer. Luister weer na Joh.8:36: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”
Net voor Hy na die hemel opgevaar het, het Jesus sy dissipels, dit is sy kerk in die Nuwe Testament, opdrag gegee om sy getuies te wees tot aan die uithoeke van die aarde (Ha.1:8).
Voor ons vanoggend is die Bybel oop by die Evangelie van Jesus Christus wat Johannes geskryf het. Ons kan in Joh. 8 en die res van die Evangelie lees en hoor van God se Seun, ons Verlosser. Johannes was ‘n oog- en oorgetuie van wat Jesus gesê en gedoen het. Hy het deur die Heilige Gees die Evangelie van Jesus Christus geskryf waarin hy vertel, van God se Seun, ons Verlosser. Trouens, die hele doel van die Evangelie wat Johannes geskryf het, was die volgende: “….sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê” (Joh.20:31).
Elke Christengelowige het die opdrag, die roeping, die verantwoordelikheid om te vertel. Een van my belangrikste opdragte, werke as Christen is om te vertel. Die Heilige Gees het my een met Jesus Christus gemaak. Omdat ek geestelik deur my geloof een met Jesus Christus is, moet ek ook vertel.
My lewenswerk as Christen is om Jesus Christus se Naam te bely. Bely beteken om dieselfde te sê wat God in sy Woord sê. Ek, saam met al die ander Christengelowiges moet van God se Seun, ons Verlosser vertel.
Ons leef in ‘n land en wêreld waar daar soveel onsekerheid en soveel verkeerd en soveel boosheid is. Hierdie Kerstyd is die tyd om van Christus te vertel – dat Hy gebore is vir ons, dat Hy gekruisig is en opgestaan het vir ons, dat Hy aan sy Vader se regterhand sit en op ‘n almagtige manier alles regeer.
Niemand van ons mag ons geloof in Jesus Christus binne-in ons wegsteek en net daar hou nie. Ons het nodig om mekaar nuwe moed en hoop te gee hierdie Kerstyd. Daarom sal ons met mekaar oor God se Seun, ons Verlosser moet praat.
3. Leef – Geloof in die Seun van God moet geleef word
Een van die baie duidelike en belangrike waarhede in die Bybel is dat geloof geleef moet word. Jakobus, Jesus se broer het sy hele brief geskryf oor geloof wat dade moet word.
Die Jode in die tyd toe Jesus op aarde was het hulle geloof op twee maniere geleef. Die eerste kry ons in Joh.8:33. Die Jode het met die geloof geleef dat met Abraham as hulle voorvader hulle verhouding met God vanselfsprekend reg was en hulle daarom verlos en vry van straf en oordeel was.
Die tweede tipiese manier van leef kry ons by die wetgeleerde se vraag aan Jesus op ‘n keer: “…wat is die grootste gebod in die wet” (Mt.22:36). Paulus verduidelik die rede vir hierdie vraag in sy brief aan die Filippense. Die Fariseërs en skrifgeleerdes het die wet onderhou om daardeur vryspraak van straf en oordeel te kry (Fil.3:6).
Om te glo en te leef asof voorgeslagte en die wet die lewe is wat God vra om ‘n verloste kind van Hom te wees, is ‘n sondige en mensgemaakte manier van glo en leef.
Jesus het geleer dat Hy uit geloof in Hom gehoorsaam en gevolg moet word. Hy het die teenoorgestelde vertel en geleer as wat die Jode gewoond was om te doen. Hulle wou nie afstand doen van hulle sondige en mensgemaakte manier van glo en leef nie, daarom wou hulle Jesus doodmaak.
Voor ons lê die Bybel by Joh.8 oop. Ons kan Jesus Christus se woorde lees en hoor: “As julle aan my woorde getrou bly, is julle waarlik my dissipels” (Joh.8:31).
Die vier Evangelies is vol van Jesus, God se Seun se woorde. Lees die Evangelies met volle aandag en ‘n biddende hart. Glo in Jesus Christus alleen as enigste Verlosser. Luister na wat Christus sê. Bid die Heilige Gees om te kan hoor wat Jesus Christus sê, te kan verstaan en besef en onthou wat Hy sê en om dan te gaan doen wat Hy sê.
Oor ‘n week vier die hele land en die ganse wêreld Kersfees. Van Christus alleen en geloof alleen sal soos elke jaar min gehoor word. ‘n Week later, as die Here ons dit gun, sal Kersfees soos elke jaar ook weer reeds vergete wees.
Leef jy, Christengelowige, anders hierdie Kersfees. Leef anders al die dae van jou lewe. Leef deur die Heilige Gees met geloof alleen in Christus, God se Seun, ons Verlosser, alleen.
ANTWOORD
Sang: Ps.2:6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Skb.1-3:1,2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verksyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen