Home Preke Kerstyd God is groot en ons is klein – Glo dit en leef dit!

God is groot en ons is klein – Glo dit en leef dit!

Datum: 2022-12-11
|
Reeks: Kerstyd
|
Kernverse: Lk.1:46 – 48

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8

Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.48:1,4

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.48:5

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18

Antwoord op die Wet: Ps.25:3,4,5

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Sb.1-3/61:1,2,3

Lees: Lukas 1:39 – 56

Kernverse: Lk.1:46 – 48

Tema: God is groot en ons is klein – Glo dit en leef dit!

Sang: Ps.48:1,4; Ps.48:5; Ps.25:3,4,5; Sb.1-3/61:1,2,3; Ps.33:5,6; Sb.1-4/62:1,2,3,4

Inleiding:

Om die Here te ontmoet en Hom regtig te ken, raak ‘n mens se lewe baie diep. Die Here het Maria se lewe diep geraak en haar hele lewe heeltemal verander. Hoe word my lewe geraak wanneer ek God ontmoet en Hom regtig leer ken? Die Here praat met ons hieroor in Lk.1:39-56.

Tema: God is groot en ons is klein – Glo dit en leef dit!

  1. God is groot (volmaak)

Nadat Maria die buitengewone en wonderlike boodskap van Gabriël, die Here se engel, gekry het, het sy na Elisabet toe gegaan. Gabriël het vir Maria vertel dat Elisabet, wat nie kinders kon hê nie, swanger was. Buiten dat Maria swanger sou word, was Elisabet se  swangerskap was ‘n verdere teken dat niks vir God onmoontlik is nie.

Daar by Elisabet is Maria aangegryp deur wat met Elisabet en met haar gebeur het. Sy het met die Heilige Gees in haar, ‘n lied gesing. Maria het oor die grootheid van die Here gesing. In werklikheid het Lukas geskryf dat sy oor die wese van God gesing het. Haar lied gaan dus oor wie God is. Sy het gesing dat Hy volmaak is.

Maria het die volgende oor die volmaakte Here gesing:

Vs 55Hy is die Ewige. Sy beloftes van verlossing is aan aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid. Hy kan hierdie ewige beloftes maak en elke belofte waar laat word, want Hy is die ewige God.

Hy het sy besluite in die ewigheid geneem. Die koms van sy Seun na die wêreld is so ‘n besluit in die ewigheid. Jesus se geboorte in Betlehem is ook ‘n besluit in die ewigheid.

Ons verlossing is so ‘n besluit. Reeds in die ewigheid het God hierdie genadebesluit geneem om ons van al ons sonde en die ewige dood te verlos. It is wonderlik om dit te weet.

Vs 49 – Hy is die Almagtige – Hy doen die onmoontlike. Elisabet en Sagaria kon nie kinders kry nie. Hulle was al oud en verby die tyd dat kinders vir ‘n man en vrou gebore word. Elisabet, ‘n familielid van Maria, het swanger geword.

Die Here is die magtige wat groot dinge aan Maria gedoen het. Sy engel, Gabriël, het vir Maria die boodskap gebring van die magtige, die almagtige dinge wat die Here gedoen het. Sy het swanger geword, sonder die toedoen van ‘n man. Wat meer is, die Heilige Gees se krag het oor haar gekom dat sy aan God se Seun geboorte sou gee. Deur ‘n almagtige wonder sou God en het Hy sy Seun mens laat word deur haar.

Vs 49 – Hy is die Heilige – Hy is die Heilige. Heilig beteken: Hy is afgesonder van alles en almal. Dit beteken: Hy is heeltemal anders as almal. Hy is enig, uniek. Niemand is soos Hy nie. Hy is hoog verhewe bo alles en almal. So hoog soos die hemel bo die aarde is, so is sy gedagtes en sy manier van doen bo ons.

Heilig beteken verder: Die Here verdra sonde nie. Hy tree op teen sonde. Hy straf sonde met die dood. Ons mag sonde daarom nie ligtelik opneem nie.

God help ons in ons sondenood. Hy gee sy Seun om in ons plek te sterf en die straf en oordeel te dra.

Sy Naam is heilig, afgesonder van alle name. Daarom mag elkeen sy Naam alleen met die grootste ontsag gebruik. Ons mag nie stilbly oor die Here nie. Ons mag sy Naam ook nie ligtelik gebruik nie.

Vs 54 – Hy is die Getroue. Hy gee beloftes. Hy gee veral verbondsbeloftes. Sy beloftes bly vir eeue. Hy laat sy beloftes na eeue en eeue steeds waar word, want dit is ewige beloftes. Ek kan die getroue Here altyd in alles vertrou.

Vs 48,50 – Hy is die Genadige – Hy sien om na Maria en elke ander sondige mens se geringheid. Hy bews sy ontferming geslag tot geslag tot geslag. Niemand verdien sy ontferming nie. Deur ons sonde is ons God se vyande. Hy kry ons jammer en verlos ons uit hierdie omstandighede. Hy verlos ons deur sy Seun te gee om vir ons te sterf en op te staan.

2. Ons, mense, is klein (Onvolmaak en sondig)

Vs 48 – Maria was en ons almal is gering – Die woord gering betekenom ‘n verleentheid te wees of om vernederd te wees. Met hierdie woorde het Maria in werklikheid oor haar sondigheid voor die almagtige en heilige God gesing.

Min mense dink vandag so daaraan, maar die hele mensdom, elke enkele mens was in ‘n baie groot verleentheid en het in vernedering geleef. Die verleentheid en vernedering bestaan daarin, dat dit lyk asof ‘n op aarde mens leef, maar sonder God net op my eie, is elke mens in die mag van die duiwel en die ewige dood.

Hierdie geringheid is dus ‘n doodsverleentheid en doodsvernedering!

Dit is regtig ‘n doodsverleentheid en doodsvernedering, want die regeerder van God se skepping het deur sonde ‘n slaaf van die duiwel geword.

Die ganse mensdom bestaan uit twee groepe. Die een groep was in hierdie verleentheid en vernedering. Die ander groep is steeds in hierdie ellende wat op die ewige dood afstuur.

Die hele mensdom was deur sonde vyande van God en het die ewige dood verdien. Die mensdom was magteloos om iets aan hierdie ellende te doen

Elke mens het ‘n dringende behoefte aan ‘n Verlosser uit hierdie verleentheid en vernedering. Sonder verlossing is elke mens in die mag van die duiwel en die ewige dood.

Ongelukkig besef baie mense in ons land en die wêreld nie hierdie dringende behoefte nie. ‘n Deel van Maria se lied het hieroor gegaan.

Vs 51,52 – Hoogmoediges en maghebbers – Daar is die mens wat in hulle eie gedagtes en woorde en optrede goed en reg leef. Die Farao in Egipte en Nebukadnesar in Babel was sulke maghebbers, sulke regeerders met mag. Daar is ook voorbeelde van ander mense in die Bybel wat hoogmoedig was en hulleself nie as sondig en onvolmaak gesien nie. Trouens hulle het dit selfs hardop vir ander gesê. Hier is twee mense van wie ons in die Bybel lees:

In die Ou Testament is Job so ‘n mens. Nadat sy vriende aangedring het dat dit sy sonde was wat hom so swaar laat kry het, het hy homself verdedig. Een van die dinge wat hy gesê het, was: “Het die mense in my diens ooit gesê:’By Job het ons nie genoeg gekry om te eet nie?’” (Job 31:31). Nadat hy ‘n hele klomp dinge genoem het oor hoe goed en reg hy gelewe het, het Job met hierdie woorde afgesluit:”My saak het ek gestel: Nou moet die Almagtige my antwoord” (Job 31:35).

In die Nuwe Testament het ons Paulus as voorbeeld. In sy brief aan die Filippense het hy van sy vroeëre godsdienstige lewe geskryf dat hy in onderhouding van die wet van Moses om vryspraak te kry, onberispelik was (Fil.3:6).

In vs 51 en 52 het Maria gesing dat die Here hoogmoediges uitmekaar jaag en maghebbers van hulle mensgemaakte trone afruk.

Luister na Job en Paulus, nadat hulle die almagtige en heilige God ontmoet het.

  • Job“Tot nou toe het ek net gehoor wat mense van U sê, maar nou het ek U self gesien, en nou verag ek myself, nou sit ek vol berou, in sak en as” (Job 42:5,6).
  • Paulus“Die goeie wat ek wil doen, doen ek nie, maqr die slegte wat ek nie wil doen nie, dit doen ek….Ek, ellendige mens! Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here” (Rom.7:19,24,25).

Maria het besef en geglo dat God volmaak en sy sondig en onvolmaak is. Job en Paulus het dieselfde besef en geglo. Hierdie drie mense het so geglo, omdat hulle God ontmoet het en Hom regtig leer ken het.

Elke mens het elke Sondag in ‘n erediens die geleentheid om God te ontmoet. Hy is in die erediens deur sy Heilige Gees. Sy Woord is oop. Hy praat met elkeen van ons.

Met die Heilige Gees in my kan ek God leer ken wie Hy regtig is, DIE VOLMAAKTE GOD!

Met die Heilige Gees in my, kan ek myself deur God se Woord ook leer ken, ONVOLMAAK EN SONDIG!

3. Ek sal klein en verwonderd voor God leef

Ons is het die Kerstyd ingegaan. Oor twee weke, as die Here wil, herdenk ons op Kersdag ons Verlosser se koms na die wêreld.

Elkeen van ons het nodig om hierdie Kerstyd weer regtig te besef en opreg te glo dat ek onvolmaak en sondig is. Hierdie besef en geloof moet diep hier binne my hart wees en nie net woorde nie.

Elkeen van ons het verder nodig om hierdie Kerstyd te besef en opreg te glo, dat die volmaakte God sy Seun gegee het om my van al my sonde te verlos.

Met die Heilige Gees in my en ‘n deel soos Lk.1:39-56 in die Bybel wat ek kan lees, behoort ek hierdie Kerstyd klein voor God te leef. Ek leef klein wanneer ek die verleentheid en vernedering van sonde in my lewe en die doodsgevaar van sonde besef en daaroor opreg berou het en my in die krag van die Heilige Gees bekeer en naby God en vir Hom leef.

Met die Heilige Gees in my en Lk.1:39-56 oop voor my, sal ek nie anders kan as om verwonderd voor God te wees nie. Die Ewige, Almagtige, Heilige, Getroue en Genadige het na my toe gekom. Hy het in sy Seun na my toe gekom. Hy het sy Seun vir my gegee om vir my sonde te sterf en vir my uit die dood op te staan, dat ek kan lewe.

Maria het geglo en gesing.

Ek behoort hierdie Kerstyd te glo en te sing en te bid.

ANTWOORD

Sang: Ps.33:5,6

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Sb.1-4/62:1,2,3,4

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen