Home Preke Kerstyd Jesus het Homself verneder, sodat ons nederig kan leef

Jesus het Homself verneder, sodat ons nederig kan leef

Datum: 2024-12-22
|
Reeks: Kerstyd
|
Kernverse: Joh.13:8b,14,17

ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.33:1,6
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Skr.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.119:22,39
Gebed

VERKONDIGING
Sang: Ps.18:1,13
Lees: Johannes 13
Kernvers: Joh.13:8b,14,17
Tema: Jesus het Homself verneder, sodat ons nederig kan leef
Sang: Ps.33:1,6; Skb.12-3:1,2; Ps.119:22,39; Ps.18:1,13; Ps.2:6; SKb.15-1/75:1,2,3,4

Inleiding:

Ons herdenk met Kerstyd die geboorte van ons Verlosser, Jesus Christus. Onthou maar net dat Kersdag nie werklik Jesus se geboorte dag is nie. In die 4e eeu het die Christelike kerk in die plek van die herdenking van ‘n heidense afgod, die herdenking van Christus se geboorte ingestel.

Oor die algemeen is mens bly rondom Kersfees en kuier saam met familie een vriende. Dis goed en reg so.

Vir Jesus was dit nie aangenaam om na die aarde toe te kom nie. Trouens, dit was vir Hom swaar. Sy koms na die aarde was vir Hom ‘n vernedering. Sy vernedering het ‘n baie sterk en groot invloed op ons lewe. Die Here Jesus se vernedering behoort ons ook nederig te maak.

Tema: Jesus het Homself verneder, sodat ons nederig kan leef

1. Jesus se koms na die aarde was ‘n vernedering

Jesus het met sy koms na die aarde sy lewe in hemelse heerlikheid prysgegee. Hy het dit terwille van ons gedoen. In Paulus se brief aan die Filippense lees ons dat Jesus Homself verneder het. Hy het Homself verneder en die gestalte van ‘n slaaf aangeneem en aan mense gelyk geword (Fil.2:7.)

Wanneer ons aan sy geboorte dink, sien ons ook daarin sy vernedering. Niemand onder sy eie mense het eers geweet die Kind wat die Verlosser van sondaars is, word gebore nie. Heidene van ‘n land uit die ooste, moes vir die verbondsvolk daarop kom wys dat God sy beloftes van ‘n Verlosser waar gemaak het.

Daar was verder vir Jesus se ma, Maria nêrens anders om geboorte te gee nie as in ‘n stal waar diere oornag het nie. Daar moes sy haar pasgebore kind in doeke toedraai en in ‘n krip laat lê. Dis eintlik so ongehoord.

Dan was Jesus net ‘n paar maande oud, toe sy lewe so in gevaar was, dat sy ouers na ‘n ander land moes vlug.

Sy lewe deur was ‘n lewe van vernedering. Sy eie mense vir wie Hy aarde toe gekom het, het Hom nie aanvaar nie. Trouens, hulle het  Hom gehaat en verwerp.

Hierdie vernedering sien ons ook die aand aan tafel toe Jesus se dissipels se voete gewas het.

Dit was in daardie tyd die gewoonte dat die gasheer sy gaste se voete gewas het. Maar…die gasheer het nie self sy gaste se voete gewas nie. Nee, hy het een van sy slawe, sy bediendes, aangesê om die werk te doen.

Daardie aand het Jesus ‘n slaaf geword vir sy disippels, vir sy kerk. Met hierdie daad van voetewas wys Jesus ons dat Hy gekom het om ons te dien en sy lewe vir ons te gee. Toe Jakobus en Johannes en die ander dissipels op ‘n keer gestry het oor wie die belangrikste is, het Jesus vir hulle die volgende oor Homself gesê: “Die Seun van die mens het nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie” (Mk.10:45.)

Met die was van sy dissipels se voete het Jesus gewys dat Hy gekom het om ons met sy lewe te dien.

Jesus het sy dissipels se voete gewas terwyl Hy geweet het sy gevangeneming en kruisiging was naby. Uiteindelik sou Jesus ons met sy lewe aan die kruis dien. Hy sou en Hy het in die diepste vernedering aan die kruis op Golgota tussen twee misdadigers gehang. Daar het Hy met ons sonde op Hom, sy lewe gegee vir ons.

Saam met die vreugde oor die koms van ons Verlosser behoort elke Christengelowige ook nog die volgende twee emosies te hê:

  • Dankbaarheid dat God se Seun ons Homself verneder het om ons met sy lewe te dien.
  • Nederige verwondering dat ons Verlosser bereid was om Homself so vir ons te verneder.

2. Hy het Homself heeltemal gewillig vir ons verneder

Die aand daar aan tafel het niemand Jesus gevra of gedwing om die dissipels se voete te was nie. Hy het dit uit sy eie en heeltemal gewillig gedoen.

Jesus het ook heeltemal gewillig sy lewe in hemelse heerlikheid opgeoffer en mens geword. Hy het sy lewe net so gewillig oorgegee om gevange geneem te word, heeltemal onregverdig veroordeel te word en uiteindelik onskuldig aan die kruis op Golgota te sterf.

Vir wie het Jesus Homself so verneder? Daardie aand aan tafel was net sy dissipels by Hom. Hy het net hulle voete gewas. Maar, die dissipels was nie net twaalf mense nie. Die dissipels was die fondament van die kerk van Christus op aarde. Jesus het dus daardie aand in werklikheid gewys dat Hy gekom het om sy hele kerk, sy gelowiges met sy lewe te dien.

Jesus het Homself vir almal wat aan sy Vader behoort, verneder. Elkeen van ons wat aan die Here Jesus Christus behoort, moet weet dat dit alleen gebeur het, omdat Hy Homself vir elkeen van ons verneder  het en ons met sy lewe gedien het.

3. Deur sy vernedering het Hy ons verlos

Terwyl Jesus die dissipels se voete gewas het, het Hy by Petrus gekom. Petrus wou eers nie dat Jesus sy voete was nie. Hy het nie besef dat hy dit dringend nodig gehad het om deur Jesus gedien te word nie. Petrus het gedink hy is die een wat Jesus moet dien.

Daar het Jesus vir Petrus, die ander dissipels en vir elkeen van ons ‘n belangrike waarheid geleer. Die waarheid is die volgende:
As Jesus ons nie met sy lewe dien nie, het ons nie deel aan Hom nie en…
is ons nie verlos nie en…
sal ons Hom nie met ‘n gelowige hart kan dien nie!

As gelowige lidmate in die kerk wil ons die Here Jesus dien. Dis goed en reg so. Maar dit sal alleen kan gebeur, indien Jesus Christus ons eers met sy lewe gedien het en ons verlos het.

‘n Mens word net op een manier verlos en dit is deur Christus wat Homself verneder het en ons met sy lewe gedien het.

Wanneer Christus ons met sy lewe dien, verander ‘n mens se lewe heeltemal. Die Heilige Gees kom in ons. Hy maak ons een met Christus. Omdat ons een met Christus is, word ons verlos, word ons salig. As verloste gelowige kan ‘n mens Christus dan dien.

4. As verloste leef ons nou met nederigheid

Dit is Kerstyd 2024. Die hele wêreld vier Kersfees. Selfs die wat geen verhouding met Christus het nie. Vier ook Kersfees.

Maar….Kersfees is nie ‘n wêreldfees nie. Kersfees is ten diepste ‘n Christusfees!

Ons leef in ‘n tyd waar baie mense Christus of glad nie as Verlosser sien nie, of as een van baie. Ons leef in ‘n tyd waar die eer nie meer aan God gegee word nie, maar aan mense, waar status in die lewe en geld die belangrikste geword het. Vir die wêreldmens is Kerstyd vakansietyd en winskopietyd. Jesus Christus het nie eintlik ‘n plek nie.

Christene het daarom hierdie Kersfees, en dan nie net vir een dag in ‘n jaar nie, maar deur ons hele lewe die belangrike roeping om anders te leef as die wêreldmens. Hoe leef ‘n Christen anders? Ons leef deur die Heilige Gees. Een van die maniere om deur die Gees anders te leef, is om nederig te leef. Ons het die Heilige Gees in ons. Die Heilige Gees lei ons en help ons om die vrug van die Gees, nederigheid in ons lewe te wys.

Nederig leef is om in die woorde van Johannes die Doper so te leef dat ons al minder word en Christus al meer (Joh.3:30.)
Nederig leef is om Jesus te volg en soos Hy nie ons eie wil te soek nie, maar na die wil van ons Vader in die hemel te vra (Mt.26:39.)
Nederig leef is om nie van onsself meer te dink as wat ons behoort nie, maar ons  medegelowiges met ons gawes te dien (Rom.12:3-8.)

Die wêreld, hierdie land, die kerk van Christus het werklike nederige Christengelowiges baie nodig. Ons sien in die tyd waarin ons leef, heeltemal te min nederigheid en hopeloos te veel hoogmoed en eiewilligheid.

Laat elkeen van ons se lewens dan hierdie Kerstyd en die res van volgende jaar, as die Here ons die jaar gun, van nederigheid getuig.

5. ‘n Nederige gelowige se lewe eindig in hemelse heerlikheid

Jesus het die was van sy disippels se voete afgesluit met die woorde: “Gelukkig is julle as julle dit ook doen” (Joh.13:17.)

‘n Lewe van hoogmoed en eiewilligheid en selfvoldaanheid is ‘n lewe sonder Jesus Christus. So ‘n lewe eindig in die diepste vernedering en oordeel in die hel. Elkeen wat sonder Christus leef, moet dit maar weet.

Hierteenoor die volgende: ‘n Nederige lewe loop vir ‘n Christengelowige uit op verheerliking in hemelse heerlikheid. Wanneer Christus weer kom, neem Hy elkeen wat Hy verlos het en as verloste vir Hom geleef het, by Hom in ewige hemelse heerlikheid.

Christus het Homself verneder vir ons. Laat elkeen van ons dan deur die Heilige Gees ‘n nederige Christengelowige wees.

Leef nederig hierdie Kersfees, maar….nie net hierdie Kersfees nie..!
Leef deur die Heilige Gees met nederigheid elke dag van jou lewe..!

ANTWOORD
Sing: Ps.2:6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing Skr.15-1/75:1,2,3,4
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen