ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.146:1,8
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.4/4-4:1,2,3
Lees: Jesaja 7:1-16
Kernverse: Matt.1:21-23
Tema: Met kerstyd herdenk ons die koms van ons wonderbare Verlosser.
Sang: Ps.146:1,8; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Skb.4/4-4:1,2,3; Skb.4/4-4:4,5; Skb.3-1/51:2,3
Inleiding:
In Jesaja 7 en Matteus 1 het ons die wonderlike boodskap van ons WONDERBARE VERLOSSER in ‘n tyd waar ook ons hierdie boodskap baie nodig het.
Tema: Met kerstyd herdenk ons die koms van ons wonderbare Verlosser.
Die tyd toe Jesaja as profeet van die Here opgetree het, het dit nie goed gegaan in Juda nie. Ons kan die volgende sê om die omstandighede in Juda saam te vat:
Dan was daar die vyandigheid met Israel onder koning Peka en Aram onder koning Resa. Hierdie situasie het die omstandighede van Juda nog erger gemaak. In die verlede wasdaar gedurig vyandskap tussen Israel en die Arameërs. In die begin van koning Agas van Juda se regering het die koning van Israel en van Aram vriende geword en teen Juda oorlog gemaak.
Eers iets oor Agas. Voor Agas koning van Juda geword het, het konings Joas, Amasia, Ussia en Jotam Juda regeer. Hulle het die Here geken en Hom gedien. Agas was heeltemal anders. Van hom lees ons die volgende in 2 Kron.28:1-4 – “Agas was twintig toe hy koning geword het, en hy het sestien jaar in Jerusalem geregeer. Hy het nie gedoen wat reg is in die oë van die Here soos sy voorvader Dawid nie. Hy het die pad geloop van die konings van Israel en hy het selfs beelde van die Baäls laat giet. Hy het in die Ben-Hinnomdal offerandes gebring en van sy kinders daar verbrand volgens die afskuwelike gebruik van die heidennasies wat deur die Here voor die Israeliete uit verdryf is. Hy het diereoffers en wierookoffers gebring op die hoogtes en op die rante en onder elke groot boom.”
Toe die berig dat die Arameërs reeds in die gebied van Efraim kamp opgeslaan het, Jerusalem bereik het, het Agas en al die inwoners van Jerusalem baie bang geword. Aram en Israel het teen daardie tyd Juda reeds verpletterende neerlae toegedien. Op een dag is byvoorbeeld honderd en twintig duisend soldate gedood.
Uit al hierdie kan ons sê dat die verbondsvolk, die kerk van die Ou Testament baie moeilike omstandighede beleef het.
Hoe gaan dit met die kerk van die Nuwe Testament?
Ons leef in ‘n land met ‘n mengelmoes van ongelukkig oppervlakkige godsdienste. Die vraag is: Ken óns die Here met opreg gelowige harte? Ons almal moet met hart en siel waak dat ons godsdiens en ons lewe in die gemeente nie net uiterlik is nie, maar met hart en siel gelowige in Christus se kerk is.
Gelowiges en kerke doen ook maar in ons land verkeerde dinge aan mekaar.
Dan is die kerk van Christus in hierdie tyd al hoe meer onder druk – geloofsdiepte, hoeveelheid lidmate, finansies en alles wat hiermee saamgaan.
Die ernstigste probleem waaroor veels te min gedink en gepraat en gebid word, is ons sonde en die aanvalle van ons groot verleier, die vader van die leuen, Satan.
2. God se belofte van verlossing.
Toe dit so swaar met Juda gegaan het, het die Here sy profeet gestuur. Jesaja moes sy seun Sear-Jasub saamnddm wanneer hy met koning Agas gaan praat. Jesaja se seun se naam beteken: Daar sal ‘n oorblyfsel wees. Saam met Jesaja se woorde was die Here se boodskap ‘n boodskap’n belofte van verlossing.
Die Here se belofte van verlossing was:
Hierby het die Here se belofte nog hierdie woorde vir Agas en sy mense gehad: “Maar ook julle sal nie standhou as julle nie in geloof standhou nie” (Vs 9).
Die kerk van die Nuwe Testament het ook die belofte van verlossing van God gekry. Ons het die belofte in soveel woorde. Dink aan die belofte van verlossing wanneer ons gedoop word.
God die Vader beloof dat Hy met ons ‘n ewige genadeverbond oprig, dat Hy ons as sy kinders en erfgename aanneem, ons daarom met alles wat goed is wil versorg en al die kwaad van ons af wil weghou of wanneer dit wel op ons lewenspad kom, die swaar so wil gebruik dat dit vir ons die beste is.
God die Seun maak ‘n belofte wat vas en seker is dat Hy ons deur sy bloed aan die kruis van al ons sonde skoonwas, dat Hy ons een met Hom en sy kruisiging en opstanding maak, dat ons van al ons sondes verlos sal word en voor God regverdig, dit is heeltemal vrygespreek sal wees.
God die Heilige Gees maak ook ‘n belofte wat vas en seker is dat Hy in ons wil woon, ons vir Christus sal afsonder deur ons geloof in Christus waardeur ons sondes afgewas is en dat Hy ons ons elke dag wil vernuwe tot ons aan die einde saam met die gemeente van die uitverkorenes ewig in die hemel heeltemal sonder enige sonde voor God sal staan.
3. Die teken wat geglo moet word.
Agas en Juda het nie reg voor God geleef nie, maar God is barmhartig en genadig, geduldig en vol liefde en ewig getrou. Agas kon van die Here God ‘n teken, enige teken vra. Die teken sou die Here se belofte van verlossing bevestig. Agas sou uit die teken vas en seker kon weet dat die Here sy belofte sou uitvoer.
Die teken het ‘n dieper betekenis gehad. Agas moes met geloof in sy hart dat die Here Juda regtig sou verlos, die teken vra.
Maar…Agas het nie in God geglo nie en ook nie naby die Here geleef nie. Hy het sy eie planne reeds gehad. Sy plan was om die koning van Assirië te vra om te help teen Resin en Peka se aanvalle. Agas het ewe vroom gesê dat hy nie ‘n teken sal vra nie, omdat hy die Here nie wil tart nie (vs12). Juis deur sy onwilligheid om in God te glo, sy genade aan te gryp en Hom te hoorsaam, het Agas die Here getart en vermoei.
Die Here is die onveranderlike God. Hy het genadig gebly en self ‘n teken vir Agas en Juda gegee – ‘n Jong vrou, ‘n maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring. Sy sal hom Immanuel noem. Die seuntjie se geboorte sou die teken wees dat God met Juda is en hulle sal verlos. Die res van die belofte was dat die verlossing gou sal gebeur.
Die teken wat die Here vir Agas en Juda gegee het, was die teken dat verlossing op ‘n wonderbare manier sou kom. Al het die omstandighede en die toekoms vir Juda menslik gesproke baie sleg gelyk, het God verlossing beloof en ‘n teken gegee dat die belofte verlossing vas en seker is.
Die verlossing sou wonderbaar wees. Die teken was daarom geen gewone teken nie, maar ‘n wonderbare teken dat ‘n maagd swanger sou word en ‘n seun in die wêreld sou bring. Die verlossing wat die Here beloof het en die teken wat Hy gegee het, het ‘n baie dieper betekenis gehad. Die dieper betekenis kry ons in Matteus 1.
4. In Jesus is die belofte vervul.
Op die tyd wat God bepaal het, het die Heilige Gees oor ‘n jong vrou van Nasaret wat nog nie getroud was nie, gekom. Die krag van die Allerhoogste het lewe in haar gewek. Sy sou aan die Seun van God geboorte gee. So het die engel Gabriël vir haar die boodskap gebring.
Maria se swangerskap het haar verloofde Josef met ‘n baie ernstige probleem gelaat. Hy het gedink dat sy op ‘n sondige manier swanger geword het. Hy moes haar volgens wet na die Joodse Raad bring, sodat haar slegte lewe in die openbaar bekend kon word. Josef wou dit nie doen nie. Hy het gedink om in die geheim sy verlowing met Maria te verbreek.
Die Here het een nag ‘n engel na Josef gestuur. Die engel het in ‘n droom aan Josef verskyn. Die engel se boodskap was dat die lewe wat in Maria verwek is, van die Heilige Gees kom. Sy sal ‘n Seun in die wêreld bring, het die engel verder gesê.
Toe het Josef die wonderlike woorde gehoor: Hy moet die Seun Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos. Die engel se boodskap het beteken dat die tyd aangebreek het dat die eeue oue belofte van die Verlosser vervul sou word!
Matteus het deur die Heilige Gees geskryf dat die Seun wat uit Maria gebore sou word en ons weet dat Hy uit haar gebore is, die vervulling is van die woorde van die profeet Jesaja eeue vantevore: “Die maagd sal swanger word en ‘n Seun in die wêreld bring, en hulle sal Hom Immanuel noem. Die Naam beteken God by ons” (Matt.1:23).
In Jesaja 7 het ons die wonderbare belofte van verlossing en die wonderbare teken dat die verlossing vas en seker is.
In 2024 kan ons uit Matteus 1 en met die Heilige Gees in ons vas en seker glo dat ons WONDERBARE VERLOSSER VIR ONS GEBORE IS!
Wat ook al ons eie omstandighede is, wat ons gemeente se omstandighede ook al is, hoeveel sonde ons almal ook al het….God het sy Seun mens laat word.
Die Here Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem!
Hy het vir ons aan die kruis gesterf!
Hy het vir ons uit die dood opgestaan!
Ons het ‘n WONDERBARE VERLOSSER!
Ons kan daarom hierdie kerstyd met geloof en sekerheid en dankbaarheid vier.
ANTWOORD
Sing: Skb.4/4-4:4,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.3-1/51:2,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen