Home Preke Kerstyd Lig in die donkerte in die Tuin van Eden

Lig in die donkerte in die Tuin van Eden

Datum: 2023-11-05
|
Reeks: Kerstyd
|
Kernverse: Gen.3:9,15,20

ONTMOETING

Votum: Ps.121:1,2

Seën: Genade, barmhartighid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees

Lof aan God: Ps.146:1,8

Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels

Sang: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING

Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34

Antwoord op die Wet: Ps.119:1,2

Gebed

VERKONDIGING

Sang: Skb.1-1:1,3

Lees: Genesis 3

Kernverse: Gen.3:9,15,20

Tema: Lig in die donkerte in die Tuin van Eden

Sang: Ps.146:1,8; Ps.71:9; Ps.119:1,2; Skb.1-1:1,3; Skb.1-3:1,2,3; Skb.1-2:1,2,3.

Inleiding:

Oor sewe weke, as die Here wil, is dit Kersfees 2023. Agter ons lê ‘n groot deel van die jaar. Voor ons lê die laaste deel van die jaar wat na sy einde toe snel. Snel is ‘n woord wat pas by die spoed waarteen die dae en die weke verbygaan.

Kerstyd is ‘n veral ’n tyd van liefde en genade. En het elkeen van ons nie God se liefde en genade so nodig nie! Veral hier ten die einde van die jaar waar moegheid, moedeloosheid en spanning en druk dit wat gebeur en wat ‘n mens dink en voel donkerder kan maak as wat dit regtig is.

Vanoggend se reeks preke wat begin is, preke uit die Here se Woord wat oor Kerstyd gaan, die tyd van God se liefde en genade vir ons, vir elkeen wat aan Hom behoort.

Tema: Lig in die donkerte in die Tuin van Eden

  1. Die genade van God wat sondaars roep

God het so duidelik en so ernstig gepraat. Daar was niks onduidelik en onseker nie. God het gesê: Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van kennis van goed en kwaad mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy (Gen.2:16,17).

‘n Vrye lewe van oorvloed om na hartelus te gebruik en te geniet, het Adam en Eva, die eerste twee mense by God gekry. Dit was in werklikheid genade en liefde wat hulle so in oorvloed by die Here gekry het.

Een ding het God gevra: Antwoord hierdie genade en liefde deur gehoorsaamheid.

Ongehoorsaamheid sou maak dat die eerste twee mense sterf. Sterf het beteken dat hulle alles sou verloor. Hulle sou die verhouding met God verloor. Hulle sou die oorvloed verloor. Hulle sou die toekoms saam met God verloor. Hulle sou die vermoë om oor die aarde te regeer verloor. Hulle sal as man en vrou hulle eenheid verloor.

Die eerste twee mense het toe nie God se genade en liefde met gehoorsaamheid geantwoord nie. Hulle het met ongehoorsaamheid geantwoord. Hulle het toegelaat dat Satan, die groot vyand van God, hulle verlei om hom eerder te glo as vir God. Hulle het terwyl hulle geweet het wat hulle doen, teen God gedraai en Satan gevolg en teen God gesondig.

Op daardie verskriklike donker dag in die geskiedenis van die heelal, die donkerste dag, het die eerste twee mense alles verloor.

Dat hulle vir God weggekruip het, het duidelik gewys dat hulle hulle innige verhouding met God verloor het. Waar Adam en Eva daardie skemeraand  tussen die bome in die tuin vir God weggekruip het, was hulle reeds dood, met die Satan en sonde en die ewige dood deel van hulle lewe.

Die skemer het in die Tuin van Eden aangebreek. Dit het donker begin word. Die grootste donkerte was die eerste twee mense se sonde teen God. Hulle vriendskap met die Satan het vyandskap met God beteken. ‘n Vyand van God het net een pad en een bestemming, die pad van die dood en die ewige dood as bestemming.

Hierdie alles maak Gen.3:9 ‘n baie groot verrassing. Luister mooi na die woorde in vs 8 en 9: “…en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: Waar is jy?”

In Gen.3:9 is “Maar” in die 83 vert. of “En” in die 53 vert. ‘n baie belangrike woord aan die begin van die vers. Ons kan sê dit is die maar van genade. Die genade is God wat roep.

Die Here God is alwetend. Hy het geweet wat Adam en Eva gedoen het. Hy het geweet waar en tussen watter bome hulle weggekruip het. Dat God hulle geroep het, het daarom ‘n dieper betekenis. Hulle het weggekruip, MAAR….God wou hulle naby Hom gehad het. Hier is die lig van God se genade in die donkerte in die Tuin van Eden. God het die twee mense wat teen Hom gesondig het, na Hom toe geroep.

God is ewig onveranderlik. Sy genade en sy liefde verander nie. Die Here God wil steeds sondige mense naby Hom hê. Hy roep steeds. Hier aan die einde van die 2023 wil God my met al my foute en my sonde naby Hom hê. Hy roep my in die groen van sy skepping met die nuwe seisoen.

Hy roep my nog duideliker met sy Woord. Elke Sondag is dit tyd om stil te word, dat ek na die week se geraas, in ‘n erediens kan hoor hoe God my nader roep. Hy roep my nader want sy liefde en sy genade is ook vir my bedoel.

Elke week hoor ek die geraas van die wêreld en Satan wat steeds besig is om my van God weg te wil verlei, daarom het ek elke week die stilte van Sondag en Sondag se erediens nodig om God te hoor roep.

2. Die belofte van oorwinning oor sonde

Daar met die eerste twee mense en Satan voor Hom, het die Here God alles tot op die been oopgekloof. Adam het probeer wegsteek dat hy gesondig het. Hy het Eva en selfs die Here die skuldige vir sy sonde probeer maak. Uiteindelik moes hy erken: “…en ek het geëet” (Gen.3:12). Eva het dieselfde gedoen. Sy het die slang as rede vir haar sonde gegee, maar sy kon ook nie anders nie, as om te erken: “..en ek het geëet” (Gen.3:13).

Nadat die Here God die eerste twee mense se sonde blootgelê het dat hulle moes erken dat hulle van die boom geëet het waarvan die Here hulle uitdruklik en ernstig verbied het om te eet, het Hy  met die slang gepraat.

Die slang, die masker waarbinne Satan weggekruip het, het die eerste twee mense verlei om sy vriende te word. Sy vals vriendskap wat hy aangebied het en waarvoor eers Eva en na haar Adam geval het, het hulle verlei om hulle rug op God te draai en ongehoorsaam te wees. Nadat Die Here God die slang vervloek het met ‘n vernederende lewe van op sy pens seil tussen al die diere, het God Satan aangespreek.

Daar in die Tuin van Eden het die Here die vriendskap tussen Satan en die eerste twee mense tot ‘n einde gebring. In die plek van die sondige vriendskap wat vir die eerste twee mense en vir almal na hulle, die dood beteken het, het God vyandskap gestel. Die vyandskap het begin by Eva en Satan. Die vyandskap sou voortduur tussen Eva se geslag en Satan se geslag. Sy geslag is almal wat hom in die toekoms sal volg.

Die vyandskap tussen Eva en die Satan sou daarop uitloop dat Satan se kop vermorsel sal word (Gen.3:15).

Daar voor God op die donkerste dag in die geskiedenis van die mensdom, met die eerste twee mense en saam met hulle die ganse mensdom in die donker mag van sonde, het God ‘n helder lig laat skyn. Hierdie helder lig was die lig van oorwinning oor Satan en sonde deur een uit die nageslag van die vrou.

Kersfees is die fees van oorwinning oor Satan en sonde. Met Kerstyd 2023 kan ek met die Heilige Gees in my vas en seker weet dat die een uit die vrou se geslag, Jesus Christus die seun van God is. Hy het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Hy is daardie nag as die Seun van God uit Maria sonder die toedoen van ‘n man, gebore in Betlehem – ‘n Almagtige wonder van die lewende God!

Op ongeveer 33-jarige ouderdom, het Jesus aan die kruis op Golgota gesterf. Daar aan die kruis het Hy met ons sonde op Hom, die mag van Satan gebreek, die skuld van sonde voor God volmaak gedra en heeltemal weggeneem. Wat die Here God in die Tuin van Eden gesê het: Die dag as jy daarvan eet, sterf jy, het op Golgota gebeur. Jesus het die sonde van die eerste twee mense en ook my sonde op Hom geneem en gesterf. Daarom kon Hy net voor sy dood sê: “Dit is volbring” (Joh.19:30). Jesus se kruis op Golgota is ‘n oorwinningskruis oor sonde en Satan.

Daardie Sondag, die derde dag na sy kruisiging, het Jesus op ‘n almagtige manier uit die dood opgestaan. Deur sy opstanding uit die dood het Hy die dood as straf op sonde oorwin en aan ons die nuwe lewe, die ewige lewe gegee. Die leë graf in die tuin van Josef van Arimatea is ‘n oorwinningsgraf oor die dood.

Ek, Christengelowige kan hier teen die einde van die jaar vas en seker weet, met die Heilige Gees in my: Ek deel in Jesus Christus se oorwinning oor die sonde en Satan. Alles wat die afgelope jaar en al die jare vantevore sleg en verkeerd geloop het, al die swaarkry en al die seerkry wat mens so moeg kan maak aan die einde van die jaar, is die nagegevolge van daardie donker dag in die Tuin van Eden. Dan is daar nog my eie sonde wat my pla en ook geestelik moeg laat word.

MAAR….Jesus Christus is DIE OORWINNAAR oor die sonde en die Satan!

Deur die Heilige Gees deel ek in Jesus se oorwinning!

Die Heilige Gees in my, gee vir my geestelike krag, oorwinningskrag. Hy gee my soveel krag dat ek teen al die sleg en verkeerd en swaar op aarde kan veg kan oorwin!

‘n Lewe in oorwinning hier op aarde loop vir my uit op ‘n lewe in ewige oorwinning in die hemel wanneer Jesus Christus weer kom.

Kerstyd is oorwinningstyd. Skep daarom deur die Heilige Gees geloofsmoed. Praat mekaar moed in. Bid vir mekaar.

3. Lewe te midde die donker van die dood

Op daardie donkerste dag in die Tuin van Eden het daar die derde lig deurgebreek. Ons lees van hierdie lig in Gen.3:20: “Die mens het sy vrou Eva genoem; sy was die moeder van al die mense.”

Die Here God se optrede teen die sonde van die eerste twee mense was lewensveranderend. Die donker wolk van die dood, die ewige dood as straf op sonde het oor die eerste twee mense en oor die hele mensdom wat na hulle sou kom, gehang. Die ewige dood as God se straf op sonde het nie verdwyn nie.

Die Here het eerste twee mense se vriendskap met Satan in ewige vyandskap verander. Die eerste twee mense het ook die belofte van oorwinning oor die Satan gehoor. Oorwinning oor die sonde en die Satan het lewe beteken in die donkerte van die ewige dood.

Adam het die belofte van oorwinning aangegryp en sy vrou ‘n naam gegee wat ‘n boodskap van lewe gehad het. Sy sou lewe gee aan ‘n nageslag. Uit die nageslag sou die een kom wat Satan en die sonde oorwin.

Met die belofte van lewe, het die Here God die eerste twee mense uit die Tuin van Eden weggejaag. Hulle moes die stukkende aarde en lewe as gevolg van sonde ingaan en lewe met die belofte van oorwinning oor Satan en sonde wat God gegee het.

Die stukkende aarde en lewe kom eers tot ‘n einde wanneer Jesus weer kom om alles nuut te maak. Tot dan leef elkeen van ons ook op ‘n stukkende aarde in ‘n gebroke lewe.

Elkeen van ons moet ook die stukkende aarde en gebroke lewe ingaan elke dag. As Christengelowige gaan ek elke dag tegemoet met die belofte van oorwinning oor sonde en Satan wat reeds waar geword het toe Jesus aan die kruis gesterf en uit die dood opgestaan het. Ek het ook ‘n tweede belofte. Ek is op pad na my ewige bestemming wat my Verlosser besig is om vir my gereed te maak. My ewige bestemming is in die hemel by God my Vader by wie ek genade en liefde elke dag kry en by Jesus Christus wat uit liefde en genade sy lewe vir my gegee het.

Ons is op pad na Kersfees. Met die Heilige Gees in my leef ek hierdie Kerstyd met die sekerheid van ewige lewe. Hierdie sekerheid deur die Gees dat ek deur Jesus ware lewe het, is groter en meer en sterker as alles wat my in hierdie lewe moedeloos en moeg kan maak.

Kersfees is die fees van lewe deur Jesus Christus wat vir my aarde toe gekom het. Daarom is my hart hier aan die einde van die jaar ‘n hart wat warm klop, ‘n hart vol liefde en dank en blydskap, want ek het ware lewe by God gekry!

ANTWOORD

Sang: Skb.1-3:1,2,3

Gebed

Liefdegawe vir barmhartigheid

Sang: Skb.1-2:1,2,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal jullle gebede verhoor en aan julle vrede gee

Amen