ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.84:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.25:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.1-3/61:1,2,3
Lees: Genesis 49:8-12 en 1 Petrus 5:8-11 (83 vertaling)
Kernverse: Gen.49:9
Tema: Die LEEU wat oorwin is ons enigste REDDER van die leeu wat wil verslind.
Sang: Ps.84:1,2; Ps.71:9; Ps.25:3; Skb.1-3/61:1,2,3; Skb.4-6/68; Ps.68:13,15
Inleiding:
Teen die einde van Desember en veral die 25ste Desember vier die grootste deel van die wêreld Kersfees. Kersfees is ook een van die dae dat Christengelowiges ons behoort te onderskei van die sondige wêreld wat Christus nie ken nie en nie in Hom glo nie. Vir hierdie deel van die mensdom is Kersfees bloot ‘n gewone vakansiedag van eet en drink, dikwels te veel daarvan. Christene kan ons onderskei deur Kersfees as ‘n oorwinningsfees en reddingsfees te vier. Kom ons kyk uit Genesis 49 en 1 Petrus 5 daarna.
Tema: Die LEEU wat oorwin is ons enigste REDDER van die leeu wat wil verslind.
In Genesis 49 is ons by Jakob, naby aan die einde van sy lewe op aarde. Met sy dood wat nadergekom het, het Jakob sy seuns geseën. Ons het nie net hier bloot ‘n pa wat sy seuns die beste toewens of toebid vir die toekoms nie. Jakob was daar in werklikheid ‘n profeet. Ons mag ook nie net by die geskiedenis bly dat Jakob sy seuns geseën het voor sy dood nie. Die Bybel is nie die Woord van Jakob wat oor Jakob gaan nie. Die Bybel is God se Woord wat oor die God in die geskiedenis van mense en gebeure gaan. Daarom sal elke gelowige wat die Bybel reg wil lees, dele soos Genesis 49 as openbaringsgeskiedenis moet lees. Dit is, geskiedenis waarin die lewende God Homself bekend maak.
Vir vanoggend kyk ons na die profesie van Jakob oor Juda.
Die eerste wat ons moet raaksien is die volgende: Ruben was die oudste. Die oudste seun het gewoonlik die eersgeboortereg en die seën wat daarmee gepaard gaan van sy pa ontvang. Ruben, die oudste het nie die besondere seën van Jakob gekry nie. Verder, was Josef, Ragel se een seun, Jakob se seun vir wie hy die liefste was. Josef het ook nie die besondere seën vir die toekoms ontvang nie. Dat dit Juda was, beteken dat God in sy genade en almag besluit wie Hy kies om op ‘n besondere manier aan Hom te behoort en wie ‘n besondere plek in die genadeverbond sal inneem.
Juda was die seun wat die besondere seën, ons kan sê die besondere belofte ontvang het.
Ek lig twee woorde vir vanoggend se preek uit. In ‘n profesie is dit nodig om na die dieper betekenis te soek. Vanoggend kyk ons na die dieper betekenis van leeu en Sion.
“Jy is ‘n leeu, my seun Juda…” het Jakob geprofeteer (Gen.49:9). Jakob het van Juda gesê dat hy ‘n sterk leeu, ‘n kragtige leeu is. Ons sien die leeu se krag in die woorde “onderwerp”(vs 8) en “heers” en “regeer” (vs 10). Die diepste betekenis van hierdie profesie is dat Juda met krag sal oorwin.
Wanneer ‘n mens by ‘n vers kom wat vir ons nie so duidelik is nie, mag ons nie eie afleidings maak nie. Ons moet seker maak dat ons reg verstaan, want dit is God wat met ons in die Bybel praat. Ons mag nie raai wat die Here sê nie. Ons kyk daarom na Openbaring 5:5,6 vir die betekenis dat Juda die leeu is. Uit Openbaring 5 weet ons die gekruisigde Jesus Christus is die Leeu uit die stam van Juda. Jakob het in sy profesie nie bedoel Juda in sy persoon is die leeu nie. Hy het geprofeteer oor die Een uit die nageslag van Juda wat sal oorwin.
Die tweede woord is “Silo” (vs 10). Die woord het in Hebreeus die betekenis van rus of vrede. Silo is in hierdie vers ‘n persoon wat heers en aan wie volke sal behoort en hulle onderwerp. Silo wat vrede bring en terselfdertyd heers, bring ons by die Kind wat gebore is wat Vredevors genoem word (Jes.9:5). Die profesie oor Silo is dus ‘n profesie, ‘n belofte oor die een wat vrede sou bring en sou heers en aan wie volke hulle sal onderwerp om aan Hom te behoort.
Ons kan sê Genesis 49:9,10 het ‘n duidelike belofte van een uit die geslag van Juda wat sal oorwin en vrede sal bring.
2. Die belofte vervul in die Christuskind – Sy geboorte, kruisiging en opstanding
Hierdie seën wat Juda van sy pa, Jakob ontvang het, hierdie profesie is vervul. Die nag in die omgewing van Betlehem het die menigte engele uit die hemel God geprys met die woorde: “Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mens in wie Hy ‘n welbehae het” (Luk.2:14). Dit was die nag met Jesus se geboorte, die nag toe die Een uit Juda gebore is om vrede tussen God en mens bring.
Die wyse manne uit die ooste het in Jerusalem aangekom om te soek na die koning wat gebore is. Die priesterhoofde en skrifgeleerdes het vir Herodus die volgende oor die koning gelees: “En jy, Betlehem, gebied van Juda, jy is beslis nie die kleinste onder die leiers van Juda nie. Uit jou sal ‘n leier voortkom wat vir my volk ‘n herder sal wees” (Matt.2:6). Jesus is as koning, as leier wat vir sy volk sal sorg gebore.
Ons weet uit die res van die Nuwe Testament dat Jesus gekom het om die bose te oorwin, dit is die duiwel, die sonde en die dood. Deur die bose te oorwin, sou Hy sondaars red.
Hy het sondaars, Hy het ons gered. Hy het die ergste lyding verduur en die wreedste dood aan die kruis gesterf, vir ons sonde in ons plek. Aan die kruis het Jesus alles volbring. Hy het alles volmaak voltooi wat nodig was om sondaars te red.
Hy het op die derde dag uit die dood opgestaan. Sy opstanding was die duidelike bewys dat Hy die dood oorwin het.
Jesus Christus, God se Seun, die LEEU uit die nageslag van Juda, het deur sy kruisiging en sy opstanding duidelik gewys dat Hy die Oorwinnaar en Redder is.
Elkeen wat die Heilige Gees in hom of haar het, sal geloof in Jesus Christus ons Redder en Oorwinnaar hê, want die Heilige Gees is die Gewer van geloof in Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het.
Dit is wonderlike genade om die Ou Testament so te lees en in die lig van die Nuwe Testament van Jesus Christus ons Oorwinnaar en ons Redder te lees. Dit is baie groot genade om in Hom te kan glo.
3. Die leeu wat wil verslind is ‘n groot gevaar
Teenoor die LEEU van Juda is die leeu van die wêreld. Die LEEU van Juda is Jesus Christus ons Here wat die duiwel, die wêreld en ons sondigheid oorwin en ons red. Die leeu van die sondige wêreld wat wil verslind, is die duiwel.
Van hierdie leeu lees ons in 1 Petrus 5. “Julle vyand, die duiwel, loop rond soos ‘n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind” (vs 8).
Die duiwel is die gelowiges wat aan die Here Jesus behoort, se vyand. In die Kategismus bely ons dat die duiwel een van ons doodsvyande is (Sondag 52).
Die duiwel het teen God in opstand gekom en misluk. Hy het Jesus Christus op soveel verskillende maniere probeer keer om ons te red. Hy het ook daarin klaaglik misluk.
Nou spits hy hom toe op almal wat in Christus glo. Hy is soos ‘n brullende leeu op soek na iemand om te verslind.
Soms bekruip hy ons deur slinkse verleiding van die wêreld en ons eie sondige gedagtes. Ons word deur ons eie begeertes verlei. Sondige gedagtes en begeertes lok ons aan. Ons word meegesleur. Stadig maar seker word die sondige gedagtes en begeertes ryp, tot ons sondig. Kain is so ‘n voorbeeld. Eers die offer sonder ‘n opreg gelowige hart, daarna was hy kwaad vir sy broer Abel en jaloers op hom tot sy woede en jaloesie ryp geword het en hy sy broer dood gemaak het.
Soms val die duiwel ons direk aan wanneer hy ons eensklaps versoek en ons oombliklik en impulsief die verkeerde ding dink of sê of doen. Dawid het Batseba gesien bad en haar dadelik begeer, navraag gedoen en haar laat haal en met haar owerspel pleeg.
Die duiwel werk steeds so met ons vandag ook. Pasop om die Bybel te lees en te wil begin redeneer of iets verkeerd en sondig is. Enigiets wat nie uit geloof in Christus gedink of gesê of gedoen word nie, is sonde. Die Here sê so. Luister na Romeine 14:23 – “En enigiets wat ‘n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.”
Die duiwel bekruip ons met gedagtes van “ag dis nie so erg nie” of “ek is maar net ‘n mens” of “almal doen dit dan”. Op hierdie manier verslind die duiwel ons, indien ons nie in die krag van die Gees waaksaam is en hierdie doodsvyand weerstaan nie.
Hy val ons ander kere skielik aan met veral kwaad word en woede wat sonde teen die sesde gebod is en skinder van ander wat sonde teen die negende gebod is.
Die leeu wat wil verslind is ‘n baie ernstige gevaar. Hy is elke Christen, elkeen van ons se doodsvyand.
4 Deur geloof in Christus deel ons in sy oorwinning
Elke enkele mens word of gered deur die LEEU uit Juda of verslind deur die brullende leeu van die wêreld. Wie deur die brullende leeu verslind, dit is deur die duiwel verlei word en toegee, sondig. Wie aanhou sondig en sonder bekering leef, is reeds veroordeel en sal wanneer Jesus weer kom, saam met die duiwel in die poel van vuur, die hel gegooi word. Hierdie is nie net ‘n storie nie. Die Here Jesus se oordeel en die hel is ‘n werklikheid.
Aan die anderkant is daar dié wat deur die LEEU van Juda, Christus gered is. Hy het die duiwel oorwin en ons van sy mag verlos. Ons kan nou met harte wat glo in die krag van die Heilige Gees nugter en wakker wees (1 Pet.5:8). Die Heilige Gees help ons om standvastig in ons geloof te wees en die duiwel teë te staan.
Wanneer Christengelowiges die duiwel weerstaan, sal hy wegvlug. Dit het Jakobus deur die Heilige Gees geskryf: “Onderwerp julle dan aan God, Staan die duiwel teë en hy sal van julle af wegvlug” (Jak.4:7).
Omdat Jesus Christus die duiwel oorwin het, en ons deur ons geloof een met ons Redder is, deel ons in sy oorwinning oor die duiwel en die wêreld. Wanneer die LEEU van Juda as Hemelregter weer kom, sal elkeen wat in geloof vir Hom geleef het en openlik teen die duiwel weerstand gebied het, ewig in die hemel opgeneem word om as ewige oorwinnaars by die Here Jesus Christus ons Redder te wees.
Kersfees is die komende week, as die Here wil. Herdenk die geboorte van Jesus Christus, maar herdenk sy geboorte met die geloof dat Hy reeds die nag in die krip die LEEU van Juda was, ons OORWINNAAR en ons REDDER! Hy het gekom om die bose te oorwin en ons te red, sodat ons nie deur die brullende leeu van die sondige wêreld verslind sal word nie.
Hierdie waarheid maak van Kersfees ‘n oorwinningsfees en reddingsfees!
ANTWOORD
Sing: Skb.4-6/68
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.68:13,15
Seën: God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen