Home Preke Kerstyd Kersprogram 2024

Kersprogram 2024

Datum: 2024-12-08
|
Reeks: Kerstyd

Die NUWE BOODSKAP in ‘n OU WÊRELD

Sing: Psalm 130:3,4
Soos een wat op die mure
as wagter uitgestel,
gedurigdeur die ure
met sy gedagte tel – 
só wag my siel, en sterker,
gedurig op die HEER,
tot Hy, die Ligbewerker,
die nag in daagraad keer.

Hoop, Israel in jou klagte;
vertrou, o volk, wat treur;
sy guns verduur die nagte,
sy heil breek eind’lik deur.
Dan skyn ‘n soete vrede:
Gans Israel word vry  
van ongeregtighede.
HEER, doen ook so aan my!

In Psalm 130 sing ons van die verlange in ons harte hierdie kerstyd na Jesus Christus, ons Verlosser en Here, want die wêreld waarin ons vandag leef, is oud en afgetakel.

  1. Ja, ons leef in ‘n wêreld…oud en afgetakel.

Die oorsaak dat die wêreld oud en afgetakel is, is die sondeval in die paradys.

(Stander lees) Gen.3:14-1914En die Here God sê vir die slang: ‘Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die diere. Op jou maag sal jy seil en stof sal jy eet, jou lewe lank.15 Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt.’ 16 Vir die vrou het die Here God gesê: ‘Ek sal jou baie swaar laat kry met jou swangerskappe: met pyn sal jy kinders in die wêreld bring. Na jou man sal jy hunker, en hy sal oor jou heers.’ 17 Vir die mens het die Here God gesê: ‘Omdat jy na jou vrou geluister het en geëet het van die boom waarvan Ek jou verbied het om te eet, is die aarde deur jou toedoen vervloek; met swaarkry sal jy daaruit ‘n bestaan maak, jou lewe lank; 18 die aarde sal vir jou dorings en dissels laat uitspruit, en jy sal veldplante eet; 19 net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.’”

Sonde het baie slegte gevolge vir die wêreld gehad – Saam metdorings en distels het soveel ander slegte dinge in die wêreld gekom

Natuurrampe.

In Japan sterf in Januarie vanjaar 462 mense na ‘n aardbewing van 7.5 op die Richterskaal.
Tydens twee tropiese storms September en Oktober hierdie jaar is  263 mense in die VSA dood.
In Spanje het watervloede na stortreën 219 mense in Oktober gedood.

Uitwissing van diere.

Bedreigde spesies wat die gevaar loop om uitgewis te word, is volgens verskeie internasionale en nasionale organisasies (IFAW, SANBI, EWT,) in Afrika die volgende diere: Renoster (swart veral), Olifant, jagluiperd, wildehond, rietbok, rooiduiker, blouduiker, ietermagô, Afrika pikkewyn, bloukraanvoël en nog meer. Indien hierdie tendens voortduur, sal kinders eendag moet vra of daar regtig so ‘n dier soos ‘n olifant of renoster in ons land was. Daar was eens ‘n dier soos die Kaapse leeu, maar die roofdier is ongelukkig reeds uitgewis in ons land.

Besoedeling.

Ons het elke dag te doen met water-, lug-, grond-, geraasbesoedeling en nog meer.
Een voorbeeld: Ons watervoorraad is weens gifstowwe, riool, industriële rommel, nalaat van instandhouding en lekkasies in pype onder ernstige bedreiging.
By al hierdie is groot deel van Suid-Afrika in werklikheid semi-woestyngebied met nie ‘n oorvloed van water nie.

Gesondheidsprobleme

Saam met al die ander slegte gevolge van die sonde in die paradys het ook ‘n groot verskeidenheid van siektes en ernstige gesondheidsomstandighede gekom.

Soveel besoeke aan dokters, soveel medisyne, soveel operasies het hierdie jaar in ons lewe gebeur – demensie, , hartversaking, kanker in verskillende vorms, osteoartritis, outo-imuunsiekte, fibromealgi en soveel ander gesondheidsprobleme en soveel soorte pyn. Dan was daar ook die dood van lede van ‘n gesin, ‘n familie en vriende.

Die aarde, oud en  afgetakel sug oor al hierdie swaar as gevolg van wat in die Tuin van Eden gebeur het.

(Deirdré lees) Rom.8:18-23 – “18 Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. 19 Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. 20 Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: 21 die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid, om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. 22 Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. 23 En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry.”

Sonde het ook gevolge vir die mens self gehad.

(Ruan lees) Rom.3:10-18  – 10 Daar staan immers geskrywe: ‘Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie,11daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie.’ 12’Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.’ 13 ’Hulle keel is ‘n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, 14 hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. 15 Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet.16 Hulle laat ‘n spoor van verwoesting en ellende agter. 17 Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie,18 ontsag vir God het hulle nie ‘”

Die mens se agteruitgang

  • OorloëRusland teen Oekraïene ( die laaste twee jaar is 11 000 mense dood en 23 000 beseer), die aanvalle van Hamas teen Israel en Israel se teenaanvalle (Teen  5 November 2024 is reeds 45 000 mense in daardie oorlog dood).

Daar is nog ander oorloë in Afrika, Suid-Amerika, Midde-ooste, Asië en ook ander dele van die wêreld wat reeds vir jare duur.

  • Moorde  op mense – In Suid-Afrika is in 2023 27 494 mense vermoor. Dit kom neer op die skokkende getal van 73 mense elke dag.
  • Die “woke’- beweging LBGTQ+ het naas manlik en vroulik meer as sewentig ander geslagte uitgedink. Net twee voorbeelde hiervan: “Aerogender” beteken die geslag van hierdie persoon verander na gelang van die omgewing. “Exgender” beteken die persoon behoort nie aan een van die bestaande geslagte nie. Hierdie beweging het ‘n baie groot invloed op die opening van die olimpiese spele in Parys in 2024 gehad en is ook deur die regering in die VSA se wetgewing gedryf, saam met uitgesproke standpunte van internasionale akteurs en sangers wat hulleself as belangrike meningsvormers beskou.
  • Die haat teen en vervolging van Christene het meer geword. Geweld het meer geword. Met woorde en ‘n lewensstyl neem die teenstand en druk teen Christene in Suid-Afrika ook toe. Die tydsgees in ons land is wêrelds losbandig en grootliks sonder waardes. Die media se artikels en programme en die wetgewing deur die regering van  die dag het hierdie losbandige manier van lewe reeds omhels. Die Bybel, God se Woord, en die kerk, Christus se liggaam, is vir die oorgrote meerderheid in ons land nie meer belangrik nie.

Om saam te vat: Die wêreld van 2024 is oud en afgetakel, ouer en meer afgetakel as verlede jaar. Die baie mense wat nie deur God se Woord beperk wil word nie, maar vrydenkend wil wees, wat sogenaamd progressief dink en vooruitgang propageer, is juis die mense waarvan die engel vir Johannes vertel het toe hy die volgende gesê het: “Wie onreg doen, laat hom nog meer onreg doen; en wie vuil is, laat hom nog  vuiler word…” (Openb.22:11).

Sing: Ps.14:1,2,3
1. Vermeetle dwaas wat hoogwys spot,
sê in sy hart: “Daar is geen God.”
Hul dade is afskuw’lik sleg,
geeneen wat goed doen in sy weg.

    2.  God het die mens se werk betrag
    uit hemelhoë-en helder dag,
    of Hy ook by die mensekind
    verstand mét ware Godsvrees vind.

    3.  Maar almal het tot groter kwaad
    in hul ontaarding God verlaat.
    Van almal is hul dade sleg,
    geeneen wat goed doen in sy weg.

    2. Dit is in hierdie wêreld dat DIE BOODSKAP VAN GROOT BLYDSKAP in 2024 na ons toe kom!

    Die EVANGELIE VAN JESUS CHRISTUS wat ons hierdie jaar weer hoor, is en bly ‘n NUWE BOODSKAP in hierdie stukkende, ou en en afgetakelde wêreld.

    Sing LB 348: STILLE NAG, HEILIGE NAG!  Stille nag, heilige nag!
    Jesus-Kind lank verwag;
    Lig uit Lig uit die Vader se ryk
    word uit liefde aan mense gelyk.
    Loof die hemelse Kind!
    Loof die hemelse Kind!

    Stille nag, heilige nag!
    Hemelvors, ons gee ag
    op die lied van die engelekoor.
    Herders het dit die eerste gehoor.
    Juig die Redder is daar!
    Juig die Redder is daar!

    Stille nag, heilige nag!
    Jesus Heer, voor u mag,
    voor u ryk moet die duisternis swig
    Tot in ewigheid bly u die Lig.
    Heer gebore vir ons!
    Heer gebore vir ons!

    (Annesta lees) Luk.2:8-148 Daar was skaapwagters in daardie omgewing wat in die oop veld gebly en in die nag oor hulle skape wag gehou het. 9 Meteens staan daar ‘n engel van die Here by hulle, en die heerlikheid van die Here het rondom hulle geskyn. Hulle het baie groot geskrik. 10 Toe sê die engel vir hulle: ‘Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. 11 Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here! 12 En dit is vir julle die teken: julle sal ‘n kindjie vind wat in doeke toegedraai is en in ‘n krip lê’. 13 Skielik was daar saam met die engel ‘n menigte engele uit die hemel wat God prys en sê: 14 ‘Eer aan God in die hoogste hemel, en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ‘n welbehae het!’”

    Daar is soveel waarvoor ons bang kan wees – Natuurrampe, geweld van aanranders en moordenaars, ernstige gesondheidsomstandighede, die dood. Die eerste deel  van boodskap van ons Verlosser se koms is: “Moenie bang wees nie”.

    Jesus Christus het gekom om die wêreld en sy boosheid, sonde en die dood te oorwin. Wie in Hom glo, deel nou reeds in  hierdie oorwinning. Omstandighede sal ons nie oorweldig en onderkry nie. Die Here Jesus het ons sy Gees gegee. Met die Heilige Gees in ons het ons nie ‘n gees van vreesagtigheid nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing (2 Tim.1:7).

    Sing: Somerkersfees
    Welkom, o stille nag van vrede onder die Suiderkruis,
    wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis.
    Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer.
    Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

    Hoor jy hoe sag die klokke beier in eeue-oue taal.
    Kyk, selfs die nagtelike swye, vertel die ou verhaal.
    Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer.
    Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer

    Voel jy ook nou Sy warm liefde as ons die dag gedenk,
    toe Hy Sy Seun aan ons gegee het, ons grootste kersgeskenk.
    Kersfees kom, Kersfees kom, gee aan God die eer.
    Skenk ‘n helder somerkersfees aan hierdie land, o Heer.

    Die tweede deel van die boodskap van  ons Verlosser wat vir ons gebore is: “Vrede op aarde”. Onvrede en vyandskap met God bring net ellende. Die wêreld in 2024 is ‘n baie duidelike bewys van wat vyandskap met God aan die aarde en sy mense doen.

    Ons wat aan die Here Jesus behoort, het die genade dat ons vrede met God het, deur Hom, die Vredevors.

    Sing LB 345: Kom alle getroues
    Kom alle getroues,
    vrolik en vol vreugde.
    O kom in die gees
    nou na Bethlehem!
    Loof daardie Kindjie
    tot ons heil gebore.
    Kom buig daar in aanbidding.
    Kom buig daar in aanbidding.
    Kom buig daar in aanbidding.
    Voor Jesus die Heer!

    ‘n Kind is gebore!
    Loof die God van liefde.
    Hy kom ons verlos.
    Hy is wonderbaar
    Raadsman en sterke
    God en vors van vrede.
    Ons buig in blye aanbidding.
    Ons buig in blye aanbidding.
    Ons buig in blye aanbidding.
    Voor Jesus die Heer!

    Kom, lofsing die Here.
    Loof Hom al wat lewe.
    Wees vrolik,
    besing nou sy majesteit.
    In U, Getroue,
    bly ons ook behoue.
    Ons prys U in aanbidding.
    Ons prys U in  aanbidding.
    Ons prys U in aanbidding.
    Gesalfde en Heer!

    Jesus is vir ons gebore, sodat ons vrede met God kan hê. Wanneer ons vrede met God het, weet ons die swaarkry op aarde leer ons aanhou glo in God, ten spyte van omstandighede. Aanhou glo maak ons geloof nog meer eg en suiwer (Rom.5:1-4). Ons weet ook dat ons swaarkry in hierdie lewe eintlik gering is en verby sal gaan. Wat nie gering is nie, maar onbeskryflik groot en nie verby sal gaan nie, maar ewig sal bly, is die heerlikheid wat op ons wag, ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref (2 Kor.4:17).

    (Johan lees) 1 Pet.1:3-5 3 Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood. Nou het ons ‘n lewende hoop 4 op die onverganklike, onbesmette en onverwelklike erfenis wat in die hemel ook vir julle in bewaring gehou word. 5 En omdat julle glo, word ook julle deur die krag van God veilig bewaar vir die saligheid wat reeds gereed is om aan die einde van die tyd geopenbaar te word.”

    Jesus Christus, ons Verlosser wat vir ons gebore is, het vir ons gesterf en vir ons opgestaan. Hy het deur sy opstanding die dood oorwin en aan ons die nuwe lewe gegee.

    Elkeen wat deur Jesus Christus ‘n nuwe mens is, het ‘n lewende hoop,  dit is ‘n sekerheid wat op ons in die toekoms wag. Ons toekoms is deur Jesus Christus so heeltemal anders as die wêreld, wat al ouer en al stukkender word en al meer agteruitgaan.

    (Wietske lees) 1 Tes.4:13-18 – “13 Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. 14 Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.15 Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. 16 Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; 17 daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. 18 Troos mekaar dan met hierdie woorde.”

    Die Blye Boodskap van ons Verlosser se geboorte en dat Hy weer sal kom om ons te kom haal om by Hom te wees, is die boodskap wat nuut bly. Hierdie boodskap gee ons tydens hierdie kerstyd weer nuwe moed!

    Sing: Skb.18-7/45:1,3,10,12
    1.  Hy het my die stad getoon,
    groot en van die hemel dalend,
    en, deur God se ligglans skoon,
    soos ‘n kleurgesteente stralend,
    helder soos ‘n kristallyn
    wat in al sy klaarheid skyn.

    3.  Lokkend staan die poorte oop,
    oop na al die wêreldoorde,
    dat die nasies toe kan loop:
    van die suide en van die noorde
    en vandaar waar son en maan
    nie meer op- en ondergaan.

    10.  Nasies, vry van die gerig,
    kom uit nuwe wêreldlande
    om te wandel in die lig.
    Konings bring hul offerande
    uit ‘n volle wêreldskat:
    eer en glorie, in die stad.

    12.  Daar sal in die heiligdom
    niemand wat die kwaad bedrywe,
    ooit of immer binnekom.
    Hul van wie die naam geskrywe
    in die Lewensboek sal staan, hulle sal daar binnegaan.