ONTMOETING
Votum: Ps.84:1(sing)
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die Sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.145:1,4,12
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34/Liefde
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Skr.1-3/61:1,2,3
Lees: Genesis 49
Kernvers: Gen.49:8-10
Tema: Ons Verlosser is onoorwinlik, almagtig en ewig!
Sang: Ps.145:1,4,12; Ps.71:9; Ps.86:6; Skb.1-3/61:1,2,3; Skb.18-7/45:1,3,12
Inleiding:
Die Evangelie van verlossing is die goeie boodskap wat van die heel eerste boek van die Bybel tot die heel laaste boek gedurig weerklink. In sowel die Nuwe as die Ou Testament maak God sy verlossingsplan bekend. Ons luister vanoggend na die Evangelie van verlossing in die Ou Testament. Die bedoeling is dat die Evangelie ons sal troos en versterk en opbou! In werklikheid kan ons ons verlustig in hierdie goeie boodskap wat reeds vir eeue in die kerk van Christus se besit is!
Tema: Ons Verlosser is die Leeu van Juda, onoorwinlik, almagtig en ewig!
Ons Verlosser wat gebore is, is die Seun van die lewende God
Jakob, reeds oud en naby aan sy dood, het sy seuns op ‘n dag na hom toe geroep en elke seun geseën. Die Heilige Gees het vir Jakob hierdie woorde gegee om te sê. So, dit is in werklikheid God se Woord. Vir vanoggend se preek, kyk ons hoofsaaklik na die seën wat Juda ontvang het.
Die eerste wat ons lees is: Juda, dit is jy vir wie jou broers sal eer: “Jy sal jou vyande onderwerp en jou broers sal voor jou buig” (Gen.49:8.)
Juda was nie die oudste seun, sodat die ander besondere respek vir hom sou hê nie. Jakob het dus nie bloot net sy seun Juda bedoel nie. Nee, hy het in werklikheid na iemand besonders uit Juda se nageslag verwys. Die broers is die twaalf stamme van die verbondsvolk. Jakob het eintlik dus gesê dat daar iemand uit Juda sou kom wat deur die verbondsvolk geëer sal word.
Juda sou verder sy vyande ondewerp. Op hierdie stadium het Juda saam met sy pa Jakob en sy ander broers rustig in Egipte gebly, sonder enige vyande. Met hierdie woorde het Jakob dus besondere vyande bedoel. Gaan ons terug in die openbaringsgeskiedenis, kom ons by die Here se woorde in die tuin van Eden uit, waar Hy die oordeel oor die duiwel uitgespreek het: “Ek stel vyandskap tussen jou en die vrou, tussen jou nageslag en haar nageslag. Haar nageslag sal jou kop vermorsel en jy sal hom in die hakskeen byt” (Gen.3:15.)
Lees ons hierdie woorde van Jakob saam met die Nuwe Testament, weet ons dat hierdie besondere persoon wat uit die geslag van Juda gebore is, ons Verlosser is.
Ons Verlosser wat gebore is, is Jesus Christus, die Seun van die lewende God. Hy het gekom om alles en almal te oorwin en aan Hom te onderwerp.
Hy het en sal alles oorwin
Ons weet ook dat Jesus van voor sy geboorte die Oorwinnaar was. Hy, ons Verlosser is onoorwinlik. Kyk net wat het Hy alles oorwin:
Dikwels voel en lyk dit vir ons asof ons omstandighede in die wêreld so swak is dat daar geen uitkoms is nie – geen uitkoms in jou persoonlike lewe nie, nie by jou werk nie, nie in die land of in die wêreld nie!
Hoor die boodskap van die Kind wat vir ons gebore is! Glo in Hom! Hy is ons Verlosser wat alles oorwin!
Ons Verlosser is soos ‘n leeu
“Jy is ‘n leeu, my seun Juda wat van sy prooi wegstap, jy rek jou uit, jy gaan lê rustig soos ‘n leeu, soos ‘n leeumannetjie wat deur niemand opgejaag word nie” (Gen.49:9), het Jakob verder gegaan.
Ons Verlosser is soos ‘n leeu, kragtig sterk, almagtig in alles. Selfs daar in die krip in doeke toegedraai, was Jesus reeds die Leeu van Juda wat na die aarde toe gekom het.
Josef en Maria se seun, God se seun het grootgeword en uiteindelik ons sonde op Hom geneem. Hy het met ons sonde op Hom in ons plek aan die kruis gesterf.
Hy het alle mag in die hemel en op aarde ontvang
Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus gewys hoeveel mag hy het. Deur sy kruisiging het Hy die mag van die sonde en die duiwel gebreek. Met sy opstanding het Hy die mag van die dood gebreek. Hy het na sy kruisiging en opstanding ook alle mag in die hemel en op aarde ontvang.
Dit kan ons weet: Niemand en niks het ‘n hoër posisie en meer mag as ons Verlosser aan die regterhand van sy Vader nie.
Aan die regterhand van sy Vader regeer Hy die heelal
Wanneer mens die nuusberigte van elke dag hoor en lees, wonder gelowiges dikwels waarheen ons land en die wêreld oppad is. Soms wanneer ons baie moeilike omstandighede het, wonder mens selfs waarheen jou lewe oppad is.
In die brief aan die gelowiges in Kolosse leer die Here ons dat Jesus Christus aangestel is as die Hoof van die heelal. Die wêreldlande en al die nasies en volke is dus nie bloot in die hande van mense nie. Ons, Christengelowiges is nie bloot aan moeilike omstandighede oorgelaat nie.
Aan die regterhand van sy Vader regeer ons Verlosser, die heelal, dit is alles en almal.
Ons lewe onder alle omstandighede, hierdie land waarin ons woon en werk, die aarde, ja die ganse heelal is onder ons Verlosser se beheer, want Ons Verlosser wat gebore is, is die Leeu uit die nageslag van Juda!
Die Kind wat vir ons gebore is, het gekom om ewig te regeer
Jakob het sy seën aan Juda met hierdie woorde afgesluit: “Jy sal altyd heers, jy sal aanhou regeer totdat Silo kom, die heerser aan wie die volke hulle sal onderwerp” (Gen.49:10.) Die Kind wat vir ons gebore is, is ons Verlosser wat gekom het om ewig te regeer.
Hy regeer sy kerk, elke gelowige se lewe
Hy regeer sy kerk, elke gelowige se lewe. Daar gaan deesdae baie stemme op wat bekommerd oor die kerk is. Wel, die Hoof van die kerk, is Jesus Christus, self God en Hy regeer sy kerk. Laat die bekommernis oor die kerk in ons Verlosser se hande. Bid eerder vir die kerk as om te kwel en te bekommer.
Moeilike omstandighede is verder besig om gelowiges moedeloos en heeltemal neerslagtig te maak. Jy is nie een oomblik aan jouself of aan een of ander noodlot oorgelaat nie. Jou Verlosser wat sy lewe vir jou gegee het, regeer steeds jou lewe elke oomblik van elke dag van jou lewe hier op aarde én ook hierna.
Hy regeer die heelal
Soos reeds gesê: Hy regeer die heelal. Die wêreld is nie maar net aan’t voort stoom buite beheer oppad na ‘n vernietigende einde nie. Nee, alles wat op aarde en in die heelal gebeur, gebeur onder die regering van ons Verlosser, Jesus Christus. En Hy is die Kind wat vir ons gebore is en die grootste liefde vir ons gehad het, liefde wat Hy bewys het deur sy lewe vir ons te gee (Joh.15:13.)
Sy heerskappy is ewig
Die heel sterkste regerings het nog altyd gekom en gegaan. Koning Nebukadnesar van Babel het al daarvan gedroom. Eintlik moet mens sê dat die Here die kom en gaan van wêreldregerings aan hom in ‘n droom bekend gemaak het (Dan.2.)
Ons Verlosser se regering is nie van hierdie wêreld nie en is ook nie soos hierdie wêreld nie. Nee, sy regering is vir ewig. Hy kom weer om ons by Hom te neem om saam met Hom in ewigheid te regeer.
Daarom hoef ons nie moedeloos te word in hierdie stukkende wêreld waarin ons leef nie. Nee, glo deur die Heilige Gees in ons Verlsoser wat ewig regeer! Skep weer nuwe moed! Die Heilige Gees help ons hiermee! Sien uit na die dag van ons Verlosser se wederkoms! Maak jou nou reeds elke dag gereed om in ewigheid saam met Hom te regeer!
Ons herdenk in hierdie tyd die geboorte van ‘n Kind in ‘n stal in Betlehem. Herdenk dan die geboorte van Christus deur die Heilige Gees.
Glo, onthou en vertel self dat die Kind wat gebore is, ons Verlosser is – onoorwinlik, almagtig en ewig!
Skep hierdie kerstyd nuwe moed!
ANTWOORD
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skr.18-7:1,3,12
Seën: Die genade van Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees
Amen