ONTMOETING
Votum: Ps.124:8
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Skb.1-2/60:1,2,3
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.19:1,7
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.119:10,14
Lees: Johannes 15:1-17 en Sondag 12.
Kernvers: Joh.15:5.
Tema: Christenwees beteken eenheid met Christus en ‘n lewe soos Hy wil.
Sang: Skb.1-2/60:1,2,3; Skb.12-3/72:1,2; Ps.19:1,7; Ps.119:10,14; Ps.119:35,38; Ps.145:10,11,12
Inleiding:
“Waarom word jy ‘n Christen genoem?” is die vraag in die Heidelbergse Katgismus waarmee ons vanoggend besig is. Die vraag kan ook so klink: Wanneer is ek ‘n Christen?
Hierdie is ‘n lewensbelangrike vraag vir elkeen in ‘n gemeente van Jesus Christus. Lewensbelangrik, want Christen beteken ‘n verhouding met Christus en daarom verlos en lewe, terwyl nie-Christen veroordeel en dood beteken.
Daar is nie neutrale grond dat ek nog kan probeer om ‘n Christen te wees nie. Elke enkele mens op die aarde is ‘n Christen of nie ‘n Christen nie.
Hierdie is ‘n vraag vir elkeen van ons. Elkeen moet ook by die regte antwoord uitkom.
Tema: Christenwees beteken eenheid met Christus en ‘n lewe soos Hy wil
1. Christenwees begin by geestelike eenheid met Christus.
Christus, net Hy, maak van my ‘n Christen. Kom ons kyk na hierdie baie belangrike waarheid, eers in die Kategismus, daarna in die Heilige Skrif, die Bybel.
Die antwoord op die vraag waarom ek ‘n Christen genoem word, begin so: “Omdat ek deur die geloof ‘n lid van Christus is..”
Hierdie baie belangrike waarheid in die Kategismus en in die Bybel moet ons regtig baie goed verstaan en ken en besef en glo. Ek stel dit so sterk, want ek is seker daar is by baie lidmate ‘n groot misverstand hieroor. Die misverstand is dat lidmate hoofsaaklik die Tien Gebooie gebruik om te bepaal of iemand ‘n Christen is. As iemand nie ander gode dien nie, nie beelde aanbid nie, nie die Here se Naam ydellik gebruik nie, die rusdag onderhou en al die ander gebooie hou, aanvaar baie dat so iemand ‘n Christen is.
Om ‘n Christen te wees hang dan af van iemand se manier van lewe. Dit is so verkeerd om so te dink.
Die Fariseërs en skrifgeleerdes het die Tien Gebooie en nog baie meer, onberispelik nagekom en hulle het Christus gehaat en uiteindelik doodgemaak!
Dit kan nie wees, dat wat ‘n mens doen, sê of jy ‘n Christen is of nie. Christenwees is baie meer en baie dieper as dit.
Christenwees begin op ‘n ander plek. Ek is ‘n Christen wanneer ek deur my geloof in Christus, een met Hom is. Die woorde van die Kategismus is wanneer ek deur my geloof ‘n lid van Christus is.
My VERHOUDING MET CHRISTUS maak van my ‘n CHRISTEN!
Nou kyk ons na die Bybel en wat Jesus self hieroor sê: “Ek is die wingerdstok, julle die lote. Wie in my bly en ek in hom, dra baie vrugte, want sonder my kan julle niks doen nie” (Joh.15:5). Sonder Christus kan mens niks doen nie, ook nie ’n Christen wees nie.
Ek is ‘n Christen wanneer ek geloof in Christus by die Heilige Gees gekry het. Hierdie geloof maak my een met Christus. Jesus het dit self gesê toe Hy oor die wingerdstok en die lote gepraat het. Hy is die wingerdstok wat lewe het. Christene is die lote wat aan die wingerdstok vas is en ook lewe. Die beeld beteken dat ek ‘n Christen is wanneer ek aan Christus vas is, dit is met Hom een is.
2. Elke Christen het geestelike werk om vir Christus te doen.
‘n Tweede belangrike waarheid oor Christenwees is, dat ek wat een met Christus is, deur my geloof deel aan sy salwing het.
Salwing kom uit die Ou Testament soos ons in die vorige preek gelees en gehoor het. Dat Jesus gesalf is, beteken die Vader sy Seun bestem en aangestel en gestuur het om ons Verlosser te wees. Sy verlossingswerk was om ons hoogste Profeet, enigste Hoëpriester en ewige Koning te wees. Sy Vader het Hom daarvoor nie met olie soos in die Ou Testament nie, maar deur die Heilige Gees gesalf.
Omdat ek in Christus glo, het ek deel aan sy salwing. Dit beteken: As verloste gelowige het ek geestelike werk om vir Christus te doen.
Kyk na die beeld wat Jesus gebruik het. Hy is die wingerdstok. Gelowiges is die lote. Wanneer die lote aan die wingerdstok vas is, dra die lote vrugte, druiwe, dit is vrugte wat by ‘n wingerdstok pas.
Elke Christen wat aan Christus vas is, deur geloof wat die Heilige Gees gee, dra vrugte wat by ‘n Christen pas. Elke Christen moet vrugte dra. Christus wil dit hê. Ons kan sê elke Christen het geestelike werk om vir Christus te doen. Hy, ons Verlosser wat vir ons gesterf en opgestaan het, wil hê dat ons geestelike werk vir Hom sal doen.
3. Ek bely Christus soos Hy wil hê.
Die eerste geestelike werk: Christus wil dat ek sy Naam sal bely. My Verlosser wil dat ek sy Naam noem, oor Hom praat.
In ‘n land waar Christus se heilige Naam ydellik gebruik word deur te laster, is elke Christen se werk om Christus se Naam oral en altyd met liefde en die hoogste eerbied te gebruik.
Ons leef in ‘n tyd waar Christus vir baie nie meer die enigste Verlosser is nie. Elkeen kan glo soos elkeen wil. Alles sal uiteindelik vir almal goed eindig. In hierdie tyd is my werk as Christen om te sê: Dit is nie waar nie! Christus is regtig die enigste Verlosser!
Met ‘n land wat nie meer van sonde wil weet nie, waar baie dink dat Christus nie meer so nodig en so belangrik is nie, is my werk as Christen om self met my hele hart te glo, dat ek nie sonder Christus kan leef nie. Ek het ook nodig om in my gesin, familie, gemeente en gemeenskap te praat oor hoe nodig ons Christus het.
Praat ons net soveel oor Christus as wat ons oor baie aardse dinge praat? Indien ons te min oor Christus praat, moet ons tot bekering kom. Om nie die geestelike werk vir Christus te doen wat Hy vra nie, is sonde waarvan elkeen van ons ons in die krag van die Heilige Gees moet bekeer!
4. My offer aan Christus is my hele lewe.
Die tweede geestelike werk vir Christus is in die woorde van die Katgismus: Ek is ‘n Christen sodat ek myself as ‘n lewende dankoffer aan Hom kan toewy.
Waarvoor leef mense?
Daar is in ons land mense wat vir geld leef. Die korrupsie en diefstal die laaste jare van miljarde is ‘n baie duidelike bewys hiervan.
Mense leef vir hulle werk en saam daarmee ook maar vir geld vir die toekoms.
Ek het al gehoor ouers sê hulle leef net vir hulle kinders.
Iemand leef vir die dag dat hy op pensioen kan gaan.
Ek as Christen sal regtig anders moet praat en leef as wat baie mense in ons land sê en doen. Christus het vir my werk gegee om te doen. Hierdie werk gaan oor my lewe vir Hom. Christus wil dat ek my lewe as dankoffer aan Hom sal gee.
‘n Dankoffer kom uit die Ou Testament. Offer is om af te staan, om prys te gee. Christus wil dat ek my lewe vir Hom sal gee. Om my lewe te gee, is nie net om iets te gee wanneer dit vir my moontlik is nie. Christus het sy lewe vir my geoffer, gegee. Hy vra nou van my om my lewe vir Hom te gee.
Wanneer ek oor my dag of week dink en beplan, is my werk om Christus in my gedagte en my hart te hê wanneer ek dink en beplan.
Wanneer ek keuses moet maak, is my werk as Christen om te besef en te onthou dat ek Christus in my lewe het en ‘n keuse te maak wat vir Hom goed en reg is.
Of ek werk en of ek tuis ontspan of met vakansie is of eet of drink of enigiets mee besig is, is my werk om alles vir Christus te doen soos Hy van my wil hê.
Offer is om Christus altyd eerste te stel.
5. As Christen veg ek teen sonde en die duiwel.
Die derde en laaste geestelike werk wat ons in die Kategismus bely is: As Christen is my werk om in hierdie lewe met ‘n vrye gewete teen die sonde en die duiwel te stry om na hierdie lewe ewig met Christus te kan leef en regeer.
My lewe as Christen is ‘n lewe van veg en stry teen die sonde en die duiwel. Die sonde wag my oral in. Ek het nog sondigheid in myself. In elke gesin en familie is daar sonde. In elke gemeente is daar sonde. In elke gemeenskap en in elke land is daar sonde.
My geestelike werk is om nie vir sonde blind te wees nie, om ook nie met sonde saam te gaan nie, maar om met alles wat ek het en in die krag van die Heilige Gees te veg en weerstand te bied. Hierdie veg en weerstand bied is harde geestelike werk my hele lewe deur. Ek veg deur te waak en te bid dat ek nie in die versoeking kom nie (Mt.26). Ek bied ten bloede toe teen sonde weerstand (Hebr.12). Ek is wagter en nugter vir die duiwel wat soos ‘n brullende rondloop en my wil verskeur (1 Pet.5). Ek veg met die wapenrusting wat God vir my gee (Ef.6).
Ek veg teen my eie sondigheid wat my onwillig maak om vrugte te dra wat Christus van my wil hê. Ek veg teen die duiwel wat my wil verlei om te dink sonde is nie so erg nie en om nie teen sonde te veg nie.
Christus het my ‘n Christen gemaak. Ek veg teen sonde en die duiwel deur bekering. Ek veg elke dag. Ek leef elke dag ‘n lewe van bekering. Ek bekeer my deur te breek met sonde in wat ek dink en sê en doen. Ek bekeer my en leef ‘n nuwe lewe, waar ek al meer en meer vir Christus leef.
In hierdie onseker land en wêreld weet ek met die geloofsekerheid wat die Heilige Gees vir elke Christen gee, dat ek in die lewe hierna in ewige oorwinning by Christus en by ons Vader sal wees.
Dit is wonderlike genade om ‘n Christen te kan wees.
Hierdie wonderlike genade hou ‘n baie groot verantwoordelikheid, ‘n baie sterk en ernstige roeping in.
Daarom behoort elkeen van ons Johannes 15:1-17 en Sondag 12 goed te ken en daarmee in ons gedagtes en harte te leef, elke dag.
ANTWOORD
Sing: Ps.119:35,38
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.145:10,11,12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen