ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Grote God(L190):1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.12-2/27:1,2
Lees: Johannes 19:1-16 en Sondag 15 (V&A 38)
Kernverse: Joh.19:1,4,6,16
Tema: Christus is veroordeel dat ek vrygespreek kan word.
Sang: Grote God(L190):1,2,3; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Skb.12-2/27:1,2; Ps.31:15,16,17; Skb.2-2/34:1,2
Inleiding:
Die hooftema van hierdie hele reeks preke is: Die geloof waardeur ons gered word. Dat Jesus Christus deur Pontius Pilatus ter dood veroordeel is, is ‘n baie belangrike deel van die enigste ware geloof, die geloof waardeur ons gered word.
Vanoggend kyk ons in Johannes 19 en Sondag 15 na wat dit vir ons beteken dat God se Seun deur die Pontius Pilatus, heidense Romeinse regter veroordeel is om gekruisig te word.
Tema: Christus is veroordeel dat ek vrygespreek kan word
1. Die onskuldige Christus is veroordeel.
Pontius Pilatus, die Romeinse goewerneur.
Pontius Pilatus was die Romeinse goewerneur van Judea en Samaria van 26 – 36 n.C. Keiser Tiberius van Rome het van Pontius Pilatus verwag om vrede tussen die Jode en Samaritane te bewaar.
Geskiedeniskrywers van destyds het van Pontius Pilatus geskryf as ‘n goewerneur wat die Romeinse wet goed geken het en goed toegepas het. Twee vereistes van die reg destyds was:
Pontius Pilatus word ook beskryf as ‘n streng goewerneur wat wreed kon wees. Hy het die Jode met hulle ingewikkelde godsdiens eintlik geminag. Hy was wel die heeltyd daarvan bewus dat hy die Jode, in opdrag van die Romeinse keiser, onder bedwang moes hou
Die regsproses wat Pontius Pilatus gevolg het
Daardie Paasfees is ‘n regsaak voor Pontius Pilatus gebring. Ons kry die regsaak en die regsproses veral in Johannes 18,19.
Die Joodse Raad het die klag teen Jesus gemaak dat Hy God gelaster het. Volgens die raad het Jesus gelaster deur te sê dat die Seun van God is. Wanneer iemand teen God gelaster het, was die straf volgens die Joodse wette, die doodstraf. Die Joodse Raad is na Pilatus toe met die klag dat Jesus die doodstraf moes kry. Volgens die Romeinse wet mag die Jode nie die doostraf voltrek het nie. Daarom moes hulle Jesus na die goewerneur toe neem.
Pilatus se eerste vraag aan die Jode was: “Watter aanklag bring julle teen hierdie man?” (Joh.18:29). Die Jode het Pilatus se vraag geantwoord, maar nie reguit en eerlik geantwoord nie (Joh.18:30).
Daarna het Pilatus met Jesus gepraat en Hom uitgevra. Na hy Jesus ondervra het, het Pontius Pilatus buitentoe gekom en Jesus onskuldig bevind. Dit was die eerste keer dat Pilatus Jesus onskuldig bevind het.
Om die Jode se guns te wen, het Pilatus op paasfees iemand uit die gevangenis vrygelaat. Hy het die Jode ‘n keuse gegee tussen Jesus en Barabbas, ‘n rower. Die Jode het Barabbas gekies.
Ons lees in Joh.19:1 dat Pontius Pilatus sy wreedheid gewys het. Hy het Jesus sonder rede laat gésel. Nadat hy Jesus onskuldig bevind het, het hy Hom as skuldige behandel en laat gésel.
Gésel was ‘n wrede straf. Die gésel was ‘n soort sweep met punte en aan ‘n handvatsel vas. Aan die punte van die sweep was lood met skerp stukkies been. Die houe het die persoon se liggaam oopgekloof. Dikwels het die persoon wat gegésel is, gesterf. Pilatus het dit aan Jesus laat doen om die Jode se guns te wen. Hy wou getrou bly aan die Romeinse regstelsel en ‘n onskuldige nie veroordeel nie, maar hy wou ook nie die Joodse Raad kwaad maak nie.
Na Jesus die wrede géseling ondergaan het, het die soldate Hom na Pilatus toe gebring. Die goewerneur het weer buitentoe gekom en Jesus die tweede keer onskuldig bevind (Joh.19:4). Daarna het Pilatus Jesus buitentoe gebring. Die Jode het al harder begin skree: “Kruisig Hom! Kruisig Hom!” (Joh.19:6).
Vir die derde keer het Pilatus, die Romeinse goewerneur Jesus onskuldig bevind. Die Jode het by Pilatus aangedring om Jesus ter dood te veroordeel. Hy het weer met Jesus gepraat oor sy koningskap. Daarna het hy nog ‘n keer met die Jode gepraat. Die Jode het Pilatus toe gedreig dat indien hy Jesus wat sê dat Hy ‘n koning is, sou loslaat, hy teen die Romeinse keiser sou optree.
Pontius Pilatus het toe op die regbank gaan sit. Die plek se naam was in Hebreeus Gabbata en in Afrikaans, Klipterras. Daar, op die Klipterras, omtrent sesuur daardie môre het Pontius Pilatus op versoek van die Jode, Jesus oorgelewer om gekruisig te word.
Die onskuldige Christus, is deur die Romeinse goewerneur ter dood veroordeel. Die dood was die wreedste dood, die kruisdood.
Die heidense Pontius Pilatus het gesondig toe hy Christus wederregtelik ter dood veroordeel het. Terwille van die Jode se guns, het hy van die Romeinse regsproses afgewyk en Jesus wat hy drie keer onskuldig bevind het, tog veroordeel om aan die kruis te sterf.
God het in sy heiligheid en sy geregtheid wat die dood eis van elkeen wat gesondig het, sy Seun laat veroordeel. Hy het sy oordeel op hierdie manier op sy Seun laat kom. Jesus Christus, God se Seun was in hierdie hele regsproses en veroordeling die Verlosser wat God gestuur het. Hy was die Verlosser wat die sonde van baie op Hom geneem het. Hy, die onskuldige Christus, is met ons sonde op Hom ter dood veroordeel.
2. Die skuldige ek is volmaak vrygespreek.
Die openbaringsgeskiedenis in Johannes 18 en 19 oor Jesus Christus se veroordeling, is in werklikheid aangrypende geskiedenis. Dit is openbaringsgeskiedenis wat elkeen van ons se lewe baie diep raak.
Christus wat onskuldig ter dood veroordeel is, is nie net ‘n verskriklike onreg wat 2000 jaar gelde daar ver in Jerusalem daardie paasfees gebeur het nie. Wat daardie nag en sesuur daardie Vrydagmôre gebeur het, raak elkeen van ons se lewe in ons diepste wese.
Hoe Jesus se veroordeling deur Pilatus ons raak, kry ons in ons belydenisskrif, die Heidelbergse Kategismus Sondag 15, antwoord 38: “Sodat Hy onskuldig deur die wêreldlike regter veroordeel sou word en ons daardeur sou bevry van die streng oordeel van God, wat oor ons sou kom”.
Die Joodse Raad het gedink hulle vals aanklag en hulle geskeeu dat Jesus gekruisig moes word, het die deurslag gegee dat die Man wat hulle so gehaat het uiteindelik gekruisig kon word, sodat hulle van Hom ontslae sou wees.
Pontius Pilatus, goewerneur uit Rome, het gedink hy is die een met die mag om Christus los te laat of te laat kruisig (Joh.19:10).
En die Jode én Pontius Pilatus was net nietige sondige mense. Hoog bo hulle, in die hemel, het die heilige God getroon. God het met daardie regsproses die regter van die wêreld gebruik om sy Seun, met ons sonde op Hom, in ons plek ter dood te veroordeel.
Elke enkele mens was die dood skuldig voor God, want elkeen het gesondig. Elkeen van ons vanoggend hier was ook die dood skuldig. Elkeen van ons moes deur die heilige God ter dood veroordeel word.
Uit liefde het God sy Seun gestuur. Uit liefde het Jesus Christus ons sonde op Hom geneem. Uit liefde het Hy die onreg van Pontius Pilatus, die regter van hierdie sondige wêreld in ons plek verduur. Hy het voor Pilatus en voor die Joodse Raad gestaan en die veroordeling in ons plek verduur. Christus het die doodsvonnis wat oor elkeen van ons voltrek moes word, in ons plek aangehoor. Hy het die vonnis om die wrede dood aan die kruis te sterf, in ons plek aanvaar.
Deur hierdie veroordeling in ons plek het die volgende wonder gebeur: Die onskuldig Christus is veroordeel, sodat die skuldige ek vrygespreek kan word.
Omdat Christus in my plek veroordeel is, wag daar nou geen oordeel meer op my nie. Ja, Jesus Christus gaan weer kom om die lewendes en die dooies te oordeel. Maar…daardie dag sal ek wat deur die Heilige Gees met my hele hart in Jesus Christus, my Verlosser glo, finale en volmaakte vryspraak ontvang.
Die mens, elke enkele een van die miljarde wat tans op die aarde is en wat reeds geleef het en nog sal leef, en nie in Jesus Christus wat in ons plek veroordeel is, gesterf het en opgestaan het, glo nie, sal op die laaste dag onder God se verskriklike oordeel hel toe moet gaan. Christus, die Hemelregter sal self daardie bevel gee.
Ek, wat die wondergenade van geloof in Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser, by die Heilige Gees gekry het, ek is reeds vrygespreek van alle oordeel. Daarom hoef ek nie bang te wees vir die dag dat die Here Jesus weer kom nie. Trouens, ek kan met my hele hart na daardie dag uitsien, want dit is die dag dat ek Christus sal sien soos Hy werklik is en saam met al die gelowiges ewig by Hom en by ons Vader sal wees.
ANTWOORD
Sing: Ps.31:15,16,17
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-2/34:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen