ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2 – Dié wat op die Here vertrou, is soos Sionsberg wat nie wankel nie en altyd vas bly staan. Soos die berge Jerusalem aan alle kante beskerm, so beskerm die Here sy volk, nou en vir altyd.
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde
Lof aan God: Ps.8:1,3,4
Geloofsbelydenis: Nicea
Sang: Ps.97:7
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20
Antwoord op die Wet: Ps.79:5,6
Gebed
VERKONDIGING
Sang: Ps.40:3,4
Lees: Markus 1:1-20
Kernvers: Mk.1:15
Tema: Die mens met ware geloof glo die evangelie en ons geloofsbelydenis
Sang: Ps.8:1,3,4; Ps.97:7; Ps.79:5,6; Ps.40:3,4; Ps.107:1,10; Ps.103:1,2
Inleiding:
Wat moet ‘n Christen glo om salig te word? Hierdie derde vraag in die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7 is ‘n lewensbelangrike vraag vir elkeen van ons. Ons gaan vanoggend uit Markus 1 en Sondag 7 dieper in op hierdie belangrike vraag se belangrike antwoord.
Tema: Die mens met ware geloof glo die evangelie en ons geloofsbelydenis
1. Net ware geloof maak my salig
Dit word in Suid-Afrika in hierdie dae deur die oorgrote meerderheid mense aanvaar dat alle mense se lewe aan die einde goed sal eindig. Enige mens kan glo soos enige mens wil. Dit is elke mens se reg.
Teen hierdie agtergrond is die eerste vraag van die Heidelbergse Kategismus, Sondag 7 vandag ‘n lastige vraag. Die antwoord dat nie alle mense deur Christus salig word nie, is ‘n antwoord wat vandag in Suid-Afrika aanstoot gee.
Wanneer ons met hierdie vraag en antwoord of alle mense salig word, besig is, is dit nodig om die Bybel in jou hand en jou hart te hê, die Bybel oop te maak en wat God in sy Woord, die Bybel sê, sonder enige huiwering te glo en te aanvaar.
Vir die baie belangrike vraag of alle mense salig word, se baie belangrike antwoord, haal ek vanoggend net een vers aan, Rom.1:17 – “In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan:’Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe’”.
Daar is baie verse in die Bybel. Elke vers, elke woord kom van God af:
Net die mens met ‘n WARE GELOOF IN CHRISTUS word weer salig!
Teen die meeste mense in ons land, teen die meeste mense in die wêreld, is dit wat ek moet glo, as ek een van die mense is wat ‘n ware geloof in my hart het.
Verlede Sondag het ons gesien en gehoor dat ware geloof uit twee dele bestaan: Die eerste deel is ‘n vaste kennis is waardeur ek alles wat God in sy Woord sê as waar aanvaar. Die tweede deel is ‘n vaste vertroue dat God se genade in Jesus Christus ook vir my is.
Vanoggend is ons by die derde baie belangrike vraag in Sondag 7: Wat moet ‘n Christen glo?
Die antwoord op hierdie vraag, is ons antwoord op God se Woord. Die woorde is deel van ons geloofsbelydenis. Ons antwoord klink so: “Alles wat in die evangelie aan ons beloof word en wat die artikels van ons algemene ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer”.
Hierdie antwoord kom uit God se Woord. Kom ons kyk hoe ons hierdie antwoord, hierdie deel van ons belydenis in die evangelie van Jesus Christus wat Markus geskryf het, se eerste hoofstuk kry.
2. Ek glo deur die Heilige Gees die evangelie
“Bekeer julle en glo die evangelie”, so het Markus geskryf oor die begin van Jesus se openbare optrede (Mk.1:15). Vanoggend se preek gaan oor die woorde “glo die evangelie”.
Die Heilige Gees het elkeen van die vier skrywers die evangelie van Jesus Christus met ‘n bepaalde doel laat skryf. Markus se doel met sy evangelie van Jesus Christus kry ons in die heel eerste vers: “Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, begin so” (Mk.1:1).
Markus het deur die Heilige Gees geskryf dat Jesus Christus die Seun van God is. Jesus is van ewigheid die Seun van God. Dit beteken Hy is self God. Hy het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Sy Naam Jesus beteken Verlosser, want Hy het aarde toe gekom om die verbondsvolk van sonde te verlos, het die engel in sy boodskap vir Josef gesê (Mt.1:18). Jesus is die Christus, die Verlosser wat God aarde toe gestuur het.
Die tweede belangrike vers is: “Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret in Galilea af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop” (Mk.1:9). Om gedoop te word, wys dat jou sonde afgewas word. Jesus het nie sonde gehad nie. Hy was en is van ewigheid volmaak en heilig. Hy het Hom laat doop om daarmee duidelik te wys dat Hy ons sonde op Hom geneem het. Hy sou deur sy dood aan die kruis ons sonde wat Hy op Hom geneem het, wegneem en ons skoon maak van al ons sonde.
Die volgende deel van die evangelie wat ons in Mk.1 kry, is dat Jesus in die woestyn deur die Satan versoek is. Markus het nie breedvoerig oor die versoeking wat Jesus deurgemaak het, geskryf nie. Matteus en Lukas is wel deur die Heilige Gees gelei om meer daaroor te skryf. Uit die twee evangelies weet ons dat Jesus die Satan daar in die woestyn oorwin het. Op grond van Jesus se oorwinning oor Satan, kon Hy later vir sy dissipels sê dat Hy Satan soos ‘n weerligstraal uit die hemel sien val het (Lk.10:18).
Ons weet uit Markus en die ander drie evangelies dat Jesus Christus, God se Seun, elke keer en in elke opsig die Satan oorwin het. Hoe die vyand van God ook al probeer het, hy was elke keer magteloos teen Jesus Christus, God se Seun, ons Verlosser.
Uiteindelik het Jesus deur sy kruisiging en opstanding almal wat aan Hom behoort uit die mag van Satan, die sonde en die dood geruk. Deur sy kruisiging en opstanding het Jesus Christus die bose ‘n vernietigende slag toegedien.
Die evangelie wat ons in Mk.1 kry is dus –
Die evangelie van Jesus Christus, die Seun van God, is wat elke Christen moet glo. Dit is die opdrag van Jesus self in Mk.1. Dit is ook ons geloofsbelydenis in Sondag 7. Daarom: Glo hierdie evangelie en hierdie evangelie alleen –
DIE SEUN VAN GOD het MENS GEWORD!
Hy is Jesus Christus, ons Verlosser!
Hierdie geloof is nie net woorde nie. In Mk.1:16-20 sien ons dat Jesus mense na Hom toe roep om in Hom te glo en Hom met hulle hele lewe te dien deur ander van Hom te vertel. Hierdie gelowiges het Jesus se dissipels geword. Dissipels was gelowiges wat by Hom gebly het en by Hom geleer het. Jesus het hulle na sy opstanding as apostels uitgestuur om die evangelie oor die aarde te versprei.
Ons leer hieruit dat die mens wat die evangelie glo, vir Jesus Christus leef.
Dit is genade om die evangelie te kan glo. Baie in die land waarin ons bly, glo nie die evangelie nie. Ek is nie beter as ander nie. Die verskil tussen my wat glo en ‘n ander wat nie glo nie, is dat die Heilige Gees na my toe gekom het. Hy het uit genade vir my geloof in Jesus Christus gegee.
3. Ek glo alles wat ons in die Twaalf Artikels bely
Die tweede deel van die antwoord op die vraag wat ‘n Christen moet glo, klink so: “…en wat die artikels van ons algemene ongetwyfelde Christelike geloof ons in hoofsaak leer”.
Hierdie woorde beteken nie dat die evangelie nie genoeg is en dat hierdie artikels nog moet by kom nie. Inteendeel! Die artikels van ons algemene ongetwyfelde Christelike geloof, ook bekend as die Twaalf Artikels is niks anders nie, as die evangelie van Jesus Christus in hoofsaak. Die Twaalf Artikels is Christus se kerk se antwoord op God se Woord. Alles in die Twaalf Artikels kom uit die Bybel en is dieselfde as die Bybel.
Christus verwag van sy kerk ‘n antwoord op sy Evangelie. Hy verwag ‘n geloofsbelydenis. Ons leer dit uit Jesus se vraag aan sy dissipels oor wie hulle geglo het Hy is (Mt.16:13-19). Ons leer dat die bely van die geloof dat Jesus gekruisig is en opgestaan het, noodsaaklik is om gered te word in Paulus se brief aan die Romeine (Rom.10:9).
Die Twaalf Artikels het gegroei uit die belydenis van Petrus: “U is die Christus, die Seun van die lewende God” (Mt.16:16) en uit Jesus se opdrag om mense te doop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees (Mt.28:19).
Uiteindelik het die Twaalf Artikels gegroei tot Christus se kerk se belydenis van geloof in die Drie-enige God. Ons bely God die Vader as Skepper, God die Seun as Verlosser en God die Heilige Gees as Heiligmaker.
Om ‘n ware geloof te kan hê, is nodig om hierdie “artikels van ons algemene ongetwyfelde Christelike geloof” te glo. Dit beteken dat ek as gelowige nie net in katkisasie met die Twaalf Artikels besig kan wees nie. Hierdie geloofsbelydenis is lewensbelangrik vir elke Christen. Hierdie geloofsbelydenis is my geloof waardeur ek salig word. Hierdie artikels moet daarom in my hart wees en in my gedagtes my hele lewe deur.
Sondag 7 is ‘n baie belangrike deel van die Heidelbergse Kategismus, ons geloofbelydenis, ons antwoord op die Here se Woord. Lees die Sondag gereeld. Maak seker van wat daar staan. Maak dit elke keer jou antwoord op God se Woord.
Bly in die krag van die Heilige Gees by die evangelie van Jesus Christus en die twaalf artikels van ons Christelike geloof. Glo die evangelie en die artikels. Glo net dit met jou hele hart en jy sal gered word en ewig salig wees.
ANTWOORD
Sang: Ps.107:1,10
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.103:1,2
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen