ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.150:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.12-2/27:1,2,3
Lees: Romeine 4:13-25, 6:1-11 en Sondag 17
Kernverse: Rom.4:25; 6:4,5
Tema: Christus se opstanding uit die dood laat ons ook opstaan uit die dood
Sang: Ps.150:1,2,3; Skb.12-3/72:1,2; Ps.32:3; Skb.12-2/27:1,2,3; Ps.18:1,12; Skb.18-7/45:1,11,12
Inleiding:
Wanneer ek as gereformeerde gelowige die Heidelbergse Kategismus se vrae en antwoorde lees, behoort elkeen elke keer te besef hoe groot God se genade in ons lewe is. In die Sondag oor die opstanding van die liggaam is die vrae nie: Is daar so iets soos die opstanding van die liggaam of wat is die opstanding van die liggaam nie?
Al hierdie vrae is nog deel van die melk waarvan ons in Hebr.5:12,13 lees, terwyl die vraag in die Kategismus die vaste kos is. Gelowiges kan nie net ons lewe deur by melk bly nie. Met die Bybel en die Heilige Gees in ons lewe is dit baie belangrik dat ek in my geloof sal groei en verdiep. Die vraag en antwoord in Sondag 17 en die dele in Rom.4 en 6 is vaste geestelike kos wat elkeen van ons help om geestelik te groei.
Tema: Christus se opstanding uit die dood laat ons ook opstaan uit die dood
1. Christus se opstanding maak my regverdig.
Die eerste deel oor die nut en betekenis van Christus se opstanding uit die dood is: “Ten eerste het Hy deur sy opstanding die dood oorwin, sodat Hy ons die geregtigheid wat Hy deur sy dood verwerf het, deelagtig kon maak” (Hk.17, V&A 45).
Die woord “geregtigheid” in Sondag 17 en “vrygespreek” in die 83-vertaling en “regverdigmaking” in die 53 en 2020-vertaling is dieselfde. Vir die preek gebruik ek die woord regverdigmaking of dan regverdig. Dit is verder baie bealngrik om te besef dat regverdig in die Bybel en ons gewone gebruik van die woord baie verskil. Regverdig in die Bybel beteken: Om te voldoen aan God se eis van volmaakte gehoorsaamheid en in die regte verhouding met Hom te leef soos Hy wil hê.
Elkeen weet niemand van ons kry dit reg nie, daarom dat ons geloof in Christus wat uit die dood opgestaan het, so belangrik is.
Ons kan hierdie eerste deel van die antwoord oor wat Jesus Christus se opstanding vir ons beteken, so verstaan:
Elkeen wat in Jesus Christus glo, kan en mag en moet vas en seker weet: Ek is regverdig voor die Heilige God. Jesus Christus het my regverdig gemaak. Dit is die waarheid van Rom.4:25.
2. Ek kan nou opstaan en regverdig leef.
Daar is meer vaste kos in Sondag 17. Elkeen wat in Jesus Christus glo, is een met Hom in sy dood. Dit beteken dood het nie meer mag oor ons nie. Elkeen wat in Jesus Christus glo, is ook een met Hom in sy opstanding. Dit beteken dat ons in hierdie lewe op aarde geestelik kan opstaan en ‘n nuwe lewe kan leef. Om geestelik te kan opstaan, gebeur op ‘n almagtige manier. Die Heilige Gees kom op ‘n almagtige manier in ons en begin nuwe lewe deur wedergeboorte in ons. In wedergebore harte begin Hy geloof in Jesus Christus. Geloof in Christus laat ons nuut leef.
As wedergebore gelowiges kan ons ‘n nuwe lewe lei (Rom.6:4). Ons leef nuut wanneer ons regverdig leef, dit is in die regte verhouding met God.
Hoe leef ons, Christengelowiges regverdig?
Daar is baie dele in die Bybel hieroor. Ons bly by die brief aan die Romeine. Van hoofstuk 12 af kry ons die deel hoe om regverdig voor God te leef.
Rom.12:2 – Ons leef nie soos die sondige wêreld nie. Christengelowiges leef anders as mense wat nie Christene is nie. Ons verander ons manier van dink deur die Heilige Gees in ons. Met hierdie nuwe manier van dink leef ons nie soos ons dink en ons gewoond is nie, maar soos God wil. Ons doen wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
Rom12:11 – Moenie in toewyding verslap nie. Daar is baie in hierdie land en die stad waar ons woon wat ons aandag van toewyding aan die Here kan wegtrek. Moeilike omstandighede maak dat ons moedeloos word en geestelik begin uitsak. Dit mag nie. Die Here wil dat ons ons deur die Heilige Gees sal laat lei. Wanneer die Heilige Gees ons lei, sal ons geesdriftige gelowiges wees in ons gemeente en in die gemeenskap. Ons is geesdriftig wanneer ons ons geloof sigbaar uitleef. Christengelowiges wat regverdig leef, dien die Here. Ons dien die Here wanneer ons Hom liefhet en ons liefde wys deur sy gebooie te gehooorsaam.
Rom.12:21 – “Moenie dat kwaad jou oorwin nie, maar oorwin die kwaad met die goeie”. Rondom ons is daar baie kwaad. Ons leef in ‘n tydsgees waar baie nie van sonde wil weet nie en wetteloos leef. Soveel leef sonder liefde vir God, sonder kennis van Hom en ongehoorsaam aan Hom. Die Here vra van ons as Christengelowiges om hierdie kwaad deur die goeie te oorwin en regverdig te leef.
Ons leef regverdig wanneer ons weerstand teen sonde bied. Enige sonde is altyd baie erg. God is heilig en verdra geen sonde nie. Ons leef regverdig wanneer ons God bo alles en almal liefhet. Ons liefde vir God wys in ons gehoorsaamheid aan Hom. Gehoorsaamheid aan God, oral en altyd is baie belangrik. Ons het nodig om God te ken. Ons het die Bybel. Ons het die Heilige Gees. Ons het alles wat ons nodig het om God te ken en naby Hom en vir Hom te leef.
Wanneer ons as Christengelowiges so leef, leef ons regverdig, soos God van ons verwag.
3. Christus is die waarborg van my salige opstanding.
Christus se opstanding het ook ‘n derde betekenis vir ons as Christengelowiges. Sy opstanding is ons as Christengelowiges se betroubare waarborg dat ons uit die dood sal opstaan wanneer Christus weer kom.
Waarborg is ‘n baie belangrike en spesiale woord in die Bybel. Waarborg beteken ‘n vaste sekerheid. Christus se opstanding uit die dood is ons vaste sekerheid dat ons uit die dood sal opstaan en ewig salig sal leef. Hierdie is wonderlike genade vir elkeen wat in Jesus Christus glo.
Ons waarborg beteken die dood het nie die laaste seggenskap oor ons nie. Ons lewe op aarde eindig nie bloot in die dood nie. Ons liggaam sterf, ja, maar ons siel bly leef. Ons siel is die innerlike mens, die mens wat ons eintlik is. Ons liggaam bly op aarde agter, maar ons siel is onmiddellik by Christus.
Op die dag wat God die Vader in die ewigheid bepaal het, sal Christus weer kom. Wanneer Hy weer kom, laat Hy ons liggaam uit die dood opstaan. Hy is die almagtige God wat ons liggaam uit die dood kan opwek. Hy laat ons liggaam en siel weer een word. Hierdie wonder gebeur in ‘n oogwink.
Na ons liggaam en siel weer een geword het, neem Christus ons by Hom in die hemel. In die hemel leef ons ewig by Christus ons Verlosser en God ons Vader.
Elke Christengelowige kan met die Heilige Gees in my met sekerheid leef dat Jesus Christus my liggaam uit die dood sal opwek en een met my siel maak. Dit beteken die dood van my liggaam en die skeiding van my liggaam en siel is net tot Christus weer kom.
Ons hoef daarom nie in vrees vir die dood te leef nie. Die Heilige Gees is ons Trooster en ons Helper. Sy troos neem die vrees vir die dood weg. Sy hulp maak dat ons met sekerheid leef oor die opstanding van ons liggaam en ons ewige saligheid in die hemel.
Hierdie wonderlike waarheid kan ons as Christene regtig laat uitsien na die dag wanneer Christus weer sal kom.
ANTWOORD
Sing: Ps.18:1,12
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7/45:1,11,12
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen