ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heiklige Gees
Lof aan God: Ps.66:1,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3/72:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sing: Ps.38:1,3,8
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.32:2,3
Lees: Deuteronomium 28:58-68; Galasiërs 3:10-14 en Sondag 15 (v&a 39)
Kernverse: Gal.3:10-13
Tema: Christus het God se vloek gedra, sodat ek God se seën kan ontvang.
Sang: Ps. 66:1,3; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,3,8; Ps.32:2,3; Skb.5-1/6:1,4,6; Ps.146:1,3,8
Inleiding:
Daar is net een geloof waardeur ‘n mens gered word, net een! ‘n Kerndeel, ‘n baie belangrike deel van die enigste geloof waardeur ons gered word, is dat Christus aan die kruis gesterf het.
Vanoggend is ons by die vraag in die Heidelbergse Kategismus of die feit dat Christus aan die kruis gesterf het, ‘n spesiale betekenis het. Kon Hy ook op ‘n ander manier gesterf het, of moes dit juis aan die kruis wees?
Tema: Christus het God se vloek gedra, sodat ek God se seën kan ontvang.
1. God vervloek enige ongehoorsaamheid.
Vir die rede waarom Christus aan die kruis gesterf het, is dit nodig om na die Ou Testament toe te gaan. Ons gaan na Deuteronomium 28 toe. Daar is ook ander dele wat ons hieroor kan lees, maar vanoggend vir hierdie preek is ons by Dt.28:58-68.
Op pad na Kanaän het Israel by ‘n vlakte aan die oostekant van die Jordaan gekom (Dt.4:45,46). Die einde van die reis na Kanaän was in sig. Moses het die wet van die Here aan Israel voorgehou. Hy het in werklikheid die wet wat die Here by die berg Sinai gegee het, herhaal (Dt.5:1-22). Moses het verder al die wette wat uit die Tien Gebooie voortvloei ook aan Israel gegee.
Die Tien Gebooie en al die ander wette is die wette van die Verbondsgod. Hy is ook die heilige God. Daarom het die Here ook vir Moses beveel om Israel ook sy seën en sy vloek aan die verbondsvolk voor te hou.
Wanneer Israel na die Here hulle God luister, al sy gebooie gehoorsaam en in die genadeverbond volgens al die wette lewe, sal seëninge oor hulle lewe kom en hulle verryk, liggaamlik en geestelik.
Indien Israel nie volgens al die gebooie en die voorskrifte van die Here leef nie, sal Hy, die heilige God ‘n vloek op hulle laat rus. Die vloek van die Here hulle God het beteken dat Hy hulle verwerp met al die ellende wat daarmee gepaard gaan. In Dt.28:58-68 het ons ‘n samevatting van wat gebeur wanneer die heilige God sy vloek op sy verbondsvolk laat neerkom. Hier is twee voorbeelde in hierdie deel:
Dt.28:59 – “As jy dit nie doen nie, sal Hy ontsettende rampe oor jou en jou nageslag bring, groot en langdurige rampe, kwaadaardige en ongeneeslike siektes”.
Dt.28:66,67 – “Jou lewe sal aan ‘n draadjie hang, jy sal dag en nag in vrees lewe, jy sal jou lewe lank onveilig wees. In die môre sal jy sê: ‘Was dit maar aand!’ En in die aand sal jy sê:’Was dit maar môre! So vol vrees sal jou lewe wees en sulke vreeslike dinge sal jy belewe’”.
Ons kan hierdie woorde so verstaan: Die heilige God VERVLOEK enige ongehoorsaamheid!
Die heilige God verander nie. Hy laat sy vloek rus op elkeen wat aan Hom ongehoorsaam is en sonde doen – Israel in die Ou Testament, sy verbondsvolk in die Nuwe Testament en vandag steeds ook nog en in ewigheid. Die Here ons God verwag volmaakte gehoorsaamheid aan al sy gebooie. Jakobus, Jesus se een broer, het so hieroor geskryf: “As iemand die hele wet onderhou maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die gebooie” (Jak.2:10). Wie een enkele gebod nie volmaak gehoorsaam nie, is vervloek.
Die tyd waarin ons leef, is by verre die meeste mense geneig om te dink dat baie van wat gedink en gesê en gedoen word, nie sonde is nie, terwyl dit vir God sonde is! Soveel vandag dink en glo sonde is nie so erg nie, terwyl sonde vir die heilige God so erg is dat Hy die mens wat sondig, vervloek!
Vervloek beteken Hy verwerp die mens wat sonde doen en Hy bring baie groot ellende oor so iemand. Ek doen ook sonde in my gedagtes en woorde en dade. Ek doen sonde wanneer ek dit wat God vra nie doen nie. Ek het sonde waarvan en nie eers bewus is nie.
Wanneer ek op my eie voor die heilige God staan, rus daar ‘n vloek ook op my! Hierdie mag ek nie ligtelik opneem nie. Deel van my selfondersoek vir nagmaal, is elke keer om na te dink oor my sonde en vervloeking. Ek moet my voor elke nagmaal met diepe berou voor God verootmoedig.
2. Christus dra die vloek aan die kruis.
Daar was ook so ‘n wet in die Ou Testament dat iemand wat die doodstraf verdien het, aan ‘n houtpaal opgehang moes word (Dt.21:23). Die oortreder het aan die houtpaal as ‘n vervloekte oortreder gehang. Dit het beteken dat God so iemand verwerp het met al die ellende wat daarmee gepaard gegaan – geen seën van die Here nie, geen nabyheid van die Here nie, geen toevlug meer na die Hom toe nie, net verwerping en die dood. Die dood aan ‘n houtpaal was ‘n verskriklike dood.
Dit bring ons by die vraag in Sondag 15 en die antwoord op die vraag. Jesus Christus het ons sonde op Hom geneem. Deur dit te doen, het Hy die vloek wat op ons gerus het ook op Hom geneem.
Toe Christus met ons sonde op Hom voor die Joodse Raad gestaan het, het hulle hom van laster beskuldig omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. Laster het volgens die Joodse wette die ergste doodstraf verdien. Hulle het Jesus na Pontius Pilatus gebring en op die doodstraf aan die kruis aangedring. Die kruis was die houtpaal waarvan ons in die Ou Testament lees.
Pilatus het Jesus onskuldig bevind, maar Hom tog aan die Joodse Raad oorgegee om gekruisig te word.
Jesus Christus het aan die kruis op Golgota as ‘n vervloekte gehang. Hy was die Seun van God en Hy was ware mens. Hy het geen sonde gehad nie. Hy was volmaak onskuldig. Hy het deur aan die kruis te hang die vloek van die Heilige God wat op elkeen van ons gerus het, op Hom geneem.
Daar aan die kruis het Jesus se Vader Hom verwerp. Ons weet dit uit sy woorde: “My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mt.27:46). Saam met die verwerping deur sy Vader het Jesus ook al die ellende wat daarmee gepaard gaan verduur. Hy het die angste van die hel in ons plek verduur.
3. Ek ontvang nou God se seën.
Teenoor die vloek van die heilige God is sy seën. Daar was in die gemeentes in Galasië mense wat die Heilige God se vloek nie ernstig opgeneem het nie. Hulle het ook nie die wonderlike seën wat God deur sy Seun aan ons gegee het, ernstig opgeneem nie.
Wat het hulle gedink en gedoen? Jode wat Christene geword het, wou weer terug gaan na die Ou Testament se wette toe. Hulle het in die gemeentes in Galasië vertel en geleer dat ‘n mens deur ‘n wet te onderhou gered kan word.
Hulle was heeltemal verkeerd. Enigiemand wat vandag dink dat ek deur ‘n wet na te kom, is eweneens heeltemal verkeerd. Die heilige God verwag dat elkeen al sy gebooie stiptelik sal nakom. Daar is nie ‘n mens wat dit kan regkry nie. Wie deur die wet gered wil word, sal daarom onder God se vloek bly.
Werklike verlossing kry ek net deur Christus wat vir my aan die kruis gesterf het. Hy het in my plek sy Vader, die heilige God, volmaak gehoorsaam. Hy het in my plek die vloek wat op my gerus het, aan die kruis enduit volmaak gedra.
Omdat Jesus Christus vir my aan die kruis die vloek wat op my gerus het gedra het en gesterf het, rus daar nou geen vloek meer op my nie. God verwerp my nie meer nie. Deur Jesus Christus wat vir my gesterf het, neem die Heilige God my as sy kind en erfgenaam aan.
Ek ontvang nou God se seën – Verlossing van al my sonde, volmaakte vergifnis, vryspraak van alle oordeel, die ewige lewe, die Heilige Gees as gawe, ‘n wedergebore hart, geloof waardeur ek salig word en selfs nog meer. Ek leef ook op aarde onder die sorg en die genade en die liefde van God die Vader.
Deur Christus wat vir my aan die kruis gesterf het, is ek, wat ‘n vervloekte, ‘n verwerpte was, nou ‘n geseënde, ‘n begendadigde.
Sit daar iets meer in dat Christus aan die kruis gesterf het? Ja, baie meer! Kon Hy ook op ‘n ander manier gesterf het as om gekruisig te word? Nee! Net deur die wreedste dood aan die kruis te sterf, het Christus my vervloeking heeltemal weggeneem, sodat ek nou ‘n geseënde van God kan wees.
ANTWOORD
Sing: Skb.5-1/6:1,4,6
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.146:1,3,8
Seën: Die Here sal julle seën en beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en julle gebede verhoor.
Amen