ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.118:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.47:1,4
Lees: 1 Johannes 4:7-12; 5:1-5 en Sondag 13
Kernvers: 1 Joh.4:9 en 5:1
Tema: Deur God se eniggebore Seun is ek sy kind.
Sang: Ps.118:2,12; Ps.71:9; Skb.9-3:1,2; Ps.47:1,4; Skb.1-3:1,2,3; Skb.2-4:1,3
Inleiding:
Ons is besig met die reeks preke oor die geloof waardeur ons gered word. Vanoggend staan ons stil by Jesus Christus, as die “eniggebore Seun van God”. Ons kyk verder na my wat as Christengelowige ook ‘n kind van God die Vader is..
Tema: Deur God se eniggebore Seun is ek sy kind.
1. God het ‘n eniggebore Seun.
Op verskeie plekke in die Bybel, Ou en Nuwe Testament, maak God aan ons bekend dat Hy ‘n Seun het. Die volgende verse leer ons hierdie belangrike waarheid:
Ps.2:7 – “Jy is my Seun, vandag het Ek jou Vader geword”.
Jes.9:5 – “Vir ons is ‘n Seun gebore, aan ons is ‘n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors”.
Lk.1:35 – “Die engel antwoord haar:’Die Heilige Gees sal oor jou kom, en die krag van die Allerhoogste sal die lewe in jou wek. Daarom sal die Een wat gebore word, heilig genoem word, die Seun van God”.
Mt.3:17 – “Daar was ook ‘n stem uit die hemel wat gesê het:’Dit is my geliefde Seun. Oor Hom verheug Ek my’”.
Joh.3:16 – “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê”.
Daar is baie meer plekke in die Bybel waar hierdie waarheid dat God ‘n Seun het, ‘n eniggebore Seun, of enigste Seun, neergeskryf is.
Omdat hierdie waarheid dat God ‘n eniggebore Seun het, so belangrik is en so duidelik in die Bybel voorkom, is hierdie waarheid ook deel van ons geloofsbelydenis. Ons bely God se eniggebore Seun in die algemene belydenisse van die Christelike kerke wêreldwyd: Die Twaalf Artikels, Die Geloofsbelydenis van Nicea en Die Geloofsbelydenis van Athanasius. Ons bely hierdie waarheid ook in die Drie Formuliere van Enigheid, die is die belydenisskrifte van die Gereformeerde kerke wêreldwyd: Die NGB, Heidelbergse Kategismus en die Dordtse Leerreëls.
Dat Jesus Christus God se eniggebore Seun is, is nie net woorde wat in die Bybel en ons geloofsbelydenis staan nie. Dat God ‘n eniggebore Seun het, raak elkeen van ons se lewe, ons ewige lewe. Om die ewige lewe te kan hê, is dit nodig dat ek Jesus, as die Seun van God met ‘n gelowige hart ken (Joh.17:3) en bely (Rom.10:9).
2. Hy het uit liefde sy eniggebore Seun vir ons gegee.
Jesus Christus is die ewige eniggebore Seun van God. Van ewigheid af is daar die innigste verhouding tussen God die Vader en sy Seun. Johannes het in sy evangelie van Jesus Christus so oor hierdie verhouding geskryf: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God” (Joh.1:2).
“Die Woord” is een van die Name van God se Seun. Die verhouding van God die Vader en sy Seun is so innig dat hulle een is. Die Seun van God, is self ook God. Hulle is as twee Persone saam met die Heilige Gees, die een Geestelike Wese, wat ons God noem. Ons ken Hom, glo in Hom en bely Hom, as die Drie-enige God.
Dit is belangrik om te weet en te glo dat God die Vader en sy Seun een is. Hierdie eenheid tussen God die Vader en sy Seun, vertel en leer ons hoe lief God ons gehad het. Hy het ons so liefgehad dat Hy sy ewige eniggebore Seun wat van ewigheid af een met Hom is, vir ons gegee het.
So het Johannes in sy eerste brief geskryf: “Hierin is God se liefde vir ons geopenbaar: Sy enigste Seun het Hy na die wêreld toe gestuur, sodat ons deur Hom die lewe kan hê” (1 Joh.4:9).
Liefde is in die Bybel ‘n baie belangrike en kosbare woord met ‘n baie belangrike en spesiale betekenis. Liefde hier in Joh.4:9 beteken om te gee, om op te offer. God het sy eniggebore Seun opgeoffer. Hy het sy Seun van Hom af uit die hemel weggestuur aarde toe om sondaars, wat sy vyande was, van al hulle sonde te verlos.
3. God se Seun het uit liefde sy lewe vir my gegee.
Jesus, God se eniggebore Seun, het Homself verneder. Hy het deur ‘n almagtige wonder mens geword. Hy die ewige Seun van God, self ewige God, het ons menslike natuur aangeneem. Hy was ware mens, volmaakte mens, sonder enige sonde. Hy het Homself verder verneder en al ons sonde op Hom geneem.
Dat Jesus Christus, God se Seun, ons sonde op Hom geneem het, het die volgende vir Hom ingehou:
Hierdie bitter lyding en wrede dood het die Seun van God in ons plek verduur, omdat Hy ons liefgehad het. In sy liefde het Hy ons nie verlore laat gaan nie. Hy het sy eie lewe gegee, om ons uit die mag van die duiwel en die sonde te red.
Hy het uit liefde vir ons in die graf ingegaan en uit liefde vir ons op die derde dag uit die dood opgestaan.
Die liefde van God se Seun vir my maak dat ek nie langer verlore gaan nie, maar die ewige lewe het. Die lewe wat ek nou as Christengelowige op aarde het, is ‘n lewe uit God se Seun se liefde vir my.
4. Ek is nou God se kind wat met liefde leef.
Jesus, God se Seun het my lewe verander. Elkeen van ons was in die donker mag van die bose, die duiwel en sonde. Die lyding wat God se Seun verduur het en die dood wat Hy gesterf het, het Hy in my plek gedoen. Ek met al my sonde moes daardie verskriklike lyding verduur het en daardie wrede dood gesterf het.
Dit het nie gebeur nie. Jesus Christus het in my plek gely en gesterf. Deur sy lyding, dood en opstanding is ek volmaak van sonde verlos, het ek volmaakte vergifnis ontvang en is ek volmaak van straf en oordeel vrygespreeek. Dit alles omdat Jesus Christus my liefgehad het.
Hoe het my lewe verander?
Die Heilige Gees het aan my geloof in Jesus Christus, God se enigste Seun gegee. Geloof in God se Seun is lewensbelangrik. So het Johannes hieroor geskryf:”Elkeen wat glo dat Jesus die Christus is, is ‘n kind van God, en elkeen wat vir die Vader liefhet, het ook die ander lief, wat kinders van die Vader is” (1 Joh.5:1).
Ek, sondige mens was voorheen ‘n vyand van God en verlore onder sy ewige oordeel. Omdat Jesus vir my gesterf het, en ek deur die Heilige Gees glo dat Hy die Christus, dit is die Verlosser is, is ek ‘n kind van God. Ek is sy kind en erfgenaam van die ewige lewe. Ek gaan nie langer nie meer verlore nie. Ek het die ewige lewe. Dit alles uit God die Vader se liefde vir my en ook sy Seun se liefde vir my.
Die Heilige Gees wat vir my geloof in Jesus Christus, God se Seun gee, gee vir my ook liefde in my hart. Ek leef, as kind en erfgenaam van die ewige lewe met liefde in my hart vir God, my Vader in die hemel. Ek leef as verloste gelowige met liefde in my hart vir God se Seun, my Verlosser. Ek leef met liefde ook vir ander kinders en erfgename van ons Vader in die hemel.
Ons almal weet, want ons sien en hoor dat daar in ons land min of niks liefde vir God en vir ander mense is nie. Ongehoorsaamheid aan God en vyandigheid teenoor mekaar is hoe by verre die meeste mense in ons land leef.
Christengelowiges het ‘n baie groot verantwoordelikheid en baie ernstige roeping om met liefde te leef, liefde vir God en liefde vir mekaar. Weer eens: Liefde is nie net woorde nie. Liefde wat God van ons vra, is liefde wat doen, liefde wat gee, liefde wat opoffer.
Hierdie liefde begin by my, begin by ons gemeente. Wat liefde betref, het ons almal nodig om nog baie meer te groei.
Vra die Heilige Gees in gebed om jou te lei en te help om met liefde te leef.
Leef dan met liefde wat gee, wat opoffer, vir ons Vader in die hemel.
Leef met liefde vir Jesus Christus, die enigste Seun van God.
Leef deur die Gees ook met liefde vir ander gelowige kinders van God.
ANTWOORD
Sing: Skb.1-3:1,2,3
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.2-4:1,3
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen