Home Preke Die geloof waardeur ek gered word Ons leef onder die regering van Jesus Christus, God se Seun

Ons leef onder die regering van Jesus Christus, God se Seun

Datum: 2024-07-21
|
Reeks: Die geloof waardeur ek gered word
|
Kernverse: Kol.1:16-18

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader, en Jesus Christus ons Here, deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Deuteronomium 5
Antwoord op die Wet: Ps.119:6,7
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.45:1,3,4
Lees: Kolossense 1:1-20 en Sondag 19 (2020 vert.)
Kernverse: Kol.1:16-18
Tema: Ons leef onder die regering van Jesus Christus, God se Seun.
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Ps.71:9; Ps.119:6,7; Ps.45:1,3,4; Ps.45:5,6,16; Skb.15-5:1,4,7

Inleiding:

Een deel van die sesde artikel van die Twaalf Artikels is die woorde “en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader”. Hierdie geloof is ‘n baie belangrike deel van die geloof waardeur ons gered word. Daarom is hierdie woorde baie belangrik vir elkeen van ons.

Tema: Ons leef onder die regering van Jesus Christus, God se Seun.

1. Christus is die Eersgeborene oor die hele skepping.

Kol.1:15,16 vertel en leer ons baie belangrike dinge oor Christus.

  • Hy is die Seun, God se ewige Seun, sy geliefde Seun. Tussen God die Vader en sy Seun is daar van ewigheid af die innigste verhouding. Die Vader en sy Seun is een. Die Seun is self God.
  • Christus, God se Seun, is die beeld van sy Vader, die onsigbare God. Ons kan God nie sien nie. Christus is God se beeld. Hy het op aarde geleef. Mense het Hom gesien. Hy was toe die beeld van die onsigbare God. Hy is vandag steeds God se beeld. . Hoe kan ons hierdie woorde verstaan? Ander dele in die Bybel help ons hiermee.

Die eerste deel in die Bybel is Joh.1:16-18 – Christus het die Vader aan ons bekend gemaak en wel God die Vader in sy volmaakte genade.

Die volgende vers is Joh.3:16. In Christus sien ons die liefde van God.

‘n Laaste deel vir die preek is Rom.3:25,26. Christus wys ons God se geregtigheid, sy geregtigheid dat Hy sonde straf, maar elkeen wat in die gekruisigde Christus glo, vryspreek van straf en oordeel.

Christus, God se geliefde Seun is beeld van sy Vader daarin dat Hy God se volmaakte genade, sy volmaakte liefde en sy volmaakte geregtigheid vir ons kom wys het. Net Hy kon sy Vader vir ons wys, want net Hy het sy Vader gesien. Net Hy is so een met sy Vader dat Hy die beeld van sy Vader is.

  • Christus is ook die Eersgeborene oor die hele skepping. Hierdie woorde beteken iets meer as dat Christus voor almal in die skepping gebore is. Verskei verse in hierdie hoofstuk verduidelik hoe ons vs 15 moet verstaan –

Vs 16 – “God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: Alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, ook die engele om sy troon, en al die geestelike magte” – Eersgeborene oor die hele skepping, beteken die hele skepping het deur Hom ontstaan, dit is alles in die skepping. Christus is hoog verhewe bo die hele skepping. Alles is aan Hom onderwerp.

Vs 17 –  “Voor alles was Hy daar, en deur Hom bly alles in stand – Christus is self ewige God. Deur Christus sorg God die Vader dat die hele skepping in stand gehou word en dat alles onder sy regering en sy sorg verloop.

Vs 18 – Christus het die eerste plek in die heelal ingeneem – Christus het die hoogste magsposisie in die heelal. Sy Vader het alles aan Hom oorgelaat en regeer alles en almal deur Jesus Christus, sy Seun. Dit is die betekenis van die woorde in ons geloofsbelydenis “sit aan die regterhand van God”.

2. Hy is die Hoof van sy kerk.

Die vorige kerngedagte het oor Christus se posisie in die heelal gegaan. Hierdie tweede kerngedagte onder die tema gaan oor sy posisie in die kerk. In Kol.1:18 kry ons die belangrike waarheid dat Christus die Hoof van die kerk is.

Een van die belangrike beelde oor die kerk in die Bybel is dat die kerk Christus se liggaam is. Die beeld beteken die kerk is aan Christus vas, is een met Hom. Die Heilige Gees maak die kerk, dit is die gelowiges, een met Christus deur geloof in Christus as enigste Verlosser.

Elke liggaam het ‘n kop, ‘n hoof. Die kerk is die liggaam en Christus is die Hoof. Dat Christus die Hoof van die kerk is, beteken Hy is die Eienaar van die kerk. Hy het die Hoof van die kerk geword deur aan die kruis te sterf en uit die dood op te staan. Deur vir sy kerk te sterf en uit die dood op te staan, het Hy al die gelowiges uit die mag van die sonde en die duiwel verlos en syne gemaak.

Christus is die Hoof van sy kerk, daarom bepaal Hy hoe sy kerk behoort te leef en wat in sy kerk behoort te gebeur. In die kerk geld wat Jesus Christus wil hê. Daarom moet al die gelowiges, dit is die kerk, altyd vra: Wat wil Christus hê?

Dat Christus die Hoof van die kerk is, beteken Hy het die hoogste mag en eer in die kerk. Hy is die Hoof, die enigste Hoof.  Daar is geen mens wat hierdie posisie in die liggaam van Christus beklee nie. Wie dink en glo en praat van die leier of hoof van die kerk op aarde, praat heeltmal anders as wat die Heilige Gees laat skryf het en dwaal dus weg van God se Woord af. Dit mag nie gebeur nie.

3. Christus se Vader regeer alles deur Hom.

Christus se regering is ‘n geestelike regering. Hy het vir Pontius Pilatus gesê: “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het, dat Ek nie aan die Jode oorgelewer word nie, maar nou is my koninkryk nie van hier nie” (Joh.18:36).

Ons kry dieselfde juis in Kol.1:13. God het ons verlos uit die mag van die duisternis en ons oorgebring in die koninkryk van sy Seun.

Jesus Christus regeer sy gelowiges deur sy Evangelie en sy Heilige Gees. Hy regeer in die harte van almal wat aan Hom behoort. Deur die Evangelie, God se Woord en die Heilige Gees glo mense in Jesus Christus wat gesterf en opgestaan het. Almal wat in Christus glo, leef onder sy geestelike regering. Onder sy regering gaan gelowiges nie meer verlore nie, maar het ons almal die ewige lewe. Christus regeer sy kerk deur die gelowiges te bewaar, sodat ons almal met sy wederkoms ewig saam met Hom in die hemelse woning van God die Vader sal wees.

Christus regeer ook die duiwel en al sy bose magte en al die ongelowiges wat hom volg en dien. Hy regeer die ongelowiges deur hulle harte gesluit te hou vir sy Evangelie. Met sy wederkoms sal Hy as Hemelregter sy regering oor hulle duidelik wys deur almal wat nie in Hom geglo het nie, in die buitenste duisternis, die hel te gooi.

Verder regeer Christus ook die bose deur die duiwel en die ongelowiges wat Hom en sy kerk haat en wil vernietig, nie toelaat om dit reg te kry nie. Hy sorg met sy regering dat die bose sy kerk nie oorweldig en vernietig nie.

Dan regeer Christus se Vader deur Hom ook die skepping en alles wat gebeur. In alles wat gebeur, is God deur Christus met die wêreld op pad na die einde. Christus is die Middelpunt van die ganse wêreldgeskiedenis. Wanneer Hy weer kom, sal die huidige hemel en die aarde in vlamme tot niet gaan. Christus sal die hemel en die aarde en alles nuut maak. Alles wat in in die wêreld gebeur stuur op daardie dag af. Ons kry hierdie baie belangrike waarheid dat God deur Christus alles laat meewerk na sy wederkoms (Rom.8:28).

4. Sy regering is met almag en liefde.

Sondag 19 is in die Heidelbergse Kategismus. Die Kategismus is deel van gereformeerdes oor die hele wêreld se geloofsbelydenis. Die Kategismus is ons geloofsbelydenis. Daarom is dit vir ons wonderlike genade dat Jesus Christus aan die regterhand van sy Vader gaan sit het en dat sy Vader deur Hom alles en almal regeer.

Ons weet en ons glo dat Christus met almag regeer. Na Hy uit die dood opgestaan het, het Hy sy dissipels, dit is sy gelowiges, ons ook, die sekerheid gegee dat Hy alle mag in die hemel en op die aarde het.

Christus beskerm sy gelowiges met sy almagtige regering teen al die vyande van sy kerk. Die duiwel en die wêreld en sonde sal nie die oorhand oor die kerk kry nie. Ons, as kerk van Christus, kan met hierdie geloofsekerheid leef, al gaan die soms baie swaar met die kerk.

Christus regeer sy gelowiges met liefde. Hy gee sy Heilige Gees aan ons. Die Gees gee aan ons wedergebore harte wat in Christus kan glo. Ons glo dat Hy uit liefde vir ons gesterf en opgestaan het. Deur ons geloof in Christus is ons gered en gaan ons nie meer verlore nie. Met die Gees in ons het ons sekerheid van verlossing, vergifnis, vryspraak en die ewige lewe. Dit is hemelse gawes wat ons by die Heilige Gees kry.

Dat Christus na sy hemelvaart aan die regterhand van God gaan sit het, is ‘n baie belangrike deel van die geloof waardeur ons gered word. Dit is nie net woorde om elke Sondag in ‘n erediens te hoor en te bely nie. Christus wat aan die regterhand van sy Vader sit, is ‘n waarheid wat almal van ons elke dag raak. Christus wat alles regeer gee vir ons veiligheid, vastigheid en sekerheid.

ANTWOORD
Sing: Ps.45:5,6,16
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.15-5:1,4,7
Seën: Die genade van ons Here, Jesus Christus, die liefde van God ons Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen