ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.8:1,3,4,7
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.38:1,8,17
Gebed
VERKONDIGING
Sing:Skb.3-1:2,3
Lees: Lukas 1:26-38; 46-56 en Sondag 14
Kernverse: Lk.1:30-35
Tema: “Ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria”
Sang: Ps.8:1,3,4,7; Skb.12-3:1,2; Ps.38:1,8,17; Skb.3-1:2,3; Skb.1-4:1,2,3,4; Skb.18-7:1,3,12
Inleiding:
Vanoggend is ons by een van die grootste wonders waarvan ons as gelowiges weet. Dit is ‘n wonder wat net eenkeer gebeur het en nooit weer sal herhaal nie. Dit is ‘n wonder wat vir elke enkele mens, vir almal van ons onmoontlik lyk, maar wat tog regtig gebeur het.
Dit is ‘n wonder wat God gedoen het. Wat meer is, dit is ‘n wonder wat God vir jou gedoen het.
Wanneer ‘n mens oor die wonder praat, klink die woorde so: “Ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria”.
Tema: “Ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria”
1. Die ewige Seun van God het mens geword.
In die evangelie van Jesus Christus wat Lukas geskryf het, het hy geskryf dat God se Seun mens geword het. Matteus, ‘n ander skrywer van die evangelie van Jesus Christus het ook hieroor gerskryf. Lukas en Matteus het breedvoeriger as die ander twee skrywers van die evangelie, Markus en Johannes geskryf.
In die woorde wat Lukas geskryf het, het ons die wonder van die Heilige Skrif, die Bybel.
Dit wat Lukas ondersoek en neergeskryf het, was: Die ewige Seun van God het mens geword!
Oor ‘n tydperk van 1300 jaar het drie heeltemal verskillende skrywers, dieselfde geskryf, elke keer net duideliker – Iemand uit die vrou se geslag, ‘n Seun wat op ‘n buitengewone manier gebore sal word en self God sal wees, Hy is God se Seun wat mens geword het.
Hier is nou die wonderwerk wat God gedoen het! Sy ewige Seun is self van ewigheid af God. So het Johannes sy evangelie van Jesus Christus begin (Joh.1:1). God het uit liefde sy Seun aarde toe gestuur. Die tyd vir die belofte van meer as twaalf eeue gelede om werklikheid te word het aangebreek. God se Seun het mens geword!
2. Die wonder het gebeur deur die Heilige Gees.
Maria, ‘n jong meisie uit ‘n klein dorpie Nasaret, was die eerste wat die boodskap dat die tyd vir die beloofde Verlosser om te kom, aangebreek het.
Sy was ‘n jong meisie, verloof aan Josef, ‘n skrynwerker. Op ‘n dag was sy besig met die gewone dinge van elke dag. Daardie gewone dag het Maria se lewe vir altyd heeltemal verander.
Maria het besoek van Gabriël, een van God se engele ontvang. Die engel Gabriël het haar gegroet. Sy was verbysterd. Die engel het haar gerusgestel om nie bang te wees nie. Hy het die verbaasde Maria, van die rede vir sy besoek vertel –
Hierdie boodskap het Maria verwonderd gelaat. Wat die engel gesê het was menslik onmoontlik. Sy het daarom gevra: “Hoe is so iets moontlik, aangesien ek nog nooit omgang met ‘n man gehad het nie?” (Lk.1:34).
Gabriël, God se engel het met sy antwoord aan Maria die almagtige wonder verduidelik. Die Heilige Gees sal oor haar kom. Die Heilige Gees is self God. Die krag van die Allerhoogste sal op ‘n almagtige manier die lewe in haar wek.
Hierdie woorde van God se engel is ver bo enige mens se bergip. Hierdie woorde kan nie met ons menslike verstand uitgewerk word nie, nog minder kan menslike wetenskap op aarde ‘n verklaring wil gee. Al hierdie sal elke keer ‘n doodloopstraat wees. Trouens, Lukas, self ‘n mediese dokter, ‘n wetenskaplike, het nie ‘n verklaring probeer gee hoe Maria sonder die toedoen van ‘n man, swanger kan word nie. Lukas het gehoor. Hy het geglo. Hy het neergeskryf.
Want…hierdie woorde kan en moet geglo word! Dieselfde Heilige Gees wat lewe in Maria gewek het, wek ook lewe in ‘n mens se hart. Hy wek nuwe lewe in ‘n dooie hart. Hy laat ‘n mens se hart wedergebore word. Hy gee geloof deur die evangelie wat Lukas geskryf het. Hy gee geloof deur God se hele woord. Met die Heilige Gees in my, kan ek die boodskap van die engel Gabriël, glo en elke Sondag in die erediens bely: “…ontvang van die Heilige Gees”.
Die engel se woorde aan Maria en die woorde in ons geloofsbelydenis beteken dat die Seun aan wie Maria geboorte sal gee, die Seun van God is en daarom God self. Die Verlosser wat God beloof het, is sy Seun, sy ewige Seun. Hy, is ware en ewige God van ewigheid af en tot in ewigheid.
3. God se Seun is uit die maagd Maria gebore.
Die Here het in die geskiedenis aan Dawid ‘n belofte gemaak dat die Verlosser uit sy nageslag sou kom (2 Sam.7:12,13). Dit is nog ‘n belofte oor die beloofde Verlosser deur nog ‘n skrywer van God se Woord.
Gabriël het vir Maria gesê dat die Here aan die Seun wat uit haar gebore sal word, die troon van sy voorvader Dawid sal gee. Maria self was uit die geslag van Dawid. Die Seun aan wie sy geboorte sal gee, sal daarom die Verlosser wees wat God beloof het.
Dat die ewige Seun van God uit Maria, ‘n mens, ‘n vrou gebore sal word, beteken dat die beloofde Verlosser ware mens sal wees.
Wat het gebeur met God se Seun se geboorte uit Maria?
Al het Gabriël, die Here se engel vir Maria verduidelik hoe sy geboorte aan God se Seun sal gee, is ook daardie deel van die boodskap ver bo ons verstand en begrip. Maar…dit is woorde wat geglo kan word en geglo moet word.
4. Hy is daarom werklik ons Verlosser van al ons sonde.
Die wonder dat God se Seun “…ontvang is van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria…” hou wonderlike onbeskryflike genade in.
Hoe so?
“Ontvang van die Heilige Gees, gebore uit die maagd Maria” beteken jy het ‘n volmaakte Verlosser. Hy is ware en ewige God en ware sondelose mens tegelyk. Hy kan jou straf op jou sonde in jou plek volmaak dra. Hy het jou straf op jou sonde volmaak gedra.
Die waarheid in hierdie woorde is ‘n baie belangrike deel van die geloof waardeur ons gered word.
Glo met jou hele hart dat God se ewige Seun ontvang is van die Heilige Gees, en gebore is uit die maagd Maria.
Bely hierdie geloof met die oortuiging wat die Heilige Gees gee.
Leef met hierdie geloofsekerheid dat jy van al jou sonde verlos is.
Leef elke dag met ‘n dankbare hart vir hierdie almagtige wonder wat God vir jou gedoen het.
ANTWOORD
Sing: Skb.1-4:1,2,3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.18-7:1,3,12
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen