ONTMOETING
Votum: Psalm 121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.118:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.5-1/6:1,4,6
Lees: Lukas.23:43,46; Johannes 19:30; Psalm 116:1-9 en Efesiërs 6:10-13 en Sondag 16 (V&A 44)
Kernverse: Lk.23:43,46; Joh.19:30; Ps.116:3,5
Tema: Deur Christus se lyding van die hel is ek verlos van die lyding van die hel.
Sang: Ps.118:1,2; Ps.71:9; Ps.86:6; Skb.5-1/6:1,4,6; Ps.118:3,8; Ps.118:10,14
Inleiding:
Tema: Deur Christus se lyding van die hel is ek verlos van die lyding van die hel.
Vanoggend is ons in die preekreeks by die woorde “neergedaal het na die hel” of “wat die lyding van die hel ondergaan het”
Hierdie woorde is deel van die geloof waardeur ons gered word, daarom behoort dit vir elkeen van ons baie belangrike woorde te wees. Dit is woorde wat elkeen van ons ons reg moet verstaan en opreg moet glo.
1. Ons geloofsbelydenis.
Die Twaalf Artikels
In die reeks preke oor die geloof waardeur ons gered word, is ons met ons geloofsbelydenis wat ons as die Twaalf Artikels ken, besig.
Die Twaalf Artikels gaan oor die Drie-enige God. Ons glo in die drie-enige God en bely ons geloof in Hom in hierdie geloofsbelydenis. Daarom word die Twaalf artikels in drie dele ingedeel: Ons geloofsbelydenis oor God die Vader in art.1, ons geloofsbelydenis oor God die Seun, Jesus Christus in art.2 tot 7 en ons geloofsbelydenis oor die Heilige Gees in art.8 tot 12.
Tans is ons besig met die deel oor God die Seun, Jesus Christus en ons verlossing. Christus se verlossingswerk bestaan uit twee dele: Sy vernedering en sy verhoging. Ons bely sy vernedering in art.3 en 4. Ons bely sy verhoging in art.5 tot 7.
Met vanoggend se preek is ons by art.4, die laaste deel van die artikel. Die woorde klink so: “en neergedaal na die hel” of “wat die lyding van die hel ondergaan het”.
Die verklaring in die Heidelbergse Kategismus
Ons kry in die Heidelbergse Kategismus die verklaring van die Twaalf Artikels en wat elke artikel beteken.
Vanoggend is ons by die vraag en antwoord oor die woorde “neergedaal het na die hel”.
Vraag 44 klink so: “Waarom volg daar: Neergedaal het na die hel?”
Die antwoord gaan oor my swaarste aanvegtinge, Christus se angs en smarte en verskrikking wat Hy gely het en dat Hy deur sy lyding met van die benoudheid en pyn van die hel verlos het.
Samevatting oor Christus se lyding van van die hel
Dit is opmerklik dat die verklaring in die Heidelbergse Kategismus nie aan ons verduidelik dat Christus in die hel was nie. Dit is baie belangrik. Die woorde “neergedaal het na die hel” wys op Christus se bittere lyding aan sy siel, sy lewe deur en veral aan die kruis.
Ons moet daarom die Twaalf Artikels nie so verstaan asof dit gebeurtenisse in volgorde is nie: Eers gekruisig, toe gesterf, daarna begrawe en uiteindelik neergedaal het na die hel nie.
Die woorde “neegedaal het na die hel” wys op Jesus Christus se lyding aan sy siel sy hele lewe op aarde en veral aan die kruis en nie wat Hy gedoen het na sy dood nie.
2. Jesus Christus was nie na sy dood in die hel nie.
Op watter grond kan ons sê dat Jesus Christus nie neergedaal het na die hel nie?
Daar is net een grond vir ons geloof. Daar is net een waarheid wat ons vertel en leer oor wat Christus na sy dood gedoen het – Die Heilige Skrif, God se Woord, die Bybel. Ons luister na drie dele in die Nuwe Testament.
Hierdie woorde van Jesus Christus is duidelik om te verstaan. Vir vanoggend se preek kan ons sê: Al Christus se woorde het net een boodskap: Sy gees is na Hy gesterf het, na sy Vader toe.
Op grond van Christus se eie woorde aan die kruis, is ons seker dat Hy, dat sy gees, na sy dood aan die kruis nie in die hel was nie, maar na sy Vader toe gegaan het. Op grond van Christus se eie woorde aan die kruis verstaan en glo ons die woorde “neergedaal het na die hel” soos die Kategismus die woorde in Sondag 16 verduidelik.
Waaroor gaan die woorde dan en hoe raak dit ons?
3. My swaarkry en aanvegtinge.
In hierdie stukkende lewe op aarde beleef gelowiges baie keer “die swaarste aanvegtinge” in die woorde van die Kategismus.
Ons kry van hierdie aanvegtinge in die Ou en die Nuwe Testament.
Die Ou Testament –
Ps.116:3 – Bande van die dood, doodsangs, benoudheid en bekommernis.
Ps.116:3 – Bande van die dood, angste van die doderyk, benoudheid en bekommernis.
Ps.116:6 – Hulpeloosheid en magteloosheid.
Ps.116:8 – Die dood, trane, struikeling.
Die Nuwe Testament
Ef.6:11 – Die listige aanslae van die duiwel.
Ef.6:12 – Ons stryd is teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug.
Hierdie aanvegtinge wat ons in die Kategismus bely is geestelike aanvegtinge. Die belydenis rus onder andere op Ef.6:11 “listige aanslae van die duiwel” en Ef.6:12 “ons stryd”. Die duiwel het net een doel voor oë. Hy wil my weg van God af kry. Hy wil my geloof swak maak, sodat ek uiteindelik nie meer glo nie en teen God draai. Hy het dit reggekry om Adam en Saul in die Ou Testament en en Judas Iskariot en Demas in die Nuwe Testament te verlei om teen God te draai.
Hy wil dieselfde met my ook doen. Hy wil my verlei om te sondig en weg van God te draai, sodat hy my saam met hom in die hel kan laat kom.
Om teen die duiwel te veg, is ‘n stryd om lewe en dood. Dit is wat die woord stryd beteken in Ef.6:12. Om teen sonde weerstand te bied, is weerstand ten bloed toe, ‘n stryd om lewe en dood (Hebr.12:4).
My lewe as Christengelowige is lewe met listige aanslae van die duiwel, ‘n stryd om lewe en dood. Hierdie stryd duur voort, tot die dag van my dood, want die duiwel hou nie op nie.
4. Christus se lyding van die hel.
Deel van Jesus Christus se verlossingswerk was om die lyding van die hel in my plek te verduur. Die Kategismus beskryf hierdie lyding in die volgende woorde: “…onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking”.
Hierdie lyding van Jesus Christus sien ons sy lewe deur.
Hierdie lyding was “…“…onuitspreeklike angs, smarte en verskrikking”. Dit was die lyding van die hel. Hierdie verskriklike lyding en dood was Jesus Christus se neerdaal na die hel.
5. Ek kan met troos en sekerheid leef.
Jesus Christus het die angs en smart en verskrikking van die hel gely, vir my. Hierdie lyding was onuitspreeklik. Daar is nie wooorde om die lyding wat Hy verduur het, te beskryf nie. en…Hy het dit vir my gedoen!
Hierdie waarheid behoort my verwonderd en verstom te laat. Jesus Christus, die Seun van die lewende God, het uit liefde vir my so swaar gely, dat dit vir Hom die lyding van die hel was!
Deur so swaar te ly, het Hy my ook van die lyding van die hel verlos. Ek het troos en sekerheid dat ek nooit die lyding van die hel sal hoef te verduur nie.
Deur so swaar vir my te ly het Jesus Christus my ook van die ergste benoudheid en pyn wat ek hier op aarde mag beleef verlos. Selfs al is die benoudheid en die pyn baie erg, kan ek getroos en seker wees, want ek sal nie die ergste benoudheid en pyn, soos van die hel beleef nie.
Selfs in die ergste lyding kan ek weet: My God sal my nooit verlaat nie. In my swaarkry en pyn, het ek Jesus Christus, my Verlosser wat in die hemel vir my bid. Hy tree vir my is, Hy pleit vir my by sy Vader.
Die Heilige Gees in my gee my sekerheid hiervan. Met die Heilige Gees in my, my Trooster en my Helper kan ek met troos en met sekerheid leef, selfs al gaan dit hoe moeilik.
Die woorde in die Twaalf Artikels “neergedaal het na die hel” of “die lyding van die hel ondergaan het” is baie belangrike en baie kosbare woorde vir elkeen van ons. Dit is woorde wat elkeen van ons se lewe diep raak. Dit is ook woorde wat ek elke Sondag met diep dankbaarheid kan bely.
ANTWOORD
Sing: Ps.118:3,8
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.118:10,14
Seën; God wat alle genade gee en julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen