Home Preke Die geloof waardeur ek gered word Ware geloof - Ek het die kennis en vertroue dat God se genade ook vir my is

Ware geloof - Ek het die kennis en vertroue dat God se genade ook vir my is

Datum: 2024-01-28
|
Reeks: Die geloof waardeur ek gered word
|
Kernverse: Ha.2:14-16, 32-37

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.31:17

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.32:1
Gebed

VERKONDIGING
Sang: Skb.1-1:1,3
Lees: Handelinge 2:14-42 en Sondag 7
Kernverse: Ha.2:14-16, 32-37
Tema: Ware geloof – Ek het die kennis en vertroue dat God se genade ook vir my is

Sang: Skb.1-2:1,2,3; Ps.31:17; Ps.32:1; Skb.1-1:1,3; Ps.119:7;39; Skb.1-3:1,2,3

Inleiding:

Sondag 7 van die Heidelbergse Kategismus is ‘n baie belangrike Sondag, vir elkeen van ons.

Die eerste rede is: Die Sondag is deel van ons geloofsbelydenis. Ons geloofsbelydenis is ons antwoord op wat God vir ons in die Bybel sê. Sondag 7 is een deel van ons antwoord op wat God in die Bybel sê. Ons antwoord is aan God én ons deel hierdie antwoord met mekaar en stem daarmee saam. Elkeen aanvaar hierdie antwoord as my antwoord aan God saam met al die ander gereformeerde gelowiges oor die wêreld.

Die tweede rede waarom die Sondag so belangrik is, is die eerste drie vrae. Elke vraag is ‘n lewensbelangrike vraag vir elke mens.

Word alle mense weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?
Wat is ‘n ware geloof?
Wat moet ‘n Christen glo?

Verlede Sondag het ons in Joh.1 gesien die wêreld het Jesus Christus nie aanvaar nie. Sy eie mense het Hom nie erken nie. Deur Christus, die Verlosser nie te aanvaar nie en ook nie te erken nie, het daardie mense verlore gebly. Ons het ook gesien dat daar mense was wat Jesus aangeneem het, dit is Hom met ‘n ware geloof as enigste Verlosser aanvaar  het. Hulle het kinders van God geword wat die ewige lewe ontvang het.

Dit is die geestelike pad van elke mens – Of nie ware geloof in Christus nie en gaan verlore of ware geloof in Christus en word salig.

Hierdie belangrike waarheid bring ons by vanoggend se vraag: Wat is ‘n ware geloof?

Tema: Ware geloof – Ek het kennis en vertroue van God se genade ook vir my

1. Vaste kennis – Alles in God se Woord is waar

Ek as gelowige Christen mag nie die Bybel so wil lees dat daar iewers staan: Ware geloof is die volgende en die volgende nie. Die Bybel is nie ‘n boek met lyste vrae en antwoorde nie. So sal ons God nie regtig leer ken nie. Ons sal ook nie in ons geloof groei nie.

Die Heilige Gees het die skrywers van die boeke van die Bybel gelei om die woorde wat van God af gekom het, te skryf soos hulle geskryf het. Elkeen het nodig om die Bybel deur die Heilige Gees te lees, te ondersoek, na te dink oor wat ek lees, God te leer ken en in my geloof in Hom te groei en te verdiep. Wanneer ek die Bybel deur die Heilige Gees lees, kom ek by die wonderlike waarhede uit van die vraag oor wat ware geloof is.

Kyk saam in Ha.2 na die eerste waarheid in die antwoord oor ware geloof –

“…’n vasstaande kennis waardeur ek alles wat God in sy Woord aan ons geopenbaar het vir waar aanvaar…”

Ons sien hierdie kennis dat alles in God se Woord waar is, by Petrus –

  • Jesus het voor sy hemelvaart gesê dat die Heilige Gees oor die apostels sal kom. Petrus het daardie woorde van God se Seun, sonder huiwering as waar aanvaar.
  • Petrus het die woorde van Joël, een van die profete van die Ou Testament geken. Toe die Heilige Gees uitgestort is, het Petrus geweet dat wat gebeur het, was wat die profeet Joël eeue vantevore gesê het (Joël 2:28-32).
  • In sy preek in die krag wat die Heilige Gees gegee het, oor Jesus Christus, het Petrus uit die Ou Testament aangehaal. Ha.2:25-28 kom uit Ps.16. Sy woorde in Ha.2:30 kom uit 2 Sam.7:12-13 en die woorde in Ha.2:34-35 kom uit Ps.110:1.

Petrus het deur die Heilige Gees uit ‘n geskiedenisboek, ‘n wysheidsboek en ‘n profetiese boek aangehaal, al die verskillende soorte boeke van die Ou Testament. Hy het Jesus se woorde aanvaar. Petrus het sonder huiwering die woorde van die Ou Testament en die woorde van Jesus wat later in die Nuwe Testament opgeneem is, as waar aanvaar.

Dit is die eerste deel van ‘n ware geloof: Ek aanvaar alles wat God in sy Woord sê, met ‘n vasstaande kennis – nie huiwering nie, nie twyfel nie, nie bevraagteken nie, maar ek aanvaar dat alles in die Bybel waar is.

Elke keer wanneer ek die Bybel lees, het ek nodig om alles wat ek lees as waar te aanvaar, my lewe deur. So leer ek God ken. So groei my ware geloof in en enigste ware God.

2. Vaste vertroue – Die Heilige Gees werk vertroue deur die evangelie

Die tweede waarheid oor wat ‘n ware geloof is, klink so: “…’n vaste vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie in my hart werk…”

Petrus het daardie dag in Jerusalem nie uit sy eie gepraat nie. Hy en ander gelowiges was in Jerusalem vir die pinksterfees bymekaar. Skielik het daar uit die hemel ‘n geluid soos ‘n geweldige stormwind gekom. Die stormwind het in die huis ingekom. Die hele huis waar die gelowiges was, het vol van die stormwind geword.

Nog iets buitengewoon het gebeur. Die gelowiges het iets soos vuur gesien. Die vuur se tonge het verdeel en op elkeen wat daar was, neergedaal.

Die derde buitengewone ding wat gebeur het, was dat almal deur die Heilige Gees oor die groot dade van God begin praat het. Alhoewel die gelowiges Jode uit Galilea was, het hulle oor God begin praat in die tale van al die verskillende mense wat destyds in Jerualem was. Die mense was onder andere uit Persië, Mesopotamië, Judea, Asië, Rome, daar was ook Arabiere en nog meer. Al die verskillende mense het het die groot dade van God in hulle eie taal gehoor.

Petrus het toe opgestaan en begin praat oor wat gebeur het. Hy het nie uit sy eie so gepraat nie. Hy het deur die Heilige Gees daardie pinksterdag gepraat. Petrus het verskillende dele uit die Ou Testament gebruik. Die hoofsaak waaroor hy gepraat het, kry ons in Ha.2:36: “Die hele Israel moet nou vas en seker weet: God het hierdie Jesus wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak!”

Petrus se vertroue om so van Christus te praat, het van die Heilige Gees gekom. Hy het vertroue gehad om oor die gekruisigde Jesus as die Christus, die Verlosser te praat. Die Heilige Gees het Petrus vertroue gegee deur die evangelie van die gekruisigde Jesus.

Die mense daar is deur Petrus se woorde, dit is die evangelie van Jesus Christus, “diep getref”. Hierdie woorde beteken dat hulle in Jesus, as hulle Verlosser geglo het.  Hulle het dadelik gevra wat hulle moes doen. Petrus het hulle vertel en geleer dat hulle hulle moes bekeer en laat doop op grond van hulle geloof in Jesus Christus wat vir hulle gesterf en opgestaan het. Hulle sondes sal vergewe word en hulle sal die Heilige Gees ontvang soos God beloof het.

Die mense het gedoen wat Petrus gesê het. Dit was die Heilige Gees wat deur die evangelie die oortuiging, die vertroue in daardie mense gewerk het, sodat hulle in Jesus Christus geglo het. Omtrent drieduisend mense is op daardie dag by die gelowiges gevoeg.

Dit is die tweede deel van ware geloof: Elke keer wanneer ek die Bybel lees of na die Bybel luister het ek nodig om deur die Gees met vertroue te lees en te luister en in my vertroue te groei. Vertroue is wanneer ek seker is, wanneer ek oortuig is.

3. Genade ook vir my – Deur Christus het ek vergifnis, geregtigheid en saligheid

Die kennis van God se Woord en die vertroue wat die Heilige Gees deur die evangelie van Jesus Christus gee, het ‘n adres, moet by iemand uitkom. Daardie adres is ek, my verstand en my hart! God wil dat sy genade in my verstand en my hart sal leef.

Die woorde in Sondag 7 hieroor klink so: “…dat God nie net aan ander nie, maar ook aan my uit loutere genade, slegs op grond van die verdienste van Christus, vergewing van sondes, ewige geregtigheid en saligheid geskenk het”.

Petrus het Jesus verloën. Hy was ‘n sondaar. Die mense wat die dag na hom geluister het, het Jesus gehaat en gekruisig. Hulle was sondaars.

Sondaars verdien nie God se genade nie. Maar… God het sy Seun juis vir sondaars gestuur – vir Petrus en vir elkeen van daardie drieduisend. Petrus het geglo, die meer as drieduisend het geglo dat God se genade, op grond van Jesus Christus wat gekruisig is en opgestaan het, ook vir hulle was. Die Heilige Gees was in hulle. Hulle het geweet en hulle was oortuig dat hulle vergifnis van sonde en geregtigheid, dit is vryspraak van oordeel en die ewige saligheid by God as ‘n geskenk van genade gekry het.

Die koms van die Heilige Gees daardie pinkster in Jerusalem, het beteken die Heilige Gees het na Jesus Christus se kerk toe gekom. Hy het na die gelowiges toe gekom, want gelowiges is Christus se kerk.

Die Gees het ook na my toe gekom. Die Heilige Gees gee my die kennis om alles in God se Woord as waar te aanvaar. Die Heilige Gees gee my die vertroue dat ek uit genade, net deur Christus se verdienste vergifnis, ewige vryspraak van oordeel en saligheid as genadegeskenk by God gekry het.

Ek is ‘n lidmaat van Christus se kerk, ja, maar ek is ‘n sondaar!

God het sy Seun juis vir sondaars gestuur!

Jesus het juis vir sondaars gesterf en opgestaan!

Dit beteken – GOD SE GENADE is OOK VIR MY!

Wanneer ek hierdie KENNIS en hierdie VERTROUE het, is ook ek een van dié sondaars wat  WARE GELOOF by God gekry het.

Ek is dan een van die sondaars wat deur my ware geloof in Christus, nie meer verlore gaan nie, maar EWIG SALIG sal wees in die lewe hierna.

ANTWOORD
Sang: Ps.119:7,39
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang:Skb.1-3:1,2,3

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here, sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen