Preekreeks se tema: DIE GELOOF WAARDEUR ONS GERED WORD
ONTMOETING
Votum: Ps.125:1,2 – Hulle wat op die Here vertrou, is soos die berg Sion wat nie wankel nie, wat vir altyd vasstaan. Jerusalem word omring deur berge; die Here omring sy volk van nou af tot in ewigheid.
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.150:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.71:9
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sing: Ps.32:3
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.5-2/7:1,2
Lees: Jesaja 52:13-53:12 (2020 vertaling) en Sondag 15 (Vr. en Antw. 37)
Kernverse: Jes.53:3-7
Tema: Christus het ons deur sy bittere lyding met God versoen
Sang: Ps.150:1,2,3; Ps.71:9; Ps.32:3; Skb.5-2:1,2; Skb.5-2:3,4; Skb.5-3:1,2
Inleiding:
Elkeen van ons het nodig om drie baie belangrike dinge te weet, te besef en te glo:
Die eerste – My sonde was so erg vir God dat ek die ewige dood verdien het.
Die tweede – Christus het die verskriklikste lyding vir my verduur en wreedste dood vir my . sondes gesterf.
Die derde – Ek is met my hele lewe dank aan Christus verskuldig vir wat Hy vir my gedoen het.
Indien ek hierdie drie dinge nie deur die Heilige Gees weet en besef en glo nie, sal ek nie ‘n verhouding met Christus kan hê nie. Sonder ‘n lewende verhouding met Christus is ek nog heeltemal verlore onder God se oordeel. Daarom is hierdie eerste vraag in Sondag 15 en ‘n hoofstuk soos Jesaja 53 oor Christus se lyding vir elkeen van ons so belangrik.
Die tema van vanoggend se preek is: Christus het ons deur sy bittere lyding met God versoen.
Tema: Christus het ons deur sy bittere lyding met God versoen
1. Christus het onbeskryflik swaar gely
Jesaja 53 is in die tweede deel van die profesie. Die tweede deel begin by hoofstuk 40 en gaan oor Juda, die verbondsvolk se verlossing. Ons kan sê die verbondsvolk in die Nuwe Testament is Christus se gelowiges, sy kerk. Jesaja se tweede deel gaan daarom ook oor almal wat aan God behoort se verlossing van sonde.
Van die vroegste hoofstukke in die Bybel is dit duidelik dat verlossing van sonde nie maklik gebeur nie. Hier is enkele verse hieroor:
Eks.12:7 – “Julle moet van die bloed smeer aan die sykante en die bokant van die deurkosyn van elke huis waar julle die lam gaan eet”.
Lev.16:15,16 – “Wanneer Aäron die bokram slag wat as sondeoffer vir die volk bedoel is, moet hy met die bloed agter die voorhangsel ingaan en daarmee doen soos hy gedoen het met die bul se bloed. Hy moet dit sprinkel op die deksel en voor die deksel. So moet hy die Allerheiligste reinig van die onreinhede van die Israeliete, van hulle oortredinge en al hulle sondes. Hy moet die tent van ontmoeting ook op dieselfde manier reinig, want dit staan by die volk met al hulle onreinheid”.
Verlossing en versoening met God sal net kom deur bloed, dit is deur te sterf! Die bloed van die paaslam en die offerdier het dit gewys. Die paaslam en die offerdier was elke keer die teken van verlossing van sonde en versoening met God. In Jes.53 het ons die profesie van wie die Verlosser is en hoe Hy ons verlos het.
Die Verlosser is die Dienskneg van die HERE, lees ons in Jes.52:13. Uit die Nuwe Testament weet ons dat die Dienskneg van die Here, Jesus Christus, God se Seun is.
Jes.53:3-7 beskryf die bittere lyding en wrede dood van God se Seun, ons Verlosser. Elkeen van die woorde in hierdie verse het presies so gebeur toe Jesus in ons plek gely en gesterf het.
Vs 3 – Hy is verag. In Mt.27:30 kry ons hierdie veragting. Die soldate van die goewerneur het op Jesus gespoeg, ‘n stok gevat en oor sy kop geslaan.
Vs 4 – Hy is gekasty en die Jode het Hom gesien as deur God geslaan en verneder. Die priesterhoofde en die Joodse Raad het uit ongeloof en haat doelbewus die wette van die Ou Testament misbruik en Jesus met die doodstraf veroordeel, omdat Hy gesê het dat Hy die Seun van God is (Mt.26:65,66). Nadat die Joodse Raad besluit het dat Jesus die doodstraf verdien het, het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan (Mt.26:67).
Vs 5 – Hy is deurboor en verbrysel. Hierdie woorde wys op die geweld wat Christus verduur het. Pontius Pilatus het Jesus onskuldig bevind (Joh.18:38), maar Hom laat gésel (Joh.19:1). Na die géseling wat Jesus se liggaam verwond en bebloed gelaat het, het die goewerneur se soldate Jesus se klere uitgetrek. Hulle het vir Hom ‘n pers mantel aangetrek en ‘n kroon van skerp dorings op sy kop gedruk (Mt.27:27-29). Aan die kruis op Golgota het spykers sy hande en voete deurboor (Kol.2:14). Om seker te maak Hy is dood het een soldaat ook ‘n spies in sy sy gedruk (Joh.19:34).
Vs 7 – Hy is mishandel. Die Jode het met hulle haat en beskuldigings en gewelddadige optrede Jesus geestelik en liggaamlik verskriklik mishandel.
In Jesaja 53 het ons Christrus se lyding veral aan die einde van sy lewe op aarde. In HK, Sondag 15, antw.37 bely ons dat Christus swaar gely het toe Hy na liggaam en siel, sy hele lewe op aarde God se toorn die sonde teen die hele menslike geslag gedra het.
Johannes het in sy evangelie van Jesus Christus oor hierdie lyding en swaarkry geskryf: “Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie” (Joh.1:11).
Hierdie lyding sy hele lewe op aarde sien ons in die Fariseërs en die res van die Jode se verwerping van Jesus. Die volgende verse vertel hoe sy eie mense Hom verwerp het:
Daar is nog baie meer verse oor Jesus se eie mense wat Hom eenvoudig verwerp het.
Christus se bittere lyding behoort elkeen van ons in die hart te gryp. Hy het hierdie onbeskryflike swaar in ons plek, in my plek verduur. Hy het Hom aan die ergste lyding onderwerp om so die heilige God se toorn teen my sonde te dra.
2. Deur Hom is ons met God versoen
God is die Allerheiligste!
Hy is volmaak heilig!
Hy verdra geen sonde vir geen oomblik nie!
Vir God is daar nie kleiner sondes wat nie so erg is nie. Hy tree net op een manier teen enige sonde op. Hy straf sonde met die ewige dood. Hy tree so erg teen sonde op, want sonde is ongehoorsaamheid aan Hom en gehoorsaamheid aan sy grootste vyand, Satan.
Sonde, al my sonde wys dat ek eerder na Satan as na God luister. Wanneer ek met my gedagte en woorde en dade sondig, kies ek die pad wat Satan vir my wys. Dit is altyd die pad weg van God af. Jesaja skryf dat ons almal soos kleinvee gedwaal het (Jes.53:6), weg van God af. Ons het elkeen ons eie koers ingeslaan, dit is die koers wat Satan ons wys.
Alle sonde maak van alle mense, ook van my, ‘n vyand van God. Deur my sonde veroorsaak ek onvrede met God en wag daar straf op my, die ewige dood!
Maar…CHRISTUS se bittere lyding HET ALLES VERANDER!
Terwyl ons nog vyande van God was, het Christus, God se Seun, baie swaar vir ons gely en vir ons gesterf. Deur sy lyding en sy sterwe het Christus die vyandskap tussen God en ons weggeneem. Jesaja skryf so hieroor: “Die straf wat ons vrede bewerk, was op Hom, en deur sy wonde is daar vir ons genesing” (Jes.53:5).
Christus het met sy lyding ons vyandskap met God in vrede met Hom verander. Deur Christus se onbeskryflike swaar lyding het ek wat in Hom glo, nou vrede by God. Hy is Vader en ek is kind en erfgenaam. Christus het deur sy lyding ‘n verhouding van vyandskap met God in ‘n iniige Vader-kindverhouding verander.
Hierdie wonderlike genade bely ons met die volgende woorde in die Kategismus so: “So het Hy met sy lyding as die einigste versoeningsoffer ons liggaam en siel van die ewige verdoemenis verlos en vir ons die genade van God, die geregtigheid en die ewige lewe verwerf”.
Hier is die wonderlike woorde: Versoeningsoffer, verlos, genade, geregtigheid en die ewige lewe.
Met die Heilige Gees in my, GLO EK NOU REEDS in Christus wat vir my gely en gesterf het.
Ek wat in Christus glo, HET NOU REEDS DIE EWIGE LEWE hier op aarde.
Ek het die SEKERHEIDdat ek na my lewe op aarde in die hemel EWIG BY CHRISTUS EN BY MY VADER sal leef.
In ‘n deurmekaar en onseker land en wêreld met baie swaar en seer en onseker, is
CHRISTUS MY LEWE!
Met die Heilige Gees in my leef ek met GELOOF, met SEKERHEID, met DANKBAARHEID en met LIEFDE in ‘n lewende verhouding met Christus wat met sy bittere lyding my met God versoen het1
ANTWOORD
Sing: Skb.5-2/7:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.5-3/8:1,2
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen