Home Preke Die geloof waardeur ek gered word Christus het gesterf dat ons kan lewe

Christus het gesterf dat ons kan lewe

Datum: 2024-06-09
|
Reeks: Die geloof waardeur ek gered word
|
Kernverse: Rom.8:3,4,10,11

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.118:1,7
Geloofsbelydenis: Nicea
Sing: Ps.71:9

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Sing: Ps.25:3,5
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.103:1,2
Lees: Romeine 8:1-17 en Sondag 16
Kernverse: Rom.8:3,4,10,11
Tema: Christus het gesterf dat ons kan lewe.
Sang: Ps.118:1,7; Ps.71:9; Ps.25:3,5; Ps.103:1,2; Ps.68:9; Ps.23:1,2,3

Inleiding:

Die reeks preke gaan oor die geloof waardeur ons gered word. Daar is net een geloof waardeur ons gered word. Daarom is hierdie reeks preke regtig baie belangrik. ‘n Deel van die geloof waardeur ons gered word, is geloof oor Christus se dood en ons eie dood.

Vanoggend is ons by Christus wat gesterf het en begrawe is.

Tema: Christus het gesterf dat ons kan lewe

1. God het geëis dat Sy Seun vir ons sondes moes sterf.

Die eerste vraag in Sondag 16 is: “Waarom was dit noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood verneder?”

Om ons te verlos moes Christus Homself diep verneder. Hy, die ewige Seun van God, van ewigheid af self God, het Homself verneder en mens geword. As mens het Hy Homself op aarde verneder en baie swaar gely. Uiteindelik het Hy Homself tot in die dood aan die kruis verneder.

Christus moes Homself tot in die dood verneder. In die woorde van die Kategismus: Dit was noodsaaklik dat Christus Hom tot in die dood verneder. Waarom was Christus se dood  noodsaaklik? Dit is die eerste vraag in Sondag 16.

Die antwoord op die vraag klink so: “Weens die geregtigheid en waarheid van God kon nie anders as deur die dood  van die Seun van God vir ons sondes betaal word nie”.

Wat is God se geregtigheid? Die antwoord kry ons in Gen.2:16,17“Die Here God het die mens beveel: ’Van al die bome in die tuin mag jy eet soos jy wil, maar van die boom van alle kennis mag jy nie eet nie. Die dag as jy daarvan eet, sterf jy”.

God se geregtigheid is sy eis om Hom te gehoorsaam en volgens sy wil te leef. Wanneer ‘n mens Hom gehoorsaam volgens sy wil, leef so iemand in die regte verhouding met God. Wanneer ‘n mens God nie gehoorsaam nie en nie volgens sy wil leef nie, breek jy die verhouding met God en sterf jy.

Die Here is die onveranderlike God. Sy geregtigheid, sy eis om gehoorsaam aan Hom te leef verander nie. Elke mens het saam met Adam en Eva gesondig. Elke mens moes volgens God se geregtigheid onder sy oordeel gesterf het. Dit is God se geregtigheid en sy waarheid: Die mens wat sondig, moet sterf. Alle mense het gesondig. Alle mense moet sterf.

Maar niemand kon aan hierdie geregtigheid van God voldoen nie. Ons het erfsonde waarvoor ons moet sterf. Ons het sonde wat ons self doen, waarvoor ons moet sterf. Elke mens het net een lewe om te sterf en baie sonde. Een dood is nie genoeg vir al ons sonde nie.

Uit genade het God ‘n wonderlike verlossingsplan gehad. Rom.8:3 vertel van hierdie verlossingsplan: God het besluit om “die sonde binne die mens se sondige bestaan te veroordeel deur sy eie Seun in dieselfde gestalte  as die sondige mens te stuur as offer vir die sonde”.

Sy Seun is ware God. Hy is tegelyk ook ware mens sonder enige sonde. Hy kon as volmaakte God en volmaakte mens al ons sonde op Hom neem. Hy moes en Hy kon en Hy het. Sy Vader het Hom daarvoor aarde toe gestuur.

Ons kan sê God het geëis dat sy Seun vir ons sondes moes sterf.

2. Christus het volmaak aan sy Vader se eis voldoen.

God het sy Seun gestuur as offer vir ons sonde. Offer is die taal van die Ou Testament. Die dier wat in die Ou Testament geoffer is, is doodgemaak. Die dier wat op die altaar geoffer is, het in die plek van die gelowige in Israel gesterf. Ons kan sê die offerdier was in die Ou Testament die plaasvervanger vir die gelowige wat die offer gebring het.

Die offerdier in die Ou Testament was net die skaduwee het Paulus in Kol.2:17 geskryf. Elke offer het gewys na die ware offer wat sou kom, Jesus Christus, God se Seun.

Christus het Homself geoffer. Sy hele lewe op aarde was ‘n offer. Uiteindelik het Christus Homself aan die kruis op Golgota geoffer en gesterf. Jesus se woorde net voor Hy gesterf het, was “Dit is volbring!” (Joh.19:30). Daardie woorde het beteken dat Hy aan sy Vader se geregtigheid voldoen het en die straf op sonde enduit gedra het.

Maar…Christus het nog meer gedoen.Hy het Homself ook in die graf geoffer. In Sondag 16 is daar ook ‘n vraag waarom Christus begrawe is. Die antwoord: Hy is begrawe “om daarmee te getuig dat Hy werklik gesterf het” (v&a 41).

Die dood is straf op sonde en oordeel oor sonde. Die dood en die graf gaan altyd saam. Die graf is daarom ook straf en oordeel. Jesus Christus het ook in die graf ingegaan om vir ons die oordeel en straf van die graf te dra.

3. Ons sterf om deur te kan gaan na die ewige lewe.

Dit is wonderlike genade om te kan lees en te hoor en vas en seker te weet dat Jesus Christus, God se Seun vir my gesterf het en die oordeel en straf vir al my sondes volmaak gedra het. Dit is ook wonderlike genade om te kan hoor en te kan lees en vas en seker te kan glo dat Christus ook vir my die straf en oordeel van die graf volmaak gedra het.

Dit alles is wonderlike genade wat vas en seker is in die lewe van elkeen wat in Jesus Christus wat vir ons sondes gesterf het en uit die dood opgestaan het.

Maar…die dood hang steeds soos ‘n donker wolk oor elke mens ons hele lewe deur.

In Sondag 16 is daar ook hieroor ‘n vraag: “As Christus dan vir ons gesterf het, waarom moet ons ook nog sterwe?” (v 42).

Hierdie is ‘n baie belangrike vraag met ‘n baie belangrike antwoord. Die dood is een van elke gelowige se grootste geestelike vyande. Baie gelowiges is baie bang vir die dood en leef in vrees vir die dood. Die vraag en die antwoord oor waarom ons ook nog moet sterf, is daarom ook nodig.

Die antwoord in die Kategismus klink so: “Ons dood is nie ‘n betaling vir ons sonde nie, maar slegs ‘n afsterwe daarvan  en ‘n deurgang na die ewige lewe”.

Ons wat in Jesus Christus wat vir ons gesterf en opgestaan het, glo, sterf nie meer vir ons sondes nie. Christus het reeds in ons plek aan die kruis vir al ons sonde gesterf.

Wanneer ons doodgaan, sterf ons die sonde af. Hoe werk dit? Ons liggame is nog nie nuut nie. Ons liggame dra nog swaar aan die gevolge van die sondeval in die Paradys. Ons liggame kan nog siek en oud en swak word en sterf. So ‘n liggaam kan nie in die ewige koninkryk van die hemel ingaan nie. Hieroor skryf Paulus deur die Heilige Gees in Rom.8:10 dat ons liggaam vir die dood bestem is as gevolg van die sonde.

My siel is wel verlos en nuut gemaak. Wanneer ek sterf gaan my siel weg van my liggaam af. My siel word dadelik in die hemel by Christus opgeneem. Daarom kan ons in die Heidelbergse Kategismus bely dat ons dood ‘n afsterwe van die sonde is. Ons kan ook sê dat ons siel hierdie sondige wêreld verlaat om ewig by Jesus Christus in die hemel te wees.

So is ons dood dan ‘n deurgang na die ewige lewe by Jesus Christus in die hemel. In die hemel as kinders en erfgename deel ons in sy heerlikheid. Daar by Christus is ons ewige oorwinnaars oor die sonde.

4. Ons kan nou met dankbaarheid vir Christus leef.

Die laaste vraag oor Christus se dood aan die kruis in hierdie Sondag is: “Watter nut verkry ons nog verder uit die offer en dood van Christus aan die kruis”.

Die antwoord het geweldige geesteliike waar dinge vir elkeen wat in Christus glo –

  • Deur die krag van die Heilige Gees, die Gees van Christus, word ons ou mens saam met Christus gekruisig, gedood en begrawe. Die Heilige Gees maak my so een met Christus, dat my ou mens wat in die mag van die sonde was, in werklikheid saam met Hom gesterf het.
  • Gevolglik kan ons sondige begeertes nie meer oor ons heers nie. Christus het met sy dood die mag van die sonde oor ons gebreek. Die oordeel en straf is gedra. Christus het my syne gemaak. Ek leef nou onder sy mag. Ek kan nou weerstand teen sonde bied. Ek het die geestelike krag om teen sonde te veg.
  • Ons wat in Christus glo, kan onsself as dankoffer aan Christus wy. Christus het Homself vir ons aan die kruis geoffer om ons te verlos. Ek kan nou my lewe aan Hom offer en vir Hom leef om dankie te sê dat dat Hy my ‘n verloste nuwe mens gemaak het.

Paulus het so in Rom.8 daaroor geskryf: “Nou kan ons aan die eise van die wet voldoen, ons wat ons lewe nie deur ons sondige natuur laat beheers nie, maar deur die Gees” (vs 4). In die krag van die Heilige Gees leef ek nou met ‘n gelowige hart vol dankbaarheid vir wat Christus vir my gedoen het. Ek wys my dankbaarheid en my liefde vir God deur sy wet, die Tien Gebooie te gehoorsaam. Ek leef deur die Heilige Gees met die sekerheid dat Christus vir my gesterf het, dat ek nou regtig gelowig kan lewe. Ek is ook seker dat my lewe as gelowige hier op aarde vir my sal uitloop op ‘n lewe saam met Christus in die hemel, wanneer Hy weer kom.

ANTWOORD
Sing: Ps.68:9
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.23:1,2,3
Seën: God wat alle genade gee en julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle ‘n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak.
Amen