ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Skb.1-2:1,2,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Ps.30:1,3
Lees: 1 Korintiërs 12:1-11 en Sondag 13
Kernverse: 1 Kor.12:3b-6
Tema: Ek lewe deur die Gees onder Jesus Christus ons Here
Sang: Skb.1-2:1,2,3; Skb.12-3:1,2; Ps.86:6; Ps.30:1,3; Skb.3-4:1,5; Ps.105:2,3
Inleiding:
Hierdie reeks preke uit die Kategismus gaan oor die geloof waardeur ons gered word. Dit is daarom ‘n baie belangrike reeks preke. Daar is net een geloof waardeur ons gered word. Dit is die geloof wat ons op grond van God se Heilige Skrif in die Twaalf Artikels bely. Sonder hierdie geloof, gaan ‘n mens verlore onder God se ewige oordeel in die hel.
Vanoggend is ons by die deel van ons geloof dat Jesus Christus, God se eniggebore Seun, ons Here is.
Die vraag in Sondag 13 is: “Waarom noem jy Hom ons Here?” Uit hierdie vraag kyk ons vanoggend na drie ander vrae onder die tema vir die preek: Ek lewe deur die Gees onder Jesus Christus ons Here.
Tema: Ek lewe deur die Gees onder Jesus Christus ons Here
1. Sê jy Christus is Here?
Een belangrike ding moet ons van die Heidelbergse Kategismus verstaan. Die Kategismus is die geloofsbelydenis van al die gereformeerde kerke oor die hele wêreld. Die Kategismus is alle gereformeeerde kerke se antwoord op God se Woord.
Maar…die Katgismus is ook elke enkele gereformeerde gelowige se eie geloofsbelydenis en my eie antwoord op God se Woord.
Die heel eerste vraag in die Kategismus klink so: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Die vraag is vir elke gereformeerde gelowige persoonlik.
Die vraag waarna ons vanoggend dieper kyk, is net so persoonlik: “Waarom noem jy Hom ons Here?”
Die eerste vraag vir vanoggend se preek is: Sê jy Christus is Here? Noem jy Hom ons Here?
In die eerste plek het hierdie vraag met ons geloofsbelydenis, die Twaalf Artikels te doen.
Ons bely ons geloof in elke erediens. Die meeste eredienste bely ons ons geloof in die woorde van die Twaalf Artikels. Wanneer ons in die ontmoetingdeel ons geloof in die woorde van die Twaalf Artikels bely, sê ons Christus is ons Here in die erediens. Wanneer ons in die res van die eredienste ons geloof in die woorde van die Geloofsbelydenis van Nicea bely, sê ons ook Christus is Here.
Indien jy jou geloof saam met die ander gelowiges in die erediens bely, al is dit in jou hart en in jou gedagtes, dan sê jy: Jesus Christus is ons Here!
Wat van jou lewe buite die erediens? Noem jy die Naam “Here” gedurende die week? Wanneer jy gedurende die week die Naam “Here” sê, praat jy dan van Jesus Christus? Indien jy Jesus Christus net tydens eredienste “ons Here” noem, is dit heeltemal te min.
Onthou, een deel van die enigste geloof waardeur ons gered word, is dat Jesus Christus ons Here is. Daarom kan ‘n gelowige Hom nie net in die erediens “Ons Here” noem en die res van die week of die maand glad nie. Christus is ons Here of Hy is nie. Indien Hy is, dan moet my mond Hom so noem, ook wanneer ek nie in die erediens my geloof bely nie, maar oor my geloof praat!
Daar is hieroor nog hierdie baie belangrike waarheid in 1 Kor.12:3 se tweede deel. Kom ons luister: “…en niemand kan sê:’Jesus is die Here” nie, behalwe deur die Heilige Gees.” Wanneer ek die Heilige Gees in my het, noem ek Jesus “Ons Here”. Met die Gees in my sal ek graag oor Jesus Christus ons Here praat en Hom so noem.
Andersom is ook waar. Wanneer ek oor die Here Jesus of ons Here Jesus Christus of Christus ons Here praat, met ‘n hart wat glo dat Hy ons Here is, kan ek weet dat ek die Heilige Gees in my het. Uit my eie sal ek Christus nie “ons Here” noem nie. Met die Heilige Gees in my, sal ek dit wel kan en wil doen. So het Paulus in 1 Kor.12:3 geskryf.
Hierdie behoort elkeen van ons te wys hoe belangrik dit is om te sê Christus is ons Here – binne die erediens en daarbuite!
2. Glo jy met jou hele hart Christus is Here?
Die tweede belangrike vraag oor die woorde van Sondag 13 is: Glo jy met jou hele hart Christus is die Here?
Twee dinge is hier baie belangrik.
Die eerste: Dit help nie ek sê in die erediens en daarbuite Christus is ons Here, maar ek glo dit nie.
Die tweede: Ek sal met ‘n gelowige hart Christus ons Here kan noem, net indien die Heilige Gees my die geloof gee dat Jesus Christus “ons Here” is!
Hieruit behoort dit vir elkeen van ons duidelik te wees dat ek sal moet weet wat die Naam “Here” beteken.
Christus se Naam “Here” het ‘n baie spesiale betekenis wat vir elkeen van ons baie belangrik is. Die Grieks vir Here is ‘kurios’. Die Naam Here beteken Eienaar. Hy is ons Eienaar, want Hy het vir ons aan die kruis gesterf. Hy het met ons sonde op Hom bitter swaar gely en die wreedste dood aan die kruis gesterf.
Deur so swaar vir ons te ly en vir ons te sterf het Hy ons losgekoop (1 Pet.1:18,19) ons duur gekoop (1 Kor.6:20). Hierdie kom uit die Ou Testament. Die gelowige in Israel was vasgevang in die mag van sonde en onder God se ewige oordeel. Die Here het bepaal dat so ‘n gelowige deur ‘n losprys te gee hom kon loskoop uit die mag van sonde en van die heilige God se oordeel. Die losprys was die dier wat die gelowige aan die Here geoffer het. Wanneer die dier gesterf het en die offer gebring is, was die losprys betaal en die gelowige losgekoop.
Belangrik: Die offer in die Ou Testament was die teken van die werklike Offer, die beloofde Verlosser wat sy lewe vir sondaars sou gee (Jes.53:5). Dit is teen hierdie agtergrond wat die Heilige Gees Paulus gelei het om van losgekoop en duur gekoop te skryf.
Jesus Christus het ‘n duur prys betaal vir ons. Die prys was sy lewe as eniggebore Seun van God aan die kruis. Deur sy lewe vir ons te gee, het Hy ons losgekoop uit alle mag wat die sonde en die duiwel oor ons gehad het. Hy het ons syne gemaak. Elkeen wat in Christus glo, behoort nou met liggaam en siel aan ons Verlosser en ons Here.
Jesus Christus ons Here het ook vir ons uit die dood opgestaan. Daardeur het Hy aan ons nuwe lewe gegee. Na sy opstanding het Hy na die hemel opgevaar en aan die regterhand van sy Vader gaan sit. Sy Vader regeer alles en almal deur sy Seun, die Hoof van die kerk en die Hoof van die heelal. Hy is Jesus Christus ons Here en ons leef oral en altyd onder Hom.
Glo jy dat Jesus Christus jou Here is en dat jy oral en altyd onder Hom leef? Die mens wat so glo, leef anders…leef nuut.
Die woorde bring ons by die derde kerngedagte onder die tema.
3. Leef jy gehoorsaam aan Christus ons Here?
Geloof dat Christus ons Here is, beteken gehoorsaamheid aan Hom. Indien ek deur die Heilige Gees glo dat Jesus Christus ons Here is, my Eienaar is, sal ek met my lewe moet wys dat ek in Hom glo.
Die Here Jesus se een broer, Jakobus, het deur die Heilige Gees ‘n hele brief van vyf hoofstukke geskryf dat ware geloof tot dade moet oorgaan en dat geloof sonder dade dood is. Hierdie is regtig baie belangrik.
In 1 Kor.12 leer die Heilige Gees ons hoe om Christus ons Here te gehoorsaam. Hierdie is so ‘n ryk en diep hoofstuk met soveel belangrike waarhede in dat ek vir die preek vanoggend net op die volgende wys –
Vs 4-6 – Gelowiges wat Christus gehoorsaam, leef eensgesind. Daar is net een Gees, een Here Christus en een God die Vader. Christus het vir die Korintiërs ‘n verskeidenheid van gawes gegee. Elkeen het sy eie gawe op ‘n eie manier gebruik met die gevolg dat die gelowiges in dieselfde gemeente verdeeld was en nie eensgesind nie. Die Drie-enige God is nie verdeel nie, daarom moet ‘n gemeente wat Christus gehoorsaam, eensgesind wees.
Vs 14-20 – Gelowiges in ‘n gemeente het mekaar nodig om aan Christus gehoorsaam te wees. Elke gelowige kan nie op elkeen se manier aan Christus gehoorsaam wil wees, asof Christus ons Here ons nie deur sy Heilige Gees aan mekaar gebind het nie. Soos lede van ‘n liggaam nie los van mekaar kan wees nie, kan gelowiges in ‘n gemeente ook nie los van mekaar leef nie.
Vs 26 – Gelowiges deel mekaar se lief en leed, deel mekaar se vreugdes en mekaar se swaarkry. Om Christus ons Here te kan gehoorsaam, moet die volgende waar wees onder gelowiges: “As een lid ly, ly al die lede saam; en as een lid geëer word, is al die lede saam bly”.
Vs 31 – Die beste gawes wat op die mooiste manier in die gemeente gebruik word; die hardste werk wat op die deeglikste en getrouste manier in die gemeente gedoen word, beteken niks, indien daar nie liefde onder gelowiges is nie. Daarom eindig hierdie hoofstuk met woorde wat die Heilige Gees laat neerskryf het: “Lê julle toe op die beste genadegawes. Nou wys ek julle wat nog die allerbeste is” (1 Kor.12:31). Die volgende hoofstuk, 1 Kor.13 gaan dan oor die allerbeste, dit is liefde onder gelowiges in ‘n gemeente wat aan Christus ons Here gehoorsaam leef.
‘n Slotwoord: Hier is die drie vrae:
Elkeen van ons staan voor hierdie vrae. Christus ons Here wil van elkeen van ons ‘n antwoord hê. Die antwoorde op hierdie vrae klink of ‘n mens net elke keer “ja” hoef te sê, maar dit is nie ‘n geval net van woorde nie. My lewe volgens 1 Kor.12 sal wys of ek in Christus ons Here glo.
ANTWOORD
Sing: Skb.3-4:1,5
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Ps.105:2,3
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God die Vader en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen