Home Preke Die geloof waardeur ek gered word Ek word salig deur ware geloof in Christus

Ek word salig deur ware geloof in Christus

Datum: 2024-01-21
|
Reeks: Die geloof waardeur ek gered word
|
Kernverse: Joh.1:9-13

ONTMOETING

Votum: Ps.124:8
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees
Lof aan God: Ps.105:1,2
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sang: Ps.71:9

VEROOTMODIGING

Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Skb.9-3:1,2
Gebed

VERKONDIGING

Sang: Skb.12-2:1,4
Lees: Johannes 1:1-18 en Sondag 7 (vr. en antw.20)
Kernverse: Joh.1:9-13
Tema: Ek word salig deur ware geloof in Christus

Sang: Ps.105:1,2; Ps.71:9; Skb.9-3:1,2; Skb.12-2:1,4; Ps.130:3,4; Ps.98:1,2

Inleiding:

Vanoggend begin ‘n reeks preke uit die Here se Woord oor die geloof waardeur ek gered word. Ons gaan ook kyk na ons geloofsbelydenis, die Heidelbergse Kategismus oor ons geloof. Die reeks begin met Johannes 1 en Sondag 7 van die Kategismus.

Die Here het dit goed gedink dat ons ‘n nuwe jaar 2024 sal hê. Dit is belangrik dat elkeen van ons sal besef en sal weet dat so ‘n nuwe jaar ons almal nader bring na die dag wanneer die Here ons laaste dag op aarde sal aanbreek en ook nader na die dag dat Jesus Christus weer sal kom.

Hierdie is meer as genoeg rede waarom dit aan die begin van ‘n nuwe jaar vir elkeen van ons baie belangrik om ook aan my geloof, my redding en my saligheid te dink.

Tema: Ek word salig deur ware geloof in Christus

1. Elke mens het redding nodig om salig te word

Die eerste vraag in Sondag 7 is: “Word al die mense dan weer deur Christus salig soos hulle deur Adam verlore gegaan het?”

Dit is baie belangrik dat ons sal weet dat die Heidelbergse Kategismus deel is van elke gereformeerde gelowige oor die aarde se antwoord op God se Woord. Ons antwoord op wat die Here in sy Woord sê, is ons geloofsbelydenis. Die Kategismus is deel van ons belydenis.

Die Here wil van sy gelowiges, sy kerk ‘n belydenis hê. Dink maar aan die dag in die omgewing van Sesarea-Filippi toe Jesus vir sy dissipels gevra het: “Wie, sê julle, is Ek?” (Mt.16:15). Dit was nie net ‘n vraag aan die twaalf dissipels nie. Die dissipels was die begin van die kerk van die Nuwe Testament. Jesus het dit vir sy kerk gevra.

Waar kry ons dit in die Bybel dat alle mense deur Adam verlore gegaan het? Daar is baie dele. Een deel is Rom.5:12“Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het.”

Met hierdie woorde in Rom.5:12 en daar is meer sulke dele in die Bybel, sê die lewende God dat elke mens, dit is ook elkeen van ons, redding nodig het. Niemand is vanself salig nie. Elke mens het redding nodig om salig te word.

Hier aan die begin van die jaar sal dit goed wees om te vra: Dink ek gereeld genoeg aan my saligheid?

2. Christus het gekom om sondaars salig te maak

Die eerste deel van die eerste vraag in Sondag 7 is: “Word alle mense dan weer deur Christus salig…?”

Dat ‘n mens deur Christus salig word, wat ons in die Kategismus bely, kry ons in Joh.1 in ‘n hele paar verse.

Net eers die volgende: Die Naam Christus wys op Jesus as Verlosser wat deur sy Vader gestuur is.

Een van die verse dat Christus ons salig maak is Joh.1:9“Die ware lig wat elke mens verlig, was aan die kom na die wêreld toe.”  Hierdie is woorde waarmee God sê dat Hy sy Seun, Jesus Christus aarde toe gestuur het om sondaars salig te maak.

God het sy Seun op ‘n almatige manier na die aarde toe laat kom. Jesus Christus, Sy Seun, is ontvang van die Heilige Gees en gebore uit die maagd Maria. Hierdie almagtige wonder is ver bo ons verstand en vir ons as mense onmoontlik. By God is niks onmoontlik nie. Hy het sy Seun mens laat word.

Jesus is die Verlosser, die Christus wat gekom het om sondaars wat verlore was, te red en salig te maak. Hy het gekom om ons van God se besluit oor ons verlossing te vertel. Hy het gekom om ons te verlos, deur in ons plek die straf op ons sonde te dra en te sterf. Hy het verder gekom om vir ons uit die dood op te staan dat ons kan lewe. Hy het ook gekom om almal wat Hy verlos het, ewig te regeer en te beskerm.

Net Christus wat gestrf het en opgestaan het, is ons Redder.

Net Jesus Christus maak ons salig.

Die baie bealngrike waarheid waaraan ek gedurig sal moet vashou, is: Is ek vas en seker genoeg dat net Christus en net Hy alleen my red en salig maak?

Of…is daar iewers in my die idee dat ek gered en salig moet wees, omdat ek nie so ‘n slegte lewe soos baie ander leef nie en omdat ek aan ‘n kerk behoort en gereeld kerk toe gaan?

Hierdie is ‘n baie belangrike vraag om te beantwoord, want luister wat skryf Johannes in sy Evangelie oor Jesus Christus:

Vs 10“Hy was in die wêreld – die wêreld het deur Hom tot stand gekom – en tog het die wêreld Hom nie erken nie.”

Vs 11“Hy het na sy eiendom toe gekom, en tog het sy eie mense Hom nie aangeneem nie.”

3. Baie aanvaar Christus nie en gaan verlore

Die antwoord in die Kategismus op die vraag of alle mense weer salig word, is “Nee”. Ons kry hierdie ongelukkige waarheid in Joh.1

Die wêreld aanvaar Christus nie – Ons weet dat Pontius Pilatus en die Romeinse soldate mense van die wêreld was. Hulle het Jesus Christus nie erken nie. Hulle het nie erken dat hulle verlore was nie en daarom het hulle Christus ook nie as Verlosser erken nie. Hulle het gekies om sondige heidene te bly.

In 2024 in ons land is daar ook mense van die wêreld wat Christus nie erken nie. Al die Moslems, die Jehova se getuies, die ateïste en almal wat nie ware Christene is nie, erken Christus nie as Verlosser nie. Hulle is almal inwoners van ons land wat mense van die wêreld is. Hulle almal kies om sonder Christus te wees. Hulle aanvaar nie dat Hy die enigste Redder

is en dat Hy die Enigste Persoon is wat verlore sondaars salig maak nie.

Sy eie mense aanvaar Christus nie – Die Jode, die verbondsvolk was die kerk van die Ou Testament. Jesus Christus het eerste na hulle toe gekom om hulle te verlos. Maar…die godsdienstige leiers van die Jode en baie Jode saam met hulle, het Jesus nie as hulle Verlosser aanvaar nie. Hulle het nie erken dat hulle sonder Christus verlore was nie. Hulle het Hom daarom nie as Verlosser erken en aangeneem nie.

Hulle het gekies om op hulle eie manier salig te wil word. Hulle manier was om die wette van die Ou Testament na te kom en ‘n goeie lewe in hulle eie oë te leef. Hulle het gedink en geglo hulle goeie lewe volgens die wette van die Ou Testament en hulle afkoms as nageslag van Abraham dra genoeg by om salig te kan word.

Wie is Christus se eie mense vandag?

Is daar vandag steeds van sy eie mense wat Hom nie aanneem nie?

Die lidmaat in ‘n Christelike gemeente wat dink en glo dat ‘n goeie lewe, ‘n goeie voorgeslag en om ‘n lidmaat van ‘n gemeente te wees genoeg is, is een van Christus se eie mense wat Hom nie erken nie.

Ook, die lidmaat of die leraar wat nie erken dat Christus uit die maagd Maria gebore is nie en nie erken dat regtig Hy uit die dood opgestaan het nie, is een van Christus se eie mense wat Hom nie erken nie.

Elkeen van ons staan voor die vraag: Erken en aanvaar ek met my hele hart Christus en net Hom as my enigste Verlosser?

4. Ek het ware geloof in Christus nodig om gered te kan word

Behalwe die wêreld en sy eie mense wat Christus nie erken en aanvaar het nie, was daar ‘n derde groep. Johannes het so oor hierdie groep mense geskryf: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word” (vs 12).

Daar was destyds Jode wat Christus aangeneem het, dit is in Hom as die Verlosser wat God gestuur het, geglo het. Petrus se getuienis hiervan kry ons in Mt.16:16.

In die Kategismus bely ons in die antwoord op die vraag oor wie salig word verder so: “…slegs die wat deur ‘n ware geloof in Hom ingelyf word en al sy weldade aanneem.

Die sondige mens wat ware geloof in Christus het, is gered. Elkeen met ware geloof in Christus, is nie meer verlore nie, maar is salig.

Daar is soveel vals gelowe in die wêreld en in ons land. Een vals geloof is dat enige geloof in enige god sal maak dat ‘n mens se lewe goed eindig. Dit is glad nie waar nie.

Net deur ware geloof in Christus, God se Seun, ons Verlosser, ons enigste Verlosser word ek gered. Net deur hierdie ware geloof is ek nie meer verlore nie, maar is ek salig.

Die vraag is: Besef elkeen van hoe kosbaar ware geloof in Christus is?

5. Ware geloof kry ek net by God

Die woord vir “Kinders” wat Johannes in vs 12 gebruik wys op nuwe geboorte, nuwe lewe. God gee nuwe lewe deur sy Heilig Gees.

In die Katgismus bely ons dat ‘n mens deur ware geloof in Christus ingelyf word. God lyf my in Christus in deur ‘n ware geloof, dit is Hy maak my deur my geloof een met Christus. Hy doen hierdie deur sy Heilige Gees.

Wanneer ek geloof in Christus by die Heilige Gees kry, neem ek Hom as my Verlosser aan.

Wanneer ek met die Heilige Gees in my, Christus aanneem, dit is in Hom glo, is ek ‘n kind van God.

In vs 13 het Johannes deur die Heilige Gees geskryf dat niemand salig word deur enigiets wat ‘n mens doen nie: “Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar God is hulle Vader.”

Tot drie keer, elke keer net in ander woorde, het Johannes geskryf dat niemand gered word en salig word deur iets wat ‘n mens doen nie. Redding, saligheid en geloof waardeur dit deel van my lewe word, kry ek net by God en net uit genade.

Wanneer ek Johannes 1 en Sondag 7 se eerste vraag en antwoord lees, besef ek  daar is baie om oor te dink. Daar is baie om voor te bid. Daar is baie waarvoor ek vir God dankie kan sê.

Op hierdie manier kan ek hierdie hele jaar met my geloof, my redding en my saligheid besig wees en nader aan Christus my Verlosser en God my Vader groei.

ANTWOORD

Sang: Ps.130:3,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sang: Ps.98:1,2

Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee
Amen