Home Preke Die geloof waardeur ek gered word Jesus Christus ons Verlosser, kom weer as Regter om te oordeel

Jesus Christus ons Verlosser, kom weer as Regter om te oordeel

Datum: 2024-07-28
|
Reeks: Die geloof waardeur ek gered word
|
Kernverse: Mt.25:19,21,23,30

ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom; en van die sewe Geeste voor sy troon; en van Jesus Christus, die getroue Getuie, die Eerste wat uit die dood opgestaan het, en die Heerser oor die konings van die aarde.
Lof aan God: Ps.145:1,2,3,4
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Skb.12-3:1,2

VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Levitikus 19:1-18
Antwoord op die Wet: Ps.25:3
Gebed

VERKONDIGING
Sing: Ps.25:1,6
Lees: Matteus 25:14-30 en Sondag 19 (V&A 52)
Kernverse: Mt.25:19,21,23,30
Tema: Jesus Christus ons Verlosser, kom weer as Regter om te oordeel.
Sang: Ps.145:1,2,3,4; Skb.12-3:1,2; Ps.25:3; Ps.25:1,6; Skb.15-3:1,4; Skb.15-7:1,5

Inleiding:

Vanoggend is ons by nog ‘n baie belangrike deel van die geloof waardeur ons gered word: Ons is by die geweldige gebeurtenis van die wederkoms van Jesus Christus ons Verlosser.

Tema: Jesus Christus ons Verlosser, kom weer om as Regter te oordeel.

1. Die Regter wat weer kom is die Verlosser.

Die Heidelbergse Kategismus is deel van ons geloofsbelydenis. Ons geloofsbelydenis is ons antwoord op die Here se Woord. Ons lees God se Woord. Hy wil ‘n antwoord van ons hê. Ons antwoord is dat ons glo wat die Here vir ons in sy Woord sê. Wat ons glo op grond van God se Woord het ons kerke in 1563 in die Heidelbergse Kategismus neergeskryf, sodat gelowiges met dieselfde geloof vir geslagte en eeue heen dieselfde kan glo. Dit is baie belangrik dat ware gelowiges dieselfde sal glo, want daar is net een geloof waardeur ons gered word.

Al hierdie beteken alles wat in die Kategismus staan, dit is alles wat ons bely, kom uit die Bybel. Die eerste deel van die antwoord oor hoe die wederkoms van Christus ons troos, kom uit die Bybel, God se Woord.

Die eerste deel klink so: “Dat ek in alle droefheid en vervolging dieselfde Persoon met gespanne verwagting as Regter uit die hemel verwag wat Hom tevore in my plek voor die regbank van God gestel en alle vervloeking van my weggeneem het.”

Die wederkoms van Jesus Christus gaan oor die hemelse Regter wat weer kom. Jesus het dikwels gelykenisse gebruik om van sy wederkoms te vertel en die mense by Hom te leer. Sy woorde is ook vir ons bedoel.

Een van die gelykenisse kry ons in Mt.25:14-30. In die gelykenis kry ons ‘n man wat op reis wou gaan. Voor hy weg is, het hy sy besittings aan sy slawe toevertrou, volgens elkeen se vermoë. Die een slaaf het vyf goue muntstukke gekry, die volgende slaaf twee munstukke en die derde slaaf een. Elke goue muntstuk was destyds baie werd. In vandag se tyd sommer baie geld. Die munstuk is ‘n talent genoem en het omtrent 59 kiliogram geweeg. Vir vanoggend se preek is die waarde van die muntstukke nie die belangrike nie. Wat met die muntstukke gedoen is, is die belangrike.

Na ‘n lang tyd het die eienaar teruggekom en van sy slawe rekenskap gevra (Mt.25:19). In die gelykenis wys die eienaar op Jesus Christus. Nie alles in ‘n gelykenis het altyd ‘n dieper betekenis nie. Mens moet daarom versigtig met ‘n gelykenis omgaan. In hierdie gelykenis kan ons wel seker wees dat die man wat slawe besit het en op reis gegaan het, na Jesus Christus wys. Die man se weggaan en terugkoms wys op Christus se hemelvaart en sy wederkoms.

Met sy wederkoms, kom Christus as Hemelregter om rekenskap te vra, om te oordeel. Elke mens sal voor die Here Jesus verskyn.

Vir almal wat nie in Hom geglo het nie, sal dit die verskriklikste oordeelsdag wees.

Maar…vir almal wat in Christus as ons enigste Verlosser geglo het, sal daardie dag die wonderlikste verlossingsdag wees. Die Hemelregter wat sal oordeel, is Jesus Christus wat voorheen al ons sonde op Hom geneem het, die onreg van ‘n wêreldse regter vir ons verduur het. Pontius Pilatus het Christus onskuldig bevind maar tog oorgegee om gekruisig te word en vir ons sondes te sterf.  Hy, Jesus Christus, wat uit liefde vir ons gesterf en uit liefde vir ons opgestaan het, Hy kom as Regter.

Dit is vir ons ‘n wonderlike TROOS!

2. Dit is lewensbelangrik om gereed te wees.

Die eienaar het sy besittings aan sy slawe toevertrou om sy besittings vir hom te bestuur. Dit was baie besittings wat goed en reg vir die eienaar bestuur moes word. Jesus leer ons in sy gelykenis dat ons gereed moet wees vir sy koms. Die gelykenis van die eienaar en die slawe is een plek in die Bybel waar Hy ons so leer. Daar is ook ander kere dat Jesus geleer en selfs gewaarsku het dat ons gereed moet wees vir wanneer Hy weer kom.

In die gelykenis het die slaaf met vyf muntstukke dadelik daarmee begin werk. Hy het ‘n wins gemaak van nog vyf muntstukke. Die slaaf met twee muntstukke het ook met die goud gewerk. Hy het ‘n wins gemaak van nog twee munstukke.

Hierdie twee slawe het gedoen wat die eienaar verwag het. Hulle het die werk gedoen wat hy gevra het. Hulle het verwag dat hy sou terugkom en met die oog op sy terugkoms gelewe. Dit het nie saakgemaak wanneer hy sou terugkom nie. Hulle was elke dag gereed vir wanneer hy weer sou kom. Toe hy gekom het, was hulle gereed.

In die Kategismus staan die woorde dat ons as gelowiges Jesus Christus “met gespanne afwagting as Regter uit die hemel verwag.”

In die Bybel leer ons op verskillende plekke hoe om Jesus Christus te verwag. Ons leef  gereed vir Christus se wederkoms wanneer ons ons lewe op Hom rig waar Hy aan die regterhand van sy Vader is (Kol.3:1). Ons leef gereed vir Christus wanneer ons die sonde aflê en daarteen weerstand bied (Hebr.12:1). Ons leef gereed vir Christus wanneer ons ons nie deur ons sondige natuur nie, maar deur die Gees laat beheers (Gal.5:16).

Op elkeen wat naby Christus leef en gereed is vir sy wederkoms, wag ‘n heerlike toekoms.

Die slaaf met die een muntstuk het die muntstuk in ‘n gat in die grond wat hy gegrawe het, weggesteek. Die eienaar het dit nie gevra het nie. Hy het nie vir sy eienaar gewerk en die lewe geleef wat sy eienaar verwag het nie. Met die terugkoms van die eienaar was die slaaf nie gereed vir die rekenskap wat die eienaar verwag het nie. In sy antwoord aan die eienaar het die slaaf gewys dat hy nie die regte verhouding met sy eienaar gehad het nie. Hy het geweet wat sy eienaar van hom verwag het. Hy het al die geleentheid gehad om die lewe te leef wat sy eienaar verwag het. Hy het verkies om teen sy eienaar se wil in, sy eie pad te gaan met die  eienaar se besittings.

Met sy slegte en verkeerde gesindheid teenoor sy eienaar, het die slaaf homself baie kwaad en sleg op die hals gehaal.

3. Die Regter sal al sy vyande in die verdoemenis werp.

Die eienaar het in die gelykenis rekenskap gevra. Die slaaf wat die een goue muntstuk gekry het, het geantwoord. Sy antwoord het getuig van ‘n slegte verhouding met sy eienaar. Die belangrikste deel van die eienaar se antwoord aan dié slaaf klink so: “En gooi die nuttelose slaaf uit in die diepste duisternis daarbuite. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners” (Mt.25:30).

In die Kategismus klink die woorde so: “Verder dat Hy al sy en my vynade in die ewige duisternis sal werp.”

Jesus Christus, die Hemelregter kom om te oordeel. Hier in die gelykenis leer Jesus Christus ons van die ewige oordeel in die hel. Hy, die Seun van God, ons Verlosser bepaal elke mens se ewige toekoms. Wie nie in Hom glo en die geloof in Hom uitleef nie, sal in die diepste duisternis gegooi word. Hierdie is ‘n werklikheid wat sal gebeur.

Ons leef in ‘n tyd waar soveel huiwerig is oor die hel of God se ewige oordeel in die hel selfs ontken. Christus se Vader het Hom gestuur om ons oor God se ewige verlossingsplan te leer. Hierdie verlossingsplan gaan oor twee groepe mense. Al Christus se vyande en ook my vyande, sal Hy in die hel gooi. Daar sal al die veroordeeldes in ellende onder God se verskriklike oordeel leef. Dit is die een groep mense.

4. Hy sal almal wat aan Hom behoort, by Hom neem.

Die slaaf met die vyf muntstukke en die slaaf met die twee het die regte gesindheid teenoor hulle eienaar gehad en geleef soos hy gevra het.

By sy terugkoms het die eienaar die volgende vir die twee slawe gesê: “Mooi so! Jy is ‘n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!” (Mt.25:21,23).

In die Kategismus klink hierdie woorde so: “…maar my, saam met al die uitverkorenes in die hemelse blydskap en heerlikheid sal neem.”

Die belangrikste en mooiste woorde wat ‘n gelowige kan hoor, is “Kom in en deel in my vreugde”. Dit is Jesus Christus se woorde wanneer Hy weer kom, vir elkeen wat in Hom geglo het en die geloof in Hom geleef het. Dit is die tweede groep mense.

Met Jesus Christus se wederkoms sal ons voor Hom, die Hemelregter staan. Al ons sondes sal deur sy liggaam en bloed heeltemal bedek wees. Ons wat op aarde in Hom geglo het, is  met sy wederkoms reeds verlos, het reeds vergifnis gekry en is reeds van straf en oordeel vrygespreek.

Die Hemelregter, ons Verlosser sal ons na Hom toe roep en ons by Hom neem. Ons sal ewig in die huis van ons Vader wees, waar die Here Jesus vir ons plek gereedgemaak het.

Die Heilige Gees gee ons die geloofsekerheid dat Christus se wederkoms vir ons hierdie wonderlike genade en wonderlike troos inhou.

Deur die Gees kan ons met gelowige harte wag vir die dag dat Jesus Christus ons Verlosser weer kom.

ANTWOORD
Sing: Skb.15-3:1,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.15-7:1,5
Seën: Die genade van ons Here Jesus Christus, die liefde van God en die gemeenskap van die Heilige Gees sal met julle almal wees.
Amen