ONTMOETING
Votum: Ps.121:1,2
Seën: Genade, barmhartigheid en vrede vir julle van God ons Vader en Jesus Christus ons Here deur die werk van die Heilige Gees.
Lof aan God: Ps.138:1,3
Geloofsbelydenis: Twaalf Artikels
Sing: Ps.9:1,7,10
VEROOTMOEDIGING
Die Wet: Eksodus 20/Sondag 34
Antwoord op die Wet: Ps.86:6
Gebed
VERKONDIGING
Sing: Skb.3-1:2,3
Lees: Lukas 4:14-21; Hebreërs 10:11-18; Hebreërs 1:1-9 en Sondag 12
Kernverse: Lk.4:18-21; Hebr.10:12,14; Hebr.1:3,4
Tema: Ons glo in Christus en bely Hom as die Gesalfde van God die Vader
Sang: Ps.138:1,3; Ps.9:1,7,10; Ps.86:6; Skb.3-1:2,3; Skb.5-2:1,4; Skb.5-3:1,2
Inleiding:
Om Christus te ken, is lewensbelangrik vir elke mens. Die mens wat Christus nie ken nie, gaan verlore. Die mens wat Hom ken, het die ewige lewe en het sekerheid van ewige saligheid in die hemel by Christus.
‘n Mens ken Christus, wanneer jy sy Name en die betekenis van elke Naam ken. Daarmee is ons nou in hierdie reeks oor die geloof waardeur ons gered word, besig. Om hierdie rede is hierdie reeks preke baie belangrik. Die vorige Sondag het ons ons in die Naam Jesus verdiep. Vanoggend is ons by die Naam Christus.
Ken is in die Bybel ‘n baie belangrike woord. Om Christus te ken, is meer as om van Hom te weet. Ek ken Christus, wanneer ek Hom met ‘n gelowige hart ken en ‘n verhouding van geloof en liefde met Hom as my enigste Verlosser het.
Tema: Ons glo in Christus en bely Hom as die Gesalfde van God die Vader
1. Christus is God die Vader se Gesalfde
God die Vader het in die ewigheid die baie belangrike besluit geneem dat sy Seun, die Verlosser sal wees wat verlore sondaars sal verlos. Sy Seun sal die Verlosser wees van almal wat God gekies het om aan Hom te behoort en sy kinders en erfgename van die ewige lewe te wees.
In die ewigheid het God sy Seun bestem om ons Verlosser te wees. Hy het sy Seun aangestel en Hom gestuur om die Verlosser te wees. Al hierdie het in die ewigheid gebeur. Een van die dele in die Bybel waar ons hiervan lees, is Ef.1:3-5 – nog voor die skepping het God sy Seun bestem om ons Verlosser te wees en het Hy ons uitverkies om deur Christus se verlossing sy kinders te wees.
Die bestem, aanwys en stuur van sy Seun om ons Verlosser te wees, noem ons Christus se salwing. Hy is God die Vader se Gesalfde.
Waarom noem ons Christus God die Vader se Gesalfde? Ons doen dit omdat God in sy Woord aan ons bekend gemaak het dat Hy iemand wat ‘n baie spesiale werk vir Hom moet doen, deur salwing aanwys. Die salwing wys dat God die persoon bestem het, aangewys het en gestuur het om belangrike werk vir Hom te doen.
Die bekendste voorbeeld hiervan is Dawid se salwing (1 Sam.16). Dawid is as koning gesalf, omdat God hom bestem het, aangewys het en gestuur het om die verbondsvolk se koning te wees.
God se Seun moes baie spesiale werk, verlossing van sondaars, vir sy Vader kom doen. Daarom is Christus sy Vader se Gesalfde. Die dag met Jesus se doop, het sy Vader Hom deur die Heilige Gees openlik aangewys as Verlosser (Mt.3:16,17). Christus is nie met olie gesalf soos Dawid een ander in die Ou Testament nie. Hy is deur die Heilige Gees gesalf.
Dit het gebeur, sodat ons as mense kan weet, Christus is regtig die Verlosser wat God vir ons gestuur het. Hy is regtig bestem en aangestel en gestuur. Hy is regtig God se Gesalfde. God het vir ons die dag met sy Seun se doop gewys dat Hy sy Seun in die ewigheid as Verlosser aangewys is.
Dit is nodig dat ons ons Verlosser ken as Christus, die Gesalfde van God die Vader. Dit is nodig dat ons in Christus glo.
2. Hy is ons hoogste Profeet en Leraar
Christus is gesalf, aangewys, bestem en gestuur om ons hoogste Profeet en Leraar te wees.
Dat Christus gesalf is om ons hoogste Profeet en Leraar te wees, kry ons byvoorbeeld in Lk.4:14-21. Jesus het en sabbat sinagoge toe gegaan. Daar het Hy aangedui dat Hy iets wil sê, soos die manier van doen destyds was. Een van die persone wat diens gedoen het , het vir Jesus die boekrol van Jesaja gegee. Jesus het uit Jesaja 61 oor die salwing van die Verlosser gelees. Nadat Hy klaar gelees het, het Hy vir die Jode daar gesê dat die salwing van die Verlosser waarvan Jesaja geskryf het, vervul is. Daardie profesie het waar geword in Jesus. Hy is die Christus, die Gesalfde van God.
Jesus Christus het self vertel en geleer dat Hy gesalf is om die evangelie te verkondig (Lk.4:18).
Ons geloofsbelydenis, die Kategismus waarmee ons tans besig is, rus volledig op die Bybel. Alles in die Kategismus kom uit God se Woord. Daarom bely ons dat Christus ons hoogste Profeet en Leraar is “wat aan ons die verborge raad en wil van God aangaande ons verlossing ten volle bekend gemaak het”.
Christus weet alles van se Vader se verborge raad en wil, van alles wat die Vader in die ewigheid oor ons verlossing besluit het. Hy het ons kom leer, ons kom onderrig oor God se verlossingsplan vir ons. By Christus hoor en leer ek alles oor my verlossing ten volle.
Hierdie is wondergenade in my lewe. Baie belangrik: Ek het nodig om by Christus te leer. Hoe leer ek by Christus? Bly besig met die evangelie van verlossing in die Ou en Nuwe Testament, die hele Bybel. Lees en ondersoek die evangelie. Glo die evangelie en leef die evangelie in die krag van die Heilige Gees.
3. Ons enigste Hoëpriester
Christus is ook gesalf om ons enigste Hoëpriester te wees.
Die hoëpriester in die Ou Testament het ‘n baie belangrike plek in Israel en elke gelowige se lewe gehad. Die hoëpriester het offers vir die gelowige in Israel gebring. Die offer het elke keer op vergifnis van sonde en versoening met God gewys. Die hoëpriester het ook vir die gelowige in Israel by God met gebed ingetree.
Die hoëpriester in die Ou Testament was net die skaduwee, die teken van die werklike Hoëpriester wat sou kom, Christus.
Die werklikheid was aangrypend –
Op grond van Christus, ons enigste Hoëpriester wat Homself vir ons geoffer het en vir ons by sy Vader intree, kan ek elke dag met ‘n bly hart leef: Ek is verlos! Ek gaan nie meer verlore nie! Ek het die ewige lewe!
4. Ons ewige Koning
Dan het Christus se Vader Hom gesalf om ons ewige Koning te wees. Ons belydenis, die Heidelbergse Kategismus kry hierdie baie belangrike waarheid in God se Heilige Skrif, die Bybel. In Hebr.1:8 lees ons: “Maar van die Seun sê Hy:’U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied.”
Die skrywer van die Hebreërbrief het deur die Heilige Gees geskryf dat God self sy Seun openlik as ewige Koning aangewys het.
As ewige Koning regeer Christus ons deur sy Woord en sy Heilige Gees. In sy Woord, die Bybel vertel en leer Christus ons hoe ons verlos word – deur Hom alleen wat vir ons gesterf en opgestaan het. Hy vertel en leer ons ook hoe om as sy verloste gelowiges te leef. Lees gerus Mt.5-7 oor die lewe as verloste gelowige wat Christus verwag.
Die Heilige Gees help ons en lei ons deur die Woord om in Christus te glo, Hom lief te hê en gehoorsaam onder sy regering te leef.
Elkeen van ons het nodig om met die Heilige Gees in ons met gelowige, dankbare en gehoorsame harte onder Christus se regering te leef. Deur so te leef, moet ons ons onderskei van die baie mense in die land en die wêreld wat Christus nie ken nie.
Ons as Christengelowiges het drie dodelike vyande wat ons na liggaam en siel baie leed wil aandoen. Die vyande is die duiwel, die wêreld en elkeen van ons se eie sondigheid. Hierdie is geestelike vyande en baie sterker as enige Christengelowige. Christus is ons ewige Koning. Hy beskerm ons teen al ons vyande.
Christus beskerm ons nou reeds elke dag teen ons gevaarlike geestelike vyande. Hy beskerm ons, sodat ons almal ons hemelse erfdeel sal kry, wanneer Christus weer kom. Hy is besig om ons hemelse erfdeel gereed te maak. Hy beskerm ook ons erfdeel in die hemel dat ons dit sal ontvang wanneer Hy weer kom.
In ‘n verwarde en sondige wêreld wat nie weet waarheen nie en baie onseker oor die toekoms is, leef ek as Christengelowige heeltemal anders. Met die Heilige Gees in my weet en glo ek vas en seker Christus is ons ewige Koning. Hy regeer alles en almal. Hy regeer ook die toekoms. Die toekoms is vas en seker by Hom. Die Heilige Gees gee my hierdie sekerheid. Ek leef nie verward en onseker nie. Inteendeel! Ek leef met geloofsekerheid onder Christus my ewige Koning!
Die Naam Christus is ‘n baie belangrike Naam. Dit is ons Verlosser se Naam. Wanneer ek die Naam, Christus regtig ken, sal ek ons Verlosser ook regtig ken. Met my hart en verstand vol kennis van Christus, het ek die ewige lewe. My toekoms is vas en seker en veilig, daarom leef ek met ‘n bly hart vol liefde en dankbaarheid!
ANTWOORD
Sing: Skb.5-2:1,4
Gebed
Liefdegawe vir barmhartigheid
Sing: Skb.5-3:1,2
Seën: Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee.
Amen