Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) – Artikel 1 (1)

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB) – Artikel 1 (1)

Datum: 2023-03-12
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB)

Die NGB bestaan uit 37 artikels.  By verre die meeste artikels begin met “Ons glo”. Dit hoort so, want die NGB is deel van ons geloofsbelydenis.

Die NGB kan in verskillende dele of temas verdeel word.

Art.1                –           Die enige ware God

Art.2                –           Hoe ons God kan ken

–           Die skeping/natuur

–           God se Woord

Art.3-7            –           Die Woord van God

Art.8-11           –           Die Drieënige God

Art.12-15         –           Skepping en sonde

Art.16-21         –           Verlossing

Art.22-26         –           Die genadige gevolge van verlossing

Art.27-32         –           Die kerk van Christus

Art.33-35         –           Die sakramente

Art.36              –           Die owerheid

Art.37              –           Die einde: Oordeeel, opstanding, ewige lewe

Art.1

“Ons glo almal met die hart en bely met die mond dat daar ‘n enige en enkelvoudige Wese is wat ons God noem. Hy is ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is”

Ons glo almal met die hart en bely met die mond. Gelowiges is aan mekaar gebind. Die Heilige Gees gee geloof in Jesus Christus. Die geloof bind Christengelowiges aan Jesus Christus en aan mekaar.

Ware geloof is saligmakende geloof. Hierdie geloof kan nie weggesteek word nie. Hierdie geloof lê ook nie net stil binne ‘n mens nie. Ware geloof is geloof wat leef. Een van die tekens dat geloof in die hart leef, is ‘n belydenis met die mond

Enige en enkelvoudige Wese wat ons God noem – Enige beteken unieke en enigste. Hierdie waarheid rus op byvoorbeeld Dt.6:4. God is uniek, Hy is heeltemal anders. Ons kan Hom nie in meslike terme en woorde beskryf en dink ons het alles oor Hom gesê nie. Hy is die enigste beteken Hy alleen is God. Daar is niks en niemand anders nie. Enkelvoudig beteken God is een. Hy is nie verdeeld nie. Daar is net een God. Hy is die volmaakte God.

Ons glo in ‘n geestelike Wese. Hy is nie aan ‘n plek of aan tyd gebonde nie. Ons mag nie menslik van Hom dink en in Hom glo nie. Hy openbaar Homself in menslike terme, sodat ons kan verstaan. Hierdie manier van openbaring noem ons “antropomorfisme”. Die woord beteken op ‘n menslike manier.  Ons noem die geestelike Wese in wie ons glo God.

Hy is ‘n lewende Wese. Hy is ‘n Persoon. Dit is noodsaaklik dat ons oor Hom dink, met Hom en van Hom praat as ‘n lewende Persoon.

Saam hiermee hoort die geloof, die erkenning, die belydenis dat daar ‘n baie groot afstand tussen God en mens is. Hy is in elke opsig baie, baie hoër as ons. In ‘n sekere opsig het ons met ‘n geestelike geheim te doen wat ons in hierdie bedeling nie op ‘n gewone manier kan begryp nie.

Hierdie waarheid behoort ons regtig baie nederig en diep dankbaar te maak.