Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB 13 – DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

NGB 13 – DIE VOORSIENIGHEID VAN GOD

Datum: 2024-04-07
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

Die artikel self.

1. Ons glo dat die goeie God, nadat Hy alle dinge geskep het, dit nie laat vaar of aan die toeval of geluk oorgegee het nie, maar dit volgens sy heilige wil so bestuur en regeer dat in hierdie wêreld niks sonder sy beskikking gebeur nie.

2. Tog is God nie die bewerker van die sondes wat gedoen word nie, en dra Hy ook nie die skuld daarvoor nie.

3. Sy mag en goedheid is immers so groot en onbegryplik dat Hy sy werk baie goed en regverdig beskik en uitvoer, selfs al handel die duiwels en goddelose mense onregverdig.

4. Ons wil ook nie verder as wat ons kan verstaan, nuuskierig ondersoek instel na dié dinge wat Hy bo die vermoë van die menslike verstand doen nie; intendeel, ons eerbiedig juis in alle nederigheid en in aanbidding die regverdige oordele van God wat vir ons verborge is.

5. Ons is tevrede daarmee dat ons leerlinge van Christus is om slegs te leer ken wat Hy aan ons in sy Woord openbaar, sonder om die grense daarvan te oorskry.

6. Hierdie leer bied onuitspreeklike troos as ons daardeur geleer word dat niks per toeval oor ons kan kom nie, maar alles deur die beskikking van ons hemelse Vader oor ons kom.

7. Hy waak oor ons met Vaderlike sorg en heers so oor alle skepsels dat sonder die wil van ons Vader nie een haar van ons kop – hulle is almal getel – en ook nie een mossie op die aarde kan val nie (Mt.10:29,30).

8. Ons verlaat ons hierop, omdat ons weet dat Hy die duiwel en al ons vyande in toom hou, sodat hulle ons sonder sy toelating en wil geen skade kan aandoen nie.

9. Daarom verwerp ons ook die gruwelike dwaling van die Epikureërs, wat sê dat God Hom met niks bemoei nie en alle dinge aan die toeval oorlaat.

Belangrike opmerkings:

1. God se voorsienigheid gaan oor sy verhouding met sy skepping. Hy is die Skepper wat alles en almal steeds deur sy voorsienigheid onderhou en regeer.

2. Die voorsienigheid van God (sy almagtige en oralteenwoordioge krag) is ‘n baie belangrike waarheid in ons geloofslewe.

HK 1 – Christus bewaar elkeen wat Hy verlos het op so ‘n manier dat sonder die wil van ons Vader nie ‘n haar van my kop kan val nie.

HK 10 – Alles kom uit ons Vader se hand. Niks gebeur per toeval nie, daarom is ek geduldig in teëspoed en dankbaar in voorspoed en leef met vertroue in God vir die toekoms.

Doopformulier – “…en ons daarom met alle goeie dinge wil versorg en alle kwaad van ons wil afweer of tot ons beswil beskik.”