Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB. Art.22 – ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

NGB. Art.22 – ONS REGVERDIGING DEUR DIE GELOOF

Datum: 2025-09-07
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

In art.17-21 van die NGB bely ons die Persoon van ons Verlosser –
Art.17 – Die Verlosser deur God beloof.
Art.18 – Die menswording van Jesus Christus.
Art.19 – Die twee nature van Christus.
Art.20 – God se regverdigheid en barmhartigheid in Christus.
Art.21 – Die versoening deur Christus

In art.22 to 26 kry ons die weldade van verlossing.
Art.22 – Ons regverdiging deur die geloof.
Art.23 – Ons geregtigheid voor God.
Art.24 – Ons heiligmaking en goeie werke.
Art.25 – Die seremoniële wet in Christus vervul.
Art.26 – Christus ons Voorspraak.

“Ons glo dat die Heilige Gees ‘n opregte geloof in ons harte laat ontvlam om die ware kennis van hierdie groot geheimenis te verkry.”

  1. Geloof is ‘n gawe, ‘n geskenk van God –
    1 Kor.2:12“Die Gees wat ons ontvang het, is nie die gees van die wêreld nie, maar die Gees wat van God kom. So weet ons wat God ons uit genade geskenk het.” 
    Ef.2:8-9“Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ‘n gawe van God. Dit kom nie deur julle eie verdienste nie, en daarom het niemand enige rede om op homself trots te wees nie.”
    1 Tess.1:6“En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met ‘n blydskap wat van die Heilige Gees kom.”

2. Die Heilige Gees laat opregte geloof in ons harte ontvlam –
Jak.1:22,26 – Geloof lewe.
Hand.16:31 – Geloof is kragtig.
Fil.3:7-9 – Geloof verander ‘n mens.
Rom.6:5-6 – Geloof maak ons een met Christus.
1 Joh.5:5 – Deur geloof oorwin Christene die wêreld.

3. Regverdiging (verlossing) deur geloof alleen is ‘n geheim.

Matt.13:11 “Hy het hulle geantwoord: “Aan julle is dit gegee om die geheime van die koninkryk van die hemel te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.”
Kol.2:2-3“My doel daarmee is dat hulle bemoedig moet word. Hulle moet met liefde aan mekaar verbind wees en saam strewe na diep en volledige insig, sodat hulle God se geheimenis kan ken. Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind.”

4. Die geheim van regverdiging deur Christus kan alleen deur geloof geken word

Rom.1:17“In die evangelie kom juis tot openbaring dat God mense van hulle sonde vryspreek enkel en alleen omdat hulle glo. Dit is soos daar geskrywe staan: “Elkeen wat deur God vrygespreek is omdat hy glo, sal lewe.”
Ef.1:13“Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël.”

“Die geloof omhels Jesus Christus met al sy verdienstes. Dit maak Hom ons eie en soek na niks anders as Hom nie.”
Geloof is nie iets objektief wat ons met die verstand kan ken en uitwerk nie.
Geloof is ook nie iets geestelik in ‘n mens se binnekant nie.
Geloof lê nie staties binne ‘n mens nie.
Geloof omhels Christus. Dit beteken: Geloof is innig. Geloof raak ‘n mens se diepste wese. Geloof maak ons een met Jesus Christus. Opregte geloof leef, geloof brand binne ‘n mens, maak ons hart warm.
Geloof maak dat Christus alles is (Fil.3:10-11).

“Daar is dus net twee moontlikhede: In Jesus Christus is nie alles wat vir ons saligheid nodig is nie óf dit is alles wél in Hom, en dan het hy wat Jesus Christus deur die geloof besit, sy volle saligheid.”

Daar is nie neutrale grond wanneer dit by geloof in Jesus Christus kom nie. Daar is net een van twee –

Christus het alles volbring, daarom het elkeen wat in Hom glo, volmaakte ewige saligheid.

                                               OF

Christus is nie die enigste Verlosser nie.

“Om nou te beweer dat Christus nie genoegsaam is nie maar dat daar buite Hom nog iets meer nodig is, sou gruwe godslastering wees, want dit sou beteken dat Christus slegs ‘n halwe Verlosser is.”

“Ons sê daarom tereg saam met Paulus dat ons deur die geloof alleen of deur die geloof sonder werke geregverdig is (Rom.3:28).”

Rom.3:20-22“Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer ‘n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo.”

“Om presies te wees: Ons bedoel nie dat die geloof self ons regverdig maak nie, want die geloof is slegs ‘n middel waardeur ons Christus, ons Geregtigheid, omhels, maar wel dat Jesus Christus ons Geregtigheid is.”

“Hy reken ons sy hele verdienste toe en ook al sy heilige werke wat Hy vir ons en in ons plek gedoen het, terwyl die geloof die middel is wat ons in die gemeenskap aan al sy weldade aan Hom verbind. En as die weldade ons eiedom geword het, is hulle meer as genoeg om vryspraak vir ons sondes te verkry.”
Rom.8:1“Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie.”