Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB art.12 – DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL DIE ENGELE

NGB art.12 – DIE SKEPPING VAN ALLE DINGE, VERAL DIE ENGELE

Datum: 2024-03-10
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

Inleiding

Die NGB is ‘n geloofsbelydenis. Ons geloofsbelydenis is ons antwoord op God se Woord. God se Woord is sy openbaring van wie Hy is, wat Hy doen en wat Hy wil. Daarom gaan ons belydenis, die NGB ook oor God.

Art.1                –           God bestaan

Art.2 – 7          –           Ons kan God ken (skepping en Skrif)

Art.8-11           –           God is Drie-enig

Art.12-37         –           God se werke

            Art.12-15         –           Skepping

            Art.16-37         –           Verlossing

1. Ons glo dat die Vader, toe Hy dit goed gedink het, deur sy Woord, dit wil sê deur sy Seun, die hemel en die aarde en alle skepsels uit niks geskep het.

2. Hy het aan elke skepsel ‘n eie wese, gestalte en voorkoms en onderskeie take gegee om sy Skepper te dien.

3. Hy onderhou en regeer hulle almal nou nog deur sy ewige voorsienigheid en oneindige krag om die mens te dien, sodat die mens sy God kan dien,

4. En Hy het ook die engele goed geskep om sy boodskappers te wees en sy uitverkorenes te dien.

5. Sommige van die engele het uit die verhewenheid waarin God hulle geskep het, in die ewige verderf geval, maar die ander het deur die genade van God in hulle oorspronklike toestand volhard en staande gebly.

6. Die duiwels en bose geeste het so ontaard dat hulle vyande van God is sowel as van alles wat goed is.

7. Soos moordenaars loer hulle op die kerk – ook op elke lidmaat – om dit met alle mag in die verderf te stort en om alles deur hulle bedrieëry te verwoes.

8. Daarom staan hulle deur hulle eie boosheid veroordeel tot die ewige verdoemenis en verwag hulle daagliks hulle verskriklike pyniging.

9. Daarom verfoei ons ook die dwaling van die Sadduseërs, wat ontken dat daar geeste en engele is.

10. Ook verwerp ons die dwaling van die Manigeërs, wat sê dat die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het en reeds van nature sleg is en nie sleg geword het nie.