Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB art.18 – Die menswording van Jesus Christus

NGB art.18 – Die menswording van Jesus Christus

Datum: 2025-01-26
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

Vooraf die volgende:

  • Ons het ons belydenisskrifte vandag in 2025 voor ons. Ons het drie ekumeniese belydenisskrifte – Die Apostoliese Geloofsbelydenis / Twaalf artikels, Die Geloofsbelydenis van Nicea, Die Geloofsbelydenis van Athanasius. Dit is geloofsbelydenisse van die Christelike kerk wêreldwyd. Ons het die Drie Formuliere van Eenheid. Dit is die belydenisskrifte van die gereformeerde kerke wêreldwyd. Hierdie belydenisskrifte word deur alle gereformeerde gelowiges aanvaar as in ooreenstemming met God se Woord. Die belydenisskrifte bind gereformeerde gelowiges wêreldwyd aan mekaar.
  • Die belydenisskrifte is so noukeurig bewoord dat in die tyd dat ek direk intensief met die belydenisskrifte te doen gehad het (belydeniskatkisasie, teologiese opleiding, predikantsbediening) oor ‘n tydperk van 50 jaar, dit nie op enige tydstip nodig was om enigiets in enige belydenisskrif te verander nie. Die enigste sigbare verandering in die bewoording van die Twaalf Artikels, was om die belydenis duideliker te maak. “Neergedaal het na die hel” het “die lyding van die hel ondergaan” geword.
  • Die Heilige Gees het die kerk van Christus gelei om hierdie geloofsbelydenisse wat op die Heilige Skrif, die Bybel gegrond is, neer te skryf, sodat dieselfde geloof uit die een Woord van God deur die geslagte van gereformeerdes bely kan word.
  • Wanneer ons dan een van ons belydenisskrifte oopmaak en lees en praat, moet dit met –
  • dankbaarheid teenoor God wat sy Woord aan ons gegee het en sy Woord bewaar laat bly het en sy kerk gelei het om hierdie ses en sestig boeke in sy Woord op te neem,
  • ontsag vir die waarheid van God se Heilige Skrif,
  • erkenning en waardering vir die gelowiges in Christus se kerk wat deur die Heilige Gees die Heilige Skrif ondersoek het en die kosbare waarhede in hierdie woorde geformuleer en neergeskryf het,
  • die voorneme om hierdie belydenis deur die Heilige Gees te onderhou en uit te leef.

Die artikel

“Ons bely dat God die belofte aan die vaders deur die mond van die helige profete  inderdaad vervul het deur sy eie eniggebore en ewige Seun in die wêreld te stuur op die tyd deur Hom bepaal.

Hy het die gestalte van ‘n dienskneg aangeneem en aan die mens gelyk geword (Fil.2:7) deur werklik ‘n egte menslike natuur, met al sy swakhede maar sonder sonde, aan te neem.

Hy is in die liggaam van die geseënde maagd Maria deur die krag van die Heilige gees en sonder die toedoen van ‘n man verwek.

Hy het nie alleen wat die liggaam betref die menslike natuur aangeneem nie, maar ook ‘n egte menslike siel, om so ‘n werklike mens te wees.

Want Hy moes sowel die siel as die liggaam aanneem om altwee te red, aangesien beide verlore was.

Teenooor die kettery van die Wededopers, wat ontken dat Christus die menslike vlees uit sy moeder aangeneem het, bely ons daarom dat Christus die vlees en die bloed van die kinders deelagtig geword het (Heb.2:14),

Dat Hy wat die vlees betref –

  • ‘n nakomeling van Dawid is,
  • as mens gebore is uit die geslag van Dawid (Hand.2:30 en Rom.1:3),
  • ‘n vrug van die moederskoot van Maria (Luk.1:42),
  • gebore uit ‘n vrou (Gal.4;4),
  • ’n spruit van Dawid (Jer.33:15),
  • ‘n loot uit die wortels van Isai (Jes.11:1),
  • van die geslag van Juda afstam (Heb.7:14),
  • uit die Jode as mens gebore (Rom.9:5),
  • uit die geslag van Abraham, aangesien Hy die geslag van Abraham aangeneem het en in alle opsigte – maar sonder sonde – aan sy broers gelyk geword het (Heb.2:17 en Heb.4:15).

Ons bely inderdaad dat Hy waarlik ons Immanuel is, dit wil sê: God met ons (Matt.1:23).