Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB Artikel 2 – DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN (1)

NGB Artikel 2 – DIE MIDDELE WAARDEUR ONS GOD KEN (1)

Datum: 2023-09-10
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

Ons ken Hom deur twee middele: Ten eerste deur middel van die skepping,  onderhouding en regering van die hele wêreld. Dit is immers voor ons oë soos ‘n mooi boek waarin alle skepsels, groot en klein, die letters is wat ons die onsigbare dinge van God, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, duidelik laat sien, soos die apostel Paulus sê (Rom.1:20). Al die dinge is genoegsaam om die mense te oortuig en hulle alle verontskuldiging te ontneem.Ten  tweede maak Hy Hom deur sy heilige en Goddelike Woord nog duideliker en meer volkome aan ons bekend, en wel soveel as wat vir ons in hierdie lewe nodig is tot sy eer en tot die saligheid van hulle wat aan Hom behoort.

Ps.19:2; Ef.4:6; 1Tim.2:5; Deut.6:4; Mal.2:10; 1 Kor.8:4,6; 1 Kor.12; 1 Kor.1

Ken is een van die baie spesiale en belangrike woorde in die Bybel –

1 Sam.3:7“Maar Samuel het nog nie die Here geken nie, want die woord van die Here was nog nie voorheen aan Hom geopenbaar nie”.

Ps.1:6“Want die Here ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddeloses sal vergaan”.

Mt.7:23“Dan sal Ek openlik vir hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree”.

OT: Hebreeus – yada – om wys te wees, om dieper insig te hê, kennis deur persoonlike ervaring

NT: Grieks – Ginooskoo – om te verstaan, om te erken, om waar te neem, om te onderskei, die ervaring van iemand wat tot ‘n verhouding lei.

Bely is om dieselfde te sê as wat God in sy Woord sê. Daarom sal elkeen wat die woord “ken” in ons belydenisskrifte raakloop, moet onthou dat die woord ‘n spesiale betekenis het.

God het die hele wêreld, alles geskep. Hy is die Skepper. Ons kan God deur die skepping ken – Ps.8:4,5; 19:2,3. Daar is soveel in die skepping om God te kan ken. Hy het elke mens so gemaak dat ek deur my ervaring van die skepping dieper insig kan hê dat die Skepper se krag ewigdurend is en dat Hy God is.

Ons kan God ken deur sy onderhouding van die hele wêreld. God laat alles wat Hy geskep het, voortbestaan. Hy sorg vir die hele wêreld deur sy ewige krag. Ons sien in sy onderhouding van die hele wêreld sy alwetendheid, sy alomteenwoordigheid (oralteenwoordigheid) en sy trou, hoe Hy vir sy hele skepping sorg.

God regeer. Hy beskik en beheer die hele wêreld. Die geskiedenis van die wêreld, die kerk, elke gesin, elke mens is nie net ‘n klomp gebeure los van mekaar wat een na die ander gebeur nie. God beskik die geskiedenis van die hele wêreld. In sy beskikking is Hy altyd volledig in beheer van wat gebeur.

‘n Mens kan op die volgende maniere die letters van die mooi boek lees, die skepping ervaar –

  • Oppervlakkig – ek sien, ek hoor, en daarby bly dit.
  • Toe oë, ore en hart, sodat my verstand verduister en onkundig bly. Ek neem alles waar, maar kry nie dieper insig in wat ek ervaar nie.
  • Ek lees die boek van die skepping verkeerd. Ek leer God nie ken nie, maar maak my eie gevolgtrekkings oor wat ek beleef.
  • Gelowig, met ‘n wedergebore hart en verligte verstand, sodat my verhouding met God groei, my geloof in Hom verdiep en my liefde vir Hom meer word. Ek het die Heilige Gees in my, daarom het ek as Christengelowige nodig om God in die skepping, onderhouding en regering van die hele wêreld te leer ken en al beter te leer ken om sodoende in my verhouding met Hom te groei.