Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB art.21 – Die versoening deur Christus

NGB art.21 – Die versoening deur Christus

Datum: 2025-03-16
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

“Ons glo dat Jesus Christus – kragtens ‘n eed – ‘n ewige Hoëpriester is volgens die orde van Melgisedek.

[God het reeds in sy vrederaad, dit is sy ewige besluite, sy Seun aangewys om ons ewige Hoëpriester te wees.

Melgisedek was die koning van Salem en ‘n priester van God in die heidense Kanaän. Hy is deur God as priester aangewys. Hy is ‘n priester nie volgens die gewone menslike orde, uit die stam van Levi nie. Hierin wys sy priesterskap na Christus wat ons enigste Hoëpriester in die sondige wêreld was en eweneens nie ‘n gewone menslike priester was nie

Melgisedek se naam beteken koning van geregtigheid. Hy was koning van Salem wat vrede beteken. Ook hierin het hy heengewys na Jesus Christus, ons Vredevors (Jes.9:5).

“kragtens ‘n eed” moet ons verstaan as “kragtens ‘n vaste besluit wat nie verander nie”.]

Hy het Hom in ons naam voor sy Vader gestel om sy toorn met volledige  betaling te stil deur Homself aan die kruishout te offer en sy kosbare bloed tot afwassing van ons sondes uit te stort soos die profete dit voorspel het.

[Alle mense het sondeskuld voor God. Christus stil hierdie skuld deur met sy lewe te betaal. Hy het Homsekf aan die kruis geoffer en sy bloed het gevloei om ons van sonde skoon te was. Die Here Jesus se woorde “Dit is volbring” (Joh.19:30) beteken “vereffen” / “ten volle betaal”.

Baie profete het by herhaling oor die koms van die Messias, die Christus, die Gesalfde, die beloofde Verlosser gepraat.]

Want daar staan geskrywe dat ‘die straf wat vir ons die vrede aanbring, op die Seun van God was, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom; dat Hy soos ‘n lam na ‘n slagplek gelei en by misdadigers gereken is’ (Jes.53:5,7,9); dat Hy as misdadiger deur Pontius Pilatus veroordeel is al het dié Hom eers onskuldig verklaar.

Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie (Ps.69:5); Hy het na liggaam en siel as regverdige vir onregverdiges gely (1 Pet.3:18); Hy het die veskriklike straf wat ons sondes verdien, ervaar, sodat sy sweet soos bloeddruppels geword het wat op die grond val (Luk.22:44), en Hy het uitgeroep: ‘My God, my God, waarom het U My verlaat’ (Matt.27:46).

[“Hy het teruggegee wat Hy nie geroof het nie” is ‘n aanhaling van Ps.69:5. Die woorde is ‘n beeld wat Dawid gebruik het, Sy vyande het vals beskuldigings en klagtes teen hom gehad. Hulle het vergelding geëis terwyl Dawid hulle geen leed aangedoen het nie.

Hierdie woorde wys op die vals  klagte teen die Here Jesus dat Hy gelaster het toe Hy gesê het dat Hy die Seun van God is. Volgens die Jode het Hy die doodstraf verdien. Jesus het Homself oorgegee om te sterf, onskuldig te te sterf.]

Dit alles het Hy ter wille van die vergewing van ons sondes gely.

Ons sê daarom tereg saam met die apostel Paulus dat ons met julle oor niks anders praat nie as oor Jesus Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Kor.2:2);

dat ons alles as waardeloos beskou, want om Christus Jesus, ons Here te ken, oortref alles in waarde (Fil.3:8);

dat ons volkome vertroosting in sy wonde vind

en dat ons nie enige ander middel hoef te soek of uit te dink om ons met God te versoen nie as slegs hierdie een offerande wat net een maal gebring is; waardeur die gelowiges vir altyd volmaak word (Heb.10:14).

Dit is dan ook die rede waarom Hy deur die engel van God Jesus, dit is Verlosser, genoem is, want Hy sou sy volk van hulle sondes verlos (Matt.1:21).”