“Ons glo dat God, wat volkome barmhartig en regverdig is, sy Seun gestuur het om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem. Hy moes in die menslike natuur aan die geregtheid voldoen en die straf vir sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra.”
Ons glo – Hierdie is ons geloofsbelydenis. Ons is al die gereformeerde gelowiges wêreldwyd, elkeen in elke huis in elke gemeente in elke land. “Glo” beteken ons weet met vaste sekerheid dat hierdie die ewige waarheid in die Bybel is. Ons vertrou vas en seker dat God se Seun hierdie daad vir ons gedoen het om ons te red.
Ons glo is meer as om te weet, meer as om die geloofsleer, die dogmatiek van God se regverdigheid en barmhartigheid te ken. Die duiwel weet en ken al hierdie. Enigeen wat in die godsdienste van die wêreld belangstel, selfs die grootste ateïs, sal hierdie kan ken.
Glo is om in ‘n wedergebore hart deur die Heilige Gees te ken en te vertrou dat God dit vir my gedoen het en my lewe vir altyd heeltemal verander het.
God is volkome barmhartig en regverdig – “Barmhartig” beteken God se liefde en bystand aan die mens in nood. “Regverdig” beteken wat God besluit en sê, doen Hy. Hier gaan dit daaroor dat God in die begin gesê het dat Hy sonde met die dood sal straf. Sy regverdigheid is onveranderlik.
Beide God se barmhartigheid en sy regverdigheid is volmaak en onveranderlik.
Sy barmhartigheid en sy regverdigheid staan nie teenoor mekaar nie, sodat net een van die twee moontlik is nie. Trouens, God se volmaakte verlossingsplan bestaan juis uit volmaakte barmhartigheid en volmaakte regverdigheid.
Hoe so?
God is volmaak barmhartig. Hy staan uit liefde die sondige mens in nood by, deur verlossing en vergifnis. Maar indien daar nie vir sonde gesterf is volgens God se regverdigheid nie, was die mag van sonde oor elke mens en die sondeskuld om s straf op sonde te sterf nie weg uit ons lewe nie. So, barmhartigheid kan nie bo regverdigheid wees nie.
God is volmaak regverdig. Hy het gesê dat Hy sonde met die dood straf. Indien Hy nie barmhartig was nie, het Hy elke mens wat gesondig het met die ewige dood gestraf. Geen mens sou dan lewe nie. Daarom kan regverdigheid nie bo barmhartigheid wees nie.
God se barmhartigheid en regverdigheid vorm saam ‘n eenheid daarin dat Hy uit regverdigheid sonde met die dood straf en uit barmhartigheid nie elke mens nie, maar sy eie Seun met die dood straf.
Hy het sy Seun gestuur om die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan is, aan te neem – Die mens het gesondig. Die mens was ongehoorsaam aan God. Die mens moes sterf. Hierdie geregtigheid of regverdigheid verander nie. God stuur sy Seun die natuur van ‘n mens aan te neem, die natuur waarin die ongehoorsaamheid begaan of gepleeg is. Hy stuur sy Seun uit barmhartigheid. Sy barmhartigheid verander nie.
Hy het sy Seun gestuur om in ons plek die straf op ongehoorsaamheid te dra. Hierdie barmhartigheid verander nie.
Hy moes in die menslike natuur aan die geregtheid voldoen en die straf vir sondes deur sy allerbitterste lyding en sterwe dra – As mens, ware mens, moes God se Seun in die menslike natuur aan die geregtigheid van God voldoen. Hy moes die straf vir sondes deur sy bitterste en wreedste dood dra.
Jesus Christus se “allerbitterste lyding en sterwe” wys aan ons God se heilige woede oor sonde. Ons leef in ‘n land en ‘n tyd waar sonde nie as regtig so erg beskou word nie. Redes hiervoor –
Ongeloof, vals godsdiens, vals oorgerustheid omdat gelowige mense God se regverdigheid vergeet of ignoreer en dink Hy is net barmhartig.
“So het God sy regverdigheid teenoor Sy seun betoon, toe Hy ons sondelas op Hom gelê het, en so sy goedheid en barmhartigheid uitgestort oor ons, wat skuldig was en die ewwige vervloeking verdien het.”
God het sy regverdigheid teenoor sy Seun betoon, toe Hy ons sondelas op Hom gelê het – 2 Kor.5:21 – “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.” Jesus Christus was sonder sonde en volmaak onskuldig, maar God het Hom in ons plek skuldig gemaak. Die Here Jesus het ons sondeskuld op Hom geneem.
“Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee, en Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en die ewige lewe kan hê.”
Hy het immers sy Seun deur die mees volmaakte liefde vir ons in die dood gegee – God het uit liefde sy Seun gegee om vir ons te sterf. Die Here Jesus het uit liefde sy lewe vir ons afgelê toe Hy aan die kruis gesterf het.
En Hy het Hom tot ons regverdiging opgewek, sodat ons deur Hom die onsterflikheid en ewige lewe kan hê – God die Vader en Jesus Christus sy Seun uit die dood opgewek (Rom.10:9). Die Here Jesus het uit die dood opgestaan (Joh.20:9). Die Heilige Gees het Christus wat dood was, lewend gemaak (1 Pet.3:18).
Deur sy opstanding uit die dood, het God se Seun duidelik gewys dat Hy aan die geregtigheid van sy Vader voldoen het. Hy het ook duidelik gewys dat Hy die dood oorwin het en dat daar daarom lewe na die dood is. Elkeen wat nou deur die Heilige Gees in die Here Jesus Christus glo, wat uit die dood opgestaan het, het onsterflikheid en die ewige lewe.
Almal wat in die Here Jesus glo, Hy wat vir ons gesterf en opgestaan het se sonde is volmaak vir altyd vergewe, is volmaak en vir altyd vry van alle straf en oordeel oor sonde en het die ewige lewe. Dit alles weens GOD SE REGVERDIGHEID EN BARMHARTIGHEID IN CHRISTUS.