Ons lees in die Bybel oor die ewige verkiesing van God. Ons praat ook van sy ewige verkieisng as die uitverkiesing.
Jer.31:3 – “Van ver af het die HERE aan hom verskyn. ‘Met ‘n ewige liefde het Ek jou liefgehad; daarom het Ek jou in troue liefde nadergetrek’”. (2020 vert).
Hierdie is God se openbaring in die Ou Testament van sy ewige verkiesing. Ons kry die openbaring van die uitverkiesing ook in die Nuwe Testament.
Ef.1:4 – “So het Hy ons voor die grondlegging van die wêreld in Hom uitgekies, sodat ons heilig en onberispelik in liefde voor Hom sou wees”. (2020 vert).
Omdat die Here in sy Woord aan ons bekend maak dat Hy sondaars in ewigheid uitgekies het, is die ewige verkiesing in ons belydenisskrifte opgeneem –
NGB art.16.
HK Sondag 19 en 21
DL – Die hele belydenisskrif gaan oor die uitverkiesing volgens God se Woord en die weerlegging van die dwaalleer van destyds tov die uitverkiesing, wat onder andere beweer het dat sondige mense ook in aandeel in die uitverkiesing het.
NGB art.16 – “Ons glo dat God, toe die hele menslike geslag van Adam deur die sonde van die eerste mens in die verderf en ondergang gestort is, Hom betoon het soos Hy is, naamlik barmhartig en regverdig.”
Die ewige verkiesing van God of die uitverkiesing is ‘n besluit wat God in sy ewige verborge Raad geneem het. Wanneer ons oor die ewige verkiesing van God dink of praat, is dit altyd belangrik en nodig om te besef dat ons dink of praat oor wat God in die ewigheid voor die skepping van alles gedoen het.
Dit is daarom gepas om met eerbied en onderdanigheid en dankbaarheid en liefde vir God oor sy ewige verkiesing of dan die uitverkiesing te praat. Wanneer ons dan oor die uitverkiesing dink en praat, is daar soveel om in gedagte te hou en te eerbiedig:
God is soewerein. Hy tree op as die enigste God van hemel en aarde. Hy alleen is God – Jes.44:6: “So sê die Here, die Koning van Israel, die Een wat hom loskoop, die Here, Heerser oor alle magte: ‘Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste. Buiten My is daar geen God nie’” en Openb.1:8: “’Ek is die Alfa en die Omega, die Een wat is en wat was en wat kom’ sê die Here God, die Almagtige’”.
Hy tree op volgens sy besluit en sy wil. Sy wil en sy besluit is van ewigheid tot ewigheid altyd volmaak goed en reg.
Hy is aan niemand verantwoording of rekenskap verskuldig nie.
Hy besluit wat Hy openbaar, sodat ons kan lees en hoor en in Hom kan glo. Hy besluit wat Hy vir ons nie openbaar nie, maar verborge hou.
Wat ook nog moet by kom, is dat ons met geloof oor die uitverkiesing sal moet praat.
NGB art 16 begin immers met “Ons glo”. Die ewige verkiesing of dan uitverkiesing is daarom deur en deur ‘n saak van geloof en nie van verstand en menslike beredenering nie.
In die artikel van die NGB oor die uitverkiesing bely ons die volgende van God: Hy is barmhartig. Hy is regverdig.
“God is barmhartig aangesien Hy dié wat Hy uitverkies het, uit hierdie verderf trek en verlos; God het hulle uit louter goedheid en sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem, in sy ewige en onveranderlike raad uitverkies in Jesus Christus, ons Here”.
God los die hele mensdom nie net om verlore te gaan nie. In sy barmhartigheid het Hy in die ewigheid Hom oor mense ontferm. Uit liefde vir sondige mense het Hy besluit om sommige uit hierdie verderf van verlorenheid en ewige oordeel te trek en te verlos.
God het hierdie besluit geneem uit louter goedheid. Hy is ewig volmaak goed. Hy het besluit om sondaars te kies sonder om hulle werke in die minste in aanmerking te neem. Geen mens het enige deel aan die uitverkiesing nie. Hierdie waarheid behoort ons verwonderd te laat oor God se goedheid vir ons.
Die uitverkiesing is onveranderlik. Die mens wie God in die ewigheid gekies het om aan Hom te behoort, behoort vir ewig aan God. Dit verander nooit. Die ewige verkiesing is ewig vas en seker.
Die uitverkiesing is “in Jesus Christus”. God kies sondaars om in Christus te wees. Dit is, sodat ons in Hom kan glo, deur ons geloof in Hom, dit is een met Hom kan wees. God het elkeen wat uitverkies is in Christus verkies. Elke gelowige het die sekerheid van uitverkies te wees. God het ook almal wat Hy uitverkies het in Christus verkies. Almal wat verkies is, is dus die nuwe mensheid, die nuwe verlostes wat die ewige lewe het.
“God is regverdig deurdat Hy die ander in hulle val en verderf laat bly waarin hulle hulleself gewerp het”.
God maak in sy woord aan ons bekend dat Hy mense nie verkies het nie, maar verwerp het – Ismael, Esau, Farao.
Daarom bely ons die ewige verwerping ook in ons belydenisskrifte –
NGB art.16
DL.
Die ewige verkiesing van God gaan ook oor die verwerping van sondaars. Alle mense het in Adam, dit is in ons verbondheid aan Adam as die verteenwoordiger van die mensdom gesondig. Alle mense verdien om verwerp en ewig veroordeel te word.
Adam en Eva het uit moedswilligheid hulself en die ganse mensdom in ellende laat kom. Dit was nie deur God se toedoen nie. Hy is nie die oorsaak van sonde nie. Hy is nie die rede dat mense verlore is nie.
In sy soewereine of dan sy vrymagtige regverdigheid het God besluit om sondaars in hulle verlorenheid wat hulleself veroorsaak het, te los. Hierdie ewige besluit van God, noem ons die verwerping.
Ons antwoord op die ewige verkiesing – 2 Petr.1:3-11 – “3 Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4 Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5 En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6 die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7 die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
8 As julle dit alles besit en dit neem steeds toe, sal julle met ywer en met vrug ons Here Jesus Christus beter leer ken. 9 Iemand wat hierdie dinge nie sy eie gemaak het nie, is kortsigtig; nog erger, hy is blind en het vergeet dat hy van sy vroeëre sondes gereinig is.
10 Daarom, broers, moet julle julle des te meer daarvoor beywer om deur julle lewe te bewys dat God julle geroep en verkies het. As julle hierdie dinge doen, sal julle nooit struikel nie. 11 En dan sal daar vir julle vrye en feestelike toegang wees tot die ewige koninkryk van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.”