“Ons glo dat die erfsonde deur die ongehoorsaamheid van Adam oor die hele menslike geslag uitgebrei het”. Dit is ‘n verdorwenheid van die hele natuur en ‘n oorgeërfde gebrek waarmee selfs die klein kindertjies in die moederskoot besmet is. Dit is hierdie wortel wat in die mens allerhande sonde laat uitspruit. Dit is daarom so afskuwelik en gruwelik voor God dat dit genoeg rede is om die menslike geslag te verdoem”.
- Wanneer ons oor erfsonde praat, praat ons oor die verhouding wat die eerste twee mense met God gehad het en deur hulle moedswillige ongehoorsaamheid aan God gebreek het. Ons praat oor die ewige oordeel van God in die ewige dood wat die eerste twee mense oor hulleself en oor die ganse mensdom gebring het.
- Die Bybel hieroor: Ou Testament – Ps.51:7 – “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het”. Nuwe Testament – Rom.5:12 – “Verder nog dit: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot alle mense deurgedring, omdat almal gesondig het”.
- Wat het Adam en Eva gehad en Eva? God het Adam geskep. Hy het besondere persoonlike aandag aan Adam gegee toe Hy hom geskep het. Hy het Adam se liggaam uit die stof van die aarde gevorm. Daarna het Hy lewensasem in Adam se neus geblaas. Adam het toe ‘n lewende wese geword, liggaam en siel. God het ‘n ribbebeen uit Adam geneem en omgebou tot ‘n vrou. God het Adam en Eva as sy beeld geskep. Hulle het God volmaak geken. Hulle het Hom met hulle hele hart liefgehad. Hulle sou ewig saam met Hom leef. God het Adam ern Eva sy verteenwoordigers gemaak. Hulle moes die aarde bewoon en bewerk en oor die lewende wesens heers. Hulle moes God gehoorsaam. Adam en Eva se lewe was ‘n ewige lewe in ‘n innige verhouding met God, ‘n verhouding van liefde en gehoorsaamheid.
- Wat het Adam en Eva gedoen? Hulle was die verteenwoordigers van die hele mensdom wat na hulle sou kom. Hulle het hulle kennis van God verruil vir Satan se misleiding. Hulle het hulle liefde vir God verander in goedgunstigheid teenoor Satan. Hulle het hulle ewige lewe prysgegee vir die begeerte van die hier en die nou. Hulle het Satan oor hulle laat heers. Hulle was ongehoorsaam aan God. Hulle het hulle innige verhouding met God prysgegee vir ‘n verhouding met Satan wat op leuens en valsheid gegrond was.
- Wat was die gevolge? Gevangenskap in die mag van die duiwel en sonde. Vyandskap met God. Die ewige dood as straf op sonde. Hierdie het Adam ern Eva oor hulleself gebring en oor die ganse mensdom wat na hulle op aarde sou leef. Alles wat Adam en Eva gedoen het, het ons by hulle geërf. Ons noem dit erfsonde. Ons het erfsmet – elke mens is deur en deur sondig, heeltemal verdorwe dat ons in sonde ontvang en gebore word en tot niks goed in staat is nie en tot alle kwaad geneig is. Ons het erfskuld – Almal wat sondig, moet as straf op sonde sterf.
“Dit word selfs nie deur die doop geheel en al tot niet gemaak of volkome uitgeroei nie, aangesien die sonde aanhoudend uit hierdie verdorwenheid opborrel soos water uit ‘n giftige fontein.” Die doop is die teken van reiniging van sonde deur die bloed van Christus. Hierdie teken maak nie die erfsonde tot niet nie. dit is ‘n belangrike waarheid tot vandag toe.
“Dit word die kinders van God ewenwel nie tot verdoemenis toegereken nie, maar deur sy genade en barmhartighed vergewe. God vergewe nie sodat die gelowiges in die sonde gerus sou slaap nie, maar wel sodat die besef van hierdie verdorwenheid hulle dikwels sou laat sug in die verlange om van hierdie liggaam van die dood verlos te word”.
God vergewe almal wat in Christus glo die erfsonde en die sonde wat ons daagliks doen. Dit is wonderlike genade. Vergifnis en die genade daaraan verbonde, maak ons nie gerus nie. Inteendeel! Die genade van vergifnis laat ons besef hoe erg sonde is en laat ons verlang na verlossing daarvan (Rom.7:24,25).
“Ons verwerp hiermee die dwaling van die Pelagiane wat sê dat hierdie sonde uit niks anders as navolging ontstaan nie”. Pelagius het die erfsonde en die ewige dood wat dit meebring versag asof ons erfsonde nie alle mense in die ewige dood gedompel het nie.