Home Gesonde Leer Nederlandse Geloofsbelydenis NGB artikel 19 – Die twee nature van Christus

NGB artikel 19 – Die twee nature van Christus

Datum: 2025-02-09
|
Reeks: Nederlandse Geloofsbelydenis

“Ons glo dat deur hierdie ontvangenis die Persoon van die Seun onafskeidelik met die menslike natuur verenig en verbind is;

dat daar dus nie twee Seuns van God of twee persone is nie; maar twee nature in een Persoon verenig, terwyl elke natuur nogtans sy eie eienskappe behou.

Net soos die Goddeleike natuur altyd ongeskape gebly het, sonder begin van dae of lewenseinde (Heb.7:3) en hemel en aarde vervul,

só het ook die menslike natuur sy eienskappe nie verloor nie; dit het skepsel gebly, wat wel ‘n begin van  dae het, eindig van natuur is en alles behou wat by ‘n ware menslike liggaam behoort.

Hoewel Hy daaraan deur sy opstanding onsterflikheid gegee het, het Hy die egtheid van sy menslike natuur nie verander nie, omdat ons saligheid en ons opstanding ook van die egtheid van sy liggaam afhanklik is.

Hierdie twee nature is só saam in een Persoon verenig dat hulle selfs deur die dood nie van mekaar geskei was nie.

Dit wat Hy by sy sterwe in die hande van sy Vader oorgegee het, was dus ‘n ware menslike gees wat uit sy liggaam uitegaan het.

Die Goddelike natuur het in die tussentyd steeds met die menslike natuur verenig gebly, ook toe Hy in die graf gelê het.

Die Godheid het nie opgehou om in Hom  te wees nie; dit was in Hom toe Hy ‘n klein kindjie was, al het die Godheid Hom toe ‘n kort tydjie nie geopenbaar nie.

Ons bely daarom dat Hy ware God en ware mens is: Ware God om deur sy krag die dood te oorwin, maar ook ware mens om deur die swakheid van sy vlees te kon sterwe.”

Hoekom raak hierdie belydenis ons?

  • Die vraag van die Here Jesus Christus is vandag nog net so geldig: “Maar julle, het Hy gevra, wie sê julle is Ek?” (Mat.16:15).
  • Om Jesus Christus te ken is lewensbelangrik – “En dit is die ewige lewe: Dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is” (Joh.17:3).
  • Met Jesus se wederkoms sal almal wat Hy nie geken het nie, ewig veroordeel word (Mat.7:23). Die mense wat Hy ken, is almal wat in Hom glo en Hom ken.
  • Daar is vals profete (Mat.7:15) wat soos wrede wolwe in die gemeente sal indring om met leuens gelowiges weg van Jesus Christus te probeer verlei (Hand.20:29,30).
  • Om ‘n vals en verkeerde geloof in Jesus Christus te hê asof Hy net vir hierdie lewe moet sorg, maak gelowiges die bejammerenswaardigste van alle mense (1 Kor.15:19).
  • Daar is baie antichriste, wat leuenaars is en valslik voorgee dat hulle Christus is (1 Joh.2:18,22) en nie Jesus nie.
  • Die Bybel is die volmaakte onfeilbare waarheid. Ons lees in die Bybel dat Jesus ‘n ware mens is (Luk.1:31; Rom.1:3). Ons lees ook in die Bybel dat Jesus ware God is (Joh.1:1; Rom.1:4).
  • Ons Middelaar en Verlosser moet ware en regverdige mens wees: “Omdat die geregtigheid van God eis dat die menslike natuur wat gesondig het, vir die sonde moet betaal. Maar die mens, wat self sondaar is, kan nie vir ander betaal nie” (HK, Sondag 6, V&A 16).
  • Ons Middelaar en Verlosser moet terselfdertyd ware God wees: “Om deur die krag van sy Godheid die las van die toorn van God aan sy mensheid te kan dra en vir ons die geregtigheid en die lewe te kan verwerf en teruggee” (HK, Sondag 6, V&A 17).

Die enigste Middelaar en Verlosser is: “Ons Here Jesus Christus, wat God vir ons tot wysheid, geregtigheid, heiligmaking en volkome verlossing gegee het”(HK, Sondag 16, V&A 18).